Die storie agter die storie…

Die Geskiedenis

Die storie van die Pienk Vere ® het in Oktober 2021 begin. Eintlik al vroeër. Laat ek maar by die begin begin. Die Here het my so lank terug al begin voorberei vir dit wat nou besig is om te gebeur. Wanneer ek terug kyk staan ek net in verwondering oor hoe elke legkaart stukkie van my lewe sorgvuldig uitgekies en in plek gesit word deur my Skepper.

2021 merk dertien jaar sedert die Here die eerste keer vir my iets oor my toekoms gewys het. Ek onthou dit nog soos gister – die drome. Ek het niks van dit gemaak op daardie stadium nie, want dit wat die Here vir my gewys het, het vir my onmoontlik en onmenslik haalbaar gelyk vir my, as individu.

Sedertien het baie tyd verloop, dinge het gebeur, my en my man se verhouding met die Here het verdiep en verander en na nuwe vlakke begin beweeg. Min het ek geweet dat hierdie tyd die voorbereidingstyd was. Die tyd waar ek soveel goed moes leer. Deur moeilike tye gaan wat my gevorm het om te wees wie ek vandag is.

Die Flaminke

Lank, lank gelede, in Januarie 2020, voor die Pandemie en virusse en isolasie en grendeltyd, was ek en my dogtertjie genooi na ‘n kinderpartytjie. Tipies vir Suid-Afrikaanse weer, was dit ‘n swem partytjie gewees. Die mamma het ‘n paar flamink opblaas speelgoed vir die swembad gekoop en dit het so pragtig vertoon teen die blouste blou water.

Ek kon nie anders as om in verwondering vir die pragtige gesig te kyk nie. Ek het niks hiervan gemaak nie en die lewe soos ek dit geken het, het aangestap en gebeur. Die Here het daardie dag in Januarie 2020 al die saad in my hart kom plant oor Flaminke, sonder dat ek dit besef het.

Die Pandemie

Soos elke liewe ander mens in die wêreld, het die Pandemie en grendeltyd my onkant gevang. Dit het vir my gevoel almal eet net en is honger. Die skottelgoed het eindeloos gevoel. Die skoolwerk het ons almal mismoedig gehad. Om nie eens te praat van die onsekerheid wat met dit alles saam gegaan het nie! Ek hoef nie verder hieroor uit te brei nie, want elkeen wat die lees sal kan herroep, verstaan, onthou, in-een krimp van pynvolle herinneringe aan die Pandemie.

2020 was seker my moeilikste jaar ooit. Ek het gevoel ek wou huis toe gaan, na ‘n lekker plek waar ek veilig voel, en dit alles terwyl ek in my huis vasgekluister was. Gehok was met grendeltyd. Maak dit sin? Net voor die grendeltyd, het ek oefening ontdek. Ek het nog gespot en gesê vir seker amper 10 jaar het ek gebid en die Here gevra om my lief te maak vir oefening.

Na my kinders se geboortes in my laat 20’s en vroeë 30’s, kon ek net wragties myself nie kry om te oefen nie. Dit was net nie lekker nie. Die kinders was te klein en skuld gevoel het heeltyd oorgeneem as ek iets aan my eie gesondheid en fiksheid probeer doen het. Dit het alles verander toe ek Cross Fit ontdek het. Min het ek geweet dat die Here op net die regte tyd dit vir my gestuur het, want dit was my behoud in grendeltyd. Ek het geoefen as ek voel ek wou mal word en dit het verligting op ‘n ander manier gebring.

Gedurende hierdie tyd, het ek ontdek ek het ‘n skryf talent. Ek het nog altyd die hunkering na skryf gehad, van ‘n jong ouderdom af. Maar, omdat ek op skool, in my opinie nie fantastiese punte vir kreatiewe skryfwerk gekry het nie (dit was in die middel 60’s persentasie gewys), het ek die leuen van die vyand geglo dat ek nie kan skryf nie.

Tot ek in hierdie tyd, op my persoonlike Facebook blad begin skryf het oor goed en hoe ek die lewe gedurende en na grendeltyd ervaar het. Mense het kommentaar gelewer wat aangedui het dat dit aanklank by hulle vind. My een vriendin het selfs in hierdie tyd vir my gesê sy dink ek moet skryf. Ek het ‘n talent vir dit. En ek het toe! Soms het mens net een iemand se woorde nodig om iets te aktiveer. In my geval was dit wat gebeur het.

Die Facebook blad

In Maart 2021 word Uit die Pen van ‘n Beroepsvrou ® gebore. Op Facebook, want ek het in my kop dit gehad dat ‘n webblad duur is om te stig. Ek was bang en onseker. Wou nie almal op my friends lysie nooi nie – want, WAT GAAN HULLE VAN MY DINK?

So getrou as wat die Here was, het Hy my stelselmatig gelei in die proses. Wanneer ek terug kyk, voel ek dat dit lyk of dit verkeerd-om plaas gevind het, maar, ek weet net, die Here het dit so bestem want alles het in plek geval sonder dat ek te veel daarmee te doene gehad het. Al wat ek gedoen het, was om te luister en instinktief te reageer op die Here se opdragte wat ek gevoel het Hy in my hart geplaas het.

Die webblad

Rondom Augustus 2021 ervaar ek sterk in my gees dat ek eerder ‘n webblad moet kry as om slegs op Facebook te skryf. Baie mense is nie op Facebook nie. My reaksie tot mense wat nie op Facebook was nie, was Say What now? want dit het net vir my vreemd gevoel om nie op dit te wees nie.

Maar nie te min. Dit was die dryfkrag agter die webblad. Toe ek ‘n naam vir die webblad moes kies, was al waaraan ek kon dink Beroepsvrou. Die persoon wat my gehelp het, het my laat weet dat die domain naam beskikbaar is, en so gebeur dit toe dat ek hierdie einste webblad het.

Op seker een van die onmoontlikste tye in my lewe (Augustus is ‘n besige maand werksgewys) begin ek toe die webblad, soos almal dit nou al teen die tyd leer ken het. Ek besluit om eerder op werk te fokus en toe my sperdatum verby was, het ek ‘n hele naweek spandeer om al my inskrywings van Facebook af oor te dra na die nuwe platform toe. Dus, as julle dalk foutjies sien op inskrywings voor 1 September 2021 – goed soos drop caps wat nie daar is nie; of letters wat nie Bold is nie, of selfs paragrawe wat baie korter is as wat ek nou skryf – dis hoekom.

Die Ingels

Gedurende September 2021, was ek op ‘n kamp en een dame, Lynn Grobler (van Journaling on the Way) het vir my gesê sy geniet dit om my blog te lees, maar, sy sukkel so bietjie om die Afrikaans te volg. Dit vat haar baie lank om ‘n inskrywing van 5 minute te lees, want sy moet heeltyd vertaal. Net daar en dan besluit ek om maar tog in Engels ook te begin skryf. Dit kom natuurlik vir my, want my ma was Engels en ek het vakansies om gekuier by my Engelse niggie, Jacqueline. My day job vind ook in Engels plaas. Dus, reken ek, was (of is dit is?) my Engels opgeskerp en skryf gereed.

Die voorskoot

Op die einste kamp in September 2021, kom die instruksie van God af deur – om ‘n voorskoot te laat maak. Gaan lees gerus die bladsy oor die simboliek van die voorskote en hoe God alles aan my openbaar en steeds besig is om te openbaar oor die voorskoot. Met genoeg geld om 10 voorskote te maak, nader ek ‘n tannie om vir my dit te maak. Toe ek die voorskote in my besit het, weet ek nie lekker wat om met dit te doen nie, ek het dit nou, maar wat nou?

Die chaos

My werkstafel was vir die eerste keer, op daardie tydstip in 2021, in 21 jaar dat ek werk, en 17 jaar dat ek my eie besigheid bedryf, vir my absolute chaos. Dit was asof alles ‘n conspiracy theory teen my gehad het om my net om te krap. My persoonlikheidstipe hou van georganiseerd wees en kan nie in chaos funksioneer nie. My man sal natuurlik met my stry hier, want hy is oortuig ek is lekker verstrooid en deurmekaar by tye!

Toe ek my exam pad, (jy weet, daardie boeke wat jy by die Spar koop met die gaatjies in vir liasering?), se 6de krammetjie of staple soos ek ook daarna verwys, deur die 5de bladsy gaan en die hoeke van die bladsye omkrul en my to do lysie net groei en ek nie alles op een bladsy kan afhandel nie, besluit ek daar en dan, DIT IS GENOEG!! Ek kan nie meer so funksioneer nie.

Ek verstaan nie hoekom dit nou skielik vir my so erg is nie. Is dit die nagevolge van die grendeltyd? Die kwartaal se skool gee in 2020, eerder as om te fokus op werk, wat nou erg begin deur syfer en chaos veroorsaak? Is ek net ouer en kan nie meer die pas volhou nie? Wat is dit? Ek het steeds nie die antwoorde op die vrae nie. En kan ook nie bepaal wat die oorsaak is nie.

Maar, ek het wel ‘n oplossing vir my krisis probeer soek! Ek besluit toe ek gaan iets ontwerp om orde te skep. Ek meen, hoe moeilik kan dit nou wees? Ek het amper vreesloos gevoel toe ek die proses begin het. Ek het ‘n idee in my kop gehad, dit met ‘n paar mense na aan my bespreek en verduidelik wat ek wou doen. Hulle was opgewonde saam met my en het my aangepor om dit te doen. As ek mismoedig geraak het, het hulle my ondersteun, moed in gepraat en weer my gefokus gekry om voort te gaan met die proses.

Hulle wou ook so iets hê en het gereken dit kan werk. Nou ja, die idee wat ek in my kop gehad het, het nie gewerk nie. Want ek kon nie die bybehore vind vir dit nie, want, ek dink nie dit bestaan nie, om nou eerlik te wees. Ek besluit toe om die elemente af te breek van my idee. Daar word die tent kalender, muis mat, notaboeke en deskpads gebore.

Die dagboeke was amper ‘n after thought en nou begin dit die fokus punt word van Beroepsvrou. In die dagboeke kan ek ‘n mooi lief brief voor in sit en die kortpad sleutels vir al die karakters met die strepies en kappies en dotjies deurgee, sonder dat iemand hoef te gaan google wat dit is. Iets uniek, anders en mooi om te gebruik.

Die ontwerp

Vroeër in 2021, voor al hierdie dinge gebeur het, en voor ek die voorskoot en al die elemente van die Pienk Vere ® reeks laat maak het, het ek vir my ‘n tafel organiseerder met rakkies laat maak, uit hout uit. Die ontwerp wat ek opgesit het was die van ‘n flamink, want vir een of ander rede het die flaminke my bygebly en bekoor op ‘n unieke manier. Ek het hulle oral raak begin sien en besluit, dit is so, dit is wat ek my ontwerp sal maak vir hierdie einste tafel organiseerder. Weereens het ek nie geweet dat dit die begin van die hele Pienk Vere ® reeks sou wees nie.

Toe ek die keuse moes maak vir die ontwerpe om te laat druk op die skryfbehoeftes, het flaminke uitgestaan vir my. My seun, toe 12 jaar oud, het vir my iets baie interessants vertel van flaminke. Hy is verskriklik lief vir feite en ons koop redelik gereeld vir hom feite boeke wat hy so te sê verslind en op vreemde tye herroep en ons meedeel van iets wat niemand geweet het nie.

Die was amper so ‘n oomblik gewees. Hy het my herinner aan iets wat hy lank terug al vir ons vertel het – flaminke word nie pienk gebore nie. Hulle word pienk van dit wat hulle eet. Die is ook my pick up line by markte (en selfs as ek by die Checkers of Clicks inkopies doen) en die wat al met my gesels het daar, sal weet ek sê net dit. Nie “Hallo hoe gaan dit?”, of “My naam is Elsie” nie.

Ek en my man gesels toe oor die feit wat ons geleer het van flaminke en toe is dit asof dit in beide ons se gees kom val die vergelyking wat die Here vir my gebring het rondom flaminke. Ons as mense, moet soos flaminke wees. Nie net wat ons fisies eet nie, maar ook dit wat ons deur ons ander sintuie inneem. Dit bepaal hoe ons vertoon vir die wêreld en of ons Pienk Vere ® vir die Here het of nie.

Dit was so ‘n wonderlike openbaring! Ek moes natuurlik iets doen om my produkte te begin bemark en het begin skryf daaroor. Ek was baie kripties gewees in my reeks inskrywings. Natuurlik moet elke inskrywing ‘n opskrif hê en ek kon nie anders as om aan Pienk Vere ® te dink nie. En ek het dit toe so genoem ook. Ek het natuurlik ‘n paar van my volgers so nuuskierig gehad soos nog nooit tevore nie!

Die leuse en die vraag

Die leuse van my webjoernaal het gevolg, saam met ‘n vraag wat ek vra op die muis matte en notaboeke. Onthou nou – ek wil juis hê my goed moet anders wees, en daar moet so ‘n bietjie van ‘n goue draad geweef word tussen die ontwerp wat voor op is en die boodskap wat ek oordra deur my items wat ek verkoop.

Die leuse is natuurlik Pienk Vere ® vir die Here. Dit wys so op my besigheidskaartjies ook. Baie mense dink dis die naam van die webjoernaal. Maar dit is nie. Ek het doelbewus my leuse groot gemaak en die naam klein (die webblad adres is natuurlik groot genoeg vir almal om te sien, anders mis hulle dit om te gaan lees) – want, dit gaan hier nie oor my nie, maar oor die Here!

Die vraag wat jy dan sal sien op my produkte is Hoe pienk is jou vere ® vir die Here? Dis juis daar, sodat, elke keer wat jy die item gebruik in jou kantoor of by die huis, jy herinner sal word aan dit wat jy insit in jouself in. Ons as mense is liggaam, siel en gees. Jy kan nie net na jou liggaam kyk nie, jy moet na jou siel en gees ook omsien.

As jy werklik van binne af transformeer, dan begin dit in die vlees ook te manifesteer en kan jy nie anders as om jou liggaam ook te begin oppas nie. Die ander vragie wat ek saam met die vraag op die notaboeke en muis matte wil los is dit – waarna kyk jy? Waarmee vul jy jouself op? Hoe Pienk is jou Vere ® vir die Here?

Die maatskappy

Kort na ek die voorbeelde van my produkte ontvang en begin bemark het, het ek besef ek kan nie dit in my eie persoonlike naam doen nie. Dit gaan net my eie belastingsake onnodig kompliseer. Die enigste ander logiese roete om te volg was om ‘n maatskappy te registreer. Wat ek toe gedoen het. Natuurlik kom dit weer terug by name, en ek moet vier name in orde van voorkeur indien voordat ek voort kan gaan met die proses.

Ek kan wragties nie onthou wat die ander drie name se opsies was nie, maar Beroepsvrou was die eerste een. En dis die een wat toe gereserveer was en goedgekeur was. Hoe wonderlik is dit nie eintlik om God se hand in alles te begin opmerk op die punt nie? Die webblad en maatskappy het dieselfde naam….

Die aanlyn winkel

Sjoe, die was ‘n tawwe een vir my en seker een van die grootste wonderlikste goed wat die Here vir my openbaar en geleer het! Kort na ek die bemarking van die produkte op Whatsapp begin doen het, was ek oorweldig deur navrae en mense wat goed wou bestel, en so meer. Ek het dadelik besef dat ek nie die kapasiteit het om dit per hand, sonder ‘n sisteem te doen nie.

Ek het hard gebid hieroor. Paniek het my kort-kort probeer pootjie en oorrompel. Ek was nou so diep in die proses in, ek kon nie dit kanselleer en maak asof dit nooit gebeur het nie. Ek moes voortbeur met alles. Stoei deur die onbekende.

Die Here het toe iemand oor my pad gestuur, ‘n dame in Dischem met wie ek net begin gesels het (ja, ek doen dit ook). Ek het vir haar gesê ek weet nie hoe om dit te doen nie. Sy gaan google toe wat ek kan gebruik met Word Press – die tipe webblad wat gebruik word vir die hosting (ek kan nou wragties nie aan die Afrikaanse woord dink nie) van my webblad. Ek dink na die tyd by myself dat ek eintlik dit ook self kon doen, die google proses, maar toemaar!

Ek ontdek toe dat ek WooCommerce kan gebruik. Hoe dit werk, het ek nie geweet nie. Toe kap ek maar ‘n google op my foon en daar maak ‘n hele nuwe wêreld vir my oop! Ek volg die stappe en bou die winkel, met my eie twee hande en geen ervaring van dit wat ek doen nie.

Soos altyd is die Here getrou, Hy het my kalm gehou en gesorg dat alles in plek val. Die aanlyn winkel soos julle hom nou sien, is deur my gebou maar deur die Here geinspireer. Hy het my absoluut, stap vir stap, gelei in die proses.

Die skole

Nie lank na die aanlynwinkel en die maak van die voorskote gebeur het nie, wys ek eendag vir ‘n vriendin die voorbeelde. Sy noem toe dat die Verbruikerstudie leerders by die skool waar haar kind was op daardie stadium, ‘n voorgeskrewe swart voorskoot het wat hulle moet kry. Sy sê toe verder dat die een wat sy vir haar dogter gekry het, stryk eintlik swaar en voel nie so prakties soos wat die een se materiaal voel nie.

Net daar en dan, val daar ‘n saadjie in my gees om by skole voorskote uit te deel. Wat ek saam met dit sou doen, het ek glad nie geweet nie. Toe ek weer sien het ek die Verbruikerstudie onderwyseres se nommer en reël ek met haar om voorskote uit te deel. Hier begin die proses waar ek skole kontak en vra of ek ‘n skenking mag maak en ‘n paar woorde mag deel oor dit wat die Here openbaar het oor Flaminke.

Die eerste praatjies het vir my deurmekaar gevoel, omdat ek nie regtig presies geweet het hoe ek moes voorberei vir so iets nie. Ek wou ook nie te veel voorberei en my eie woorde koppel aan die boodskap nie, want ek wou dat die Here die praat werk doen, eerder as wat ek die praat werk doen. Nie te min, met tyd, het die Here vir my struktuur hier ook begin gee en nou kan ek skrifverse koppel aan soveel van die fisiologiese feite van Flaminke. Hoe dit ooreenstem met wat ons as mense moet toepas in ons lewens.

Die public speaking

O my genade. Waar begin ek?? In die droom wat die Here vir my in 2008 gegee het, het ek vrouens toegespreek. Elke keer wat ek die droom gehad het, was die hoeveelheid vroue meer. Nou een ding moet julle weet – om so voor mense te praat, sit nie in almal se DNA nie. Ook nie in myne nie. Of so het ek gedink.

Ek het hierdie droom met ‘n vriendin gedeel. Sy het iets vir my gesê wat my altyd by gebly het. Haar woorde was iets in die sin van “Die Here sal jou oprig en Boldness gee, Hy sal vir jou die woorde gee wanneer die tyd reg is.” Ek het toe niks hiervan verstaan nie. Deesdae beleef ek dit eerstehands. Hierdie boldness wat die Here net vir ‘n mens gee. Ook hoe die Here net woorde in my mond plaas en dinge op my hart lê om te doen.

Motiveringspraatjies is nou deel van my bediening by Beroepsvrou. Ek was al na ‘n paar geleenthede genooi, een van hulle het sommer gebeur na ek voorskote uitgedeel het by ‘n skool! Iets onbeplan en wonderlik, gestuur deur die Here. Iets waaroor ek nie moet dink nie, net moet doen!

Die Radio onderhoud

Onbeplan en onverwags in September 2022, presies een jaar na die visie van die voorskote ontvang was op ‘n vrouekamp, word ek genooi vir ‘n Radio Onderhoud by Radio Kansel. Ek staan steeds in verbasing van hoe dit gebeur het, want dis vir seker nie iets wat ek gaan soek het of voor gevra het nie. Dit het eintlik begin by die borg van ‘n prys vir ‘n kompetisie wat hulle weekliks hou op Radio Kansel.

Die volgende oomblik en toe ek my oë uitvee, word ek genooi vir ‘n in-studio onderhoud. Wat ‘n belewenis was dit nie net nie! Vir seker iets wat op my bucket list was, sonder dat ek geweet het dit is daar, jy weet? Die Here het my hartsbegeerte, wat ek nie eens geweet het ek gehad het nie, vervul in die opsig! Daar is ‘n inskrywing oor my ervaring van die onderhoud genaamd Die Radio as jy meer wil lees en weet van hoe ek dit ervaar het.

Die handelsmerk

Terug na 2021 toe, en kort na al die ontwerpe en aanlynwinkel gebeur het (weer in ‘n besige tyd werksgewys, as ek dit maar net kan noem, want lyk my dis wanneer die goed gebeur) ervaar ek so sterk in my gees dat ek handelsmerke moet registreer. Hoe dit werk het ek nie ‘n idee gehad nie. Ek spandeer een Sondagmiddag in November 2021, om op te lees oor dit, weereens is dit net die Here se genade dat ek op die regte dokumente afgekom het in die proses.

24 Maart 2023 merk die dag toe ek die amptelike dokumente ontvang het van CIPC af wat bevestig dat die handelsmerke waarvoor ek aansoek gedoen het, goed gekeur was. Nou ja, wie registreer handelsmerke reg aan die begin van iets soos die? Dit laat my dink aan ‘n liedjie wat Casting Crowns sing – Crazy People. Die Here laat mens gewoonlik maar iets doen wat nie sin maak nie.

In 2023, maak dit nou vir my sin. Hoekom ek die aansoek gedoen het. Ek kry die geleentheid om ‘n bannier by ‘n ontbyt wat deur Mev. Suid-Afrika aangebied word op te slaan. Ten tye toe die bannier ontwerp was, moes ek die ™ gebruik eerder as die ®. Die ® mag slegs gebruik word wanneer die amptelike registrasies goedgekeur is – ek het nie geweet wanneer dit goedgekeur sou word nie en het maar getrou eerder die reëls en regulasies deurgevoer in die opsig.

Die handelsmerke wat geregistreer is, is Uit die Pen van ‘n Beroepsvrou ®, die naam van die reeks Pienk Vere ®, die vraag Hoe pienk is jou vere? ® en natuurlik die logo. Dit voel steeds effe onwerklik dat daar 4 handelsmerke is wat geregistreer is en ek sukkel nog om die visie van die Here te sien. Maar, soos met alles, beur ek voort, vra ek nie te veel vrae nie en laat ek dat die Here absoluut hierdie ding stuur tesame met planne wat Hy in my hart plaas om te doen.

Die res

In ‘n neute dop, is die geskiedenis van die Pienk Vere ® in hierdie bladsy vervat. Waar dit begin het, hoe dit gebeur het, en natuurlik, soos die gesegde lui – die res is geskiedenis! Die webblad inskrywings gaan voort so gereeld soos wat my tyd dit toelaat en ek voel die Here goed op my hart lê om te skryf. Die Pienk Vere ® reeks brei stelselmatig uit, geleenthede wat oor my pad kom, sonder dat ek vir dit vra, word aangegryp en deurgevoer.

Ek voel steeds soms of ek in die donker rond loop wanneer dit kom by Beroepsvrou. Maar ek weet ek kan die Here vertrou. Ek weet hierdie is hoe ek my doel op aarde en dit waarvoor ek geskape is vervul. Hierdie is my bediening, op ‘n manier wat voedsel is vir my siel en ook op dieselfde tyd inspirasie en hoop bied vir die wat dit lees.

Dit is alles genade. ‘n Absolute voorreg om as ‘n instrument in die Here se hand gebruik te word. Mag hierdie blad, bediening en alles wat met dit saam gaan, altyd die Here se Naam verheerlik! Mag elkeen wat dit lees aangeraak word deur dit wat die Here wil openbaar aan hulle en mag dit relevant bly vir elkeen wat dit lees, ongeag die datum wat dit geskryf was en die datum wat dit gelees word.