Posted on 4 Comments

Die leë bad

Net gister oggend staan ek in ons badkamer, besig om reg te maak vir die dag wat voorlê, toe my oog die bad in ons badkamer vang. Ek merk die stickeez op wat langs die bad staan om die prop uit te trek (bloot omdat die meganisme gebreek het en ons nie noodwendig tyd het om daardie probleem te probeer oplos nie). Dan dwaal my oog na die verlore sponsnommer (hoeka nommer 7) wat in die rakkie ingedruk is, waarmee die kinders altyd speel as hulle bad.

Maar dis asof die stickeez en die sponsnommer ‘n sameswering het en my koggel. Hulle koggel my deur klem te lê op die leë bad, die bad wat elke dan en wan ‘n paar goggas en stof in het van min of geen gebruik. Dan is dit asof hulle die mes dwars draai in my hart. Die pyn skiet deur my hele lyf soos wat ek tot die besef kom – die kinders is nou groot.

Weg is die dae van langs die bad sit, speel, syfers, alfabet en kleure leer met die einste sponsletters en -nommers. Weg is die oomblikke wat soms vir my te lank en uitmergelend gevoel het. (Die Here ken my hart en ek is oortuig dat elke ma sulke dae beleef het). Ek het so gevoel, veral wanneer daar min geslaap was a.g.v. borsvoeding deur die nag, of lang ure se werk (of beide tegelyk). Dit was nie die kinders se skuld dat ek so gevoel het nie, tog het dit vir my gevoel of die oomblikke wat ek moet koester, net sommige dae (veral as ek baie moeg was en baie sleg geslaap het) net een te veel was vir my om te hanteer.

Ek gesels vroeër die week met ‘n vriendin en sy vertel my dat iemand sê vir haar hulle het net nog 7 Kersfeeste (is dit die regte woord?) oor saam met haar oudste in die huis, dan is dit verby. Ek kyk haar in ongeloof aan, so asof sy vir my jok. Ek begin dink en somme maak. Ek het minder as dit oor saam met my oudste!! Wanneer ek maande, weke en naweke het soos wat ons gehad het van Januarie af tot nou in Maart, waar ek my dae omwerk, naweke omwerk net om deur alles te kom en betyds ingedien te kry, raak ek hier diep binne in my opstandig teen my werk.

Ek raak verby kwaad want ek voel my werk steel by my en my kinders. Om alles te kroon, is sommige kere se dae, weke, naweke omwerk nie eens beloon met vergoeding nie, want die mense (baie, nie net een nie) skitter in hul afwesigheid om betaling te maak op die staat wat geduldig, maand na maand per e-pos uitgestuur word. Ongelukkig het Pastel nie die mannetjie wat op sy knieë staan en huil, met die woorde Please pay, overdue wat jy kan opsit nie. Nie soos die ou dae se state wat die kantoor tannie gedruk het, gestempel het met Mr. Please Pay Overdue, netjies opgevou en gepos het nie. Nee, nou is dit net te gerieflik en maklik om die e-posse ongelees te laat.

Maar daar verloor ek alweer wat ek eintlik wil sê. Jy sien, hierdie opstandigheid skep weer bitterheid en die bitterheid maak mens siek en moeg. Mors kosbare energie. So terug by die leë bad. Ek dink daaraan die heeldag terwyl ek Johannesburg toe ry na ‘n kliënt toe, en terug ook. Ek wonder by myself juis hoekom die Here my attent gemaak het op die bad?

Ek begin dink, wanneer laas HET die kinders in ons bad gebad? Iewers tussen laas jaar en hierdie jaar het hulle net begin stort in hul eie badkamer. Aan die begin was dit vir my lekker om my badkamer weer terug te hê vir myself (en my man natuurlik). Sonder speelgoed wat die wêreld vol lê. Maar skielik is die besef daar dat dit vir ewig verby is, die speelgoed wat rondlê. Dit wat die grootste irritasie by my veroorsaak het is nou weg en dit impliseer dat die kinders groot word en ‘n nuwe fase in beweeg.

Ek dink ook terug aan ‘n gesprek met ‘n ander vriendin (ook vroeër die week, en ja, ek gesels met baie mense gereeld). Sy vertel my haar oudste is op Universiteit. Ek kyk haar in ongeloof aan (weer asof sy óók vir my jok). Sy is dan 42, hoe kan sy ‘n kind op Universiteit hê? Dan besef ek sy is tog reg, hy is reeds 18. Sy vertel my net dat ek die lê langs die kinders in die aande moet geniet, duld en verdra. As jy weer sien is dit verby.

Met trane in my oë besef ek dat ek ten minste nou net ‘n leë bad het. Sy het nou 3 goed wat leeg is – ‘n bad, ‘n bed en ‘n kamer. Ek voel hoe die Heilige Gees aan my hart werk, die mes wat dwars gedraai is sagkuns uithaal. Dit maak nie minder seer nie, die realiteit van die leë bad. Maar Hy herinner my dat ek nog 2 uit die 3 goed het in my huis. “Koester dit” voel ek die fluistering in my gees. “Hê meer geduld en vertrou my net met die werk en alles wat jou so pla” praat Hy verder.

“Los alles by die voete van Jesus” woorde wat ek oor en oor vir myself sê, en ander mense ook vir my sê en ek selfs uiter aan ander wat mismoedig is. “Dis MOEILIK Here!” skree ek amper terug. “Almal verwag iets van my elke oomblik van elke dag. Ek is net EEN mens. Teen die tyd dat die kinders by die huis kom in die middae is ek op soos ou brood. Waar krap mens dan geduld uit? Ek het nie eens krummels oor nie? Plus my kinders verdien meer as net krummels.” redeneer ek hier met die Here verder. So asof Hy NIKS weet wat in my lewe aangaan nie.

Ek raak weer stil en sien weer die bad. Die bad wat leeg is. Dan sien ek die kamers wat vol is en die beddens wat ons elke aand deel met ons kinders. Ek weet dis ok om dit so te doen. Selfs al frons ander mense vir jou, weet ek dis ok vir ons. Dis die bietjie wat ons kan terug gee vir ons kinders vir al die nagte, naweke, vakansies, dae, weke, maande se werk en uitmis op tyd saam met hulle, nie tyd kry vir help met leerwerk en take nie, die lysie is LAAANK. Vir al die stank-vir-dank werk wat ons al vir mense gedoen het. Vir al die onbetaalde rekeninge, sonder Mr. Please Pay Overdue op.

Ek voel ‘n rustigheid oor my kom en weet, die Here ken my hart. Ek doen die beste wat ek kan met dit wat ek het. My beste sal seker nooit goed genoeg wees in my eie oë nie want ek het hierdie verwagting, ‘n verwagting van hoe die lewe moet wees. Nie hoe die lewe in werklikheid is nie. Ek hoop regtig dat my beste goed genoeg is vir my kinders.

Ek los dan ook my onbetaalde rekeninge sonder Mr. Please Pay Overdue op by die voete van Jesus, saam met my werk en die druk wat saam met dit gaan, saam met wat vir my voel soos 10 miljoen ander goed. I need only to be still, for the Lord will fight the fight for me eggo dit deur my kop. Die Here veg al voel dit nie so nie. Hy veg want ons kan dit nie in eie mag doen nie. Exodus 14:14 (KJV) The LORD shall fight for you, and ye shall hold your peace. Ek sit die laaste stukkie ding by Jesus se voete neer, die leë bad. Dan draai ek om en gaan soek my geduld krummels, skraap bymekaar sodat my kinders darem meer as net krummels kan ervaar vanmiddag en elke middag en aand van nou af.

The empty bath