Posted on Leave a comment

Die Prisma

Dis 19 Junie – Vadersdag 2022. Ons is ALWEER laat vir kerk. En nie omdat ons dit so beplan het of tot tien oor nege geslaap het nie. Nee, dit het net so uitgewerk. Ons werk hard aan betyds wees maar dit voel my dis iets wat ons ontglip die heeltyd.

Op ‘n stadium toe ons ry, voel dit of ons net nie by die kerk kom nie, dit alles terwyl die tyd net aanstap. Time and tide waits for no man dink ek. Ek dink al ‘n paar dae aan die gesegde en besef net hoe waar dit eintlik is.

Op ‘n kol het ek amper moed opgegee om by die kerk uit te kom. Amper gedink ons gaan maar iets anders doen eerder as kerk toe gaan. Maar gelukkig kom ons daar aan. Liewers laat as nooit.

Die gasspreker, Alan Sutton kom aan die woord. Ek hang aan die oom se lippe want dis asof dit wat ek binne my voel, in nog beter woorde omskep word as wat ek ooit dit sou kon vertel. Hy bring vir my twee goed bymekaar, iets wat ek nooit saam aan gedink het nie.

Geestelike gawes en Vrug van die Gees. Hy gaan voort om te verduidelik dat die Heilige Gees IN jou werk en dan DEUR jou werk. Ek hoop nou ek het reg onthou, maar IN jou werk is die Vrug van die Gees. Jy weet die skrif wat in Galasiërs staan – liefde, lankmoedigheid, daai goed wat ek die afgelope naweek in die vroeë oggend ure, toe my seun weer nie kon slaap nie, glad nie gewys het vir hom nie. Ek was Momster gewees.

Nie te min. Dan werk die Heilige Gees DEUR jou en dis waar die Gawes van die Gees in kom. Die woord van kennis, profesie, tale, uitleg van tale – daai goed. Die goed wat ek altyd, toe ek groot geword het, gedink het NET beskore was vir die mense van die Bybel, en meer nog NET vir die dissipels en nie vir ons hedendaagse mense nie.

Soos die oom praat begin ek skielik (en randomly out of nowhere voel dit vir my) ‘n Prisma sien voor my. Jy weet – die wat ons op skool in Wetenskap gebruik het? Die een wat jy die wit lig laat inskyn het en hy dit opbreek in die sewe kleure van die reënboog.

Ek besef die Here gebruik die visioen, as ek dit nou so kan noem, om vir my nog meer te wys wat die oom bedoel. Jy sien, jy moet eers toelaat dat die Heilige Gees IN jou werk (God se suiwer wit lig wat IN die Prisma skyn) en dan kan Hy DEUR jou werk (die reënboog kleure wat uitkom uit die Prisma uit). Die reënboog kleure wys vir die wêreld die mooi van God – en die reënboog is mos God se belofte aan ons as mens, is dit dan nie?

Ons moet mos ligdraers wees in hierdie donker wêreld. En ons moet vir die wêreld wys dat ons Vrug van die Gees het. Elke dag, nie net Sondae nie. In alles wat ons doen altyd. Dis iets waarvoor ek staan en wat die Here jare terug reeds vir my gewys het. Waarna ek streef elke dag. Iets wat Kobus Windt, ons pastoor, ook gereeld sê – as jy in ‘n garage slaap maak dit jou nie ‘n kar nie. Net so is jy nie ‘n volwaardige Christen as jy kerk toe gaan en slegs op selektiewe tye Christenskap beoefen nie.

Ek snap amper dadelik wat die oom bedoel en wonder net of almal wat na hom luister dit werklik snap. Jy sien, nog iets waarvoor ek staan is Geregtigheid of Righteousness soos dit net vir my mooier klink in Engels. Om ALTYD die regte ding te doen al kyk niemand nie.

Dit waarvoor Beroepsvrou se voorskote simbolies is – die borsharnas van geregtigheid wanneer jy in bediening staan vir jou gesin met die voorbereiding van die maaltyd wat hulle moet voed (fisies en geestelik ook). Jy sien, ek reken jy moet eers dit met jou naaste mense mee regkry voor jy dit vir die wêreld kan gaan wys.

Dis nie altyd maklik nie. Soos ek wat die afgelope naweek ALWEER Momster was. Jy sien die oomblik dat my kinders, wat nou al groot is en veronderstel is om deur te slaap, my verhoed om te slaap of uit die slaap hou, kom Momster soms uit. Ek sukkel meeste van die kere om te slaap, as jy gewonder het hoekom ek na dit verwys. Deesdae slaap ek beter as voorheen. Iets waaroor ek dankbaar is! Ek probeer my bes om geduld in die middel van die nag te beoefen en baie keer kry ek dit reg. Maar daar is die uitsondering op die reël, wanneer ek besonders moeg is en baie sleg geslaap het dat ek vaal hierin.

Om terug te kom na die oom se boodskap toe – daar is nog iets wat hy gesê het wat my aandag gevang het en skrif wat hy genoem het waaroor ek lankal wil blog. En dit is God se asem in ons longe en om die Here te soek in alles (God is in die detail). Ek gaan dus nie nou hieroor nog verder uitbrei nie, ek gaan dit hou vir ‘n ander inskrywing of twee. Want ek kan ook nie onthou of ek al oor so iets geskryf het nie? Ek skryf so baie soos wat ek praat en praat so baie as wat ek skryf, ek kan nie altyd onthou wat was gedagtes en wat was werklik geuiter of geskryf nie.

Die lang en die kort van die oom se boodskap en dit wat die Here vir my gewys het – gaan jy ‘n Prisma wees vir Hom sodat Hy jou kan gebruik om Sy koninkryk uit te brei? Gaan jy toelaat dat Sy lig in jou skyn sodat jy dit kan terug reflekteer vir die wêreld in die kleure van die reënboog?

Ek weet ek is daar – meer as bereid om die prisma vir God se koninkryk te wees. Honderd en tien persent. I am all in vir God en Sy koninkryk. Elke keer as ek die liedjie van Matthew West hoor All in dan dink ek, dat ek reken ek is all in. Boots and all. Ek wil van die dakke af skree vir die wêreld dat ek Syne is soos Kim Walker sing in haar liedjie Rooftops.

Dis vir my vreemd dat almal nie voel soos ek voel nie. Dis dan so logies, eenvoudig en voor die hand liggend (moes daar nou ‘n handvol koppeltekens ingekom het in die laaste woord of stelling?). Nie te min. Ek reken die Here is besig om almal se prisma’s reg te kry en miskien daarom dat hulle nie noodwendig passievol oorkom vir Sy koninkryk nie.

Sommige staan nog nie op die plek waar die lig skyn en op die regte plek val nie. Hulle is naby maar nog nie daar nie. Ander prisma’s is nog al die pad in hul boksies waarin hulle hulself, of dalk selfs God, geplaas het dat die lig net nie hulle bereik nie.

Waar staan jou prisma? Vang jy God se lig op? Het jy al die Here uit die boksie gehaal waarin jy Hom probeer plaas? Laat jy Hom toe om IN jou te werk sodat Hy DEUR jou kan werk ook? Hoe lyk jou Vrug van die Gees en jou Geestelike gawes? Doen jy waarvoor God jou op aarde geplaas het?

Ek hoop en glo dat ek doen. Ek kry dit nie altyd reg nie maar ek glo dat my Prisma regstaan om God se lig terug te weerkaats vir die wêreld, sodat Hy IN my kan werk en dan DEUR my werk soos en wanneer dit nodig is!

The Prism