Posted on 1 Comment

Die “Joy”

Die skerp reuk van Creosote (ek moes dit gaan google – die spelling en dit word uitgespreek as Kreesout – dis hoe ek al die jare die woord in my kop gesien het) vat my altyd terug na my kinderjare. Hoekom? Vra jy dalk. Ek het groot geword met ‘n Wendy huis in die agtertuin, wat omskep was in ‘n Kuns Kamer, die hout van die Wendy huis was met Creosote behandel. Ek was blootgestel aan kuns en crafting op ‘n jong ouderdom. Ek sal altyd hierdie reuk assosieër met kuns en crafting.

Ek het groot geword met ‘n ma wat altyd iets kreatiefs gedoen het, iemand wat haar drie dogters geleer het om so bietjie die realiteite van die wêreld te ontsnap deur kuns en crafting te doen. Ek raai maar of dit is hoekom sy kuns en crafting gedoen het, want dis hoekom ek dit doen. Met crafting is daar vir my geen reëls nie. Ok dit het reëls, maar, dis nie soos my day job nie jy weet? As jy ‘n fout maak, verf jy oor dit of jy begin van voor af, of jy wing dit net en sien hoe die projek gaan en hoe dit gaan opeindig om te lyk.

Met my day job is dit nie so eenvoudig nie, en ek voel verplig om dinge perfek te doen en reg te doen die eerste keer. Op hierdie tydstip terwyl ek die artikel skryf, reken ek dis tyd om die ketel aan te sit en vir jou ‘n lekker koppie koffie of tee te maak voor jy verder lees.

Jy sien, ek kan nie die artikel opbreek in kleiner hoofstukke nie, anders verloor ek die kruks van die saak wat op my hart geplaas was om te sê. Februarie is ‘n besige maand. Seker my minder gunsteling maand van die jaar, as mens nou toegelaat is om ‘n swart skaap maand te hê.

Vir soveel redes is ek nie ‘n Feb aanhanger nie. Een van die grootste redes is, die feit dat ek altyd uitgeput voel teen die tyd dat dit my dogter se verjaarsdag is op die 7de van die maand. Ja, ek weet, dis net aan die begin van die maand, maar ek weet wat voor lê, ek weet die ure wat ek vereis word om te werk, ek weet net wat lê vir my voor werksgewys. My klein EMP201 (vir die wat nie weet nie – dis een van die vele belastingopgawes wat op die 7de van elke maand ingedien moet word) is so entoesiasties wanneer dit kom by haar verjaarsdag.

Ek voel skuldig omdat ek nie haar opgewondenheid altyd met haar kan deel nie. En ek voel nog meer so, omdat ek ongeveer net tot die 14de Februarie 2014 gehad het, die jaar wat sy gebore was, om onverdeelde aandag aan haar te gee, voordat ek weer terug gekeer het na my skootrekenaar (hoe is dit vir ‘n mooi Afrikaanse woord?), om berekeninge te doen en opgawes in te dien. Dit was amper borsvoeding terwyl ek getik het op die rekenaar en opgawes ingedien het. Dit is asof ek net nooit genoeg tyd beskikbaar het om die oomblik en die voorbereiding vir haar verjaarsdag te geniet nie. Maak dit sin? Of is ek so vasgevang in my klein werk wêreld, dat ek vergeet om te stop en bietjie die rose se geur te geniet? (Die klink net beter in Engels – to stop and smell the roses).

Die ander rede vir die gebrek aan liefde vir die Maand van Liefde, is, daar is net NIKS TYD vir enige iets anders nie. Die kinders word groter, hul skedules begin voller raak, iets wat ek voel of ek nooit reg kry om voor te begroot tydsgewys nie. Ek meen, ek het nie eens tyd om inkopies te gaan doen nie (dit is ‘n frustrasie want vars slaai op ‘n weeklikse basis is ‘n MOET vir ons en om by Woollies uit te kom is ‘n uitdaging), nie eens te praat van om die kinders betyds by hul ander dinge te kry soos ekstra Wiskunde klasse, kos te neem voor kuns klasse en oefening nie.

Ek weier om oefening te mis. Dis die een ding wat maak dat ek nie dit verloor nie. Ek kan nie al die funky bewegings van Cross Fit altyd reg kry en uitvoer nie, maar, ek daag twee maal per week op en ek probeer hulle doen – ek kan sien hoeveel sterker ek geword het en is verbaas oor wat ek nou al kan doen teenoor wat ek kon doen toe ek net begin het. Dan woon ek nog ‘n dag van oefening by en daar doen ek spinning, iets wat my seun mal oor is, so dis ons tyd saam. Die buitemuurse aktiwiteite van die kinders is ook ‘n no-go zone as dit kom by besluit om dit te doen of nie. Ons moet dit net laat gebeur en dit maak werk, en beplan maar alles rondom dit.

Jy sien, in 2020, voor die grendeltyd en voor die Pandemie, het ek ‘n doelbewuste besluit geneem om op te hou om werk voor alles te plaas in my lewe. Ek het uitgemis op die lewe, want, ons het ‘n slagspreuk geleef van Kom ons kom net deur hierdie maand. En dit is hoe ons geleef het vir baie jare. Ek het selfs op ‘n kol gevoel of tyd gesteel was by my, weens hierdie slagspreuk waarby ons gehou het. 12 maande van die jaar, jaar in en jaar uit. Eintlik was dit dalk al in 2019 wat ek daardie besluit geneem het. Elkgeval. Middel Februarie 2020, in die besigste tyd ooit, het ek begin om te Cross Fit (na ek vir jare gebid het vir die Here om my lief te maak vir oefening, het ek uiteindelik die ding gekry waarvan ek hou en om my lyf weer in shape te kry).

Ja jy kan maar lag. Ek het nou net gekla oor hoe besig Februarie is en dan vat ek iets soos dit aan. Is daar ooit ‘n goeie tyd? Nee daar is nie. Nou jy kan dalk nou wonder hoe ek die kolle gaan verbind met die inskrywing. Ek begin met crafts, sing dan my klaagliedere oor werk en die Maand van Liefde, waarvoor ek nie so lief is nie en nou praat ek van oefening. Maar wag, jy sal sien…. alles is in een geweef in my lewe.

Terug by die crafts. Vir maande het ek gedroom van ‘n Cricut masjien. Ek was geskeur tussen die Joy en die Maker. My finale besluit was toe die Joy – weens die grootte en die prys. In Februarie (sien jy die trend hier…?) besluit ek toe om die aankoop te maak.

Ek het geweet dit was die verkeerde maand om so iets aan te koop, want ek weet ook dat ek eerder met die nuwe speelding gaan wil eksperimenteer as om te werk in die besige maand. Ek het toe verder besluit om dit by Kelirosh Studio aan te koop. Haar pryse was die beste (ek het die Takealot winskopies gemis en kon nie by Makro uitkom nie). Ek het ook net goeie goed gehoor van hierdie aanlyn winkel en dit was genoeg om my te oortuig om die aankoop daar te maak.

Die skuldgevoel wat ek ervaar het na ek die aankoop gedoen het was belaglik. Maar, toe die boks arriveer, was dit asof die Here vir my gewys het dat dit ok is. Dit is ok om ook ‘n lewe te wil hê, om te wil dinge doen en nie net te werk nie. Op die boks sien ek toe twee Flaminke. Nou die hele ding waaroor my bediening en blog gaan is Flaminke. Dit was net mind blowing en amper belaglik, met respek gesê – die Flaminke op die boks.

Selfs die postuur van die Flaminke op die boks was soortgelyk aan twee wat ek in my ontwerpe gebruik. Onmiddellik voel ek asof die Here met my hier praat. Bevestig dat dit ok is om hierdie aankoop te maak in die maand wat ek sien as die minder lekker maand vir my persoonlik.

Ek besef ook, dat ons ‘n nuwe generasie crafters hier groot maak. Ek het groot geword met goed soos om kerse te maak, kaartjies met stempeltjies en embossing poeier, klein draad boompies met mooi klippies op geplak, om maar net ‘n paar te noem. Die volgende generasie van crafters betrek tegnologie soos hierdie klein Joy masjientjie. Soos jy kan aflei, het beide my kinders besluit om die masjien te hi-jack, hulle baklei oor wie dit volgende gaan gebruik. Dit maak die druk so bietjie ligter vir my om die masjien te gebruik sodat ek nou op werk kan fokus – maar wanneer hierdie besige tyd verby is, gaan ek vir seker inspring en goed doen met hom.

‘n Week of so na die aankoop van die Joy, ontvang ek ‘n oproep van ‘n Mev. SA semi-finalis, Nicky Kruger. Sy vra my of ek dit sal oorweeg om ‘n borg te wees vir hierdie kompetisie (ek is nou nie seker of ek reg hierna verwys nie?). Nou dit is ‘n langerige storie van hoe ons mekaar “ken”, maar die lang en die kort is, sy is ‘n juffrou by ‘n skool waar ek laas jaar gaan bedien het en voorskote uitgedeel het aan studente.

Ek was stom geslaan, oorweldig en opgewonde, alles op dieselfde tyd. My aanvanklike reaksie was dat dit MAL besig is by die werk en ek sal eers haar middel Maart kan beantwoord, wanneer ek al my sperdatums gehaal het. Natuurlik het nuuskierigheid die oorhand gekry, ek het gelees deur die inligting wat sy my gestuur het en ek het my besluit geneem. Dit is so ‘n wonderlike geleentheid, ek kan nie dit van die hand wys nie.

Sien jy nou weer – dis alweer Februarie. Weer lyk dit of daar so min tyd is om dinge deur te dink en goed te doen. Ek begin te wonder of die Here my nie in ‘n rigting druk en toelaat dat al hierdie dinge gebeur, in die Maand van Liefde, net sodat ek weer lief kan word vir Februarie nie?

Wie weet, maar, dit lyk of groot dinge in Februarie gebeur. Die geboorte van ‘n kind, die behoefte om te oefen en crafting te doen en nou hierdie borgskap van ‘n GROOT ding soos Mev. SA. Ek dink God is besig om my Joy vir my terug te gee in die maand wat ek dit die minste ervaar.

Ek moet bieg – ek is lief vir die puns van God af. Die Joy wat verteenwoordig word deur ‘n fisiese, tasbare klein masjientjie, wat letterlik Joy bring vir díe wat dit gebruik. Want, is dit nie hoe ons as mense is nie? Ons wil SIEN en HOOR dis daar – en moet my nie verkeerd verstaan nie – ek plaas nie my Joy in die Joy nie, dis net God se manier om met my te praat, om vir my ‘n tasbare herinnering te gee aan dinge waaraan ek herinner moet word.

Posted on Leave a comment

Die spelfout

Vir 11 dae van April kyk ek na my tafelkalender (of desk pad soos ons almal dit maar eintlik noem) en ek mis net heeltemal die spelfout. Ek gebruik hom, maak nota’s, trek dae dood soos wat die tyd aanbeweeg en die lewe is ‘n spreekwoordelike lied.

Ek dink die Here het my oë toegehou vir die fout, net sodat ek ‘n lekker verjaarsdag kon hê. Want, die 12de April (die dag na ek verjaar het) vang my oog die spelfout. Dit lees Arpil 2022 en nie April 2022 soos dit veronderstel is om te wees nie. Die wêreld begin om my draai, ek voel hoe ek bleek raak, my mond word selfs droog.

Ek sit met my hande in my hare en dink by myself HOE HET EK DIT GEMIS? Weet jy hoeveel keer het ek dit nagesien? Selfs nog 2 pare oë gekry om te help proeflees. En ons almal het dit gemis!

Die volgende oomblik is dit asof Kritiek my om elke hoek en draai probeer voorkeer soos ‘n shady genadelose joernalis wat ‘n skandaal oopvlek. Die vrae is eindeloos. Hoe kon jy so ‘n groot fout gemis het? Is jy seker jy het dit nagegaan? Wat van die mense wat jou BETAAL het vir die desk pad? Wat gaan jy vir almal sê? Is daar nie dalk nog foute later die jaar nie? Wat van die wat jy mense mee geseën het? Wat gaan HULLE van dit dink?

Ek probeer die vrae wat op my gevuur word soos skote wat in ‘n ernstige oorlog geskiet word, antwoord. Ek koes sodat ek nie in die proses stukkend geskiet word nie. Ek is na aan trane, dit voel of alles wat ek voel uit God se hand na my toe kom, opgaan in vlamme.

Natuurlik kom die duiwel en probeer nog ‘n paar leuens vir my vertel. Soos dat ek eintlik verkeerd gehoor het by die Here oor die hele Pienk Vere reeks. Saam met dit word ek vertel dat ek eintlik maar simpel is om ‘n blog te hê. Wie stel nou eintlik belang in jou lewe en jou ervarings? Hoor ek die vyand se snedige kommentaar.

So draai die leuens in my kop al in die rondte. Ek bly eers stil en sê vir niemand iets nie. Bid stilweg dat NIEMAND anders die fout ontdek nie. Toe kon ek nie meer nie, ek moes net met IEMAND deel en toevallig bel ‘n vriendin (wat ook ‘n kliënt is) my. Ons gesels oor die werk en daar laat val ek die hele sak patats net so. Off topic en uit die bloute uit (soos wat ek maar maak).

Sy lag en bemoedig my, op die manier wat net hierdie rooikop kan doen. ‘n Paar dae later skraap ek moed bymekaar en wys vir nog iemand, vra my bediende om te kyk of sy dit kan sien, wys ‘n niggie aan my man se kant, en so gaan dit aan. Dis vrek snaaks om almal se reaksies dop te hou, want hulle vat dit ernstig.

Hulle oë gaan sommer op skrefies soos wat hulle die fynskrif deursoek en fynkam. Eers kyk hulle en sê hulle sien dit nie. Dan por ek hulle aan, kyk MOOI. Dis nie in die fyn skrif nie. Dan sien hulle dit. Sommige se oë rek groot, ander lag, ander slaan hul hande oor hul monde in verbasing.

Maar almal het dieselfde reaksie – ARPIL! Iewers na ek die fout gesien het, besluit ek om maar die moed bymekaar te skraap en my man te wys. Hy sien dit ook nie dadelik nie. Toe hy dit sien, grinnik hy net en skud sy kop in ongeloof.

Ek was natuurlik nog al die pad op self-punishment se roete, probeer die shady joernalis ontduik. Wat gaan die mense van my dink? Hulle gaan vir almal vertel hoe swak die produkte is en dan gaan ek met kratte vol voorraad sit en niks mee kan doen nie. Dis die gedagtes wat toe nou weer probeer tent opslaan by my. Iewers, na ek die fout met my man gedeel het, kom daar ‘n gedagte by my op.

Ek sê vir my man (of het hy dit vir my gesê? Ek weet nie aldag nie want ons gedagtes en woorde is so ineen verstrengel soms en ons dink so dieselfde), miskien moet ek ‘n kompetisie van dit maak? ‘n Notaboek as prys gee. So in die verbygaan praat ons met mekaar en ek hoor hom sê Dis nie ‘n slegte idee nie. Nou ja, toe laat ek nie gras onder my voete groei nie. Ek spring weg en ontwerp ‘n ding op Canva en besluit om twee kategorieë te skep vir wenners – siende dat ek die spelfout uit die mou gelaat het vir sommige mense en dus hulle nie kon insluit in die kompetisie nie.

Nou ja, die res is geskiedenis, mense het my post geshare en gelike op Facebook en Instagram. ‘n Paar mense het ander getag en so het die proses sy gang gegaan. Ek het doelbewus van sosiale media af gebly, want die eerste dag na ek die kompetisie begin het, het ek myself gekry dat ek elke paar minute gaan kyk het wat aangaan.

Dan raak ek frustreerd as mense nie vinnig genoeg reageer nie en as ek sien my post het nie ‘n reach van genoeg mense soos ek nou dink dit moet wees nie. Ek voel hoe die Heilige Gees sagkuns binne my werk en fluister. Hou op om heeltyd op sosiale media te gaan. Dit steel jou tyd. Fokus jy op jou werk. Ek sal sorg vir die res.

Liewe land, na ek die besluit geneem het, was dit nogals moeilik om nie terug te gaan soos ek ouder gewoonte elke oggend gedoen het nie. Ek het net opgegaan om nog advertensies te post en dan weer afgegaan, glad nie gekyk na die reaksies en kommentaar nie.

Dit was so bevrydend om van sosiale media af te wees, ek kan dit nie beskryf nie. Ek was nie, in my opinie, so aktief op Sosiale Media nie. So het ek gedink… Ek het mos nie elke dag iets gepost nie, net my blog se bladsy het so bietjie meer aandag geniet, want dis maar my metode om te adverteer en God se woord te versprei.

Toe ek begin om na my foon se statistieke te kyk van die tyd wat op watter toepassings (hoe is dit nou vir ‘n ordentlike Afrikaanse woord?) spandeer was, toe skrik ek. WANT….wat ek gedink het was net 5 of 10 minute was toe nou eintlik langer…ek reken ook hierdie is ‘n bespreking vir ‘n ander dag…

Terug by die spelfout…die Here het my genadiglik van ‘n ander blaps gered. Toe ek vroeër die jaar die nuwe notaboeke ontwerp het, het ek ‘n groot OEPS gemaak op die een Engelse een. Dit het voorop gelees Noteboek en nie Notebook nie. Ek het die Vrydag die bestelling by die drukkers geplaas om te begin druk.

Die Saterdagoggend word ek met ‘n beklemming op my hart wakker. Daar is ‘n spelfout op een van die notaboeke! Ek vlieg regop, dit was nog vroeg, half ses die oggend. Ek gryp my foon en kyk na die ontwerpe (wat ek elektronies hier ook tot toegang het). Wragties, die fout is op die een engelse een. Dit was net AMAZING vir my dat die Here my presies gewys het waar die fout was, dit het my nie lang geneem om dit te kry nie.

Nie te min, die Here het my van ‘n baie groter blaps en oeps gered daardie dag, want die buitekant van die notaboek is nou nie iets wat jy net vir ‘n maand gebruik en dan afskeur en weggooi soos die desk pad se bladsye nie.

Met ‘n dankbare hart sluit ek af. Niemand van ons is perfek nie, ons almal maak foute, selfs foute waarvoor ons geld betaal. En dis ok. Die Here het weereens iets slegs gevat en dit omskep in iets goed en mooi! Baie geluk aan die wenners van die notaboeke! Mag die Here elke ding wat daarin neergepen word seën soos wat net Hy kan!

The spelling mistake
Posted on Leave a comment

Die vreugde…

The joy always comes in the morning. Woorde wat ek gereeld vir myself sê en ek dink bloot dis omdat iemand anders dit vir my gesê het toe ek jonger was. Dalk my ma? Ek het tot ‘n hele paar jaar gelede nie besef dis skriftuurlik nie.

Hierdie maand se skrif is Psalms 30:6 en handel juis oor die vreugde. Jy sien, sedert 2020 is dit asof my vreugde al hoe meer gesteel was deur die vyand. Voor dit ook, maar dit voel regtig vir my, sedert 2020, is dit amper amplified as ek nou daardie woord kan gebruik. Meer intens.

Ek weet ek het op ‘n kol in 2020 gevoel EK WIL NET HUIS TOE GAAN!! en dit alles terwyl ek heeltyd by die huis was. Het enige iemand anders ook so gevoel? Ek het gevoel of ek in ‘n tronk of iets van ‘n aard was. Die swaard van onsekerheid wat oor mens se kop die heeltyd hang. Watter kant toe gaan die Pandemie gaan. Gaan ons siek word? Gaan my mense in my huis siek word? Gaan ek nog kan inkomste genereer ten spyte van die Pandemie?

Hoe gaan die ekonomie lyk? Die vorige Pandemie was gevolg deur die Groot Depressie. Gaan ons ook so iets ervaar en beleef in ons tyd? Hoe hanteer mens dit? So het die vrae om en om gehardloop in my gedagtes, spore van verdriet en vernietiging gelos in die proses. Amper soos ‘n uitgetrapte voetpad waar die gras nie meer wil groei nie.

Ek het baie oggende gesukkel om my joy te kry in 2020 en selfs in 2021. Alles het net een te veel gevoel by tye. Dis asof die lack of joy net daar was dag in en dag uit. Het ander ook so gevoel? Of is ek die enigste een? Ek is deur moeilike tye, soos elke ander mens gedurende die Pandemie. Ek weet vir seker ek is nie die engiste een gewees wat gesukkel het nie.

Wat vir my altyd die lekkerste is, is wanneer ek op my laagste laag is, voel ek die naaste aan die Here. Dis asof ek Sy stem net duideliker hoor. Ek onthou nog een dag het ek weereens in trane gesit voor my rekenaar, vir my man probeer vertel hoe ek voel. Ek het gesukkel om woorde te kry om vir hom te verduidelik.

Die volgende oomblik hoor ons ‘n liedjie speel oor Spotify. Dis asof die Here net die woorde daar kom sit het sodat my man dit kan hoor. Natuurlik was die trane nog meer toe ek na die woorde luister, want dit het gevoel asof die Here direk met my praat, in verbale, hoorbare vorm.

Ek kan nie verduidelik hoe, wat of waar nie. Maar, na daardie liedjie, het my joy gekom. Dis asof my geesmens rustig geraak het want sy weet die Here sien en hoor ALLES. Hy ken my hart, Hy weet wat maak my gelukkig en wat maak my ongelukkig.

Ek geniet dit nie nou so baie om na die liedjie te luister nie. Seker omdat ek nie meer op DAARDIE lae plek is nie. Maar, wanneer ek sukkel, moeg, afgemat en uitgemergel voel, is dit die liedjie wat ek speel en oor en oor luister.

Die Here is so wonderlik en goed vir ons as mense. Mag ons altyd onthou, wanneer ons op ons laagste laag is, is God daar. Dis waar wat Dawid geskryf het – al gaan ek deur die vallei van die dood, daar is God. Ek weet ek kwoteer nie die presiese woorde nie, maar ek is seker jy verstaan wat ek hier bedoel.

Ek voel ook in my gees dat April se skrif net een inskrywing gaan hê. Bloot omdat dit so eenvoudig is. Hou net aan God soek in alles, al is jy op jou laagste. Gaan SOEK Hom. Hy is oral en as jy eers begin soek sal jy Hom vind. Dít is ook skriftuurlik en kan ek ook van getuig. Ek kies om die Here se stem te hoor en te gaan uitsoek.

I see the tears sitting on your cheeks. I know you’re tired, fall now to sleep. Stop fighting so hard, it’s time to surrender. Raise your white flag, and always remember. Your heart will feel lighter, everything will be brighter, find peace in knowing that all will be well in the morning….hoor ek die liedjie se woorde speel en dink by myself, dis waar. Alles sal beter wees in die oggend!

The joy…