Posted on Leave a comment

Reflekteer – Slot

Nou dat my brein sy channel hopping gedoen het tussen my kinderjare en die afgelope twee jaar, raak ek en my gedagtes weer stil….Ek reflekteer nog al die pad. Ek hoop nie ek is in ‘n doodloopstraat nie en ook nie going nowhere slowly (or fast for that matter) nie.

Ek wag geduldig dat die Here net so bietjie sin in my kop kom sit terwyl hy die spout van gedagtes kom stilmaak het. Hoekom voel mens so? Hoekom is dit asof dit heimwee is wat probeer nesskrop?Dankbaarheid is die volgende woord wat vir my begin voorloop tussen al die woorde wat resies jaag tot my vingerpunte. Net so. Dankbaarheid? begin ek alweer met myself en die Here praat.

Jip, you got it girl! Dankbaarheid! Nou goed dan. Dankbaarheid sal dit wees. Ek kou so bietjie aan hom maar dis nie lank nie of ek het dit. Ek vang dit. Ek voel so oor alles en die tyd van die jaar want diep diep binne my het ek eintlik hierdie ongelooflike dankbaarheid van alles wat was en alles wat nog kom.

Dankbaar dat ons nog ‘n jaar gespaar is op aarde. Dankbaar dat die Here vir ons voorsien ten spyte van die Pandemie. Dankbaar dat ons werk het, inkomste het. Dankbaar dat ons gesond is.

So stroom die dankbaarheidslysie deur my gedagtes. Dis asof hulle almal opspring en hul hande opsteek om te sê “Pick me! Pick me!” Hoe kan mens net ‘n paar pick as daar so baie is om voor dankbaar te wees?

Dankbaar vir goeie memories ten spyte van die swaar en moeilike tyd waarin die hele wêreld hom bevind. Dis hoekom dit voel soos heimwee. Dis eintlik nostalgie op ‘n goeie manier….terug dink aan goeie tye. Lekker tye.

Met ‘n dankbare hart sluit ek af. Ek vra die Here om ‘n liedjie te gee wat hierby sal aansluit. Ek maak my oë vir ‘n oomblik toe. Dan kom Matthew West se Brand New by my op.

Ek hoor al die liedjie. Ek is seker het al hieroor geblog (of webjoernaal soos my skoonsussie my uit my misery gehaal het deur die Afrikaans vir blog te google). Maar nie te min, dis die wonderlike ding van God se woord en uiteindelik praise & worship musiek ook.

Dis lewend en elke keer wat jy dit lees of luister is daar net weer ‘n nuwe betekenis wat jy daaraan koppel…..He is making you new, He is breaking your chains, He is making you BRAND NEW! Hoor ek die woorde sing deur my kop….

Soos wat tyd aanstap en dinge gebeur, is die Here konstant besig om ons te vernuwe, as ons Hom toelaat, bygesê. Alles wat met ons gebeur, die goeie en die slegte (soos dit soms vir ons voel) is besig om ons beter mense te maak vir die volgende memories wat ons gaan maak…..ons tyd op aarde is so kort. Ek besef dit elke dag meer en meer.

As jy 20 is voel 40 so ver. As jy 40 is, weet jy 70 of 80 is bitter naby. Het jy jou deel gedoen vir God se koninkryk? Het jy nog genoeg tyd om te doen waarvoor die Here jou op aarde geplaas het? Is jy nou besig om te doen waarvoor jy geroep is? Of wag jy tot eendag? Liewe aarde, dis asof daar nou weer ‘n hele swetterjoel van gedagtes is wat nou weer deur my kop begin marsjeer…..

Ek luister die liedjie weer…..drink die woorde in. Laat dit oor my gedagtes spoel, soos wat die reën die aarde nat maak…..in die hoop dat daar Goddelike gedagtes sal voortspruit en dat mens nie in die wêreld en sy gebruike en demands vasgevang sal wees nie….He is making you BRAND NEW!!!!!

Reflect – The final chapter
Posted on Leave a comment

Reflekteer – Hoofstuk 3

Vandag dwaal my gedagtes terug na my kinderjare. Hoe dit gevoel het as dit Desember was….as Kersfees nader staan. My ma het gewoonlik gewerk, nooit verlof gehad oor Desember nie. In elkgeval nie wat ek regtig kan onthou nie….miskien dink ek dalk nou net aan een Desember? Wie weet….

Ek dink dit was seker swaar vir haar. Om te werk terwyl ons almal by die huis rondgehang het. By gebrek aan enige iets anders om te doen, het ek begin krieket kyk. Myself geleer hoe werk krieket. Daar is mos gewoonlik 5-dag krieket aan. Dit het my baie inligting gegee want dis mos baie boring en lank (nie die opgewondenheid en aksie van een dag krieket of 20/20 krieket nie).

Ek onthou nog die King Pie advertensie. Die een waar die umpire met sy vinger in die lug staan wanneer ‘n speler uit geboul of uitgevang is. Dan lees die woorde onder One Hot Pie Please. Ek en my man lag nou nog oor dit en spot self soms so as ons lus is vir ‘n pastei…..

Dan dwaal die gedagtes na Ou Kersaand. Dit was altyd by my ma se ouers in Benoni. Hulle het Engels groot geword en eerder Ou Kersaand saam gekuier as Kersdag. Ons het dalk Ou Kersaand so gedoen omdat ons altyd gaan swem en kuier het by my pa se broer in Pretoria op Kersdag, nou dat ek daaraan dink.

So ons het elke jaar best of both worlds gehad. Beide families gesien oor Kerstyd. Nie soos ons dit nou soortvan doen nie. Die jaar is dit haar familie, volgende jaar sy familie. Ons is nie so streng met dit nie, spandeer in elkgeval meeste van die tyd met my skoonfamilie eerder as my familie, want my familie (sussies en hul gesinne – nie my ouers nie en deesdae my pa en sy nuwe vrou nie) spat altyd in rigtings see toe om te kamp oor Kersfees….

Ons het met ‘n Kersboom groot geword. Nie woes baie persente onder die boom nie, maar tog ‘n ietsie. Ek het altyd gevolunteer om die Kersboom op te stel. Toe ek kleiner was het ek nie die konsep verstaan van balans op die boom nie. Die boom het ALTYD vorentoe geval na ek klaar was tot my GROOTSTE frustrasie….

Wanneer ons gery het na my Ouma en Oupa toe, was die boom leeg onder. Geen persente. Wanneer ons terugkom laat die aand was daar persente. Omdat ek die jongste was het my ma vir lank gemaak of Kersvader bestaan. Vandag weet ek NIKS van die manier van hoe ons Kersfees gevier het, die boom, of die hele konsep is nie Bybels nie.

Terug by die Kersboom en persente. Ek kon NOOIT verstaan HOE Kersvader in ons huis kom nie. Daar is nie ‘n kaggel of skoorsteen nie. My ma het altyd vertel dat hy homself klein maak en deur die sleutelgat van die voordeur kom.

Innoverend en kreatief, die stories van my ma! Ek het later jare haar gevra hoe sy dit altyd gedoen het. Die persente onder die boom. Sy laat toe die geheim uit. Sy het altyd as ons almal in die kar reg was om te ry, gou “iets vergeet” en terug gehardloop in die huis in, die persente onder die boom gesit en die item wat vergete was kar toe gebring.

Ek wonder heeltyd hoekom my gedagtes my terug vat na verskeie tye toe in my lewe…..

Word vervolg…

Reflect – Chapter 3
Posted on Leave a comment

Reflekteer – Hoofstuk 2

Dis asof die Piet-my-vrou se geroep my ook wil laat Reflekteer oor dit wat was. Ek hoor hom die afgelope week amper die heeldag. Van vroegdag af. In die boom vlak duskant ons agterdeur.

Dis asof hy roep net vir my. Ek hoor hom. Dan dwaal my gedagtes terug na 11 April 2021 toe. Dit voel soos gister, tog was dit 8 maande gelede. Ek werk uit op my vingers hoe lank terug dit is….ek kon ook 12 minus 4 gebruik het maar besluit op ‘n fisiese manier om hierdie som te maak.

Ja ek weet, CA’s is NIE veronderstel om somme op hul vingers te maak NIE. Maar tog doen ek dit want dis iets wat vir my werk. Hoekom weet ek nie. Terug by die Piet-my-vrou en 11 April 2021. Daardie dag het ons my geboorte dag gevier.

‘n Volle 40 jaar oud. Ek kan nou nie sê een handjie vol of twee hande vol nie want ons het net 10 vingers…..maar dit merk die dag wat ek 40 geword het. Die Piet-my-vrou het daardie dag ook van vroeg af al geroep. So asof hy net ‘n klank memory wil los in my brein….elke keer as ek hom nou hoor dink ek aan daardie dag.

My ma het my nie sien 40 word nie. Dit was vir my baie erg maar ek weet dis ook ok. Ek sal oorleef. Baie mense se ouers sien hulle nie 5 of 10 of 18 jaar oud word nie…..

Die vorige jaar, toe ek 39 geword het (of geraak het soos my dogtertjie steeds soms die verkeerde woord gebruik) was ons in Hard lockdown. Nie Grendeltyd nie. Dit klink te ordentlik vir hoe dit werklik was daardie tyd. Daardie dag het ek besef en geweet hoekom die Here my in 1981 aarde toe gestuur het en nie 1980 soos ek altyd voor gewens het op skool nie. Stupid ek weet, hierdie wens van my toe ek jonger was….

Wanneer ek terug kyk na 2020 en 2021, is dit verstrengel vir my soos ek voorheen genoem het. Dis moeilik om te onderskei wat was die jaar en wat was laas jaar. Goed wat in 2020 gebeur het voel soos gister en goed wat in 2021 gebeur het voel soos eeue gelede. En andersom ook. Dis vreemd. Weird.

Ek praat baie met die Here hieroor en vra Hom HOEKOM dit so voel vir ons as mens? Een ding wat ek wel weet van die Pandemie is dat mense nie meer so gretig is om agter hul maskers en mure weg te kruip nie.

Vir die eerste keer DEEL mense hul emosies, hoe hulle voel, hoe hulle dinge ervaar met mekaar. Voorheen sou ons en ander net die gewone Goed dankie self? antwoord gegee het as iemand jou vra hoe dit gaan. Maar van 2020 af was dit ANDERS.

Word vervolg…..

Reflect – Chapter 2
Posted on Leave a comment

Reflekteer – Hoofstuk 1

Die tyd van die jaar is dit altyd asof daar een of ander vorm van heimwee in my hart probeer nes maak en sy plekkie vind. Dit maak dat ek eintlik glad nie van die tyd van die jaar hou nie. Die tyd wanneer ons eintlik een van die grootste gebeurtenisse vir die mensdom moet vier. Christus se geboorte. Ek weet ook dat daar baie debatte is oor wanneer Hy werklik gebore was maar dit daar gelaat…

Ek het al baie gewonder HOEKOM dit so is. Hoekom voel ek so? Hoekom is die tyd van die jaar so swaar vir sommige mense? Soos wat al die vrae deur my kop maal, is dit asof die Heilige Gees Sy hand in die gekolk en gemaal van gedagtes steek om dit stil te maak.

Ek raak stil en probeer weer hoor en LUISTER wat die Here vir my probeer sê. Die woord wat bo alles uitstaan is REFLEKTEER. Reflekteer? vra ek. Ja Reflekteer kom die antwoord terug.

Reflekteer. Ek kou aan die woord soos wat my seun sy kougom kou heeldag lank. Reflekteer. Ek besluit om die betekenis van die woord in die H.A.T. te gaan opsoek. Nie omdat ek nie weet wat dit beteken nie. Nee, net om bietjie iets anders in my blog te doen vir ‘n verandering en om maar tog seker te maak ek verstaan die konsep waarin die Here die woord vir my gee.

Ek haal die wynrooi woordeboek van die boekrak af, blaas die stof van min gebruik af. Dit blyk ‘n werkwoord te wees. Ander verduidelikings is terugkaats, weerspieël. Dit laat my dink….as ek reflekteer op die jaar wat verby is, dan kyk ek na als wat terugkaats na my toe. Al die gebeurtenisse.

Een verskil is, ek kyk nie net na 2021 nie, maar na 2020 en 2021 so saam-saam. Jy sien, laas jaar en die huidige jaar voel ineen verstrengel vir my. Ek is seker dis hoe dit vir almal voel, nie net vir my nie.

Word vervolg….

Reflect – Chapter 1