Die simboliek agter die voorskoot

God se instruksie vir ‘n voorskoot was duidelik. Swart met die Beroepsvrou logo op geborduur (nie gedruk nie). Op hierdie stadium het ek pas die skrif vir Beroepsvrou gekry – Spreuke 10:21 en nog nie ‘n elektroniese logo gehad nie.

Ek het nie geweet hoekom swart nie en het probeer uit redeneer dat swart deftig lyk en prakties is vir die kombuis. Toe ek my man vertel van die visie wat die Here op my hart gelê het, was sy antwoord dat ‘n voorskoot bediening is.

Ek het vir Anri Erasmus van Painted Lemons genader om vir my ‘n logo te ontwerp. Ek dink sy het ‘n uitstekende werk gedoen veral as jy dit met my handgetekende logo vergelyk!

Ek het besluit om nie verder te redekawel en redeneer oor die kleur nie en maar tog net die Here te vertrou met dit wat Hy in my hart gesit het. Met genoeg geld vir tien voorskote, nader ek ‘n God gestuurde tannie om vir my voorskote te maak.

Die tannie se naam is Tersia Borageiro (en nee ek weet ook nie hoe om haar van uit te spreek nie en moet elke keer dit tik van my foon af). Ek het die voorreg gehad om haar een keer vinnig te ontmoet en kan eintlik nie wag vir ‘n ordentlike geselsie oor ‘n koppie koffie met haar nie!

Vanuit die voorskoot is die hele Pienk Vere reeks gebore soos dit nou op my webblad is en ek by markte verkoop. Die Here het wel met tyd die simboliek agter die voorskoot aan my begin openbaar.

Ek is seker die Here gaan NOG baie aan my openbaar oor die voorskote. Hier is wat tans aan my geopenbaar is. Soos wat dit geopenbaar word, sal ek nog byvoeg op hierdie bladsy.

Geregtigheid

Dit verteenwoordig die borsharnas van geregtigheid. Dit is ook iets waarvoor ek staan – om altyd righteous te wees en die regte ding te doen al kyk niemand nie. Dit sluit verder ook so mooi aan by die skrif wat die Here vir Beroepsvrou gegee het. Die lippe van die regverdige voed baie.

Beskerming

Dit beskerm jou klere en jou as mens teen die vuil van die lewe, asook jou hart. Ons moet ons harte bewaar want daaruit is die oorspronge van die lewe. Dit bepaal ons lewens.

Outoriteit

Die swart kleur beteken outoriteit. Ons staan in outoriteit oor alles op hierdie aarde en moet terug neem dit wat die vyand probeer steel. Een van die stene wat op die Priesters se klere was, was swart – daar was 12 stene, een vir elke stam van Israel. Volgens my is ‘n Oniks steen swart, maar ek het ook gesien dat daar ander kleure ook is. Ek ondersoek nog die een en sal op dateer sodra ek meer inligting het.

Met die hand gemaak

Borduur en handgemaak – die Here het ons met Sy hande gemaak, knitted together in our mother’s womb. Elke logo wat borduur is, is anders en uniek. Al is die hele voorskoot van dieselfde patroon gemaak, verskil hulle tog van mekaar. Ons as mense is ook verskillend tog is dieselfde blue print gebruik vir ons.

Bediening

Wanneer jy ‘n voorskoot aantrek, bedien jy mense met kos. Maar ook geestelik en emosioneel. Is die kos wat jy voorsit (fisies, geestelik en emosioneel) reg sodat die wat bedien word ook Pienk Vere sal kan vertoon vir die Here? Die eindproduk is die ewige lewe.

Swart is die sleutel kleur

Wanneer mens iets uitdruk, gebruik jy CMYK. Die C is vir Cyan, M is Magenta, Y is Geel (Yellow) en K is die Key colour wat Swart is. Dit word gedurende die proses met swart voltooi en afgerond sodat die eind produk en resultate perfek oorkom. Net so is die Swart Voorskoot ‘n simbool van die sleutel vir dit wat God vir ons beplan en om alles perfek af te rond.