Posted on Leave a comment

Totsiens maar nie Vaarwel

Saterdag 4 Desember 2021. Dis ‘n lieflike oggend. Effens bewolk en koel wat baie welkom is na die drukkende hitte van die vorige paar dae. Oudergewoonte stop & parkeer daar karre by Eden Leersentrum om die jaarlikse toekenningsoggend by te woon.

Maar die keer is dit anders, anders vir ons gesin. Dis ons kinders se laaste toekenningsoggend en konsert by Eden. Hoekom? vra jy dalk. My antwoord? Die kinders word groot. Franco, my oudste is klaar met laerskool.

Jy sien, ons almal het geweet hierdie dag gaan kom, sedert 2016 wat ons die kinders daar ingeskryf het, het ons geweet die dag gaan kom. Tog het ons besluit om dit te vermy en nie die ding in die gesig te staar nie. Nie aan hom aandag te gee nie.

Dis verder nog meer anders en vreemd, want dis net ek en die kinders daar. My man kon nie dit bywoon nie want hy het positief getoets vir die virus en self-isoleer in ons huis, apart van ons, sodat ons die oggend kan bywoon. Ons het ook gaan toets en was negatief en kon ons dus met ‘n geruste hart (soort van en vir wat dit werd is) die dag bywoon.

My hart breek vir hom, want hy kon nie hul laaste opvoerings, woorde wat gespreek was, liedjies wat gesing was of dansies wat opgevoer was beleef en ervaar nie. Hy moes alles met ‘n video aanskou, videos wat ek met my selfoon geneem het en per Whatsapp aan hom gestuur het. Ek hou my afstand, hou my masker op, vermy fisiese kontak met almal. Nog iets wat vreemd is vir my.

‘n Vriendin stap nader en waai vir my. Ek sien sy wil my ‘n drukkie gee. Ek keer haar vinnig. My hart krimp ineen, my liefdestaal kry nie kos op ‘n dag soos vandag nie, juis die dag wat ek dit die nodigste het. Die moeilikste dag wat ek gehoop het nooit sou arriveer nie.

Die opvoerings en rympies en gediggies wat die kinders opsê verloop seepglad. Niemand vergeet hul woorde nie. Almal praat mooi en duidelik terwyl die reën by tye saggies neer sif. Sertifikate word uitgedeel, kinders staan trots vir hul foto’s saam met hul juffrouens, sertifikaat in die hand.

Die oggend se verrigtinge gaan verby, vinniger as wat mens sou verwag. Toe is dit nou so. Die tyd om te groet het aangebreek. Met trane in my oë loop ek na die eerste juffrou toe, bedank haar vir alles wat sy gedoen het. Ek kan nie dit keer nie, die trane en emosie oorweldig my.

Ek loop na die ander juffrouens toe, al huilende bedank ek hulle vir alles wat hulle gedoen het. Dis so ‘n bitter-soet oomblik. Die kinders word groot, ons moet aanbeweeg. Die fase is verby vir ewig. Tog is dit so bitter moeilik om te groet en totsiens te sê.

Michélle Nortjé – hierdie is net ‘n ietsie wat ek kon gee uit die diepte van my hart uit om jou te bedank vir dit wat julle vir ons kinders gedoen en beteken het oor al die jare. Mag die Here Eden Leersentrum net nog meer seën en laat groei van krag tot krag.

Die is vir seker nie Vaarwel nie, maar net ‘n Totsiens. Tot wedersiens. Die einde van ‘n seisoen kom altyd en ons moet ook die nuwe seisoen met ope arms aangryp. Bitter-soet, dit is hoe ek die oorgang van hierdie een seisoen na die volgende sou beskryf….

Good Bye….