Posted on Leave a comment

Die Naam….

Gisteraand na die idee my oorval om ‘n blad te stig neem ek die besluit om dit deur te voer.

Onseker maak ek “Facebook” oop op my foon. Ek het net ander dag (3 jaar gelede) vir my besigheid ‘n blad geskep so dis maklik man. Ek sal die stappe onthou en tjoef tjaf ‘n blad hê. Of sal ek?

Ek het VERGEET dat Facebook jou DWING om sekere stappe te volg voor jy ‘n blad kan hê. I mean seriously??? Wie wil nou goed in orde doen as jy hierdie magdom woorde het wat uit jou vloei en jy dit wil neerpen voor jy helfde weer vergeet.

Tong in die kies volg ek maar noodgedwonge die stappe. -grinnik- stappe, regtig? Sê die een wat elke dag van 8 tot 5 of watter obskure ure ek ookal werk alles metodies doen, volg. Bo op die lysie begin en eers dit klaar noem as ek die laaste item op die lysie of leêr voltooi het.

Jy weet ek het gehoor CA’s is ‘n ander spesie. Nou ja EK is ‘n ander spesie. Hoekom vra jy? As dit by werk kom wil ek alles tot op die letter doen, volg, voltooi. Ek hou niks daarvan as iemand vir my sê om ‘n dag te skeduleer om “gou gou” deur al die “vragies” te werk sodat ons almal verder kan aangaan met ons take en die einddoel bereik. Maar ek doen dit want dis wat nodig is om in die tydlyne te kom en as ek dit eers gedoen het sien ek dit was eintlik nie so erg nie.

My wêreld staan nog en ek haal nog asem. Die taak is afgehandel so waaroor was die kommer om mee te begin?

Terug by Facebook. Stap een is ‘n naam. ‘n NAAM. Shucks ek het nie daaraan gedink nie?

Na ‘n paar minute van dink besluit ek “Uit die pen van ‘n Beroepsvrou” is van pas.

Ironies nogal dat niks wat ek op die blad gesit het enigsins ‘n pen NODIG gehad het nie.

Dan dwaal my kop weer – sekere goed sal nooit uit die mode gaan nie. Ek besluit die naam van my blad is een van hulle.

Wat is lekkerder om ‘n boek vas te hou en die reuk van die bladsye in te neem nie? Of om ‘n prentjie met ‘n potlood te teken en later met verf in te kleur nie?

Tegnologie het sy voordele. Hier sit ek in my huis en tik ‘n boodskap op my selfoon (ja selfoon) op Facebook en gebruik ‘n medium wat die Here tot my beskikking gestel het om (hopelik) baie vroue te bereik en te bemoedig en te stig.

13 jaar gelede (wow is dit so lank al???) toe ek met my oudste swanger was, het die Here vir my ‘n droom gegee oor en oor vir ‘n paar maande en toe stop dit.

Die lang en die kort is dat in die droom spreek ek mense toe. Dit begin klein en met elke droom groei dit. Ek dink nie ek sal ooit my “day job” opgee nie maar waar nodig sal die Here my gebruik en Hy sal die finansies ook uitsorteer….

Elke keer word ek wakker en dink ek is laf om so ‘n droom te hê. EK voor MENSE praat? Regtig Here? Hoe dan nou? Ek kon dan skaars staande bly met my Redenaarstoesprake op skool en dan sukkel met sluk en praat en bewe alles op dieselfde tyd.

‘n Goeie vriendin van my het daaaai tyd al vir my gesê wanneer die tyd reg is sal die Here die “boldness” en moed gee. Min wetend dat ek hier vandag 13 jaar later hierdie woorde sou tik. Ek het daardie woorde in my hart gekoester en bewaar en besig geraak met die lewe.

Tot onlangs toe wat die Heilige Gees saggies in my fluister en my herinner aan die droom.

Die “boldness” begin kom op baie vlakke, werksgewys ook.

Ek weet ook dat iemand anders vir my gesê het dat “God is terribly on time”.

Hoe dan anders? Die Here wat die aarde geskep het ken my naam. MY NAAM. Wow. Hy het my gekies van nog voor die grondlegging van die aarde af.

Wow.

Ek kan net in verwondering staan. Ek was eers senuweeagtig om die eerste paar “posts” te doen….maar het “post” gekies in elkgeval. Die waters getoets met mense na aan my. Die terugvoer was positief en dit was genoeg om aan te gaan om die te “post”.

“Watch this space….” die Here gaan nog groot dinge doen en hoe bevoorreg is ek nie om as Sy instrument gebruik te word nie?