Posted on Leave a comment

Die Pienk Vere – Hoofstuk 3

Die afgelope week was ek een oggend baie vroeg wakker. Iets wat lank laas gebeur het. Ek voel verbasend goed en besluit om op te staan. Om te lê en wag vir die son om op te kom is tyd mors. Ek skuif agter my rekenaar in en besluit om kwotasies te begin kry vir die projek.

Ek gaan op Facebook, doen ‘n Google search. Jy noem dit ek doen dit. Vra vir almal dit, dat en die volgende. Sommige mense verstaan glad nie wat ek vra nie en dan kom Twyfel weer en raas in my ore. Is ék nie TE spesifiek nie? Is dit nie te vroeg die oggend dat ek eintlik nog slaap en nie behoorlik kan tik nie? So gaan die vrae aan en aan.

Dit voel of ek baksteen muur na baksteen muur tref. Asof dinge net nie wil gebeur nie. Het ek nou wragties geld en tyd gemors met die projek? Het ek nou verniet myself opgewonde gemaak oor die Hemelse download wat die Here vir my gegee het? Ek voel so bietjie deflated die week. Gee so te sê moed op.

Dan kom die e-pos deur van iemand af – hy kan vir my die goed druk soos ek dit wil hê. Geen probleem nie. Net nie groter nie (wat ek nie wil hê nie want dis weer te groot). Ek sit weer met my hande in my hare van pure ongeloof. Kan dit waar wees? Gaan dit regtig gebeur?

Ek bevestig met hom dat ek my ontwerpe die naweek sal finaliseer. Jy sien dis mos weer maandeinde EN einde van die jaar madness wat begin manifesteer voel dit vir my. Ek is alweer soos Stukkie van der Merwe – almal wil ‘n stukkie hê. Net gou-gou dit en vinnig dat.

Ek praat met nog iemand, sy stel voor ek doen ‘n katalogus. Ek dink by myself – HOE? Ek wou die goed laat maak het en dan ‘n video maak en dit so bemark. Liewe aarde ek weet nie eens HOEVEEL om te laat maak nie? Watter prys vra ek? Hoeveel gaan dit my kos? Net nou sit ek met ‘n hoop goed en dan gaan ek dit gebruik tot die wederkoms as dit nie verkoop nie.

Word vervolg….

The Pink Feathers – Chapter 3
Posted on Leave a comment

Die Pienk Vere – Hoofstuk 2

Soos wat die projek die einde van sy aanloopbaan bereik en reg is om op te styg, hoor ek iets. ‘n Moewiese geraas. Jitte maar dit raas in my ore. Ek sit vir ‘n oomblik stil. Dan besef ek – dis Chaos en Twyfel wat so raas.

Ek maak seker ek het reg gehoor. MOET ek doen wat die Here op my hart lê? Het ek regtig reg gehoor? Is dit nie net ek wat weer carried away raak met iets wat vir my lekker is nie? Raak ek nie weer opgewonde omdat dit nou iets ANDERS is as my gewone daaglikse take nie?

Net soos wat ek amper ingee en swig onder die druk van Chaos en Twyfel (en amper opgee in die proses), HOOR ek weer die Here se stem. Hy stuur vir my bevestiging. Op so ‘n unieke manier wat ek nog nooit ervaar het nie. Die bevestiging kom in die vorm van 2 skrif verse in drie verskillende boodskappe. Die verse oorvleuel in die drie boodskappe wat ek ontvang. Ek hoop dit wat ek probeer sê maak sin. Lang en kort is – boodskap 1 het ‘n bepaalde vers gehad. Boodskap 2 het boodskap 1 se vers gehad en nog een. Boodskap 3 het boodskap 2 se nuwe vers wat nie in Boodskap 1 was nie in gehad. Hoe is daai nou vir ‘n riddle? Amper iets soos my man se vrou se tannie se man se kind se hond se kinderopasser.

Wow, as ek nou ooit gewonder het dan weet ek nou! Dis so! Ek MOET hierdie doen. Dis wat die Here wil hê. Soos wat ek werk aan my day job laat val die Here kort-kort goed in my gees. Ek gryp my dedicated notaboek en maak nota’s soos wat ek dit kry en dan gaan ek weer aan met my day job. Jy weet – die een wat die kos op die tafel sit en die verband betaal – daai day job.

Liewe aarde ek het nog nooit so iets in my lewe ervaar nie! Dis ‘n warboel van GOED. Doen dit, doen dat, maak so en so. Dit voel omtrent of ek nie kan voorbly nie! Dis soos hierdie Hemelse download wat die Here net GEE. Wat ek daarmee gaan doen is vir my om te besluit. Ignoreer ek dit of neem ek die geloofstap?

Ek gesels alweer met Anri. Sy stel voor dat dit wat ek doen nie saam tweetalig gedoen moet word nie (ek weet dis super kritpies hier maar in die slot hoofstuk sal jy beter verstaan waarvan ek praat). Dit maak dit cluttered en deurmekaar en lyk net nie mooi nie. Ek luister en stem in, ek het gedink ek spaar tyd (en geld) maar eintlik verwoes dit net die hele effek om alles in te probeer druk.

Soos wat ek weer aan die projek werk, is dit asof die Here vir my wys juis hoekom ek die twee dames deel gemaak het van die projek. Jy sien, die een is Afrikaans en die ander een Engels. Dit was nou glad nie vooraf besluit nie. Dit het net so gebeur.

Word vervolg….

The Pink Feathers – Chapter 2
Posted on Leave a comment

Die Pienk Vere – Hoofstuk 1

Na my onlange onderonsie met tegnologie het die Here dit op my hart gelê om iets te doen. Ok eintlik VOOR die rekenaar onderonsie was dit alreeds op my hart gelê. Maar, voor die rekenaar episode was ek maar BAIE skepties oor die konsep wat Hy wil hê ek moet doen. Ek het dit met twee mense na aan my gedeel en hulle was amper meer opgewonde as ek oor dit wat die Here op my hart gelê het om te doen! Net so, wiep wap mielie pap, het ek ‘n span van twee mense wat my help om met kritiese oë na die projek te kyk voor die groot launch.

Jy sien, Hy is besig met ‘n nuwe seisoen vir my. Ek was nie seker presies wat dit was nie, is deesdae steeds nie aldag seker nie. Maar ek kan dit VOEL. Hier binne in my gees VOEL ek dit! Ek weet nie hoe anders om dit te beskryf as hierdie ongelooflike kalmte binne my al roep chaos oral om my heen nie.

Dit beteken vir seker nie dat ek nou skielik all high & mighty is en nie panic by tye oor seker goed nie. Nee, ek het, ongelukkig nog OOMBLIKKE. Maar die OOMBLIKKE oorheers nie my lewe nie. Nie soos altyd nie.

Ek begin werk aan die projek, gesels met selektiewe mense, want, die Here het dit op my hart gelê om dit nie met ALMAL te deel soos wat ek gewoonlik doen nie. Nee, ek moet voelers uitsteek en paar mense vra wat hulle dink van die konsep en van daar af werk.

So gebeur dit dat ek met Anri van Painted Lemons gesels en haar vra om my logo elektronies te doen. One thing leads to another en toe ek weer sien trek ek haar in by my ontwerp! Iets waaroor ek bitter dankbaar is. Jy sien, sy het ‘n geoefende oog met ontwerp en is nie bang om haar opinie te gee nie.

Ek is gretig om te leer en gryp elke stukkie opbouende kritiek wat geuiter word aan en maak stelselmatig die veranderinge. Sy lei my so wonderlik in die proses en gee soveel waardevolle insette oor alles. Van die ontwerp tot die formaat, ag sommer net alles!

Elke liewe oomblik wat ek het, wat my eie tyd is, word aangewend tot die projek. Ek werk vir kort rukkies op weeksaande, wat my frustreer om twee redes – die eerste een is dat teen die tyd dat ek hierby uitkom is ek poegaai na die dag se werk en net alles wat gedoen moes word vir die betrokke dag. Die ander frustrasie is die min tyd wat ek het om iets te doen maar ook eintlik nie te doen nie jy weet?

Laas naweek sit ek omtrent die hele Sondag en werk aan die projek. Uiteindelik is ek klaar! Ek weet nie of ek moet lag of huil nie want dis nou so. Skaars 2 of 3 weke ná ek die taak aangepak het, wat so oorweldigend en net TE gevoel het, is dit klaar. Ek weet nie hoe dit moontlik is nie, maar dis klaar.

Word vervolg….

The Pink Feathers – Chapter 1