Posted on Leave a comment

Die eerste week terug….

Oh my WORD!! Dat ek nou vir jou vertel, ons ly nog almal aan bomskok na die eerste week terug in roetine en bo op dit nog by ‘n nuwe skool met nuwe tye en heeltemal alles nuut in terme van roetine.

Jy noem dit, dis nuut vir ons….boeke moet oorgetrek word letterlik tussen 3 en 4 in die oggend (ok dalk eerder tussen 4 en 5 die oggend) want daar is niks ander tyd nie. Ek voel soos ‘n slaap wandelaar. Ek word MOMSTER.

My man vra my wat is fout, ek het seker weer my gesig getrek op ‘n manier toe ek na hom kyk. Daai uitdrukking van Watse dom vraag is dit nou ou? Ek is al van 4 uur in die oggend op! Ek dink nie ek het hom geantwoord, behalwe dat ek MOEG is nie. Maar ons het dit oorleef.

Hoe weet ek nie, maar ons het. Ons was nie laat vir skool nie, het als gedoen gekry wat die skool gevra het en ek kon darem my oefening ingepas kry Woensdagmiddag. Jy wonder seker hoekom dit so erg op ons sisteem is, die terug in roetine kom? Voorheen kon ons die kindertjies so bietjie later aflaai in die oggende, maar nou moet ons hulle ‘n half uur vroeër aflaai, wat beteken alles in ons huis moet met ‘n halfuur of meer aanskuif…..dis nogals baie en groot….en waar ons bly beteken dit noodwendig dat ons meer en verder ry as mense in die dorp…

Met ‘n onsekerheid in my wonder ek HOE ek weer alles die jaar en veral die maand tot einde Februarie gedoen gaan kry? Daar is altyd te min tyd en te veel werk en nou voel dit vir my nog meer so. Bo op dit is daar skool goed wat mens moet doen en bywoon, dit inpas tussen alles deur…..

Ek hiperventeleer wanneer niemand kyk nie, want ek moet my pose hou. Ek wil steeds soos die gif van Sponge Bob en Patrick panic & run en saam met dit skree soos ‘n mal mens. Hoe doen mense dit?? Hoe kry ander ma’s alles gedoen??

Hoe kry mense wat van 8 tot 5 voltyds werk, sonder huishulpe dit gedoen? Hoe behou jy jou sanity EN kry tyd vir jouself EN al die ander admin in en om die huis gedoen. Slaap hulle minder? Wonder ek by myself. Dit voel of daar altyd goed is wat uitgesorteer moet word, wanneer moet mens dit doen?

Dalk is hul spoed net vinniger as myne? Miskien is ek ‘n sloth en so staaaaadig? Dis hoe ek voel. Is dit omdat ek ouer word? Of is dit die nagevolge van die Pandemie? So spoel al die vrae deur my gedagtes, dit kom in golwe en trek terug en bedaar en dan kom die volgende golf se vrae.

Gisteroggend het ek en my man ‘n gesprek. Hy reken ons moet roll with the punches en elke dag op ‘n slag vat. Ek stress myself onnodig uit volgens hom. Ek kyk hom so, weer met ‘n kyk en dink by myself HOE? My persoonlikheid laat nie toe vir roll with the punches en elke dag op sy eie nie. Ek raak gefrustreerd as my dag se beplanning nie uitwerk soos dit moet nie.

As een of ander instansie met wie ons werk se sisteme hang en nie werk nie en jy vir ure sukkel om ‘n eenvoudige iets gedoen te kry raak ek frustreerd. Dit meng in met my beplanning. Want daardie onbeplande tyd wat ek aan so iets spandeer het, moet EK nou weer iewers inhaal. En al waar ek dit kan doen is met slaap. Minder slaap. Want als het mos SPERDATUMS. So om oor te staan tot môre help nie veel nie want dan is ek al klaar weer met môre se beplanning agter….

So rol al die golwe van vrae en planne van hoe, wat en waar deur my gedagtes. HOE gaan ek dit doen? WAAR gaan ek die tyd kry? WAT gaan ek doen as my beplanning nie uitwerk nie? MOET ek nog beplan? Want as ek beplan dan werk dit nie, as ek nie beplan nie, dan werk dit nie. Weet julle hoe frustrerend is dit vir ‘n SIERBOOM persoonlikheid? Alles moet op hul plek wees, ALTYD.

Vanoggend toe ek opstaan, neurie ek ‘n liedjie wat ek op Spotify al een keer gehoor het…..I can do all things through Christ who gives me strength…..Mmmm…..laat my dink. Een van my gunsteling verse – Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Fillipense 4:13. EK KAN dit doen. Die Here gaan my help. Dis nie nodig om te hiperventileer of te panic & run soos Sponge Bob en Patrick nie.

Ons HOEF nie alles ALLEEN te probeer doen nie. Ons moet net die Here vra om ons te help, vas te hou in Sy hand, die nodige krag en energie te gee….Hands of mercy won’t you cover me? spoel die liedjie se woorde soos ‘n groot Tsunami oor die ander klein golfies van twyfel en vrae. Skielik word dit uitgewis met God se kalmte en vrede. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee. Nie op my eie nie, nooit nie.

The first week back….
Posted on Leave a comment

Die eerste foto van 2022

“Up the T-U-B-E!!!!” hoor ek oor die soundbar in ons sitkamer. Ons almal sit en kyk TV om die tyd tot middernag om te kry. Ek en my tribe. Ons kyk Henry Danger saam met die kinders. ‘n Fliekie was reeds deurgewerk.

Gewoonlik slaap ons die Nuwe Jaar in. Maar my seun Franco het so paar jaar terug begin met die wakker-bly-tot-12-uur ding…..nie ek en my man het die energie nie, maar ons doen dit ter wille van die kinders. Jy weet, die memories wat besig is om gemaak te word.

Ons doen channel hopping opsoek na ‘n countdown timer. Ons kom op een van die nuuskanale af, net betyds. So 2 min voor middernag. Ons al 4 kyk in stilte hoe die syfertjies verminder. Toe dit by 10 kom begin ons almal tel 10-9-8-7….. en ons tel af en eindig met Happy New Year!

Die oomblik toe ek daardie woorde uiter skiet my gemoed vol en kom daar ‘n traan of twee deur wat ek nie kon afsluk nie. Nog ‘n jaar. Dit voel of alles van voor af begin. Die voorsprong wat ek gedink het ek gekry het deur die kinders se skoolklere en skryfbehoeftes uit te sorteer voel nou amper belaglik op hierdie oomblik.

Ek ruk myself reg en besluit Basta met die negatiwiteit. Ons skop elke jaar met ‘n blou gemoed af. Die jaar MOET net anders wees. Ek kyk na my man en sien hy kon nie sy trane keer nie. Hy is emosioneel toe hy ons kinders voorspoed toewens. My dogtertjie Sioné hang om my nek en soen my oor en oor asof sy my laas jaar laas gesien het (ek moes net die flou grappie wat mens ALTYD op die eerste Januarie maak gebruik).

Ek wens Franco voorspoed toe, dan my man Heinrich. Dan tel Sioné vir Fudge op en ons almal wens die huishond, (ons derde kind) voorspoed toe. Sy kyk vir ons en vir ‘n oomblik lyk sy dikbek vir my. Ons steur nou haar slaap. Ek onthou skielik ek wil ‘n skermgreep of screenshot maak van die tyd op my foon en tussen als deur kry ek dit reg – vir later se onthou en sosiale media posts.

Spontaan roep ek uit “Kom ons neem ‘n eerste foto vir 2022!” Almal val op die bank neer, Fudge word ook ingesluit, of sy nou wil of nie, sy is nou deel van die foto. Ons sukkel om die angle reg te kry net sodat almal nie soos dikkes lyk nie (al voel ons so na al die snert wat ons al die vakansie geëet het).

Dan druk ek die knoppie mis en dit neem langer as wat ons sou wou om die selfie te neem. Maar hy word geneem. Niemand lyk meer vars nie, almal is moeg, maar ons smile mooi vir die kamera.

Dan skarrel ons om almal in die bed te kom. Ons is flou. Op soos ou brood en koekies in die weeshuis (spreekwoordelik gesê natuurlik en nie met disrespek nie). Ons het gewerk so op die ou jaar. Ek het soos ‘n champion gevoel want uiteindelik het ek my 5 ure se belasting opleiding gedoen gekry. En werk, en skoolgoed merk en pak.

So dit voel vir my ek het hom soortvan reg gekry op die ou jaar – die balans ding. My kind gelukkig gehou (na ons eers moes raas en verduidelik hoekom Mamma nie alles NOU kan doen soos sy demand nie), opleiding klaar gemaak, werk gedoen (nie als wat ek wou nie maar dit wat broodnodig was om te doen), almal gevoer, huis skoon gemaak.

Nou dat ons kan slaap, het dit vir my gevoel ek is nie moeg nie. Soos wat ek vroegoggend, na middernag in die bed lê en tik val die reën weer neer (na dit vroeër vanaand en vanmiddag laat heerlik gereën het). Soms kom die druppels met mening af en dan verander dit na bietjie sagter en dan weer harder. So asof hulle resies hou en as almal gelyk afkom klink dit of iemand ‘n kraan oopdraai oor ons dak.

Wanneer ek so luister na die reën wonder ek wat 2022 vir ons inhou. Weet ek dat dit ‘n bonatuurlike geseënde jaar sal wees op alle vlakke. Dis asof die Here die nuwe jaar kom seën met Sy reën.

En eerder as om ‘n laaste foto van 2021 te neem, soos my Facebook memories getuig ek elke jaar doen, het ons ‘n eerste foto van 2022 geneem. Moeg ogies en al. 2022 ons is reg! Met God aan ons kant, kan dit net goed gaan.

Toe ek later vanoggend besluit om my inskrywing klaar te maak, na ek gaan slaap het (die moegheid het my oorval terwyl ek geskryf het en ek het maar ingegee op Klaas Vakie se demands), gaan ek oudergewoonte, eerste ding in die oggen, in my Bybel Toep (ag nee app klink beter hier) in.

Die skrif vers vir vandag? Jesaja 43:18-19 Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

Dis asof die Here vir my bevestig dat die eerste foto van 2022 wat ons net na middernag geneem het die regte ding was om te doen met hierdie skrif vers.

The first photo of 2022