Posted on Leave a comment

Verbintenis

Verbintenis. Lewenslange verbintenis. Die troumars begin speel (wat ek nie van hou nie by the way maar mee tevrede moes wees, want op wat anders loop mens in die kerk in?). Met blink oë agter ‘n sluier getooi, in wat ek dink ‘n stunning trourok is, probeer ek in die gang van die kerk afstap na my toekomstige man toe. Ek sê probeer, want my pa is so op sy senuwees, dat hy Usain Bolt se 100m rekord probeer verbysteek, voel dit vir my, terwyl ek agterna fladder (ok nie so erg nie, maar dit het gevoel of hy gehardloop het en nie geloop het nie).

My man staan daar voor in die kerk. Ons is kinderlik opgewonde vir die toekoms saam. Sy oë skiet vol trane toe hy my sien en kyk hoe ek nader stap. Die fotograaf vang die oomblik vas (op my versoek natuurlik). Ek kan vir altyd sy gesig onthou want ek kan gereeld na die foto kyk.

Dis warm. Ons trou in Brits. Dit voel soos ‘n hittegolf. 30 September 2006 was ‘n ONGELOOFLIKE warm dag. Toe ek by die tannie was wat my rok gemaak het, dring ek daarop aan om sykouse te dra. Ek het gedink ek gaan koud kry – ek kry mos altyd koud. Sy kyk so snaaks na my en sê iets in die lyn van dat ek te warm gaan kry onder die lae en lae net. Ek moet haar net glo. Dis mos winter terwyl die rok gemaak word, maar die seisoen gaan draai.

Daardie dag is ek haar ewig dankbaar dat sy my anders kon oortuig, want, vet weet, dis WARM onder al die lae net!! Die diens gaan verby en die dominee preek sy preek. Al wat ek van die preek onthou is dat hy die huwelik met ‘n sirkel vergelyk – of was dit nou die trou ringe? Geen begin en geen einde nie. Hy noem ook iets van dat ons huwelik ook soos ‘n driehoek gesien kan word. God staan bo en ons staan onder teenoor mekaar.

Hoe nader ons aan God beweeg hoe nader gaan ons aan mekaar beweeg. Natuurlik maak niks hiervan vir my sin nie, maar ek luister want Wiskundig maak dit sin wat hy verduidelik en ek kan so bietjie van Meetkunde onthou teen die tyd dat ons getrou het.

So gaan 15 jaar verby. In ‘n oogwink. Verby gevlieg! As ek terug kyk na waar ons was geestelik en waar ons nou is, kan ek net in verwondering staan en weet dat dit net Genade alleen is wat ons tot op hierdie punt gebring het.

Ons het vir seker baklei in die 15 jaar. Soms harde woorde gepraat, soms gedreig tot ons beide se verleentheid. Baie gehuil en nog meer gelag. Tussen dit alles deur, het die Here kort-kort ‘n afspraak met ons beide gehad. Op verskillende tye maar op net die regte tye sodat ons ritme weer net nog beter kon word as voorheen.

Terug by die troudag. Ek het genoem ek hou nie van die troumars nie. Ek wou ander agtergrond musiek laat speel en dan ‘n opname maak waar ek vir my man in my eie stem vertel hoe ek oor hom voel en wat hy vir my beteken. Dit het cool en romanties geklink toe ek hoor ‘n vriendin se sussie het dit gedoen. Ek wou my man verras.

Maar, ons kon nie daarop ooreenkom om enige ander musiek as die troumars te speel nie. Onthou net, hy het nie geweet ek wou die stemboodskap doen bo-oor die agtergrond musiek nie. Ek het ook nie tyd gehad om iemand te soek wat die klank vir my kon doen en die opname bo-oor kon layer sonder dat dit nie simpel klink nie. Onthou ook net 15 jaar terug was daar nie slimfone nie. Ek dink amper ek het net voor ons troue opgegradeer van ‘n Nokia 3310 af.

Deesdae kan mens dit self by die huis doen. As jy ‘n foon en ‘n rekenaar het, kan jy amper alles doen voel dit vir my. Nie te min. Vir jare was ek vies omdat ek nie ietsie wat ek voel MY stempel was kon sit in ons troudag in nie (daar is mos NIKS anders wat ek oor moes besluit het en gemaak het vir daardie dag nie nê? My stempel was reeds daar, maar ek het dit nie gesien nie).

Vandag, soos wat ek hierdie inskrywing maak, WEET ek dat ek nie emosioneel reg was vir so iets nie. Ek dink ek sou meer gedink het aan hoe aaklig my stem klink oor die luidspreker en hoe ek eintlik net ‘n klomp goed afgerammel het op die opname, en in die proses die kern van dit wat ek probeer doen mis.

So, ek is dankbaar. Dankbaar dat die Here my gered het van so ‘n amperse flater! Vroeër die jaar, dalk selfs laas jaar, hoor ek oor Spotify ‘n liedjie. Die woorde trek my aandag. Dis Commitment van Sanctus Real. Ek luister, speel hom weer. Dit tref my hart diep.

As ek ‘n liedjie kon kies waarmee ek in die kerk se gangetjie sou afstap, sal dit vir seker die een wees. Dit beskryf vir my so mooi wat dit beteken om verbind te wees aan iemand. As jy 25 jaar oud is en voor die kansel staan, het jy GEEN benul watter houe en balle die lewe na jou toe gaan gooi nie.

Jy weet ook nie hoe jy dit gaan hanteer nie. Maar met God saam, kan mens dit hanteer en staande bly. Dit voel vir seker soms of dit Us against the world is wanneer dit druk tyd is met wat ookal gebeur. Maar, God kom altyd deur vir ons. Hy voorsien nog altyd. Ons het niks te vrees nie want ons het HOM aan ons sy.

I wanna finish the way we started, just two broken souls clinging on to Jesus. We’ve seen His faithfulness and grace and I wanna love you that way weerklink die woorde van die liedjie deur my kop. My hart sing van vreugde soos wat ons nog ‘n keer ons beloftes voor God kan vier.

Hier is op nog 15×15 jaar saam! Mag God ons huwelik net NOG meer versterk en dieper laat groei soos wat ons nader aan Hom beweeg.

Commitment