Posted on Leave a comment

“Only two certainties in life”

“The only two certainties in life are Death and Taxes.” – Benjamin Franklin.


Hierdie is ‘n “quote” wat my altyd sal by bly. Ek het hom een maal in ‘n fliek gehoor, ek verbeel my dit was “Meet Joe Black” maar ek kan nie onthou nie….

Tot onlangs toe het ek gedink dit was ‘n “movie quote” tot ek dit ander dag gaan “google” het. Toe vertel Google vir my dat Benjamin Franklin dit gesê het.

Toe ek vandag gaan “google” (bloot omdat ek die regte persoon se naam wou kwoteer in vandag se inskrywing) sien ek dat ek toe nou ‘n paar goed verkeerd het gemeet aan Google se standaarde.

Die eerste was dat ek die woorde HEELTEMAL verkeerd gehad het….ek het hom altyd as “Two things in life are certain – Death and Taxes” wat op dieselfde neerkom maar nie die oorspronklike woorde wat geuiter was korrek neerpen nie.

Die ander ding wat ek verkeerd gehad het is dat Mark Twain dit ook gesê het en Google so effens sy eie debat het hieroor soos wat die SKERMGREEP (weer my GROOT Afrikaanse woord) aangeheg getuig.

Hoe dit ookal sy en wie dit ookal eerste geuiter het was reg in my opinie.

Nou wonder jy seker hoekom ek nou oor so ‘n morbiede tema gesels…..

Jy sien die eerste ding – ek werk met een van die “certainties of life” – Belasting. Dag in en dag uit, jaar in en jaar uit. Dis wat ek doen vir ‘n lewe. Ek maak somme en ek vertel vir mense dat die regte ding om te doen is om jou belasting soos ek hom bereken het te betaal.

Dit staan immers in die Bybel dat ons die Keiser moet betaal wat hom toekom. Baie mense het al ‘n verwronge verdraaïng (spelling???) van die Bybel teks gemaak. Baie sal vir jou sê betaal die Keiser wat hom toekom en nie wat hy verdien nie.

Nou ja dis gewoonlik in daardie deel van die gesprek wat ek maar net stilweg glimlag en nie verder redeneer nie want die Bybel leer my ook wanneer en met wie ek moet redeneer….as jy wonder dink ek dit was in Spreuke vervat….ek sal nog daardie vers gaan soek. Maar dit kom daarop neer dat mens nie in ‘n debat met ‘n dwaas betrokke moet raak nie (dis nou wragties my eie interpretasie en nie ‘n verdraaïng van die skrif nie).

Nie te min noudat jy weet wat ek doen elke dag wil ek die ander punt aanraak van die befaamde woorde.

“Death”….die dood is so deel van ons as mense se bestaan…..oral om ons gaan mense dood en deesdae voel dit vir my of daar soveel aan die dood afgestaan word a.g.v. die Covid19 pandemie….

Nou die dood deel gaan nie oor kennisse wat dood is nie. Nie my ouma of oupa of een of ander verlangse oom of tannie nie.

Nee, hier praat ek van my Ma. Jy sien 16 Julie merk die datum wat sy haar resies op aarde voltooi het.

Ek wou al my woorde in hou tot Vrydag toe en vroeg opstaan en my hart uitstort hieroor en net nog ‘n stappie nader aan “oor” dit kom gee….

Maar die woorde en goed begin maal in my kop. Ek het baie om te sê en het besluit ek sal dit opbreek in kleiner inskrywings meer gereeld die week…..

Nou ja, noudat ek dit verduidelik het voel dit of ek vergeet het wat ek eintlik wou sê…..jy sien ek het geweet ek wou dit so gou moontlik neerpen sodat ek nie vergeet nie en dat ek die regte goed vertel wat hier binne in my woed…..

O ja, daar het ek hom nou. My ma wat dood is.

Ek het altyd na ander mense gekyk wie se ouers oorlede is. Gesien hoe hulle “normaal” funksioneer, gesels, grappies maak en nie in ‘n hopie sit en huil die heeltyd nie.

Ek het altyd na hulle gekyk en gewonder HOE DOEN JY DIT???? HOE GAAN JY NET AAN ASOF ALLES OK IS?

Ek onthou so baie en so min van daardie laaste week wat sy in ‘n koma was…..dis die vreemdste gevoel. As ek terug dink aan haar is dit asof sy nooit hier was op aarde nie.

Dis asof ek terug kyk na ‘n fliek wat voor my afspeel waarvan ek die hoofkarakter is en amper niks van my lewe saam met haar kan onthou nie.

Die dag wat ek die oproep gekry het is amper vir my gewees soos daardie tonele in ‘n fliek. Waar alles om die persoon stil word, alles in “slow motion” beweeg. Jy nie weet of jy moet huil of nie. Hoe die trane net vloei. Hoe jou gesig trek van die pyn wat jy in jou hart voel.

Hoe jy nie gou genoeg by die hospitaal kan uitkom nie (hoekom weet ek nie want sy is mos dood???? En ek wil vir seker nie ‘n dooie mens sien as ek dit kan help nie).

Hoe die hospitaal se deure vir een of ander onverklaarbare rede toe was dat niemand dit kan oop kry nie. Hoe jy sit op ‘n stoeltjie en wag en nie weet wat om te doen nie en hoekom jy eintlik daar is nie.

Hoe jy met ‘n vreemde tannie gesels (ek doen dit nog my lewe lank – om met vreemdelinge te gesels) en hoe sy jou vertel dat sy haar “mammie” op ‘n jong ouderdom, iets soos 13, aan die dood afgestaan het.

Hoe jy uiteindelik binne kom en nie weet wat om te doen nie. Die vraag wat in jou kop maal vra “Was it peaceful?” Na al die toetse se tekens gedui het op ‘n bloeiende dood (ek mag verkeerd wees maar dis hoe my sussie dit vir my verduidelik het na sy weereens al die syfers en tellings en “stuff” geinterpreteer het).

Hoe jou pa jou nader trek en sê “Kom kyk. Kom groet vir ma.” Hoe ek staan en dink HOE??? Sy is weg.

Hoe ek om die hoek loer en haar vel kleur sien. Die dood se kleur. Grys groen. Die pienk blommetjie op haar bors. Haar arms bedek deur die lakens.

Hoe ek weer uitgaan en besluit NOOIT WEER NIE. Nie weet of ek daardie besluit sal kan deur voer nie….maar dis hoe ek gevoel het op daardie oomblik…..

Hierdie is ‘n kykie in my lewe….die harseerste hartseer wat ek nog tot op datum beleef het…..hoe ek gevoel het op daardie oomblik. Ek weet nie of almal so voel nie maar dis hoe dit vir my was.

Onwerklik. Iets uit ‘n fliek uit.

Genadiglik ken ek die Skepper en WEET ek dat HY my die krag gee om staande te bly.

Dat dit net Sy genade was en is dat ek hier, amper 4 jaar later, die inskrywing kan maak…..

Word vervolg- soortvan….