Posted on Leave a comment

Die “crash”…..

Ek het die crash oorleef. Nie ‘n voertuig crash of vliegtuig crash nie. Nee. My rekenaar se crash. Ja jy lees korrek – die rekenaar. Ek weet eerlik waar nie wat klink beter in Afrikaans as net plein weg crash nie….vir die tweede keer in my lewe as ‘n besigheidseienaar gebeur so iets.

Die eerste keer was 15 jaar gelede en laat ek jou vertel, ek het NIE dit hanteer soos wat ek nou dit hanteer het nie. Ek was ontsteld en het die HELE TYD gehuil! Kosbare tyd en energie vermors op goed wat BUITE my beheer was.

Die keer was anders. Dis ‘n nuwe skootrekenaar (hoe hou jy van die suiwer Afrikaans vir Laptop?), skaars 3 maande oud. Geen werkdata verloor nie, maar ander persoonlike en besigheidsdata (wat ek ewe slim besluit het om op my C: te stoor a.g.v. die sensitiwiteit van die inligting) is verlore.

Maar tog was als nie verlore nie, as dit sin maak? My e-posse is op ‘n web-gebasseerde platvorm, so ek het eintlik net BAIE OU e-posse verloor van langer as so 4 jaar terug. Laat ek eerder sê ek het nie toegang tot dit huidiglik nie. Dis seker ok want daardie inligting is nie regtig relevant nie jy weet?

Al die besigheidsdokumente is op e-pos op die web, ek moet dit net weer gaan soek en stoor soos ek altyd gedoen het. Die gapings opvul van wanneer ek die nuwe rekenaar gekry het tot nou toe. Lang en kort is, ek KAN om dit werk. Dis ‘n pyn in die nek maar dit kan gedoen word! My grootste frustrasie? Om vir 3 dae nie te kan werk nie terwyl ons data probeer afhaal van die ander rekenaar af, opstel op ‘n ander rekenaar, internet skakels van plekke wat ek gebruik vir werk probeer onthou en weer book mark op die internet, ens.

Ek vertel vir die mense wat vir ons werk, dit voel of ek ‘n nuwe werk begin het! Ek is hier, verdien ‘n salaris maar doen NIKS om by te dra om die salaris te betaal nie! Ek het omtrent verlore en magteloos gevoel, sonder enige iemand om my in ‘n rigting te stuur oor wat om te doen.

Hierdie hele week speel daar ‘n liedjie in my kop. Matthew West se Brand New. Ek kon nie verstaan WAT God vir my probeer vertel met die liedjie nie? As jy na die woorde luister, is dit, in my opinie, meer van toepassing op iemand wat hul lewe onlangs na Jesus gedraai het.

Diep binne in my gees voel ek die Here druk op my hart om dinge te doen waaroor ek vir so lank al bid. Dinge wat Hy sê MOET gebeur. Dinge waaroor ek getwyfel het oor of ek REG GEHOOR het oor wat om te doen. Hy stuur vir my 2 verse as bevestiging. Maar die een vers oorvleuel oor twee boodskappe as dit nou sin maak? Ek het 3 verskillende boodskappe by verskillende mense gekry en een van die boodskappe, toevallig die tweede een, het beide verse in gehad.

Toe ek besef wat besig was om te gebeur met die rekenaar, begin ek bid. Ek salf die ding. Ek bind die werke van die vyand, want ek het gedink dit was hy wat my probeer keer om te doen wat die Here op my hart gelê het om te doen. Ek het net nie die knoffel gebruik om die vampiere weg te hou nie (soos wat sommige mites mense probeer wysmaak)…..ek was gefrustreerd maar kalm op dieselfde tyd. Ek was nog nooit so kalm oor iets voorheen in my lewe soos wat ek die week was nie. Onthou nou – die is ‘n GROOT ding – dis my WERK LEWE wat in rookwalms opgaan voel dit vir my!

Maar, hoe meer ek oor dit dink, hoe meer besef ek dat God toegelaat het dat dit gebeur! Hy het orde vir my kom skep, want Hy het gesien ek kry dit nie reg nie! Jy sien, ek het hierdie sisteem op Outlook gehad. Dit het fantasties vir my gewerk, of so het ek gedink. Maar daardie sisteem was eintlik besig om my in die grond in te boor wat veroorsaak het dat ek nie effektief kon funksioneer nie.

Ek het steeds meerderheid van die tyd oorweldig gevoel en in ‘n dwaal….ek het steeds gehandel soos ek gedoen het in 2020 tot ‘n mindere mate. Gedoen wat ek moes om te oorleef maar nie regtig mylpale gehaal en vordering gemaak nie! Ek moet sê ek geniet nogal die Here se sin vir humor! Hy forseer my nou om op papier te skryf, veral werksgoed….ek het voorheen lysies gemaak. Maar my lysies het lysies begin kry en dit was net oral….op klein papiertjies, post it notes, ou papier. Noem dit en dit het ‘n lysie van een of ander aard op gehad!

Jy sien, wat ek besef het was, ons is so afhanklik van tegnologie om orde te skep en wanneer tegnologie ons faal, dan is ons verlore. Die Sierboom wat ek is het VERLORE gevoel en buite beheer. Ek voel hoe die Here se Gees op my hart druk om net te LUISTER wat Hy wil hê ek moet doen. “Skep orde op die manier hoe ek jou geleer het, lank terug reeds.” hoor ek die fluistering in my siel. “Skryf dit neer, merk dit af as dit klaar is. Bly gefokus op wat jy moet doen wanneer dit tyd is om die taak te doen.”

Skielik besef ek HOEKOM die liedjie die heeltyd in my kop maal hierdie week. Dis omdat God iets nuuts wil doen. Hy is besig om my te vernuwe op verskillende vlakke wat ek nie geweet het verbetering en vernuwing nodig het nie.

He’s making you new….He is making you brand new! Hoor ek die woorde draai en draai in my gedagtes. “Ek weet Here. Ek verstaan.” is my antwoord. Hier is op die vernuwing wat besig is om te gebeur! Mag God se naam ALTYD verheerlik word, veral dit wat Hy op my hart druk om te doen.

The crash…