Posted on Leave a comment

Die lied… slot

Ek het dit goed gedink om maar die slot hoofstuk te skryf. Die dae snel verby en die weke nog vinniger en ek wil nie dat die tyd my vang en dan het ek nie geleentheid gehad om die slot hoofstuk te skryf voor einde Maart nie.

Toe ek die stuk begin skryf het was daar nog twee weke van Maart oor. Nou is dit basies een week (ok minder as ‘n week). Ek wonder elke dag steeds hoekom die tyd so vinnig vlieg en of die Here ons tyd verkort hier omdat ons in die Verdrukkingstyd is?

Terug by die lied. Die ou duiwel probeer steeds my lied steel, en hy dink hy gaan reg kom. Maar, dis eintlik vir my skreeu snaaks as dinge so deurmekaar is soos wat dit soms is by ons, want dan WEET ek net dat ek op die regte pad is en dat díe is wat die Here wil hê ek moet doen.

My hart sing steeds verskeie liedere vir die Here, alles wat ander kunstenaars geskryf en getoonset het (is dit ooit ‘n woord wonder ek?) en dis asof ek nie genoeg Sy lof kan besing nie. Hy het, after all, die asem in my liggaam geblaas, so ek kan nie iets minder doen as om Hom te besing nie kan ek?

Dit voel hier en daar of my hart en gees ‘n eie lied vir die Here wil sing. Ek hoop maar Sy ore is nie toonhoogte sensitief nie, want my fisiese mens kan nou nie mooi sing in my opinie nie (al was ek in die skoolkoor en revue’s EN in ‘n studio om liedjies op te neem – wonder ek maar steeds of die juffrou my net gelike het en of het sy regtig potensiaal gesien in my sang vermoë?).

Elkgeval, ek giggel maar as ek dink aan hoe ek vir myself klink as ek sing; en hoe dit in God se ore moet klink; en of Hy daarvan hou; en of alles mooi op die regte toonhoogte moet wees of nie, vir Hom, voor Hy daarvan sal hou nie? Ek dink darem nie ek hoef perfek te sing vir Hom om dit te waardeer nie?

Ons is dan almal mense wat nie perfek is nie. As dit die geval was (perfekte sang) dan moet alles in ons lewens seker perfek wees voor Hy ons sal aanvaar, en dis vir seker ‘n leuen!! Die Here vat ons soos ons is, stukkend en propvol foute. Solank ons HOM aanvaar en Sy seun as Verlosser verklaar het oor ons lewens, is ons op die regte pad. En natuurlik moet ons dit uitleef elke dag ook en streef na heiligmaking (en minder dieselfde sondes doen oor en oor).

My lied sal altyd God se lof besing. Veral nou in Maart (‘n baie besige Maart vir my) as ek terugkyk na wat die afgelope jaar gebeur het i.t.v. my blog. Hoe ek gegroei het, hoe die Here net bygevoeg het en steeds byvoeg. Ek is so bitter dankbaar dat ek die eerste verjaarsdag kon vier op 23 Maart 2022. Dankbaar vir al die kennis wat die Here in my ingesit het en steeds doen.

Die wysheid wat Hy my gee en die mense wat Hy oor my pad stuur, net om alles nóg beter te maak vir Sy doel waarvoor Hy dit geskep het. Wat is jou lied? Het jy ‘n lied? Dit maak nie saak of jy kan sing of nie en of jy kan skryf of nie. Jy moet steeds SING vir die Here! Probeer die duiwel jou lied steel? As dit die geval is moet jy op en af spring van opgewondenheid, want dit beteken jy is op die regte pad!

Ek wil afsluit met ‘n paar liedjies wat op my hart is, wat ek oor en oor vir die Here sing. Liedjies wat ek kort-kort gaan soek en speel op Spotify, so terwyl ek my day job doen EN voorberei vir die Paasmark wat voorlê…vir die wat naby genoeg is, kom kuier by my stalletjie 1 tot 4 April 2022 by Gerber Plaaskombuis op Skeerpoort. Die eerste 7 aankopers elke dag sal ‘n gratis geskenkie ontvang…

En net so laaste dingetjie om heeltemal mee af te sluit – ek sluit my eerste twee blog inskrywings ook in as kort-pad skakels op die inskrywing. Net sodat ons almal kan sien waar ek was en waar die blog nou is – alle eer aan God!

Welkom by my blad
Die Naam….
The song… finalé
Posted on Leave a comment

Die lied… Hoofstuk 2

Ek wonder soms oor Maria. Hoe het sy gevoel nadat sy uitgevind het sy verwag die Messias? Jy sien, die Bybel vertel ons nie van haar emosies nie. Nie alles nie. Ons weet sy het ‘n lied gesing en was opgewonde oor dit waarvoor die Here haar gekies het.

Maar…was sy geskok voor die lied? Het sy verwerp gevoel deur die mense? Wat het hulle van haar gesê en gedink? Het hulle haar bespreek soos ons mense alte graag doen? Het sy ook wakker gelê in die nag? Geslaap vir net 3 ure en dan is sy wakker vir die res van die tyd terwyl almal om haar heerlik lê en snork?

Ek dink nie dit was maklik vir haar nie. Soortgelyk aan situasies waarin ons, onsself soms bevind. Jy sien, jy het dalk hierdie lied in jou hart oor dit wat die Here vir jou beplan en oor jou lewe gespreek het. Maar in ander opsigte en aspekte van jou lewe is daar nie noodwendig ‘n lied nie.

Ek dink soms wil die Here hê ons moet impulsief vir Hom wees. Goed doen net sonder om dit te overthink soos wat ek alte graag doen. Hom net vertrou. Al druk die lewe op alle ander vlakke dat ek voel ek kry nie asem nie en kan nie slaap snags nie. Al probeer die duiwel gereeld my lied steel…ek moet impulsief bly vir Hom.

Die lied wat die Here weer vir ‘n ruk al in my hart gesit het is Rooftops deur Kim Walker-Smith. Ek voel ek wil op die dakke staan en Sy naam uitroep, proklameer oor my lewe. Ongeag die werksvereistes en werksdruk. Ongeag die feit dat die duiwel die lied probeer smoor met alledaagse dinge in die lewe.

I shout out Your Name, from the rooftops I proclaim, I am Yours! Eggo die woorde deur my gedagtes. Ek sing dit sommer harder om die leuens wat die duiwel vir my in my kop vertel te probeer uitdoof. Ek het nou nie my eie persoonlike lied geskryf soos Maria nie, maar die een is vir my nagenoeg aan iets vir MY. Wat is JOU lied wat die Here in jou hart gesit het? Sing jy hom of laat jy toe dat die lewe se moeilik (kom ons wees eerlik, niks is meer maklik deesdae nie) jou liedjie onderdruk en versmoor?

Wat kies jy vandag? Ek kies om steeds te sing en te glo dat die Here Beroepsvrou en alles wat met dit saam gaan aan my toevertrou het. Dis wat HY vir my lewe beplan het. Hy het nie beplan vir my om nagte om wakker te lê en te bekommer hoe ek alles werksgewys gaan doen nie. Of dat ek lê en bekommer oor ons uitstaande debiteure en ons uitstaande skuld nie.

Daar gaan altyd seker maar iemand wees wat jou geld skuld en jy gaan seker altyd iemand anders geld skuld. Jy gaan seker nooit genoeg geld hê vir alles nie. Of genoeg tyd vir als nie. Die werk in ons bedryf gaan seker nooit makliker word nie en die deadlines gaan vir seker (nie net seker nie) daar bly. Gaan mens ooit genoeg geduld hê met jou kinders? Gaan jy ooit nie dae hê wat jy moedeloos voel as jy nie weet HOE jy jou kind gaan help deur Graad 7 nie?

Op die ou einde van die dag IS en BLY God in BEHEER van ALLES. Ons het nie beheer oor enige iets behalwe ons eie optrede en uitkyk oor die lewe nie. Hoekom dan nou nie dit maar met ‘n lied in die hart doen nie? From the rooftops I proclaim, I am YOURS!!!!! Sing ek sommer amplified en op sy hardste in my gedagtes, net om seker te maak die duiwel HOOR my.

The song… Chapter 2
Posted on Leave a comment

Die lied… Hoofstuk 1

So het Februarie 2022 gekom en gegaan. Nog ‘n sperdatum was oorleef. By tye het dit regtig gevoel of die ball & chain wat ek by die Accountant’s Inn gedra het swaarder was as wat hy veronderstel was om te wees. Sommige dae was moeiliker as ander. Ek het myself teen ‘n, wat vir my soos ‘n slakke pas voel, laat werk in Februarie, net om deur als te kom. Nie lang ure op een dag noodwendig nie, maar eerder meer dae in die week.

Skielik op 28 Februarie 2022,was dit asof ek kon voel hoe die sleutel in die slot gedraai word en hy vroeër as beplan losgemaak gaan word. Teen 12 uur die middag click ek submit op my laaste IRP 6 opgawe. Ek sit terug en dink by myself – HOE HET DIT GEBEUR? Dit het NOG NOOIT gebeur nie? Elke ander jaar tevore sit en werk ons dat die spoeg spat en tik dat dit al klank is wat jy in jou ore hoor eggo, saam met die muis se click geluide (ek wonder hoeveel keer click ‘n mens se muis daagliks?), soos wat ons spartel om alles betyds in te dien.

Ander jare dien ek gewoonlik hier teen 9 of 10 uur die aand die laaste opgawes in, soms nog later en net voor middernag. Ek onthou nog hoe my dogtertjie (nou 8) haar kussing en kombers gebring het en op die vloer by my geslaap het terwyl ek sit en werk. Maar skielik is daardie las net ligter. Ons almal kom teen ‘n redelike tyd in die bed.

Dit voel amper verkeerd, so asof ons iets of iemand vergeet het. Ons gaan weer deur die lysie – nee, niemand vergeet nie, almal ingedien. Ek besef opnuut dat ons die sperdatum gehaal het omdat ons ‘n stel hande het wat WERK en wat WEET wat sy doen. Iemand wat ons kan vertrou om werk en berekeninge akkuraat te doen. Haar kant te bring ongeag haar omstandighede.

So staan ek 1 Maart 2022 op, ek wil amper sê met ‘n lied in my hart. Die lied is nog nie daar vir my werk nie (alhoewel ek besef dat as ek nie werk nie, hierdie blog nie sal kan bestaan nie en natuurlik weet ek dat my werk in ons behoeftes voorsien), maar die lied is wel daar vir dit wat die Here vir my beplan en wat Hy vir my so stuk-stuk begin wys.

Dit alles terwyl ek Beroepsvrou se platform meer bemark en nuwe ontwerpe doen, en tussen werk deur. Ek sien ‘n kliënt die betrokke dag (1ste Maart) en sit nie eintlik by my tafel om te werk nie, dis maar net wat daardie dag gebeur het. Ek recover so bietjie van die amper 9 dae se werk aaneen (al is dit nie 7 of 10 ure elke dag nie, dis steeds werk elke dag) en vind net my voete in die volgende taak wat vir my lê en loer….en (on)geduldig wag tot ek dit afhandel.

Ek wonder die heeldag WAT die maand se skrif vers is, en kan dit wragties nie onthou nie. Uiteindelik skeur ek Februarie se vuil bladsy af. So asof die bladsy weerspieël HOE hard ek gewerk het deur ekstra vuil te wees. Waterkolle, ink wat smeer, jy noem dit, dit is hoe Februarie se kalender aan my kant gelyk het. So gaan sit ek UITEINDELIK weer en lees die vers, ek dink hoeka dit was eers 2 Maart.

Ek lees en vir ‘n oomblik maak dit nie sin nie. Ek wonder by myself HOEKOM op dees aarde het ek nou DAARDIE skrif gekies? Dit maak nie sin nie, die sin begin so stomp en in die middel van iets. Ek trek dadelik my foon nader en lees op die Bybel toepassing (hoe is daai vir ‘n fêncy Afrikaanse woord vir application?). Ek lees, maar steeds maak dit nie sin nie. Ek besluit om so paar verse vroeër te begin lees.

Uiteindelik het ek dit! Ek snap dit!! Ek kon nie ALLES inpas op die kalender nie, PLUS die skrif vers is op ‘n sleutelhouer wat ek een keer gekoop het. Dit was vir my so mooi hoe dit op die sleutelhouer was en daarom dat ek hom gekies het. As jy dalk wonder hoe ek nou nie die skrif wat EK gekies het kan onthou nie – ek het Oktober / November 2021 laas aan die ontwerpe gewerk.

Ses jaar se tyd, voel dit vir my, het sedertdien in die kort rukkie van ongeveer 6 maande verloop. My brein kan net nie elke liewe detail onthou nie. Goed, so terug by die skrif vers. Ek begin lees van vers 45 af. My oog vang die opskrif net onder vers 45 – Die loflied van Maria. Sjoe, dis nou vir jou interessant. Ek voel of ek ‘n lied in my hart het, en hier is die skrif ook ‘n lied wat deur Jesus se Moeder gesing was. WOW dis nou vir my toevallig, of is dit? Maar ek weet dadelik met God is NIKS ooit toevallig nie.

Lukas 1: 45-49 Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Afrikaans 1983 vertaling.

Hier is soveel meer aan hierdie skrif as wat ek kan dink of besef….ek voel amper ek moet dit versie vir versie opbreek en analiseer. Daar is soveel krag hierin. Soveel beloftes vir my en vir elkeen wat glo en staan op dit wat die Here openbaar aan my en hulle oor dit waarvoor ons geroep is.

Word vervolg…

The song… Chapter 1