Posted on Leave a comment

Die Bom Speletjie

Toe ek begin werk het, nee wag, toe ek nog op skool was en ons iewers in 1996 of 1997 ‘n tweede handse rekenaar by iemand oorgekoop het, het ek ‘n sekere speletjie op die rekenaar ontdek. Dis ‘n speletjie met ‘n klomp blokkies op. As jy regs click met jou muis, dan plaas jy vlaggies op die blokkies.

Twee tipes vlaggies – rooi vlaggies en dan swart vlaggies as ek reg onthou. As jy op sommige blokkies druk, dan maak dit ‘n hele rits blokkies oop met niks onder hulle nie en ander maak nommertjies oop – een’s en twee’s. Niks wat ek ooit op die speletjie gedoen het, het OOIT sin gemaak nie. Ek het probeer om die reëls te lees en het later uitgewerk dat die syfertjies wat ontbloot word vir jou ‘n indikasie gee van die hoeveelheid bomme wat naby jou gekose blokkies is.

Die rooi vlaggies beteken jy merk waar jy DINK die bomme is, en die swart vlaggies die area’s wat jy reken bom-vry is. So kap ek altyd aan met die speletjie, verstaan glad niks van die reëls nie en trap altyd een of ander bom af, al analiseer ek die nommertjies en merk die blokkies wat ek dink bomme het.

Hierdie afgelope week of twee het dit vir my gevoel of ek ‘n soortgelyke speletjie in die regte lewe speel. Ok, sedert begin Desember 2021 al, voel dit of ons in hierdie realiteitsding vasgevang is. Die bomme wat ek probeer mis? Die gevreesde virus van die Pandemie waarin ons onsself bevind. Jy sien, maak nie saak HOE versigtig jy die reëls probeer volg en die spel probeer speel nie, dis net ‘n kwessie van tyd voor jy ‘n bom gaan aftrap.

Jy lees die reëls, dink jy verstaan en volg dit, merk wat jy reken bomme is met vlaggies en dit wat jy as veilig sien met die ander kleur vlaggies. Maar helaas, jy vat vir ‘n oomblik jou oog van die spel af en daar is dit so. Jy trap op hom. Die bom gaan af. Jou man toets positief. Die ding is in jou huis. Die ding wat niemand kan sien nie is nou hier.

Jy freak uit want jy weet nie wat om te verwag nie. Hy is NOOIT siek nie. Nou lê en slaap hy vir ure in die dag. Al die verantwoordelikhede van ouerskap kom op die een wat nie siek is nie neer. Liewe aarde, ek het soos ‘n enkelma gevoel op ‘n stadium. Dit was glad nie pret nie, laat ek jou vertel.

Nog erger vir my is om hom so te sien. Ek huil kort-kort en gaan doen dit maar in die badkamer waar niemand my kan sien nie. Ek wil nie hom ontstel nie. Wil nie die kinders ontstel nie. Ek moet sterk staan, hulle versorg. Sorg dat hy eet, medisyne kry, rus. Die duiwel kom kort-kort met jok stories in my gedagtes.

Hy probeer my selfs oortuig dat my man dit nie gaan maak nie. Hy het eintlik dit baie lig gehad en sy simptome was nie so woes soos mens ander hoor praat het nie. Tog val ek hook, line & sinker vir die leuen. Dit laat my nog meer uitfreak.

Ek slaap saam met die kinders in hul kamer. Ons moet mos isoleer van hom af. My arms raak seer van sleg en min slaap. My rug voel styf en verslaap omdat ek op ‘n matras, wat nie myne is nie, slaap. Jy sien, my matras voel of hy homself so om my lyf vou as ek gaan lê. Ek mis dit. So drie aande se min of geen slaap los my in trane. Ek is huilerig, kry niks uitgerig wat werk aanbetref nie. Ek besluit by myself, bogger daai liefde vanaand slaap ek in my eie bed.

Dis die Maandagaand. Die volgende dag voel ek soos ‘n nuwe mens. My arms is nie meer seer van sleg slaap nie. Dis vreemd maar dit pyn altyd as ek deur druk tye gaan, en nog bo op dit alles wanneer ek sleg slaap. Dank die Here vir my matras en ‘n goeie nag se rus!

Een of ander stadium hoor ek ‘n liedjie op Spotify speel. Jeremy Camp se Out of my hands. Ek het al voorheen die liedjie gehoor, as ‘n gunsteling gemerk en hy kom gereeld op my playlists op. Maar die keer is dit asof die Here met MY praat. Ek luister aandagtig na die woorde.

Ek besef die hele Pandemie, die virus, die bomme wat mens so probeer mis, is iets waaroor niemand van ons beheer het nie. Dis nie in ons hande nie. Maak nie saak HOE hard jy probeer nie, jy kan nie die onvermeidelike vermy nie…..

Ek luister aandagtig na die woorde. Take this out of my hands hoor ek Jeremy Camp sing. Out of my hands and into Yours…..ek staan ‘n oomblik stil en LUISTER net wat die Here vir my probeer sê hieroor…..Hy is in beheer ALTYD en niks is te groot vir Hom nie. Ons moet net oorgee dat Hy dit kan hanteer namens ons.

The Minefield Game