Posted on Leave a comment

Die soet woorde… Hoofstuk 1

Voor ek begin skryf, wil ek net sê, ek weet die foto aan die begin van die artikel is die Januarie bladsy op die tafel kalender (deskpad). Uiteraard kon ek nou nie elke maand se kalender afneem nie want dit sou beteken dat die voorraad se kwaliteit geaffekteer sou word….en ek kan nie myne afneem nie want hy is al vol geskribbel met nota’s….

En vir iemand (dis nou ek) wat skepties was oor die deskpad en gewonder het of ek hom wel gaan gebruik, word die ding nogals baie gebruik. Nou ja, nou dat ek daardie admin afgehandel het kan ek begin skryf oor die maand se teks.

Spreuke 16:24 – Vriendelike woorde is soos ‘n heuningkoek: soet vir die siel en ‘n genesing vir die gebeente. Toe ek laas jaar die skrifverse gekry het vir elke maand en dit op die kalender geplaas het, sou ek nie kon raai hoe van toepassing dit wel sou wees in elke maand nie.

Jy sien, Februarie is ons besigste maand. Dis finansiële jaareinde. Redelike rowwe tyd as ek nou so daarna kan verwys. Min slaap, lang ure en die gewone lewe tussen als deur (selfs ‘n verjaarsdag op die 7de Februarie – ‘n dag waar daar ‘n sperdatum op is waarvan ons nie kan wegkom nie). Ons kinders weet al maar ek wonder tog of hulle regtig verstaan? En of ons besig is om skade te maak by hulle? Met die dat ons so werk, werk en nogmaals werk.

Goed so jy wonder seker nou hoe die skrif met Februarie gekoppel word? Jy sien, wanneer mens nie onder druk is nie, is dit maklik om die skrif uit te voer en deur te voer. Dis wanneer mens onder druk is dat dit nie altyd maklik is nie. So uiteraard is Februarie ‘n druk maand so die uitdaging met die teks voel vir my of dit groter is nou…

Maar, dis ook nie noodwendig wanneer ONS druk ervaar wat ONS moet versigtig wees met ons woorde nie. Vir my is dit baie keer wanneer ons NIE soet woorde van kliënte af ontvang nie, wat dit seer maak. Jy weet, daai woorde waar elke stukkie iets wat jy altyd met soveel deeglikheid gedoen het, afgebreek word en gekritiseer word.

Wanneer alles wat jy nog ooit vir iemand met integriteit gedoen het afgebreek word na niks. Waar beskuldigings rondgeswaai word (ja jy raai reg, dit het weer die afgelope week gebeur soos soveel keer tevore). Dis dan wanneer ek aan die skrif dink. Want wragties, dan is die woorde nie soet vir die siel nie en ook nie genesend vir die gebeente nie.

Word vervolg….

The sweet words… Chapter 1