Posted on Leave a comment

Uitklophoue

Die wind loei om die hoeke….Die winter deel uitklop-hou na uitklop-hou uit. Herfs staan lankal nie meer ‘n kans teen die koue nie.

Elke keer as ek die wind hoor waai, kyk ek vir die boom buite ons venster waar ons sit en werk by die huis. Die boom sonder blare getuig woordeloos van die seisoen waarin ons onsself bevind….

Dit voel of ons op Ysbeerpoort woon so koud is dit, nie Skeerpoort nie.

Dis snerpend koud. Oral lees jy van mense wat foto’s oplaai van hoe koud dit vanoggend was.

Die sprake van die koue front wat ons vandag gaan tref word noukeurig deur my bestudeer vroegerig in die week al. Ek kyk na die “app” op my foon en hy getuig dit gaan minus iets wees vanoggend.

Ek gee ons personneel die keuse om van die huis af te werk a.g.v. die koue. Ons kantoor is ongelooflik koud en ons kan nie veel doen om hom warm te kry nie. Almal verkluim waar hulle sit en werk, selfs ons by ons huis.

My man begin lag vir my. “Is jy besig om voorbereiding te tref vir ‘n tornado wat oppad is?” Vra hy my, na ek by myself prewel dat ons vanaand (dis nou gisteraand) moet bad en genoeg water in die ketel tap vir koffie in die oggend, want die pype gaan weer gevries wees.

Ek kyk snaaks na hom. Hy lag vir my. “Jy stuur personneel huis toe, wil bad vanaand. Liewe aarde, dis NET winter.”

Ek begin lag. Ek besef hoe belaglik ek klink. Maar dis koud.
Hy lees vanoggend van die “polar air” wat inwaai van Antarktika af. Nee wat dis so 2 grade weg van ysbere in die strate sien….ek VOEL Antarktika in die wind. Dis nie ‘n wolhaarstorie wat hy gelees het nie ?


Ek sit en werk met my voete in ‘n kussing wat dit warm hou (wat werk “by the way” en as jy gewonder het), kombers om my lyf gedraai soos ‘n ek-weet-nie-wat-nie, vingerlose handskoene aan, warm watersakkie op my skoot, japon aan.

My suster het onlangs Riversdal toe getrek met haar gesin (soos in die afgelope naweek se onlangs) en ek sien op Facebook hoe sy foto’s opsit van die berge en sneeuwolke wat laag hang.

My gedagtes dwaal na haar nuwe omgewing. Hoe hulle seker nou elke winter sneeu gaan sien en net ‘n ander leefstyl gaan beleef. Hoe gelukkig hulle gaan wees. Hoe dankbaar ek is dat dit Riversdal is en nie iewers ver oorsee nie, want dan kan ons ten minste nog af en toe kuier wanneer die geleentheid homself voordoen….

My gedagtes stop hier en ek is terug by die huis – ons maak reg om vir vriende te gaan kuier want die vrou (dit klink so onpersoonlik – ons vriendin eerder) verjaar vandag en ons het onsself genooi vir koffie en koek (want ons kan).

Ek trek amper my japon aan bo oor my klere, wik en weeg om pantoffels ook aan te trek….ek maak hardop ‘n grappie met my man daaroor en ons giggel lekker. Ek besluit maar om nie my winter-paranoia verder as ons huis en kantoor te neem nie.

Ons trek nog ‘n ietsie aan om ‘n deeltjie van die lyf warmer te maak.

Soos wat ons uit stap kar toe, gryp ek my kombers waarin ek myself toewikkel as ek werk.

‘n Klein stukkie paranoia gaan tog maar saam met my uit….ek gaan kuier met my eie kombers….

Ek kyk weer ‘n laaste oomblik vir die boom sonder blare en weet oor 2 maande of so is dit weer warmer en dan hoef ons nie meer ons winter-paranoia oral saam met ons rond te dra nie…..