Posted on Leave a comment

My nooi is in ‘n Nartjie

My nooi is in ‘n nartjie
My ouma in kaneel.
Daar’s iemand….iemand in anys
Daar’s ‘n vrou in elke geur!

Gisteraand terwyl ek aandete voorberei en die kondensmelk met die “mayo” meng vir koolslaai, begin die woorde te dans in my kop.

Bo is die eerste strofe van die baie bekende gedig Sproeireën wat tot vervelens toe op skool ontleed en behandel was….geskryf deur DJ Opperman.

Ek kon op skool nooit gedigte verstaan nie. Kon nooit verstaan HOEKOM moet ons iets wat iemand anders geskryf het verstaan en ontleed nie…..?

Nou om weer terug te kom na die kondensmelk toe. Ek grinnik by myself soos wat ek getempteer is om ‘n happie te proe. My gedagtes dwaal na ‘n vriendin wat ‘n blikkie kondensmelk “opvreet” soos sy dit noem.

Ek kyk na die kondensmelk en val tog maar vir die versoeking….vat ‘n happie…..o liewe hemel die lekker speel rond in my mond. Nog ‘n happie….o jinne nou is dit genoeg….kan nie nog nie. Dis te soet….

Dan dwaal my gedagtes vanoggend verder….nog ‘n vriendin is in koffie en nie in stysel nie (jip dieselfde vriendin).

So begin ek te wonder en my oog vang die skilderytjie wat ek in 2019 vinnig aanmekaar geslaan het omdat my hande iets gesoek het om te doen…..die “handlettering” is nou glad nie iets wat ek op trots is nie, want ek het net geskryf en niks van “handlettering” geweet nie. Maar ek is bly ek kan gereeld na hom kyk, dit wys my elke dag waar ek was met my kuns en is awesome om te sien waar ek nou is en gevorder het!

Terug na die skildery…..2 Korinthiërs 2:15 leer my dat ons ‘n aangename geur moet wees. Dis nogal waar dink ek. Reuke en smake vat mens amper oombliklik terug na die eerste keer wat jy dit geproe of geruik het. Koppel die positiewe en negatiewe van die gebeurtenis wat saam met die reuk en smaak gebeur het….

So begin ek NOG meer dink (onthou nou ek is ‘n “over thinker”) en ek begin te wonder watter geur laat ek na?
As iemand nou ‘n “memorial” van my moet skryf, wat sou hulle skryf?

Wat sal my kinders van my onthou? ‘n Mamma wat ALTYD geraas het oor betyds wees, skool werk afhandel, te veel rondlê voor die TV en nie wil gaan bad wanneer dit badtyd is nie?

Wat sal my man onthou? Die vrou wat elke dag amper (ok nie so erg nie) “meltdowns” het oor een of ander wet wat ALWEER in werking tree en ons daaglikse take net NOG langer maak om te kan finaliseer?

Wat sal my vriendinne onthou? En die res van my familie?
So dink ek en dink ek hieroor na….ek weet eerlikwaar nie WAT daar van my onthou sal word nie.

Wat ek wel hoop en bid wat hulle van my sal onthou is die positiewe….dat ek lief is vir Jesus en die Here en op enige geleentheid wat ek kan en kry SY naam en woord probeer verkondig…..

Ek dink weer verder….ek kan amper my eie gedig skryf….van mense wat ‘n impak gemaak het in my lewe….dit rym nou glad nie en ons noem dit sommer die “fêncy” term van ‘n gedig wat geen rympatroon het nie (wat ek nou wragties nie kan onthou nie).

My man is in ‘n grappie,
My seun hou van ‘n “gamepie”,
My dogter is lief vir teken en inkleur,
Fudge die hondjie is ‘n snorkie,
Carolus die pappagaai eet en praat net.
‘n Vriendin is in kondensmelk,
‘n Ander vriendin staan altyd reg met koffie, gereed om my van kos en stysel te leer.
Ander mede “Cross-Fitters” motiveer my wanneer ons oefen,
En die stilles luister altyd aandagtig na my gesanik….
Daar is voorwaar iemand spesiaal in elke liewe ding.
Groot of klein. Jy moet hom net gaan soek….

Nou ja, ek kan nou nie sê “I am a poet and did not even know it” na my poging bo nie, maar ek glo jy verstaan wat ek bedoel.

Die vraag wat ek wil los by elkeen wat die “post” lees is – watter geur is jy? Wat is die een ding wat almal jou aan sal onthou?