Posted on Leave a comment

Die Bybelse Beroepsvrou – Slot

Soos wat ek die inskrywing maak, kyk ek na die datum en ek sien dis einde Januarie 2022! Hoe het dit gebeur? Ons was dan nog gister in Desember, met verlof, besig om voor te berei vir 2022 se skooljaar wat begin en poof net so is dit einde Januarie….

Nou ek kou en oordink die stuk van Debóra al die heel maand lank, eintlik al langer. Maar nie te min. Ek het vrae oor haar (dit voel soos duisende vrae). Antwoorde wat ek nie ooglopend kan sien uit die skrif uit nie. Het mense haar met respek behandel of het hulle met haar gemaak soos hulle met my soms maak? Dis iets wat ek nie weet nie…

Wat ek wel gesien het, is dat sy GEWERK het TERWYL sy profeet was. So met ander woorde – sy het nie VOLTYDS in die bediening gestaan nie. Nee, sy het haar day job ook gehad waaraan sy moes aandag gee.

Nou dit antwoord vir my nogals baie oor die vrae wat ek het en gehad het. Vir so lank het dit vir my verkeerd gevoel om te werk en nie te kan voltyds doen wat ek voel die Here wil hê ek moet doen nie.

Die lang en die kort wat ek nou tussen die lyne lees van hierdie bybel vers is, sy moes tyd gemaak het om met die Here te spandeer om te kan profeet wees. Dis nie iets wat net gebeur nie. Sy as mens moes moeite gedoen het om by die Here te hoor wat Hy wou gehad het sy moes doen. Hierdie is nou my eie afleiding, maar dis logies en maak sin.

Die les wat ek geleer het van Debóra? Dis ok om as vrou te werk en ‘n beroep te beoefen. Dis ok om nie voltyds in die bediening te staan en siele te wen vir die hemel nie. Dis ok om nie in Afrika te moet ingaan en van een blikkie kos per maand te oorleef en te sukkel sonder lopende water as ‘n sendeling nie (dit was nou glad nooit wat ek in my hart gevoel het nie maar jy verstaan wat ek bedoel). Dis nie vir almal beskore om op DAARDIE manier siele vir die hemel te wen nie.

Mens kan dit doen TERWYL jy werk en jou beroep beoefen. Ek vir een, sien mense heeldag en aldag (ok nie so baie nie maar ek het baie kontak met mense en die buite wêreld). Hoekom kan ek nie die posisie wat die Here my in geplaas het gebruik om sy evangelie te verkondig nie? Daar is mos nie iets fout met dit nie?

Dan kom alles weer terug na my werk en my blog toe. Alhoewel dit vir my bitter lekker is om te blog (want hier voel dit vir my of ek ingeprop word met die Here se stem en kan HOOR wat Hy vir my sê), is dit ok om te werk ook. Die geheim is, ek moet TYD maak om met Hom in Sy woord te spandeer. Ek moet TYD maak om te blog want deur dit te doen, HOOR ek Sy stem. Ervaar ek Hom op ‘n manier wat ek nie anders kan nie.

Die blog is vir seker nie ‘n stokperdjie of iets wat ek doen vir die lekker en vir sommer-net se sommer nie. Dis ook nie my uitlaat om my te laat cope met die lewe nie. Nee, dis MY manier om tyd met die Here te spandeer. Hy weet ek kan nie vir ure sit en bybel lees nie, of prentjies teken in my bybel nie, of bybelstudie doen op die maniere wat ander mense dit doen nie.

Nee, hierdie, saam met die Pienk Vere reeks deskpads is MY manier om tyd saam met Hom te spandeer. Baie mense vra my, en lewer kommentaar oor dat hulle nie verstaan en weet HOE ek alles reg kry nie. Die enigste verskil tussen my en hulle is – my manier van tyd met die Here spandeer is op ‘n publieke platform, op ‘n plek waar almal dit kan sien. Hulle sin is privaat waar niemand dit kan sien nie.

En ek sê nou nie dit om iemand te laat sleg voel nie, want mens se tyd met die Here is tussen jou en die Here. Maar vir sommige mense, vir sommige van ons, het Hy geroep om anders te wees. Dinge op ‘n ander manier te doen. Nie soos meerderheid mense dit doen nie. Want hoe gaan ons almal ‘n verskil maak as ons almal dit op dieselfde manier doen?

Vir die eerste keer sedert ek die Pienk Vere reeks begin het (ja, die mal plan soos ek daarna verwys en waaroor ek gistermiddag nog gewonder het hoekom ek dit gedoen het) verstaan ek nou beter hoekom die Here juis dit SO bestem het. Dis nie noodwendig vir enige iemand anders nie. Dis vir myself om tyd saam met Hom te spandeer. En as ek iemand kan help, motiveer, bystaan deur dit, soveel te meer.

Dit staan mos in die woord dat ons moet getuig, want ons getuienis is wat God gebruik om mense red (of iets soos dit – hierdie het ek nou wragties uit die vuis uit onthou wat moontlik verkeerd is – ek sal wel vir myself dit gaan opsoek en seker maak ek kwoteer nie skrif heeltemal verkeerd nie). Belangrik om te onthou is dat die Heilige Gees altyd die oortuiging gaan doen, nie ons as mense nie. Ons getuienis is AL wat ons het om God se woord en wonderdade te verkondig. Kom ons gebruik dit!

Tot volgende maand….

The Career woman from the bible – grand finalé
Posted on Leave a comment

Die Bybelse Beroepsvrou – Hoofstuk 3

Toe ek laas jaar die Pienk Vere reeks ontwerp het en skrif verse gekies het vir elke maand van die deskpad kalender, het ek ervaar die Here sê ek moet blog oor elke maand se skrif wat gekies was.

Ek het dit gedoen sonder om te huiwer en steeds nie lekker geweet HOE ek dit gaan doen nie, hoe gereeld ek dit gaan doen nie of waaroor ek gaan skryf nie. Ek het by myself gedink ek gaan seker net een inskrywing maak oor die skrif.

Maar hier is ek nou, besig met hoofstuk 3. Veral die skrif oor Debóra is vir my interessant gewees, want hoeveel kan mens nou skryf oor die bietjie wat ons kan lees in die Bybel? En dis nou waar die Lewende Woord van God in kom. Jy sien, hoe meer jy dit lees en hoe meer jy daaroor dink (ek doen dit heeldag en aldag terwyl ek werk) hoe meer openbaar die Here vir mens.

Vrydag was ons by ons kinders se interhuis atletiek. Dit was interessant en nuut vir ons, want dis mos ‘n nuwe skool en ons is so bietjie uit dit uit wat sulke aktiwiteite aanbetref. Langs ons onnodige groot geleende gazebo was daar ‘n ouerpaar onder ‘n strand sambreel.

Ons nooi hulle toe om die skaduwee van die groot gazebo saam met ons te deel as die son te veel raak. Aanvanklik het hulle wel in ons gazebo se skaduwee gesit langs aan en soos wat die son oorskuif het hulle toe wel langs ons gesit.

Op ‘n stadium (voor ons almal onder die skaduwee gesit het), sien ek die vrou se laptop is aan en sy sit met oorfone op. Sy het ‘n virtuele vergadering. Sommer so langs die atletiekveld. Ek besef dadelik dat ek nie alleen is om al die balle in die lug te hou nie.

Ek weet dit lankal reeds, maar dis asof die Here dit net weer vir my kom wys. Almal het een of ander uitdaging. Meerderheid vrouens is deesdae Beroepsvrouens. Almal het ‘n rol wat hulle vertolk.

Almal kan identifiseer met Debóra wat ‘n Beroepsvrou was. Almal staan aan die begin van die nuwe werksjaar, skooljaar, wat ookal die nuwe jaar vir jou beteken – almal staan voor hom en moet weer in die ritme van dinge kom. Soms voel mense of hul alleen is en die enigste een is wat voel soos hulle voel.

Daarom dat Debóra se skrif gekies was vir Januarie. Om almal net so bietjie te help en te ondersteun. Om te weet jy is nie alleen nie. Ons almal wat vrouens is wat in beroepe staan het een of ander uitdaging.

We are not alone! Weet dit net, jy is nie alleen nie! Almal voel soos hul voel by tye en dis ook ok. Die belangrikste is om God se soek in alles en in Sy rus in te beweeg. As ons in Sy rus is, val alles in plek. Dit is wel makliker gesê as gedaan, veral as jy soos ek is en als probeer beplan en reg doen sonder foute die eerste keer….

Slot volg…..

The Career woman from the Bible – Chapter 3
Posted on Leave a comment

Die Bybelse Beroepsvrou – hoofstuk 2

Nou soos wat ek self probeer spartel en cope met ons nuwe roetine (die roetine is rof met vroeg op en alles net 1 of 2 ure vroeër probeer doen EN die inskrywing het my ‘n goeie week gevat om klaar te maak tussen als deur), wonder ek by myself oor Debóra. Het sy kinders gehad? Ek kan nie dit sien uit dit tot ons beskikking in die Bybel nie.

Sy het wel ‘n man gehad – dit weet ek. Wat ek ook raak lees is dat sy ‘n leier was. Hoekom sê jy sy was ‘n leier? Vra jy dalk. Wel, sy was ‘n regter en regters vertolk rolle van leierskap.

Maar die grootste van dit alles is dat sy ‘n profeet was. Wow. Dis groot. Profete het hierdie special konneksie met die Here, (my opinie) nie dat ander normale mense dit nie het nie – ek glo jy verstaan wat ek hier probeer sê. Maar in daardie tyd het die Here slegs met die volk gepraat deur profete…

Ek spring weer terug na realiteit toe, na 2022 toe. Ek wat Elsie is, kan NIE myself met Debóra vergelyk NIE. Wat ek wel kan doen is om te probeer leer en verstaan wat sy gedoen het in die Bybel en dalk so ietsie van dit te probeer toepas in my eie lewe.

Ek sal vir seker ‘n interview met Debóra wou gehad het. Ek dink ek sou haar gepeper het met vrae. Hoe voel jy na ‘n lang dag se werk? Word jy moeg? Raak jy ongedullig (die korrekte spelling gee net nie die hoeveelheid ongeduld deur in my opinie nie) met jou man (en kinders)? Raak jy gefrustreerd met jou werk?

So gaan die lysie aan en aan. Ek dink die belangrikste waarmee ek vandag wil afsluit oor Debóra is dat sy ‘n doodgewone mens was (ek lees nêrens dat sy met goue tande en sy-agtige hare gebore was nie). Nee sy was net ‘n mens…wat bereid was om God se instrument te wees.

Debóra was ‘n vrou, ‘n leier, ‘n profeet. Sy was God se instrument wat Hy gebruik het om met die volk mee te praat….net soos wat ek die inskrywing finaliseer en klaar getik het, ry ek een middag agter ‘n kar. Die skrif op die kar? Jer 1v5 – nie Jeremiah in Engels of Jeremia in Afrikaans nie. Nee net so verkort soos hy hier geskryf staan.

Ek gaan lees die skrif vers in die Bybel. Ek dink ek was soos een van daai cartoon karakters wie se kakebeen tot op die grond oopgeval het. Dit lees as volg: Voordat Ek jou in die moerderskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig, Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak. (Afrikaans 1953 vertaling).

Wow dit is net vir my bevestiging en sluit so mooi aan by die skrif vir hierdie maand. Die Here het ons elkeen gekies nog voordat ons gevorm was om te wees waar ons vandag is. Om te doen waarvoor Hy ons geroep het. Dis GROOT. Ons kan nie God in ‘n boksie plaas nie, tog probeer ons soms dit doen….

Word vervolg ….

The Career woman from the Bible – chapter 2
Posted on Leave a comment

Die Bybelse Beroepsvrou – hoofstuk 1

Sedert ek kinders gehad het, het my behoeftes en prioriteite drasties verander. Net ‘n nuwe ma met ‘n voltydse werk en beroep kan weet waarvan ek nou praat (nie dat ek sê dat iemand wat die absolute voorreg het om hul kinders voltyds groot te maak het geen idee nie – maar jy sal beter verstaan soos wat jy lees). Daai moederlike instinkte wat oombliklik inskop wanneer jy die baba die eerste keer hoor huil.

Vir soveel jare het ek hierdie redenasie gehad oor HOEKOM ek ‘n Beroepsvrou is. Geredeneer dat die vrouens van die Bybel nie heavy jobs gehad nie…..of so het ek gedink….tot een aand in 2021 terwyl ons lees uit die Bybel uit vir ons kinders.

So lees ons vir Debóra raak….ek merk toe dadelik op dat sy ‘n groot en verantwoordelike rol vertolk het. Sy was ‘n profeet EN ‘n regter. Sy moes oordeel fel oor die volk. Jitte, dis ‘n GROOT verantwoordelikheid. Selfs in die Bybel se tye was dit heavy in my opinie. Om ‘n profeet te wees is ook ‘n groot verantwoordelikheid! En sy moes beide doen!

Ek kan nou nie bepaal of opmerk uit die res van die Bybel uit of sy moes studeer om die rol te vertolk nie en ons sal seker nie weet nie. Ek weet eintlik glad nie HOE mense navorsing doen oor mense in die Bybel nie. Waar begin mens lees en soek? Hoe weet jy wat is die waarheid?

So ek gaan maar al die tegniese vrae oor hoekom en waarom van Debóra daar laat en maar net kyk na wat die Bybel vir ons vertel en wat ek ervaar en voel die Here vir my vertel hieroor. Die skrifvers wat ek op die Januarie 2022 deskpad kalender gesit het is Rigters 4:4-5 – dis waar ek die eerste keer van Debóra gelees het.

As jy hierdie lees, die flaminke opgemerk het op die deskpad kalender foto by hierdie artikel en STEEDS nie weet HOEKOM flaminke nie, nooi ek jou uit om die Pienk Vere kategorie te gaan lees op my blog. Dit sal vir jou meer sin maak en meer insig gee. Goed, terug by die skrifvers vir die maand van Januarie 2022.

Nou wonder jy seker HOEKOM ek hom gekies het en wat is die tema vir die res van die jaar? Kom ek antwoord die eerste vraag….Debóra het ‘n beroep gehad, ‘n kwalifikasie van ‘n aard. Ek kon met haar vereenselwig en identifiseer in ‘n mate – ek staan in ‘n beroep en het ‘n hele rits kwalifikasies en grade (ja dis verskriklik om dit nou so te noem – maar as jy ‘n CA en RA is, dan gebeur daar eers so twee grade voor dit, saam met ‘n hele rits ander goed, net vir die wat nie weet nie).

Ek weet ander beroepe het ook hul vereistes om vir jare te studeer en praktiese opleiding te doen, en so meer. So ons is nie alleen nie! Elkeen moes hul deel doen om te wees waar hul is vandag en om hul beroep te kan beoefen. Laat ek nou vir jou vertel – dis geen grappies nie en HARDE werk!!! En dis waar die innerlike konflik begin tussen jou beroep en om ‘n ma te wees – ek voel ek moet een kies…..en een op gee. Om op te gee as ‘n ma is heeltemal buite die kwessie….maar wil ek my beroep opgee? Die een wat bloed, sweet en trane gekos het om te bekom?

Dit daar gelaat, die ander vraag tussen die vrae, hoekom juis die skrif vir Januarie? Wel, ons almal is die tyd van Januarie nog so bietjie in ‘n vakansie luim. Sommige van ons berei onsself mentally voor om die 10de Januarie 2022 weer te begin werk. Ander het reeds al die afgelope week begin werk. Maar ons almal staan in ‘n beroep en ons moet onsself weer reg ruk en voorberei om te KAN funksioneer soos voor die vakansie. Erken dit nou maar – om buite roetine te wees is nie lekker nie! Selfs ons huishond Fudge is buite roetine!

So die lang en die kort is, ek het gekies om die jaar af te skop met ‘n Beroeperige iets, net sodat ons almal kan identifiseer met die skrif en maar net weer onsself reg kry vir die jaar wat voorlê. Ek hoop dit maak nou sin wat ek probeer sê hier?

Die tema vir die jaar is Pienk Vere en die is die Pienk Vere reeks wat ek reken deel gaan word van Beroepsvrou se blog en alles wat daarmee saam gaan. Ek het nie Beroepsvrouens gekies as tema nie, maar eerder skrif wat ek dink gekoppel kan word om Pienk Vere vir die Here te wys.

Ons staan in verskeie beroepe, nie net CA’s en RA’s nie. En soms is dit bitter moeilik, veral as vrouens, om aan te hou dat die wêreld kan sien ons is witwarm vir Jesus en dat ons vere wel mooi pienk is vir Hom.

Soos ek vroeër gemeld het, het ek vir lank gedink die vrouens van die Bybel het nie amptelike beroepe gehad nie. Word vervolg…..

The Career woman from the Bible – chapter 1