Posted on Leave a comment

Immigrasie

Immigrasie. Die harde realiteit van Immigrasie het my vandag soos ‘n vuishou tussen die oë getref.

Jy sien ek staan al vir jare in die ring met hom saam. Elke keer koes ek as die houe val en hy mis.

Eers is dit my niggie wat saam met haar ouers immigreer. Sy is nog op skool so sy moet saam. Ek weet nie of sy sou wou bly as sy ‘n keuse gehad het nie.

Dan later jare is dit vriende, kennisse en net name wat jy hoor wat immigreer. Immigrasie staan soos Rocky Balboa voor jou en intimideer jou en probeer jou uitklop-hou na uitklop-hou gee.

Elke keer mis hy want dis nie SO naby nie. Dis elke keer hartseer maar dis nie hartsmense nie.

Maar díe keer is dit anders. Dis familie. Iemand saam met wie ek seker vir 13 jaar of so saam in die huis mee groot geword het. Iemand oor wie ek gehuil het, snot en trane, (by gebrek aan ‘n beter beskrywing van HOE hartseer ek was) toe sy P.E. toe getrek het toe sy die “Army gejoin” het.

Sy was die een wat ons versorg het toe my ma voldag moes begin werk. Wat vir ons slap tjips en witsous vir middagete gemaak het.

Die een by wie ek veilig voel as ek ‘n mediese krisis het. Die een wat ek bel as my kind 10 uur die aand haar kop oopval om te hoor wat om te doen want ek slaan ‘n “blank” oor wat om te doen.

My hart is in 10 miljoen stukke vanaand na ek besef het dit gaan wragties gebeur. Nie net ‘n duisend stukke nie. Nee 10 miljoen. Ge”shatter” soos hoe my ou foon gelyk het na hy geval het. Dit voel of ek steeds kan hoor hoe my hart kraak, soos wat my foon gedoen het, daai tyd toe ek hom optel na hy geval het.

Na ek vanmiddag op whatsapp op die familie groep ‘n boodskap kry dat een of ander aansoek om oor grense te gaan binne 24 uur goed gekeur is besef ek….dit gaan gebeur.

Hulle moet net vir nog een of ander iets toets dan kan hulle hul vliegkaartjies bespreek.

My hart is seer. Ek het nie eens ‘n foto saam met haar en haar gesin op my 40ste nie. Hulle kon nie bywoon nie want hul was in iemand se teenwoordigheid wat positief getoets het vir die virus. Wat toe op die ou einde ‘n vals positief was.

Sy is die naaste wat ek het aan my ma. Sy trek na my ma se kant van die familie. Sy versorg mens so mooi, al drink jy net koffie saam met haar voel dit net anders.

Sy was die een by wie ek naweke gaan bly het, gaan studeer het en eksamen by geskryf het. Haar man was my inspirasie om ‘n CA te word.

Ja ons het ons verskille gehad met tye, maar wie het nie verskille nie? Dis hoe God ons gemaak het.

Terwyl ek my gesig was vanaand, oorrompel al die emosies wat ek hier neergepen het my. Ek huil. Sluit die deur en huil saggies want ek wil nie my kinders ontstel nie.

Ek probeer sterk staan maar kan nie help om kort kort trane in my oë te kry nie.

Die realiteit is dat ek haar en haar gesin heelwaarskynlik nooit weer gaan sien nie. Nooit weer nie. Ek dink dis erger as om iemand aan die dood af te staan.

Ek probeer sin maak van alles, van hul besluit maar weet ek kan nie. Ek staan nie in hul skoene nie. Ek weet nie deur watter hel is hulle op hierdie aarde al nie. Want dit moes loutere hel gewees het om so ‘n groot besluit te neem.

Ek verwonder my aan hul “guts” om so iets aan te pak op 50 en amper 50. Om na ‘n plek te gaan waar jy nog nooit was nie. Waar selfs die ketels en proppe anders lyk. Waar almal met aksente praat. Waar goed net ANDERS is jy weet?

Om na ‘n plek te gaan waar jy sal doodgaan eendag en minderheid van jou lewe (heelwaarskynlik) gaan leef siende dat hulle teoreties reeds meer as 50% van hul lewe op aarde was.

Laas week loer ek in, soos wat ek altyd maak as ek in Pretoria is. Maar ek was lank laas in Pretoria vir iets.
Ek vermy die onderwerp want ek is nog in volstruis-“mode”. Kop in die sand en al. Hoop ek hoor verkeerd en dat hulle verkeerd gehoor het.

Ons gesels terwyl sy stryk. Dan begin sy ‘n kas uitsorteer. Dis lekker vir my. Voel soos altyd en lank terug en hoe dit altyd was tussen ons.

Sy beduie vir my van als wat sy wou maak en nooit by uitkom nie. Probeer verduidelik wat om te maak met die kunsblomme en gips. Ek het seker my gesig snaaks getrek en weer net gesê “nee dankie” en toe bars ons uit van die lag.

Dit was lekker en het my goed gedoen. Ek mis dit. Mis net die saam wees sonder enige komplikasies en “rubbish” van die lewe.

Hoe sê mens KOEBAAI vir iemand wat jou sussie is? Jou eie bloed? Hoe groet jy sonder om heeltyd te tjank?

Ek dink naas my ma se dood is DIE seker DIE moeilikste ding om te doen. Nie eens my CA eksamens was so moeilik nie. Want vir dit kon ek voorberei.

Vir die kan ek nie voorberei nie. Sal ek nooit reg wees om KOEBAAI te sê vir altyd nie.

Ek gaan die “fleshy hugs” mis. Ja daar is Skype en Zoom en whatsapp video calls. Maar dis net nie dieselfde nie.

Ek gaan jou mis sussie. Al het ek nie jou drumpel deurgetrap nie, het ek altyd geweet jy is net ‘n uur se ry in dieselfde tydzone as ek ver…..en nou gaan dit ook verander.