Posted on Leave a comment

Om te kan skryf en “blog”

Die Here het al lank dit op my hart gelê om hierdie inskrywing te maak. Op die Adorned kamp wat ek begin September bygewoon het, het ek met iemand gesels en soos wat ek praat, kom die woorde net uit oor hoe dit gebeur dat ek kan skryf. Vir diegene wat nie weet van die kamp nie, gaan lees gerus die inskrywing oor Heart, Heartbeat, Rhythm.

Goed, so terug by die storie wat ek op die kamp vertel het. Ek het met Lynn Grobler van Journaling on the Way gesels. Ek noem toe vir haar dat ek oortuig is dat my werksagtergrond my die voorsprong gee om te kan skryf. Sy was nogals verbaas toe ek dit gesê het. Dit, saam met die feit dat, ek dink my ma ‘n hidden talent gehad het om te skryf en ek dit by haar geërf het….

Jy sien, my ma het vir ons drie dogters elkeen op ons 21ste verjaarsdae, briewe geskryf. Dit was vir my so mooi en spesiaal, want, ons het nooit sulke gesprekke in lewende lywe gehad nie. Dit was meer in skrif gekommunikeer as ek nou reg kan onthou. Later het gesprekke ontaard in sms boodskappe, e-posse, Whatsapps. Nie noodwendig DIEP goed altyd nie, maar goed wat net vir my persoonlik makliker is om te hanteer in skrif as in lewende lywe – as dit nou sin maak wat ek hier probeer sê.

Goed, so my opleiding as ‘n Leerlingrekenmeester, het my geleer dat, my leêr vir homself moet praat. Sonder dat ek as mens ‘n woord uiter, moet my oudit leêr op sy eie twee spreekwoordelike voete kan staan. Hy moet vir die gebruiker, wat redelike kennis en agtergrond het, kan verduidelik wat my professionele opinie was en hoekom ek sekere toetse uitgevoer het en gevolgtrekkings gemaak het.

Ai, daar klink ek nou amper soos ‘n Oudit Standaard!! Maar ek het dit baie ernstig opgeneem. Omdat my leêrs ook nagesien kan word deur die professionele instansies waaraan ek behoort, het ek die erns van die saak gesien. Goed moet reg gedoen word die eerste keer! Ek het ook opleiding gedoen om te verseker dat ek relevant en op datum bly, en ook omdat my kwalifikasies hope en hope ure se opleiding elke jaar vereis het.

Toe ek my eie praktyk begin, het ek nog meer opleiding opgesoek, want nou was EK die vennoot. EK moet sorg dat alles reg is! Weet jy watter groot taak is dit en hoeveel onsekerheid skep dit? Nie te min, so kom ek by Probeta uit wat opleiding aanbetref. Ek woon gereeld hul sessies by wat van toepassing is op my praktyk en ek moet sê, DIT het my ook die voorsprong gegee om te kan skryf. Die opleiding wat ek ontvang het.

Die instansie waaraan ek behoort, SAICA, het, genadiglik in 2020 die reëls rondom opleiding verander – net op die regte tyd want dit was net voor die Pandemie alles omver kom gooi het. Dit maak die lewe vir seker makliker, alhoewel ons almal onseker was oor wat om te doen en hoe dit werk. Sodra jy verandering embrace dan is dit nie meer so oorweldigend nie. Wat ek ook geleer het met tyd is, as jy teachable is of leerbaar, dan kom jy baie verder in die lewe as wanneer jy deur die lewe gaan met ‘n alomwetende uitkyk. Niemand kan jou leer as jy nie geleer WIL word nie….

In 2021 verander die reëls ALWEER…die keer is die vereiste Continuous Ethical Training oor 12 maande. Ja, ek erken, ek het my oë gerol. Want wragties. Net NOG iets om in te pas in ‘n propvol skedule. En ethics van alle dinge? Moet ons CA’s REGTIG geleer word om eties op te tree? Dis ingebrand in my hart in om ALTYD die regte ding te probeer doen, al kyk niemand nie. Ek kan regtig nooit ander mense verstaan as hulle nie soos ek dink en optree nie. Nie te min.

So stel ek die heel jaar uit om die taak te begin en dis bloot oor die onsekerheid wat heers rondom dit. Probeta stuur ‘n e-pos oor ‘n twaalf maande program wat hulle aanbied wat aan SAICA se vereistes voldoen. Ek lees hul bemarking en besluit dat DIT is wat ek gaan doen. Ek gaan nie self oor 12 maande eers PROBEER om hierdie continuous ding aan te pak nie. Ek weet sommer op my eie gaan ek op my gesig val en dan is dit ‘n storie en ‘n half om dit reg gestel te kry.

Ek besluit toe om vir die heel beste opsie te gaan wat hul aanbied, die een wat in diepte ingaan. Ek is mos die baas en ek moet goed WEET sodat ek ander kan oplei, so dit help nie eens ek mors my tyd met die eerste opsie nie. Nie dat dit tydmors is nie, ek glo jy verstaan wat ek bedoel. Ek het die grof geskud nodig jy weet? As ek nou so daarna kan verwys!

Nou ja, een maand na ek opgeteken het vir die program, kom ek uiteindelik aan die gang. Ok, drie weke na dit, einde September. Ek begin dit aanpak en diep binne in my gees begin ek opgewonde raak oor opleiding. Seriously WIE raak opgewonde oor OPLEIDING van alle dinge?

Die tema? Authentic journalling. My man lag en sê dit klink soos iets wat vroumense van sal hou om te doen. Ek rol my oë en besluit om net aan te gaan, ek het mos nou commit tot die ding en ek moet dit doen, anders is ek nie geldig by SAICA nie. Ek doen my Tall Trees Analysis – die analise van jou karakter omgeskakel in die bome se formate gebasseer op Hettie Brittz se boeke Kweek kinders met karakter.

Ek kry my analise terug, lees deur die verslag en staan verstom. Dit som my op, tot op die punt. Dis asof Hettie oorkant my gesit het en ‘n onderhoud met my gevoer het en my opgesom het. Ek gaan terug na my verslag van 2019 en sien dat my profiel verander het. “Dis vreemd.” dink ek by myself. Ek kontak Lynette Berger van Probeta dadelik per e-pos. Half bekommerd en verbaas op dieselfde tyd.

Haar terugvoer? Mens se profiel kan verander en daarom dat jy dit gereeld moet doen om seker te maak jy ken jouself en weet hoe om werksituasies te hanteer. Ek begin toe redeneer by myself HOEKOM my profiel sou verander. Die antwoord? Die Pandemie. Die Pandemie en alles wat saam met dit gaan het ALMAL se lewens kom verander.

Vanmiddag (ja op ‘n Saterdagmiddag) kyk ek die inleidingsvideo van die Authentic journalling en soos wat sy praat en goed verduidelik, begin soveel meer goed sin maak vir my en hoe my blog inskrywings vorm vat en realiseer. Jy sien, vir my, begin die woorde rond draai in my kop. Die konsep begin DAAR as ‘n gedagte. Maar, as ek nie die gedagte neerpen nie, dan begin dit cluttered raak in my brein.

Dis dan gewoonlik wanneer mens oorweldig begin voel en dan net vir jou rekenaar se skerm begin staar en eintlik nie weet waar om te begin nie. MAAR, as jy begin om ‘n lysie te maak van dit wat gedoen moet word, kanaliseer jy jou gedagtes in geskrewe vorm. Lynette beskryf soveel goed so mooi in daardie video – vir die wat moet etiese opleiding doen, gaan kyk gerus, dan sal jy beter verstaan.

Maar weet jy wat is my probleem? My lysies begin lysies kry vir lysies van lysies se lysies wat gedoen moet word. Ja, lag lekker, ons ALMAL het lysies vir lysies! Soos Lynette dit noem, die geskrewe vorm is die fisiese manifestasie van iets wat in jou gedagtes was, of soos ek ook daarna verwys, in my gees.

Ek besef ook nou, dat 2020 vir my een GROOT uitdaging was. Ek haal nou nog werk in van 2020. Jy sien, vir ‘n Sierboompie, dis nou ek, WERK iets soos ‘n Pandemie net GLAD nie. Alles voel buite beheer. Jy kom op ‘n punt dat jy NET DIE NODIGSTE doen. Maar net die nodigste, val nie noodwendig in die kwadrant wat dit moet wees vir jou om as mens optimaal te kan funksioneer nie.

Kwadrant?” vra jy nou. “Ja” is my antwoord, “kwadrant”. Lynette verduidelik in haar video dat jou tyd wat jy spandeer aan goed in vier kwadrante opgedeel kan word. Vir die wat nou heeltemal verlore is, vat ‘n bladsy en deel hom op in vier. Trek ‘n lyn in die middel van die bladsy van bo na onder en weer in die middel van die bladsy van links na regs. Een blokkie is ‘n kwadrant….

Elke blokkie het ‘n naam. Dis een van vier – Belangrik & dringend, Belangrik & nie-dringend, Nie-belangrik & dringend en laastens Nie-belangrik & nie-dringend nie. As jou tyd in een van die laaste twee kwadrante val, dan heers daar gewoonlik chaos in jou lewe. Hierdie kan ek beaam – dis hoe 2020 vir my was. Ek het meer bekommer oor die wasgoed wat gaan ophoop as om werk te doen en die huis wat ek kon HOOR vuil word soos wat almal rond beweeg elke dag. Ek kon net nie funksioneer nie.

Met die dat ek op my manier journal op hierdie platvorm, het die Here my gehelp om orde te skep. Natuurlik is daar BAIE goed waaroor ek nie kan blog nie, want dis net te persoonlik om met die hele wêreld te deel. Wat ek ook besef het, is dat as jy nie andersins tyd maak om dit met die Here te deel in skriftelike formaat nie, jy jouself eintlik maar blootstel aan skinder en bespreking.

Ja, jy het reg gelees. Ons almal faal gereeld – ons vertel net gou-gou ietsie van iemand wat ietsie gedoen het. As jy nie waak nie, word dit skinder. Ek besef nou, dat, ek nog meer gereeld gaan moet journal om hierdie gedagtes, wat Lynette ook as energie beskryf, uit te kanaliseer, sodat dit nie my hart verswart nie. Ek weet emosies is energie en kom emosies nie maar uit gedagtes uit nie? Eintlik is ons mense net een groot bondel energie wat reg gekanaliseer moet word.

Eers as ons op daardie punt kom, kan die Here ons werklik gebruik waarvoor Hy ons op aarde geplaas het. Tot dan, is ons maar soos golfies wat rond gewaai word deur die wind….lang en die kort van hierdie nie so kort inskrywing? Gaan kanaliseer jou energie sodat jy dit positief kan gebruik!! Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie reis wat die Here my op het. Ek is opgewonde oor hierdie opleiding, want ek weet, na dit, kan ek nie anders as om changed (dit klink net beter hier in Engels) anderkant uit te stap nie.

Alle eer kom altyd na God toe. Hy gee ons die gawes om ander te kan bedien en te help en te lei na Hom toe. Ons moet die saad saai, en wanneer die tyd reg is, sal die Heilige Gees dit water gee en dan sal dit ontkiem in die mense in wie se lewens ons saad gesaai het.

To write and blog