Posted on Leave a comment

Totsiens maar nie Vaarwel

Saterdag 4 Desember 2021. Dis ‘n lieflike oggend. Effens bewolk en koel wat baie welkom is na die drukkende hitte van die vorige paar dae. Oudergewoonte stop & parkeer daar karre by Eden Leersentrum om die jaarlikse toekenningsoggend by te woon.

Maar die keer is dit anders, anders vir ons gesin. Dis ons kinders se laaste toekenningsoggend en konsert by Eden. Hoekom? vra jy dalk. My antwoord? Die kinders word groot. Franco, my oudste is klaar met laerskool.

Jy sien, ons almal het geweet hierdie dag gaan kom, sedert 2016 wat ons die kinders daar ingeskryf het, het ons geweet die dag gaan kom. Tog het ons besluit om dit te vermy en nie die ding in die gesig te staar nie. Nie aan hom aandag te gee nie.

Dis verder nog meer anders en vreemd, want dis net ek en die kinders daar. My man kon nie dit bywoon nie want hy het positief getoets vir die virus en self-isoleer in ons huis, apart van ons, sodat ons die oggend kan bywoon. Ons het ook gaan toets en was negatief en kon ons dus met ‘n geruste hart (soort van en vir wat dit werd is) die dag bywoon.

My hart breek vir hom, want hy kon nie hul laaste opvoerings, woorde wat gespreek was, liedjies wat gesing was of dansies wat opgevoer was beleef en ervaar nie. Hy moes alles met ‘n video aanskou, videos wat ek met my selfoon geneem het en per Whatsapp aan hom gestuur het. Ek hou my afstand, hou my masker op, vermy fisiese kontak met almal. Nog iets wat vreemd is vir my.

‘n Vriendin stap nader en waai vir my. Ek sien sy wil my ‘n drukkie gee. Ek keer haar vinnig. My hart krimp ineen, my liefdestaal kry nie kos op ‘n dag soos vandag nie, juis die dag wat ek dit die nodigste het. Die moeilikste dag wat ek gehoop het nooit sou arriveer nie.

Die opvoerings en rympies en gediggies wat die kinders opsê verloop seepglad. Niemand vergeet hul woorde nie. Almal praat mooi en duidelik terwyl die reën by tye saggies neer sif. Sertifikate word uitgedeel, kinders staan trots vir hul foto’s saam met hul juffrouens, sertifikaat in die hand.

Die oggend se verrigtinge gaan verby, vinniger as wat mens sou verwag. Toe is dit nou so. Die tyd om te groet het aangebreek. Met trane in my oë loop ek na die eerste juffrou toe, bedank haar vir alles wat sy gedoen het. Ek kan nie dit keer nie, die trane en emosie oorweldig my.

Ek loop na die ander juffrouens toe, al huilende bedank ek hulle vir alles wat hulle gedoen het. Dis so ‘n bitter-soet oomblik. Die kinders word groot, ons moet aanbeweeg. Die fase is verby vir ewig. Tog is dit so bitter moeilik om te groet en totsiens te sê.

Michélle Nortjé – hierdie is net ‘n ietsie wat ek kon gee uit die diepte van my hart uit om jou te bedank vir dit wat julle vir ons kinders gedoen en beteken het oor al die jare. Mag die Here Eden Leersentrum net nog meer seën en laat groei van krag tot krag.

Die is vir seker nie Vaarwel nie, maar net ‘n Totsiens. Tot wedersiens. Die einde van ‘n seisoen kom altyd en ons moet ook die nuwe seisoen met ope arms aangryp. Bitter-soet, dit is hoe ek die oorgang van hierdie een seisoen na die volgende sou beskryf….

Good Bye….
Posted on Leave a comment

Koebaai

Koebaai. Dis seker vir my die woord wat die beste beskryf wat jy aan iemand sê wat jy vir ‘n baie lang tyd (indien ooit) nie gaan sien nie. Nie Totsiens of Tot later of Bon Voyage nie. Nee, net plein KOEBAAI. Net dit. Maar dan gaan google ek Bon Voyage en sien dat jy dit iemand toewens wie op reis gaan. Used to express good wishes to someone about to set off on a journey. Om nou presies te wees met die woordeboek wat google uitgespoeg het. Maar dit voel nie reg nie want ek het altyd gedink jy sê dit vir iemand wat op reis gaan en weer terug kom. Hierdie groet is net ANDERS jy weet?

Jy sien, dis hoe ek gevoel het Sondag, toe ek my sussie, haar man en twee dogters gaan groet het vir die laaste keer. Liewe hemel weet, dit was erg vir my. Erg om te dink dis nou die laaste keer dat ek ‘n fleshy hug (die huidige Pandemie nou glad nie in ag genome hier nie), gaan kry by hulle.

Die pad van Pretoria na ons huis is lank. Dik oë se gehuil lank. Liters en liters trane. Kort-kort weer dink aan wat besig is om te gebeur, oë wat vol trane skiet. Nog ‘n tissue vat en WEER my neus blaas. Dis ‘n BAIE lang pad want almal is stil in die kar. Elkeen besig met hul eie gedagtes.

Teen die tyd dat ons tussen die eerste en tweede tolhek is op die snelweg, besluit ons om musiek te luister. Ek koppel my foon op die kar se radio (hy is mos fêncy met Bluetooth en al) en ons almal jive en sing saam. Ons lag en dis vir ‘n oomblik beter.

Ek het natuurlik ALMAL in trane gehad Sondag. Selfs my swaer het met tranerige oë na my gekyk toe ek aframmel hoe BAIE hy vir my beteken het. Dat hy een aand tot middernag gesit het en my geleer het hoe werk ‘n financial calculator want ek het eksamen geskryf die volgende dag. Ek het daardie vak nogals met ‘n onderskeiding geslaag (bewys dat my korttermyn geheue fantasties werk). Nie dat ek nou meer weet hoe hy werk nie by gesê. Maar dit daar gelaat…want dit gaan nie nou oor my vermoëns om ‘n financial calculator te werk nie.

My familie dink daar is fout met my. Eers dink almal dis oor die brief wat my ma geskryf het vir my sussie op haar 21ste verjaarsdag. Dit was toe nou glad nie dit nie. Ek het net begin huil want die oomblik was te groot vir my. My middelste sussie roep my eenkant en praat met my. Ek knik my kop want ek hoor en verstaan wat sy probeer sê. Huil net nog meer. Maar ek besef dat my eerste inskrywing oor immigrasie nie noodwendig reg gelees en geinterpreteer was nie. Ek is nie kwaad omdat hulle wil gaan nie, wil hulle nie hier hou vir myself nie. My hart is net stukkend.

Hoe verduidelik jy dit aan iemand? Dat jou hart so seer is dat jy huil en snik tot jy leeg is? My pa stuur kort-kort ‘n Whatsapp boodskap om te hoor of ek ok is. Bel my man om te hoor of ek ok is. Ek WEET my sussie hulle neem die besluit vir HUL gesin en ek kan nie iets anders sê hieroor nie, want ons elkeen lei ons eie lewens. Soos my vorige inskrywing was – ek weet glad nie presies waardeur hulle was of besig is om te gaan om so ‘n besluit te neem nie.

Ek is ok. Ek weet ek sal ok wees. Met tyd sal dit beter word. Maar vir hierdie oomblik, gaan ek, as ‘n mens deur God geskape, deur stap nommer-hoeveel-ookal van die rou-proses. Ek ervaar dit as ‘n rou-proses. Ek is net wragties realisties as ek sê ek dink nie ek gaan hulle weer sien nie. NZ is VER (jy sien ek weet nie eers HOE om die land se naam reg te spel nie so ek gebruik die afkorting – dis nie omdat ek dit nie WIL spel nie – ek weet nie nou op die oomblik dat ek die inskrywing maak nie want my brein voel soos ‘n sif met alles wat hy deur gaan en moet verwerk). Weet jy hoe ver is dit? Nee ek ook nie, ek weet net dat dit BAAAAAIE ver met ‘n LAAAANG vliegrit en baie duur vliegkaartjies is.

Ek dink, die rede hoekom my familie dink daar is fout met my, is omdat ons nie so “huilerig” groot geword het nie. Hierdie is nou bloot hoe ek my grootword jare ervaar het en ek is oortuig, soos in 100% nie 99,9% nie, dat my sussies dit weer anders ervaar het.

Jy sien, ek het NOOIT gehuil in ‘n hartseer fliek nie, om nou een voorbeeld te gee. Dit was hartseer en als, maar ek het stilweg aan die binnekant gehuil. Hoekom kan ek nie vir jou sê nie. Ons het net nie regtig ons emosies voor mekaar gewys nie. Dis nou hoe ek dit ervaar onthou.

Onthou ook nou dat ek die jongste is. So baie goed was anders toe ek 7 was as toe my oudste sussie 7 was. Sy was die oudste, ek die jongste….sy het meer verantwoordelikheid gehad as wat ek gehad het as gevolg van ons “rangorde” as ek dit nou so kan noem.

Ek kan dink dat dit ‘n skok vir hulle moes wees om my so te sien. So weerloos en “huilerig”. Iets wat hulle nie ken nie. Jy sien, ek het oor tyd geleer om ‘n brawe gesig voor te sit, al voel ek of ek in ‘n hopie wil sit en net tjank (by gebrek aan ‘n beter beskrywende woord). Want ek het gevoel ek moet sterk wees. Kan nie swakheid wys nie. Om te huil was vir my ‘n teken van swakheid.

Maar jy sien, met tyd, het ek ook geleer dat trane en huil God se meganisme is waarmee Hy ons elkeen geskep het, om ons harte skoon te maak. Letterlik skoon te huil. Hoekom voel mens beter na jy gehuil het? Ek is seker as jy die wetenskap agter dit gaan google sal daar weer een of ander hormoon wees wat afgeskei word na mens gehuil het.

Ek het dit nie gaan google nie so ek raai nou maar hier…maar nie te min – ek voel ALTYD beter na ek gehuil het. Die skrif van The joy always comes in the morning kom by my op. Dis hoe ek voel na ek gehuil het. Natuurlik is die oggende beter na so huil-sessie. Dik oë en al. Al sukkel ek om grimering op te sit want my oë is so puffy.

Vir seker so twee weke tevore hoor ek gereeld op Spotify die liedjie van King & Country – Relate. Die woorde wat my ore vang is “I don’t know what it is like to be you, you don’t know what it’s like to be me…”

Ek kyk dadelik die liedjie se naam, wil nie die awesome liedjie mis nie. Ek speel hom weer. Ek luister hom weer. Drink die woorde in. Luister hom weer, speel hom vir my man. Wow. Dis vir my so mooi. Hoe die kunstenaar eintlik wat ek probeer sê het nou in ander woorde gesit het.

Dan besef ek, DIS waaroor dit gaan. Ons moet probeer VERSTAAN waardeur ander mense gaan (iets wat al lank reeds op my hart lê en wat ek regtig probeer toepas). Al is dit nie wat ons besluit vir onsself nie, moet ons hul harte sien en verstaan. Stadig om te oordeel en te praat, vinnig om te verstaan. Is daar nie so ‘n skrif nie? Prediker of Spreuke iewers? Ek weet nie, maar ek gaan vir seker soek!

I don’t know what it’s like to be you, you don’t know what it is like to be me. But by the Grace of God we’ll see each other’s heart. Can you, can you relate?