Posted on Leave a comment

Die eerste week terug….

Oh my WORD!! Dat ek nou vir jou vertel, ons ly nog almal aan bomskok na die eerste week terug in roetine en bo op dit nog by ‘n nuwe skool met nuwe tye en heeltemal alles nuut in terme van roetine.

Jy noem dit, dis nuut vir ons….boeke moet oorgetrek word letterlik tussen 3 en 4 in die oggend (ok dalk eerder tussen 4 en 5 die oggend) want daar is niks ander tyd nie. Ek voel soos ‘n slaap wandelaar. Ek word MOMSTER.

My man vra my wat is fout, ek het seker weer my gesig getrek op ‘n manier toe ek na hom kyk. Daai uitdrukking van Watse dom vraag is dit nou ou? Ek is al van 4 uur in die oggend op! Ek dink nie ek het hom geantwoord, behalwe dat ek MOEG is nie. Maar ons het dit oorleef.

Hoe weet ek nie, maar ons het. Ons was nie laat vir skool nie, het als gedoen gekry wat die skool gevra het en ek kon darem my oefening ingepas kry Woensdagmiddag. Jy wonder seker hoekom dit so erg op ons sisteem is, die terug in roetine kom? Voorheen kon ons die kindertjies so bietjie later aflaai in die oggende, maar nou moet ons hulle ‘n half uur vroeër aflaai, wat beteken alles in ons huis moet met ‘n halfuur of meer aanskuif…..dis nogals baie en groot….en waar ons bly beteken dit noodwendig dat ons meer en verder ry as mense in die dorp…

Met ‘n onsekerheid in my wonder ek HOE ek weer alles die jaar en veral die maand tot einde Februarie gedoen gaan kry? Daar is altyd te min tyd en te veel werk en nou voel dit vir my nog meer so. Bo op dit is daar skool goed wat mens moet doen en bywoon, dit inpas tussen alles deur…..

Ek hiperventeleer wanneer niemand kyk nie, want ek moet my pose hou. Ek wil steeds soos die gif van Sponge Bob en Patrick panic & run en saam met dit skree soos ‘n mal mens. Hoe doen mense dit?? Hoe kry ander ma’s alles gedoen??

Hoe kry mense wat van 8 tot 5 voltyds werk, sonder huishulpe dit gedoen? Hoe behou jy jou sanity EN kry tyd vir jouself EN al die ander admin in en om die huis gedoen. Slaap hulle minder? Wonder ek by myself. Dit voel of daar altyd goed is wat uitgesorteer moet word, wanneer moet mens dit doen?

Dalk is hul spoed net vinniger as myne? Miskien is ek ‘n sloth en so staaaaadig? Dis hoe ek voel. Is dit omdat ek ouer word? Of is dit die nagevolge van die Pandemie? So spoel al die vrae deur my gedagtes, dit kom in golwe en trek terug en bedaar en dan kom die volgende golf se vrae.

Gisteroggend het ek en my man ‘n gesprek. Hy reken ons moet roll with the punches en elke dag op ‘n slag vat. Ek stress myself onnodig uit volgens hom. Ek kyk hom so, weer met ‘n kyk en dink by myself HOE? My persoonlikheid laat nie toe vir roll with the punches en elke dag op sy eie nie. Ek raak gefrustreerd as my dag se beplanning nie uitwerk soos dit moet nie.

As een of ander instansie met wie ons werk se sisteme hang en nie werk nie en jy vir ure sukkel om ‘n eenvoudige iets gedoen te kry raak ek frustreerd. Dit meng in met my beplanning. Want daardie onbeplande tyd wat ek aan so iets spandeer het, moet EK nou weer iewers inhaal. En al waar ek dit kan doen is met slaap. Minder slaap. Want als het mos SPERDATUMS. So om oor te staan tot môre help nie veel nie want dan is ek al klaar weer met môre se beplanning agter….

So rol al die golwe van vrae en planne van hoe, wat en waar deur my gedagtes. HOE gaan ek dit doen? WAAR gaan ek die tyd kry? WAT gaan ek doen as my beplanning nie uitwerk nie? MOET ek nog beplan? Want as ek beplan dan werk dit nie, as ek nie beplan nie, dan werk dit nie. Weet julle hoe frustrerend is dit vir ‘n SIERBOOM persoonlikheid? Alles moet op hul plek wees, ALTYD.

Vanoggend toe ek opstaan, neurie ek ‘n liedjie wat ek op Spotify al een keer gehoor het…..I can do all things through Christ who gives me strength…..Mmmm…..laat my dink. Een van my gunsteling verse – Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Fillipense 4:13. EK KAN dit doen. Die Here gaan my help. Dis nie nodig om te hiperventileer of te panic & run soos Sponge Bob en Patrick nie.

Ons HOEF nie alles ALLEEN te probeer doen nie. Ons moet net die Here vra om ons te help, vas te hou in Sy hand, die nodige krag en energie te gee….Hands of mercy won’t you cover me? spoel die liedjie se woorde soos ‘n groot Tsunami oor die ander klein golfies van twyfel en vrae. Skielik word dit uitgewis met God se kalmte en vrede. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee. Nie op my eie nie, nooit nie.

The first week back….