Posted on 2 Comments

Hande in die hare

Dis Donderdagoggend. Ek word wakker met seer op plekke wat ek nie geweet het spiere het nie. Die rede? Death by Cross Fit die dag voor dit. Liewe aarde, ek het nie geweet my arms en als kan so styf wees van ‘n WOD (Work out of the Day) nie. Ek sit spreekwoordelik met my hande in my hare (en dan soms met hare in my hande ook nog).

Nou die hele week, eintlik hele maand al, loop ek met die skrif op die desk pad en is ek nie seker wat ek daaroor wil skryf nie. Maar soos wat die tyd aanstap en dit middel September se kant toe staan, begin ek meer vereenselwig met die teks.

Dit voel of ek kort-kort met ‘n beklemming om my hart sit. Dis 15 September en ek probeer nogsteeds van Augustus se administratiewe take en my eie maandeinde finaliseer en afsluit. Hoekom vat dit so lank die maand? Ek kan net nie my vinger op dit plaas oor hoekom dit net voel of ek vasgehou word en nie vorentoe kan beweeg met my werk nie!

Om alles te kroon, is my aanlyn winkel van Beroepsvrou foutief. Skielik oornag, is die WooCommerce plug in (laat ek nou maar klink soos hierdie ongelooflike slim IT boffin terwyl ek besig is) net weg en nie geinstalleer nie. HOE dit gebeur het weet Vet alleen. Want ek weet nie.

Ek het so ‘n oomblik van paniek, die trane wil-wil my kom verswelg, my opgewondenheid van die afgelope paar dae kom steel en weg vat. Dis amper asof dit vir my wil kom sê dat ek gejok het oor my radio onderhoud. Dis onmoontlik vir iemand om die positiewe altyd in alles te soek.

En regtig, die trials and tribulations waarvan ek gepraat het, hoe hanteer ek dit nou? Loop ek nogsteeds met ‘n lied in my hart? Hoekom is my werk nou nog verder agter as wat dit laas week die tyd was? Net 5 werksdae het verloop sedertdien, ek sit tog elke dag en werk, tog voel dit of ek soos ‘n mal vark rond hardloop en eintlik niks uitgerig kry nie. HOEKOM????

Dan besluit ek om maar net weer die skrif te lees. Filippense 4:6-7 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Wees oor niks besorg nie. Kom ons begin daar. Natuurlik is ek besorg oor die tyd wat aanstap teen die spoed van witlig en ek wat werk teen ‘n slakke pas (nie die slak Turbo se spoed nie – ‘n regte egte staaaaaadige slak se pas voel dit). Dan bo op dit, is ek besorg oor my aanlyn winkel. HOEKOM??? Wat nou???? Moet ek alles oordoen??? Terug by my day job – hoe gaan ek die sper datum van 24 Oktober 2022 haal met belastingopgawes wat ingedien moet word?

Daar is so baie om te doen? Ek MOET oefen, dit gaan ek vir seker nie opgee nie. Want ek weet as ek nie gaan oefen nie, gaan ek net soos ‘n vrot vel op die bank lê en niks doen vir daardie uur nie, so ek kan net so wel maar gaan oefen en iets produktiefs doen. Ok Here, dink ek by myself. Ek gaan nou regtig BAIE HARD probeer om NIE BESORG te wees oor alles wat my pla nie. Done. Afgemerk.

Maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. Goed, so die vertel vir my dat ek met die Here moet praat, gebed, wat ek doen, so ek dink ek kan hom afmerk van my lysie af. Smeking die doen ek gereeld, veral met my krisis van die aanlyn winkel. Het jy enige idee hoe lank dit gevat het om die winkel op te stel???????

So ek reken ek kan dit ook van my lysie af merk, want in my gees sit en huil ek. Ek kan nie nou sit en fisies huil nie, in die eerste plek gaan ek moontlik soos ek weet nie wat lyk, met grimering wat op al die verkeerde plekke gaan wees…

In die tweede plek gaan ek net tyd mors in my opinie. Om te huil. Ek het goed wat moet klaar, ek kan nie nog tyd mors om te huil nie. En derdens, ag ek weet eintlik nie eens hoekom ek nie moet huil nie, ek weet net ek moet nie. Dit los my met die laaste gedeelte van die vers – danksegging.

Ek wonder wat het Paulus (dit is mos Paulus wat die brief aan Filippense geskryf het?) met dit bedoel. Ek dink ek moet die Here dank dat Hy my webblad se winkel gaan herstel, dat Hy die tyd gaan laat stil staan en sodat ek net bietjie voor kan kom met my werk en nie soos ‘n mislukking voel nie. So, DANKIE HERE vir dit wat U gaan herstel, reeds herstel het en besig is om te herstel soos wat ek hierdie tik.

En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. Na ek die bostaande paragrawe getik het, voel dit of ek rustiger begin raak. Die bonatuurlike vrede ken ek, ek het dit al BAIE in my lewe ervaar. Veral wanneer ek net ophou om iets self te probeer doen en dit los vir die Here en in Sy bekwame hande. Because let us face it – Hy is ons Skepper en Sy hande staan vir niks verkeerd nie. He is more than capable al probeer ons Hom onbevoeg verklaar deur alles op onsself te neem.

So my hart voel rustiger en my sinne, nou hier neem ek aan dit wat ek praat, want ek verstaan nie andersins wat dit sou wees nie, maar my sinne moet ook vrede kry. Ek moet nou begin praat asof alles reeds herstel is. Goed, ek dink ek het dit. Dankie Here vir die herstel op alle vlakke van goed wat my pla, dat dit sommer in ‘n japtrap uitgesorteer gaan word (Here U ken my druk en sperdatums en ek weet sommer U gaan dit vinnig uitklaar). Ek bid dit in die Naam van Jesus! Amen en Amen!

Ek besluit om maar my fokus te verskuif na wat EK nou moet doen. Ek het iemand wat my kan help met die webblad, hopelik ‘n back up of iets met die winkel herstel. Maar my EDP werk (die belasting besigheid), daar moet ek my boude beweeg en vinniger begin werk. Daar gaan die voëltjies en engele NIE my werk vir my doen NIE. Ek moet daar nogsteeds my kant bring en my deel doen!!

Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan….eggo die gedeelte van die skrif vers in my gedagtes. Ek begin rustiger voel, ten spyte van al my seer spiere en beklemmings wat ek net nou gevoel het. Ek weet sommer dat alles vinnig uitgesorteer gaan word! God is goed altyd!!

Na ek die inskrywing getik het en weer begin werk het, laat weet die persoon wat my help met die webblad, dat die aanlyn winkel reg is. Al die data is daar. Dis onverklaarbaar oor HOEKOM dit gebeur, maar is blykbaar iets wat gebeur. Ek laat dit daar en dank die Here vir Sy goedheid en guns wat my volg in al my dae!

Hands in the hair