Posted on Leave a comment

Sukkeldag

Maandag….nee wag….Sukkeldag. Vandag was weer een van DAAI frustrerende dae….jy sien ons roetine was weer holderstebolder met die dat die skole later geopen het as wat die plan was.

So gisteraand moes ons weer skarrel om almal in die bed te kry. Wag tot almal slaap voor ons kan gaan slaap.

Niemand is moeg teen 10 uur die aand nie, want almal het rondgelê die naweek tot wie weet watter tyd.

Die gevolg? Niemand kan op toe dit opstaan tyd is nie…..nog ‘n nagevolg van die nagevolg se nagevolg? My dag begin later as beplan. Ek kry ‘n onbeplande oproep wat ek moes hanteer en daar val die wiele af.

Spandeer meerderheid van die dag om tegnologie (waaroor niemand beheer het nie “by the way”) te probeer kry om te werk.

Antwoord ander oproepe en eposse tussen in….maar meerderheid van die dag word spandeer om te SUKKEL en daarom dat dit Sukkeldag heet eerder as Maandag.

Gelukkig is elke môre nuut en word mens (gewoonlik) met ‘n helder brein wakker en dan lyk gister se take wat soos berge voor jou lê (Mt. Everest om meer spesifiek te wees) soos ‘n ou molshopie.

Jy sien vandag het vir my gevoel of ek nie fiks genoeg is vir die dag se take nie. Amper of ek siek word van die berg te vinnig klim. Wat noem mens dit nou weer? Daar is ‘n naam vir dit, wat die ouens kry wat die berg klim en hul liggame pas nie aan by die hele gedoente nie. Ag liewe aarde daar ontgaan die “fêncy” woord (waarmee ek baie slimmer voorkom) my nou heeltemal.

Maar ek is seker jy verstaan wat ek bedoel. Baie mense se bergklim planne is daarmee heen a.g.v. van die toestand wat hulle oorval en baie kon nie die taak waarvoor hulle baie lank voorberei, voltooi nie.

Nou ja, ek voel so. Of vandag ‘n totale mislukking was i.t.v. beplanning, werk, net sommer alles oor die algemeen.

Om alles te kroon moes ek ry om my kind te vat vir ‘n haarsny (ja hy is met lang hare skool toe, want, ek kon dit net nie ingepas kry tussen werk, motivering vir selfstudie by die huis, sodat hy net nie agter raak met sy skoolwerk nie, en omdat ons nie langs hulle kon sit en help met skoolwerk nie en alles andersins wat tussen in gebeur nie).

By die “Barber shop” aangekom (die een naby ons huis) vind ons dat hy toegemaak het. Ek staan verbaas en skud my kop. NOG ‘n besigheid wat moes toemaak a.g.v. die pandemie.

NOG mense wat moontlik sonder werk sit. NOG iemand wat “struggle” net om kop bo water te hou.

As ek so daarna kyk dan is my “struggles” aka my Mount Everests wat ek moet klim seker ‘n “walk in the park” in vergelyking met ander mense se “struggles”.

Ons kon, ten spyte van alles wat gebeur, nog ons deure oophou. Ons skuld is op datum, al is die skuld aan ons nou nie altyd so op datum nie. Ons kon kos koop, nuwe klerk aanstel, goedjies doen wat die lewe so bietjie lekkerder maak.

Ten spyte van al die berge wat daagliks voor mens lê, het ons tot hier gekom.

Nou ja, ek verloor alweer my storie hier. So die ryery wat hoogstens 45 min moes neem ontaard in ‘n “vinnige” rit na ons plaaslike inkopiesentrum toe wat toe 2 ure later word.

By die huis gekom, is my dogtertjie op die naat van haar rug besig om TV te kyk soos iemand wat NIKS graad 1 huiswerk het nie.

My seun moet sy leesklassie doen op die rekenaar (om sy oë te oefen) en liewe aarde, is dit nou vir jou ‘n geween en gekners van tande. Van die rekenaarprogram wat nie reg werk nie tot die tannie wat sy spoed te vinnig stel tot die rekenaar wat net nie saam werk nie.

Dis omtrent Klaagliedere of “Moan songs” soos ek daarna verwys.

Dan maak dit Sukkeldag se berg net nog groter.
Gelukkig weet ek ons is almal Kaput en gedaan. Gaan vanaand vroeg slaap sodat ons môre se berg wat nie geklim was nie kan klaar klim en nog vordering op Dinsdag se berg maak.


God se genade is groot. Die “joy” kom in die oggend.
Al voel ek soos iemand wat ‘n marathon gehardloop het, so seer is my skouers en nek van spanning.

Ek weet met ‘n goeie nag se rus sal die Here vir my moed en krag gee om die nuwe dag met mening aan te pak.
Die hele Pandemie deur voel dit al of ek berg na berg na berg versit en klim en sowaar as vet van nou af gaan dit wees om af te Ski eerder as op te klim.


Spreek dit asof dit reeds gebeur het en so sal dit wees.
Pasop môre, want vir jou gaan ek “tackle” dat jy lê…..Mount Everest vir JOU gaan ek uitklim en oorwin môre!

W A T C H T H I S S P A C E!!

Ek is seker ek kan môre een van daai denkbeeldige oorwinningsfoto’s plaas.

Jy weet die een in die snoesige sneeupakkie, sonbrille vir die helder sneeu, hand omhoog met die vuis gebal in oorwinning, rooi wange en neus van die koue wat jy trotseer het.

Daai een wil ek môre opsit. Die een van oorwinning. En nie net môre nie maar elke dag hierna.