Posted on Leave a comment

Die Groot Dag!

Vroegdag lê ek al wakker. Hoor die “Piet-my-vrou” roep…dan onthou ek ‘n vriendin het vir my gesê hulle kan net roep as daar vog in die lug is…

Ek speel met ons nuwe baba, laat ek jou vertel, die afgelope 2 weke was soos pajama dril en wakker word uit ‘n diep slaap as die dingetjie wil pieps en draaitjies loop….maar sjoe, het die Here vir ou Fudge net op die regte tyd gestuur vir my gemoed!

Na nog ‘n half uur van lê en wag vir die son om op te kom (die seisoen het mos gedraai so die son strek later eers haar arms oor die horison) besluit ek maar om my man wakker te maak…’n groot dag met ontbyt saam hartsmense lê voor en ek kan nie laat wees vir dit nie!

Ons lê so en gesels, hy vertel my dat ons dogtertjie die persente gekies het en dat dit ‘n groot verrassing is. Dit was vir hom vreemd maar ek weet sy het gekies wat haar hartjie gevoel het belangrik was/is vir my.

Hy staan op en maak die kinders wakker. ‘n Gefluister en sagte bewegings hoor ek in die huis. Sy woorde aan my was dat ek moet maak of ek slaap sodat die kinders vir my kan sing…

Ek lê en wag. In my binneste giggel ek dat hulle nou doen vir my wat ek elke verjaarsdag vir hulle doen. Kersies in cupcakes sit en die verjaarsdag maatjie wakker sing en verras met geskenke.

Dan hoor ek dit, vir ‘n oomblik deur mekaar met of hulle Afrikaans of Engels moet sing en toe trek almal weg in Afrikaans.

My hart klop tjoklits oor my gesin my so in oorvloed bederf met die awesome persoonlike gebaar.

Wonder bo wonder is my gemoed op ‘n plek waar dit lank laas was op my verjaarsdag.

Terwyl ek stort dink ek vir ‘n vlietende oomblik dat ek nie eens aan my ma gedink het toe ek wakker geword het nie. Ek skuif die gedagte een kant toe want dis so lekker om so te voel en nie die verlange na haar heeltyd te hê nie.

Ons maak reg en ry vir ons ontbyt….

Diep binne my weet ek net die Here seën hierdie dag. Ek kan VOEL dat iemand (of baie) vir my gebid het….ek kan voel my gemoed is lig en reg om die dag aan te pak…. “Fourtabulous” hier is ek nou. Ek omhels die groot 40 met ope arms. Want sy hou insig, kennis en wysheid in. Ek gaan haar nie meer vermy nie.

Sy is nou hier, ek vat haar om haar skouers en gee haar ‘n stywe druk. Kyk haar in die oë en knik my kop. Ek is reg. Ek is reg vir 40.

Mag die Here my as ‘n instrument gebruik elke dag vir elke mens wat ek aanraak. Mag elkeen na Hom smag omdat ek Sy lig helder laat skyn al voel my eie liggie flou en dof soms…

Ek gaan nie toelaat dat die druk van die wêreld my onder kry nie want ek weet alles is moontlik met God en dat Hy altyd alles ten goede laat mee werk vir die wat Hom lief het.

Posted on Leave a comment

Die GROOT verjaarsdag

Veertig. 40. Oor bietjie meer as ‘n week word ek 40! (8 dae om presies te wees…)

Toe ek 20 was, het 40 so ver gevoel. So oud, so anders. Ek meen ek het op 20 of 21 gedink my lewe is verby as ek teen 22 my graad het en teen 24 CA is.

Regtig??? Verby? Dit BEGIN dan eers.

Nie te min, hier sit ek omtrent 20 jaar later na ek die gesprek met my vriendin gehad het oor my lewe wat verby gaan wees en ek leef nog.

Vir ‘n paar jaar al spartel ek met die idee van 40 word en hier sit ek nou en die dag LOER vir my soos ‘n ek weet nie wat nie. Ek kan nou wragties nie dink soos wat loer dit vir my nie….maar dit loer vir my.

Soos wat ek die afgelope 2 jaar of so al hierdie emosies “unpack” soos die engelse dit noem begin ek besef dat die rede hoekom ek voel oor 40 soos wat ek doen is omdat die balans en die eendag waarna elke mens smag net nog nie hier is nie.

Jy is teoreties amper halfpad deur jou lewe en steeds werk jy lang ure, steeds oefen jy nie, steeds leef jy nie gesonder soos jy gedink het jy sou nie. Steeds is die balans nie daar nie.

Ek het in 2020 vir ‘n vlietende oomblik balans beleef en ek besef dit was ‘n oomblik wat die Here my gegun het. Ek het begin Cross Fit terwyl die kinders gimnastiek doen half pad deur Februarie nogal (ons besigste wildste maand in ons bedryf).

Alles het net perfek in plek geval. CF tye val saam gimnastiek, ek kan steeds gou inkopies doen na die tyd en ‘n redelike tyd by die huis kom.

En dit was “awesome”!

Uiteindelik het my “eendag” gearriveer vir oefen. Iets wat ek al vir meer as 10 jaar voor bid en die Here smeek om my lus te maak vir oefening en dat ek daarvan sal hou, het toe gebeur.

Toe kom Covid en lockdown. Toe is my 4 weke van balans weg. Word my hele wêreld onder my uitgeruk.
Maar nie te min, ons is deur die 6 jaar van 2020 en hier is ek nou amper 40.

Ek wroeg ook met die feit dat my ma my nie sien 40 word het nie, maar ek weet in my hart dat dit ook ok is en dat die Here ‘n plan het met alles en dat alles altyd ten goede mee werk vir die wat Hom lief het.

Soos wat ek reflekteer oor wat ek dink die redes is oor hoekom ek voel soos ek voel, voel ek die Here fluister in my gees vir my oor tyd. Hoe kosbaar tyd regtig is.

Ek het altyd geweet dit was kosbaar maar as jy amper 40 is, is dit asof die Here dit beklemtoon.

In dieselfde asem fluister hy vir my dat 40 nie so sleg is nie. Jonk genoeg om ‘n verskil te maak op alle vlakke en oud genoeg om met meer wysheid na goed te kyk, op te weeg en meer ingeligte Goddellike besluite te neem in my lewe.

Op amper 40 kan ek dit net VOEL in my gees dat die Here besig is om my op te rig. Hy is besig om my voor te berei vir dit waarvoor ek geroep is.

Die “boldness” is skielik daar. Skielik kan ek moeilike gesprekke voer en weet dis noodsaaklik om die gesprekke te voer….

Woorde kan nie beskryf wat ek voel nie maar ek WEET net. Maar voor jy kan doen wat die Here wil hê jy moet doen, moet jy gelouter word.

Moet jy deur die vuur gaan en moet jy die druk ervaar.
“He is busy making diamonds” se woorde maal deur my kop (praise en worship liedjie) en ek weet dis hoekom mens deur goed gaan.

Dit is om sterker aan die ander kant uit te kom sodat jy kan doen waarvoor jy geroep is.

So hier is op 40 en die innerlike stryd wat met dit gepaard gaan.

Dank die Here ek het Hom in my lewe want sonder Hom is ek niks.