Posted on Leave a comment

Dringende oproepe

Dinsdag 11 Julie 2017. Die oproep wat niemand verwag het nie. Die ontvangsdame van ons kantoor wat verwoedelik probeer om ons in die hande te kry. “Missed calls” op beide my en my man se fone van die kantoor en my sussie af.

Ons is in ‘n vergadering. Fone op “silent” want ons moet fokus op dit wat ons moet doen in die vergadering.

Ek kry die nuus en is ALWEER deurmekaar (dit gebeur lyk my baie ?). My sussie praat iets van my ma is deurmekaar en weet nie waar sy haarself bevind nie… ons moet kom. Hulle moet MRI doen en wag tot ons daar is want hulle weet nie hoe haar liggaam gaan reageer nie en net nou gaan sy dood en ek kon nie groet nie.

Ons bedink eers planne hoe om my man by die kantoor te kry sodat hy kan werk en ek Pta toe kan ry maar besluit om maar tog saam deur te gaan. Dankie tog ons het.

Daar aangekom is die “deurmekaar” nie “confusion” en “disoriented” soos ek gedink het nie. Dis toe al die pad ‘n koma waarin my ma verval het.

Ek het altyd gewonder hoe dit is maar niemand geken wat dit vir my kon beskryf nie. Dit “suck” laat ek jou vertel. Sy lê daar en lyk of sy slaap en jy praat en jy weet nie of sy jou hoor nie.

Dinsdag was sy baie onrustig en het baie gekreun en probeer iets “fight” en dan weer rustig geraak. Dit was “weird”.

Met die MRI staan ek en kyk my oudste suster toe met die grootste bewondering. Haar “nurse” instinkte skop in. Sy is kalm. Professioneel. Met haar goed op die skouers, sterretjies en “stuff” wat rang aandui in haar uniform neem sy beheer van die situasie.

Sy hou my ma se hand vas. Praat kalm met haar. Doen alles soos ‘n opgeleide sister (nie “nurse” nie want ‘n “nurse” is nie dieselfde as ‘n sister nie as jy gewonder het) met jare se ondervinding en ervaring.

Sy raak nie eenkeer histeries nie. Bly kalm.

MRI word gedoen, ons is heeldag by die hospitaal. Kom eers 8 uur of iets belaglik by die huis. Genadiglik kon die kinders by skoonma bly die middag.

Ons eet KFC. Ek werk want die state moet klaar. Die kliënt wag. Paar keer gebel terwyl ek by die hospitaal was. Nie gevoel of hulle eintlik verstaan en menslikheid het teenoor die situasie nie.

15 min voor ek klaar is hoor ek ‘n gegil en gehuil. My man raas. My 3 jarige het haar kop oop geval.

Ek vries. Ek weet nie wat om te doen nie. Ek bel die “nurse” in die familie wakker. Deur die slaap vertel my suster my om drukking met ‘n skoon handdoek op te sit. Sy lê die klem op SKOON.

Ons jaag deur hospitaal toe. Sy moet steke kry. Ek gooi amper op soos die naald buig teen haar skedel. Klou verwoedelik vas aan haar om haar stil te hou. Die “fiesty mouse” baklei teen die dokter en die steke. Hulle is in.

Ons kom iets soos 1 uur die oggend by die huis.

In die hele proses is ek besig met ‘n SAICA kantoor besoek ook nog bo op alles. Oudit wat die volgende week moet begin. State wat moet klaar maar ek wag vir inligting wat ek net nie kry nie. Maar druk word geplaas.

So gaan die week verby en ek is op en af Pretoria toe en terug. Gee vir my klerk klomp goed om te doen vir die state wat moet klaar. Gooi haar, nee wag, stamp met “force” haar in die tsunami golwe van berekeninge in want die goed moet klaar en ek moet Pta toe.

Teen Donderdag is ek moeg en sê dis klaar. Ek ry nie weer nie. Dit help niks nie. Ek kan nie haar so sien lê nie. Kan nie lappies op die lyf sit vir die koors wat wil oorneem nie. Kan nie roompies vryf nie.

Ek sê vir almal ek sal hul koffie, cokes, tjoklits en kos bestellings aandra. Ek sal so ondersteun maar om haar so te sien is uitmergelend.

Vanuit alle oorde die Vrydag kom daar hulp. Mense daag net op en sit en gesels en drink koffie saam my en ondersteun my net. Ander los ons af en sit by haar sodat ons kan eet.

Ek word elke oggend wakker, kyk vir DIE boodskap wat aandui dat sy nie meer hier is nie. Heeltyd gedink sy sou iewers in die vroeë oggend ure sterf. Maar niks….dae kom en gaan. Sleep verby maar gaan ook vinnig terselfde tyd….

Die Donderdagaand jaag ons weer deur want ons dag dis nou so. Sy lyk sleg. Ek gesels met haar speel praise en worship. Kry reaksie maar is so oorweldig ek weet nie wat om te gesels nie.

Toe vang my oog die klip. Die wit klip op haar bedkassie. Ek lees die skrif. Wow. So uit die hemel uit….ek wonder wie dit daar gesit het….vind later uit dis my middel sussie. Ek het nie eens geweet daardie skrif bestaan nie….

Ek sit en kyk vir haar en dink by myself – hoe lank gaan ons nog so sit? Hoeveel dae of weke?

Iemand anders vertel my haar pa was 28 dae in ‘n koma voor hy gesterf het.

Ek bid tot die Here en vertel vir Hom hoe moeg ons is en dat ons nie meer die kan doen nie. Sy lewe maar is lankal weg. Dis ‘n aardige plek om te wees.

Sondag 16 Julie 2017 is haar wedloop op aarde voltooi. In die middag nogal nie in die donkerte van die nag nie. Dis verby. Sy is weg. Vir ewig….tot ons mekaar weer sien in die Hemel maar tot dan voel sy soos ‘n “figment of my imagination”. Asof ek na ‘n fliek gekyk het. Asof sy eintlik nooit hier was nie om mee te begin….

Ek besef dat die minder as ‘n week wat sy in ‘n koma was ‘n absolute seën uit die hemel was en dat God goed was vir ons. En met seën bedoel ek dat Hy ons langer lyding gespaar het en dat ons dankbaar moet wees dit was minder as ‘n week….Sy genade is waarlik groot....