Posted on Leave a comment

Die Etiese opleiding

Dit is Desember 2022. Ek het voorgeneem om hierdie deurlopende etiese opleiding, waarvoor ek my oë gerol het toe die vereiste deur kom van SAICA af, op datum te bring teen einde Desember 2022. Wel, al wat ek kan sê is dat die lewe die heeltyd gebeur! Liewe aarde. Ek weet eerlik nie hoe mens veronderstel is om alles in te pas en die balans te handhaaf nie.

Nie te min, ek besluit toe wel op ‘n reënerige dag in Desember, toe dit koeler is, en niemand in die swembad kan baljaar, en my op ‘n pity party laat gaan, omdat ek opleiding moet doen, terwyl almal ontspan nie, om maar tog hierdie opleidingsding verder aan te pak. Wat ek wel nou besef is dat ek eintlik dit heeltemal verkeerd gedoen het, voel dit vir my. Maar, dan weer, daar is seker nie ‘n regte of verkeerde manier nie??

Die meerderheid, waaroor ek reeds geskryf het, van die hele Etiese opleiding en my ervaring van dit, was die journaling gedeelte, die deel waar jou brein so bietjie gerek word. Ek het wel van die ander goedjies tussen in gedoen, video’s gekyk, maar my fokus was eintlik meer op die journaling deel voel dit vir my. Wat seker nie verkeerd is nie? Ek meen, ek het dit as wonderlik en fantasties ervaar! Want die vrae wat gevra word wat jy oor moet skryf laat ‘n mens nogals dink….wat wonderlik is! Ek het wel nie in detail en diepte deur al die ander dokumente ook gewerk nie. So miskien moet ek nie die wa voor die perde span en net die joernaal inskrywings doen nie, maar eerder dit sistematies en maand vir maand doen soos wat my Sierboom maar hou van om te doen. Die ander ding wat ek ook geleer het en weet, is ek moet nie 12 maande se opleiding in ‘n dag probeer doen nie. Dis juis so ontwerp om bietjie-vir-bietjie te doen oor ‘n langer tydperk…

Ek besluit toe om te back track met my opleiding, want, jy sien, na elke maand se opleiding, moet jy ‘n paar vrae antwoord om ‘n sertifikaat te bekom. En die sertifikaat is nou in wêreldse terme die belangrikste ding ooit. Dis my bewys dat ek hierdie goed gedoen het. Ek begin toe maar weer by maand twee. Lees deur die dokumente, alles is heel gerieflik op ‘n toepassing op my foon, of met ‘n internet skakel op ‘n webblad op my rekenaar, beskikbaar vir my enige tyd wat ek dit wil doen. Ek het wel gegaan en alles op my Google Drive gestoor, wat dit ook baie gerieflik maak om uit te druk en so meer.

Lynette Berger was so gaaf gewees om my nog toegang te gee, al het my twaalf maande periode sedert ek die proses begin het verstryk. Ek weet ook nou nie of ek hierdie hardop en so openlik mag genoem het nie. Maar nou ja!! Hier is dit nou – sorry Lynette as ek jou e-posse nou laat oorloop het van versoeke na mense die inskrywing gelees het.

Al die dokumente, wat ek dink, ure geneem het om bymekaar te sit deur ProBeta, onder toesig van Lynette Berger (ek is nou nie presies seker hoe hul strukture daar werk nie), laat my net besef, van voor af hoe hierdie kursus aansluit by die Pienk Vere van Beroepsvrou. Daar was absoluut GEEN manier dat ek of Lynette en haar span, enigsins kon weet van mekaar en die inhoud van dit wat die Here aan ons openbaar het op ons unieke maniere en platforms nie.

Die inhoud voel of dit kolskoot tref bladsy na bladsy. Die gedeeltes waar jy so bietjie jou Tall Trees profiel analiseer en dissekteer, uitmekaar trek en begin vorm en werk aan om ‘n beter mens te wees. Een van die opskrifte of onderwerpe wat my bygeval het was onder die opskrif Feed your faith and starve your fears. Dit was maand 3 dink ek. WOW. Hoe waar is dit nie net nie? Toe ek verder onder dit gaan lees gaan dit alles oor waarmee ons onsself voer. Emosioneel, geestelik. Klink vir my maar so bietje soos my flamink storie….ek kan nie anders as om die Here ‘n fist pump te wil gee vir dit en die feit dat Hy my hierdie kursus laat ontdek het nie.

Houdings en uitkyke is aansteeklik. As jy jouself met negatiewe mense omring – raai wat? Jy gaan een groot hopie van negatiwiteit word!! Dis presies hoe dit werk in die lewe en hier is dit swart op wit in hul notas. Ek besef nou net weer hoe haalbaar hierdie kursus eintlik is. Dit is ons werk om te sorg dat ons nie alles los tot op die laaste nippertjie nie. Dit het my vandag ‘n paar uur geneem om deur ‘n paar maande se goed te werk. So hoekom doen ek nie net elke dag ‘n bietjie nie? 15 minute daagliks is mos haalbaar?

Ek dink in my geval is ek so oorgretig om alles te leer, dat 15 minute te min is. As ek myself weer kry, spandeer ek ure op goed, werk deur alles, terwyl die day job wag. Miskien over think ek die hele kursus? Miskien moet ek vir myself ‘n tyd limiet stel? Wat ek wel ook misinterpreteer het aan die begin, is, die 5 minute ethics moments se dokumente – ek het gedink (weet eintlik nie wat ek gedink het nie, want duidelik het ek nie gedink nie) maar, dit het vir my gevoel hulle is almal dieselfde. En dis seker die rede hoekom ek nie in diepte deur alles gelees het nie…?

Eers na verdere ondersoek, het ek gesien die eerste klomp paragrawe, wat die proses wat gevolg moet word stap-vir-stap verduidelik, (en eintlik meer op klerke gerig is dink ek), dieselfde is en dan op bladsy twee, in die middel rond, begin die nuwe goed wat jy moet lees, oordink en beantwoord. Dit voel vir my dat die kommentaar en oordenkinge so bietjie dieper en meer intens word soos wat die maande vorder. Ek dink hier het die Here ook direk met my as Elsie gepraat met my voorvereistes – dat ek vir myself jok as ek dink dat ek eers beter oor myself en die lewe gaan voel as sekere boksies afgemerk is.

Nou ek dink nie hulle probeer sê stop alles wat jy doen en probeer vermag nie, want op die ou einde van die dag, is die ‘n vormingsproses en dit wat jy doen in jou lewe is besig om jou te vorm, om te word dit wat die Here lankal reeds bepaal het vir elke indivvidu op hierdie aarde. Ek wil nie te veel uitlaat oor alles nie, maar ek het soveel waarheid in soveel goed ervaar, veral die oor angs. As jy nie in die present moment leef nie, lei jy maar eintlik net een ongelooflike aaklige angstige lewe! Vra my! Been there and done that. Ek ken ook mense wat steeds so is. Angstig oor wat kan gebeur en oor wat gebeur het in die verlede. Ek het op ‘n stadium so geleef vir een dag, dat ek my lewe gemis het. En wragties, een dag, toe ek wakker word, toe is ek amper 40! Ek dank die Here elke dag dat Hy my wel wakker gemaak het om op te hou so lewe! Ek voel steeds soms spyt dat ek dele van my lewe gemis het, maar, dit is wat dit is, ek het iets geleer, aanbeweeg en ophou om so te lewe.

Ek het steeds nie alles op hierdie reflektiewe dokumente geantwoord nie, maar het deur al die inhoud gelees, die kort videos van tussen 5 en 10 minute lank gekyk. Hier en daar is daar ‘n langer video tussen in, en dis dan wanneer ek die Treadmill nader of die luidspreker aansit terwyl ek stort en grimering aansit. Ek het wel my vrae op die assessments (wat is dit tog in Afrikaans?) geantwoord en is nou die trotse eienaar van ‘n paar Etiese CPD sertifikate. Genoeg om almal tevrede te hou. Genoeg om myself tevrede te hou dat ek wel gedoen het wat ek kon met die tyd tot my beskikking. Hier wil ek ook net noem, dat, ek nie hard op myself is nie. Die vereistes van die professionele institusies waaraan ek behoort is genadeloos. As jy nie doen wat daar van jou verwag word nie, gaan jy boetes hê, dissiplinêre verhore moet bywoon en wie weet wat nog alles. Dis ongelukkig hoe dit is in ons professie – die vereistes is baie, soms te veel om te hanteer. Maar deur God se genade, maak ek dit nog elke jaar.

Hierdie voel soos ‘n fist pump oomblik, met wie, weet ek nie, want dis net ek wat hierdie vereiste het in my firma. My man verstaan nie al die draadwerk nie, maar ondersteun my soos wat ek hierdie goed moet doen. Al is dit veronderstel om vakansie te wees. Maar dis lekker, ek geniet dit. Ja, jy kan maar dit sê – ek is ‘n nerd en ‘n sucker vir iets soos die wat myself beter ontwikkel. Want ek weet net, die het ‘n groter impak in my lewe en waarheen Beroepsvrou oppad is as wat ek ooit sal kan dink en besef. Ek het ook verder agter gekom my brein was bietjie moeg na ek 3 maande se goed in een dag opgevang het, en het besluit om dit daar te laat en die res aan te pak, dag-vir-dag en bietjie-vir-bietjie in die nuwe jaar. Ek weet nou beter wat dit behels, weet wat om te verwag en weet hoe om dit nou aan te pak. As ek nou hier ‘n emoji kon insit, sou dit die armpie wees wat sy spiere flex, reg vir aksie.

Ek hoop regtig dat hierdie inskrywings (van my pad met hierdie opleiding, wat soos ‘n elephant in the room gevoel het) iemand daar buite sal inspireer en oortuig om tog maar op te teken vir die kursus. Moet nie dat al die downloads en goed jou oorweldig nie. Maak met dit soos wat jy ‘n olifant eet (spreekwoordelik gesê natuurlik) – stukkie vir stukkie, dag vir dag. Sommige dae sal jy die hele slurp kan aanpak en ander kere net ‘n kleine ou blokkie. Maar as jy jou weer kry, het jy van slurp tot stert vordering gemaak. Dan is die elephant in the room aangespreek en uitgesorteer. Doen dit net! Moet nie dit oordink nie!! Jy investeer in jou eie lewe en die beste van alles is, dis ‘n belasting-aftrekbare, wettige uitgawe (vir my is dit omdat ek my eie besigheid bedryf, as jy salaris verdien….wel, ek is nie so seker van dit nie) en ure wat tel vir jou CPD sonder om jou te verveel en oog rol oomblikke te verskaf. In my opinie is dit ‘n wen-wen situasie – waarvoor wag jy nog?

The Ethics training
Posted on Leave a comment

Die opleiding gaan voort…. maand 3

Oh my hat!! Ek het my daaglikse joernaal inskrywings gedoen soos ek weet nie wat nie! Probeer opvang op verlore tyd sedert September. Raai wat? Die lewe is besig om te gebeur terwyl ek dit probeer doen, so my plan voel of hy propvol foute is….en nie deurgevoer kan word nie...

Weereens het ek amper ‘n panic attack (dit voel deesdae of dit daagliks gebeur vir die simpelste goed) oor hierdie opleiding en HOE ek veronderstel is om dit op te vang??? Ek het net toegang vir 12 maande en die tyd is amper op….

Net soos ek bruinpapiersak wil gryp om my asemhaling te reguleer, voel ek die Heilige Gees my kalmeer soos net Hy kan doen. Daar is niks waarmee ek Sy kalmte mee kan vergelyk nie….nie Laventel (hoe is daai vir ‘n properse Afrikaanse woord?), white noise of enige ander ding wat kalmerend is nie.

My gedagtes en angs asook honderd en tien ander emosies kom tot ‘n skreeuende stilstand. Jy weet, soos wanneer jy soos ‘n mal mens bestuur (kom nou – ons almal doen dit soms…) en skielik ‘n groot spoedhobbel amper te laat sien. Net so!

Ek voel hoe Hy in my gees laat val dat ek nie al die joernaalinskrywings op dieselfde tyd hoef te doen nie. Ek hoef nie te probeer om ‘n week se joernaalinskrywings in 15 minute te doen nie. Die doel van dit is mos om jou as ‘n persoon te laat groei. So niemand gaan ware groei ervaar as alles afgerammel word nie!! Die joernaalinskrywings is ‘n proses wat bietjie vir bietjie gedoen moet word en hoef nie noodwendig in groot hompe gedoen te word soos wat ek nou probeer doen nie.

Ek sit terug en dink vir ‘n oomblik en besluit true that! High five, fist pump en booty shake met die Heilige Gees vir daardie openbaring. Maar dan vra ek Hom so HOE is ek veronderstel om op te vang op verlore tyd? Sy antwoord is eenvoudig. “Laai die inhoud af wat tans beskikbaar is, werk deur die video’s en ander materiaal en doen die aanlyn assesserings.”

Hy gaan voort: “Dit behoort dit te doen. Die joernaalinskrywings is ‘n proses en ‘n reis wat jy op is, jy is nie veronderstel om deur dit te jaag nie. Die aanlyn klasse en asseserings is soos alle ander opleiding. Jy kan baie na mekaar doen. Jy gaan die kennis stoor vir latere gebruik.”

Ek het nog nie dit probeer nie en miskien moet dit my plan van aksie word? Om dit so te doen? Ek dink dis weer tyd om videos te kyk en materiaal te lees terwyl ek op die treadmill loop en dan die assesserings aan te pak….

The training continues…. month 3
Posted on Leave a comment

Die Deurlopende Etiese Opleiding duur voort…. Maand 2

Die Engelse opskrif klink vir my meer catchy. Maar toemaar, ek is seker julle verstaan wat ek hier bedoel. Elkgeval, terug by my ervaring van hierdie ding wat ons etiese opleiding noem….ek het eers my oë gerol (ek het dit al voorheen genoem) om opleiding te doen om eties te wees. Vir my is dit ‘n natuurlike ding en my verwagting van ander mense is ook om so te wees.

Duidelik funksioneer ander nie soos ek nie (wat ‘n skok vir die sisteem, dog die waarheid en realiteit). Maar, soos ek deur alles werk, besef ek net daar is iets diepers betrokke hierby. Natuurlik kan niemand geleer word om eties te wees nie! Maar, as jy jou denk patrone verander, sal jy tot die besef kom oor hoe dit jou lewe, aksies, keuses en uitkomste werklik beïnvloed.

Iewers tussen September 2021 en Februarie 2022 het ek behoorlik uitgefreak oor die etiese opleiding. Elke keer wanneer ek ‘n kennisgewing kry dat daar nuwe inhoud beskikbaar is (die begin van die maand gewoonlik) dan begin ek amper hiper-ventileer. Want regtig, WAAR moet ek die tyd kry om alles te DOEN wat daar van my verwag word? Ek het slegs maand 1 se opleiding gedoen teen einde Desember en nou moet ek 11 maande se goed opvang in iets soos 8 maande of minder (ek weet eintlik nie hoeveel nie, ek het dit nie gaan uitwerk nie en my brein is regtig net te moeg om uit te werk hoeveel tyd het ek nog oor van my 12 maande etiese opleiding).

Dan, tussen al die chaos deur wat ek ervaar, kalmeer die Here my gedagtes. Dis ok om agter te raak. Dit gebeur. Weer freak ek uit want ek is nou eers besig met maand 2 se joernaal inskrywings wat daagliks moet plaasvind en HOE GAAN EK DIT DOEN??? Ek het amper in my gedagtes geskree vir God (met respek as daar so iets bestaan). Ek het ‘n tantrum gegooi. Ek sal nou nie die Afrikaanse slagspreuk gebruik nie, maar iewers in dit is ‘n vloer en iets wat rym met vloer. Ek is seker jy weet wat ek hier bedoel.

Dit het my die HELE Januarie gevat om ‘n klomp goed uit te werk, insluitende die opleiding in ‘n baie besige skedule. Dan iewers tussen my geskree en freak out wat ek gehad het, kom die lig aan. Wat die proses jou EINTLIK probeer leer is nie om jou inskrywings te begin met Liewe Dagboek nie. Nee. Wat hulle ons probeer leer om te doen is om ons gedagtes te declutter van goed en gedagtes wat jou so besig hou en jou vreugde en fokus steel.

Sodra jy dit begin neerskryf en uit jou gedagtes uit kry, kan jy meer fokus op die dag wat voorlê. Makliker gesê as gedaan, MAAR dis die uiteinde dink ek. Ons het soveel clutter op soveel vlakke, dis SCARY!! Dit begin intimiderend raak en as jy weer sien is jy oorweldig, angstig en kan jy eintlik nie werk soos jy veronderstel is om te werk nie, alles op dieselfde tyd.

Ek het ‘n doelbewuste besluit geneem om die eerste week in Februarie, net te BEGIN met hierdie opleiding en dit net te doen. En ek het. En dit laat my meer bemagtig voel (is dit die regte woord vir accomplished?). Ek voel beter want ek is besig om baba tree se vordering te maak….en raai wat??? Jy HOEF nie eers maand 2 se joernaal inskrywings klaar te maak voor jy kan aangaan met maand 3 nie.

Nee, jy kan daagliks joernaal inskrywings maak, maand 2 se video’s kyk (en al die inhoud lees net so terloops), die assessering doen en aan beweeg na maand 3 toe. Dit is wat ek gaan doen. Ek kan mos meer as een daaglikse inskrywing doen as ek wil. Daar is geen reëls nie, so dis haalbaar om op te vang en in te haal.

Wat ek ook gaan doen, is om te probeer kombineer met wat ookal in maand 3 gebeur met maand 2 se joernaal inskrywings en so uitbrei. Ek het GEEN idee wat maand 3 vir my inhou nie, maar ek is reg vir dit. Dankie tog ek het ‘n hoër mag (die Here as jy gewonder het) wat oor my waak. Wat ek ook begin doen het is om so 2 tot 3 joernaal inskrywings se vrae te antwoord in een dag. Deur dit te doen, maak ek ook vordering en vang ek ook op!! My plan, is soos elke ander plan in die lewe – onder ontwikkelling en onderhewig aan verandering.

God inspireer my, kalmeer my, gee my planne om my vrese en probleme wat ek daagliks ervaar, te oorwin, sodat ek iets so eenvoudig soos hierdie etiese opleiding kan doen. Dit is regtig nie so moeilik nie en sal my vir seker baat op die lang duur. Jy sien, wat jy, die leser van die artikel nie sien nie, is die angstige gedagtes wat ek daagliks het, oor alles – goed, lewe, kinders, werk.

Dit affekteer my vermoë om te werk en produktief te wees. So vir die buite wêreld lyk ek soos iets, ek weet eintlik nie waarmee om myself te vergelyk nie, maar ek kom voor as iets anders as wat ek werklik is. Ek sit maar ‘n brawe gesig op elke dag, smile and waive, fake it ’till you make it tipe houding. Dit gee ‘n wan-persepsie van wie ek werklik is.

Maar, iewers tussen my skrywery op die platform deur, terwyl ek my bybelstudie doen (terwyl ek blog) en my gedagtes joernaliseer, is ek besig om iets te word, iemand beter as wat ek voorheen was. Hierdie proses help my om te declutter in my gedagtes en nie so angstig te wees soos ek altyd was nie.

Ek kry dit steeds nie reg op ‘n daaglikse basis nie, maar sommige dae is beter as ander. Hierdie is alles ‘n leer-proses vir my, iets wat my as mens ontwikkel. En natuurlik het die Here vir my gewys dat ek een van my Beroepsvrou dagboeke kan gebruik vir hierdie doel! Vir hierdie etiese opleiding en daaglikse bybel verse!

Een ding wat ek wel agter gekom het, is, na ek hierdie artikel begin skryf het begin Februarie, het daar ‘n klomp tyd verloop. Twee weke (of is dit nou drie?) het verby gegaan en ek probeer my uiterste beste om hierdie etiese opleiding se joernaal inskrywings daagliks te doen, op ‘n weeksdag (naweke is so bietjie anders en moeiliker omdat ons ‘n ander roetine het). Elkgeval, terug by wat ek probeer sê. Wanneer jy die joernaal vrae antwoord (dit kry eintlik net jou gedagtes aan die gang) oor hoe jy byvoorbeeld, kan verbeter om take af te handel, is dit asof die duiwel en al sy nasaad (in Engels verwys ek na spawn of the devil) jou aanval op dit wat jy neergeskryf het.

Vir my is dit baie interessant, dog niks nuuts nie. Jy sien, wanneer dit met my gebeur, sit ek met ‘n glimlag op my gesig en neem ek kennis hiervan, want, wanneer ek voel of ek aangeval word, weet ek net dat ek op die regte spoor is! Die duiwel weet ook wat my potensiaal is en hy sal alles probeer om my te keer om te doen wat gedoen moet word.

Moet nie mismoedig voel as jy ‘n twee of drie weke tydperk agter die rug het soos wat ek gehad het nie (na ek met die etiese joernaal inskrywings begin het). Dit beteken net dat jy op die regte spoor is en moet aanhou en deur druk! En net asof die Here wil bevestig vir my wat ek hier sê, kry ek ‘n bybelvers net na ek die artikel begin afsluit. 2 Thessalonicense 3:3. Wat ‘n powerful en profound skrif vers om te kry wanneer jy voel of jy aangeval word!

So, as jy steeds wonder of dit die moeite wêrd sal wees om die kursus te doen of waar jy die tyd sal vind – hou op om dit te oordink. Hou op om te prokrastineer soos wat ek vir maande gedoen het. Begin net en voor jy weet, sal jy soveel meer kennis hê en insig kry as voor jy hierdie hele proses begin het.

Een ding wat ek opgemerk het van hierdie opleiding is dat jy ALLES MOET LEES!! Voor jy die aanlyn assessering probeer, maak seker jy LEES die inhoud….dit gaan jou net versterk in jou kennis en self-worth (en natuurlik gaan jy die assessering slaag as jy alles gelees het want die vrae kom nie net uit die videos uit nie).

Ek kan afsluit en ‘n gevolgtrekking maak dat Ek tot alles in staat is deur Christus wat my krag gee! Fillipense 4:13. Ek kan selfs hierdie opleiding ding doen, werk EN ‘n ma wees!! En dit nogals in Februarie, ons besigste maand! Want regtig, WANNEER is ‘n goeie tyd om te begin? Dis nou of nooit!

Word vervolg…..

The Continious Ethics Training continues…. Month 2