Posted on Leave a comment

Spyt en Verwyt

Spyt of verwyt….as dit nou ‘n karakter moet wees sien ek voor my hierdie perfekte persoon. Sy is Mevrou Spyt-Verwyt ook bekend as “Hind sight”.

Jy sien sy doen alles reg altyd. Haar hare is nie “Frizzy” nie, haar tande is reguit. Sy is ‘n beroepsvrou met haar eie besigheid en 4 kinders, dalk meer. Sy is maer, eet gesond, doen haar naels en hare gereeld, oefen nog meer en bou gereeld legkaarte saam met haar kinders.

Sy is super geduldig, verloor nooit haar koel nie. Sy spandeer tyd aan alles en almal wat belangrik is, skeep niks of niemand af nie.

Sy werk 16 ure per dag, werk net halfdag. Sy ry haar kinders rond vir aktiwiteite, oefen vir 2 ure elke dag, slaap vir 8, word uitgerus wakker, is nooit moeg nie.

Sy doen haar jaarlikse opleiding soos vereis word van verskeie instansies waaraan sy behoort en nog meer, ken elke wet uit haar kop uit en is nooit onseker oor enige iets wat haar kant toe gegooi word nie.

Sy is alles wat ek nie is nie.

Elke insident in my lewe word deur haar ontleed. Sy vertel gereeld vir my hoe SY iets sou doen of nie doen nie.

“Hoe kon jy DIT doen?” Hoor ek haar weer kerm hier langs my. Haar gladde hare wip soos sy draf-stap langs my terwyl ek beweeg om die volgende taak te doen.

“Regtig EK sou dit GLAD nie so gedoen het nie jy weet. Jy moes eerder dit so gedoen het en dat gekies het. Kyk nou waar sit jy met die besluit wat jy geneem het. Jy moet mos alles weet voor die tyd. Hoe kon jy dit nie geweet het nie?”

Liewe aarde maar sy is omtrent soos ‘n plaat wat vashaak en iets wat net in jou oor bly geluide maak.

Vir jare het ek gereeld langs haar gestaan. My hare met haar hare vergelyk en gewonder hoekom my hare so “frizz” al spandeer ek ure om dit reguit te blaas.

Dan wonder ek hoe kan sy in ‘n nommer 8 denim in pas na 4 kinders. Ek het net 2 gehad en kyk hoe lyk ek.

Ander kere dink ek net by myself HOE DOEN JY DIT???

Hoe kry jy dit reg om 16 ure te werk, 8 te slaap, 2 ure te oefen EN nog kinders rond te ry, geduldig te wees, kos te maak en almal in die bed voor 7 in die aand? Hoeveel ure het jou dag Mevrou Spyt-Verwyt aka Hindsight? Jou somme maak nie sin nie of jy bly op Mars waar die dae ander ure het as ons sin (ek weet nie eens hoe lank is die dae op Mars nie….??)

Gou het ek besef dat sy eintlik niks is wat ek gedink het sy is nie. Sy is eintlik nie ‘n mens nie. Sy is net ‘n emosie. Of ‘n gevoel. Geen mens kan dit doen wat sy beweer sy kan doen nie.

Haar nommer is geblok en sy kan my nie meer kontak nie. Ek sal nie gemeet word met haar maatstaf nie.

Ek is ‘n mens wat my bes probeer elke dag met die inligting tot my beskikking en die professionele oordeel wat ek aangeleer het en toepas na die beste van my vermoë.

Haar kommentaar is nou soos ‘n “Spam” oproep op my foon. Hy flits verwoedelik rooi vir ‘n oomblik voordat hy net doodgaan en dood gedruk word want dis geblok uit my lewe uit.

Ek luister eerder vir die Heilige Gees wat as my helper gestuur is. Sy oproepe en kommentaar vat ek gretig en blok dit nie uit nie. Dis as “non-spam” gemerk en flikker ‘n vriendelike groen as Hy met my wil praat…..

Vaarwel Mevrou Spyt-Verwyt aka Hind Sight. Sterkte met jou 36 uur dae en als wat jy reg kan doen.

Ek is alles wat jy nie is nie en ek is dankbaar daaroor!