Posted on Leave a comment

Die gesnyde brood uitvindsel vir Rekenmeesters en Ouditeure

Ek wou wag tot ek my nuutgevonde gadget wat ek aangekoop het, meer gebruik het voordat ek daaroor skryf. Maar, na vanoggend se opleidingsessie wat ek bygewoon het, het die produk homself net nog meer aan my verkoop (die demonstrasie van laas week het homself aan my verkoop toe ‘n eenvoudige rekonsiliasie in ‘n paar sekondes gedoen word). Ek het besluit dat ek hieroor MOET skryf, voor my entoesiasme by die venster uit vlieg. Nou jy wonder seker waaroor ek aangaan? As jy ‘n Rekenmeester of Ouditeur is, hou aan lees. Indien nie, wel, hou net aan lees sodat jy my sin vir humor kan geniet wat ek ervaar het gedurende vandag se opleidingsessie.

Die uitvindsel wat ek oor aangaan word genoem The Audit Toolbar ™. Om dit so bietjie eenvoudiger te stel – dis ‘n Excel plug in wat in Excel gebruik word as ‘n toolbar. Wat die ding doen is, dit spaar jou soveel tyd om data te filter, ongewensde rye en selle uit te wis, om net ‘n paar te noem. Dis meer gerig op oudits, om te help met goed soos om steekproewe (samples vir die wat nie weet wat ‘n steekproef is nie) te kies, mense uit te vang wat goed wegsteek in skedules (ja, nou kan ons virtueel alles sien wat ‘n kliënt vir ons gee), foute in formules optel, en so meer.

Nou ek gaan nie die wiel hier herontwerp en alles oortik wat ek geleer het in my twee ure sessie nie. Die enigste ding wat ek wil sê is – Christiaan het virtuele pull ups gedoen toe hy vir ons gedemonstreer het wat die ding kan doen met morsige data. ‘n Pull up is in my opinie een van die moeilikste oefeninge om te doen. Wanneer ek weekliks my Cross Fit oefensessies bywoon en Kerneels of Schwartz (die instrukteurs by Steel Eagle Fitness Gym in Skeerpoort) vir ons die beweging demonstreer, laat hulle dit so maklik lyk.

Ek het vandag se inligtingsessie ook so ervaar. Christiaan het dit so maklik laat lyk. Ek sê altyd dat my brein spiere het soos Arnold Schwarzenegger. Maar na vandag, dink ek dat Christiaan se brein meer muscle tone het as my brein, en regtens so! Hierdie is so ‘n wonderlike uitvindsel! Soveel tyd en moeite het in die ontwikkelling hiervan gegaan! Die wat dink dat ‘n program net werk, dink weer. Dit is ure en ure se bloed, sweet en trane wat in iets ingaan soos the Audit Toolbar ™.

Na ‘n vinnige gesprek met hom laas week, na die bekendstelling sessie die oggend en na ek opgeteken het om dit aan te koop, het ek geleer dat Christiaan ‘n massiewe geloofstap geneem het deur sy voltydse werk te bedank (en saam met dit ‘n vaste inkomste ook agter te los net so tussen ons) om hierdie uitvindsel aan te pak. Dit was ongeveer twee jaar gelede. Nou kan hy die vrugte van sy arbeid begin sien. En ek moet sê, ek dink dis wonderlik. Dit is amper soos een van daardie ou karre wat opgeroes is, onder dik lae stof lê en nie werk nie, wat getransformeer word in ‘n blink rooi kar wat teen die spoed van wit lig (amper) kan beweeg.

Soos elke nuwe ontwikkelde sisteem verwag ek ‘n paar geboorte pyne en uitdagings, maar, van wat ek kan sien van kommentaar oor die produk, is dat Christiaan altyd regstaan om te help. Sy doelwit is om navrae binne 30 minute uit te sorteer, wat ek dink wonderlik is, want, as jy ‘n sperdatum het, vasbrand met iets op ‘n skedule, kan jy nie vir weke of dae wag voor die probleem opgelos word nie. Christiaan – ek hoop werklik dat jy slaap sal inkry en dat die 30 minute reël nie van toepassing sal wees vir probleme wat na ure gerapporteer word nie. Want almal wat vriende het wat Rekenmeesters en Ouditeure is, weet dat ons vreemde ure werk soms….

Ek sien uit om my eerste grootboek skoon te maak met hierdie toolbar en om werklik al my tyd op ‘n taak te kan verhaal. Om meer gedoen te kry in ‘n dag/week/maand en jaar. Met die druk wat ons tans het en alles wat aan die gang is, soos veranderinge in wetgewing, sal enige iets wat kan help welkom wees. Christiaan – van my kant af – wel gedaan op ‘n goed geskryfde en ontwikkelde produk! Mag jy God se guns in oorvloed ervaar en mag Hy jou seën met hierdie nuwe baba wat aan jou toevertrou word.