Posted on Leave a comment

Werke in die wolke…

Hierdie maand se skrif vers kom uit Spreuke uit. Dis vir my so interessant, dog nie verbasend nie, dat die skrifverse vir elke maand op die desk pad kalender, so van toepassing is (of is dit nou was?) tot dusver.

Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word. Ek het al baie gedink hieroor en wat dit nou eintlik beteken. Dankie tog ek het ‘n bybel toepassing (fêncy woord vir application) op my foon wat verskillende vertalings kan vergelyk. Ek gaan lees hom in die Amplified weergawe.

Daar gaan ‘n beter en helderder liggie vir my aan toe ek dit in hierdie weergawe lees. Die interpretasies in hakkies langs elke deel in die skrif vers verduidelik dit so bietjie beter voel ek. Jy sien, dit sê nie jy moet agteroor sit en niks doen nie. Jy moet nie sit en wag vir jou spreekwoordelike skip om in te kom nie (om later agter te kom jy was die heeltyd by die lughawe of treinstasie terwyl jy eintlik by die hawe moes wees nie). Of wag vir die tyd om reg te wees nie.

Nee, glad nie. Jy moet jou werke, dit wat jy doen, voor die Here se voete plaas en dit aan Hom toevertrou. Jou planne en werke sal deurgevoer word wanneer jy aan Sy wil onderdanig is en na Sy leiding in jou lewe luister.

Ek het Mei maand baie gewonder oor iets (wat ek gevoel het die Here op my hart geplaas het om te doen) en moet ek of moet ek nie. 30 Mei 2022 ontvang ek ‘n video van iemand via Whatsapp. Ek kyk hom nie dadelik nie, want dit het in werkstyd gearriveer en ek moet mos nou werk in daardie tyd, nie Whatsapp video’s sit en kyk nie. So gaan die dag verby en ek vergeet skoon om die video te kyk.

Daardie aand, seker so 7 uur, ontvang ek presies dieselfde video van ‘n vriendin af wat nie die ander persoon wat dit die oggend vir my gestuur het ken nie. Daar was geen manier dat my vriendin enigsins kon weet dat ek dieselfde video ontvang het vroeër die dag nie. Maar die Here het wel dit geweet. Jy sien, ek het gebid en gevra vir ‘n teken vir dit wat ek voel Hy op my hart geplaas het om te doen.

Toe ontvang ek dit op ‘n heeltemal ander manier as wat ek verwag het. Ons is soms so narrow minded en wil soos Gideon ons presiese antwoord en teken van God te ontvang soos ONS dit wil hê en dink dit moet wees. Die inhoud van die video? ‘n Prokureer wat getuig hoe hy op ‘n klein vliegtuig gevlieg het saam met ‘n vliënier wat bewusteloos geraak het toe hulle in die wolke in gevlieg het.

Lang storie kort, hy en die ander passasier in die vliegtuig kry toe ‘n beheertoring in die hande deur die radio en daardie persoon het hulle gelei in die wolke, hulle gewaarsku teen ‘n berg waarin hulle sou vasvlieg as hulle nie van koers verander het nie. Dit was vir my so profound gewees om dit te hoor. Want dis presies hoe ek voel in my lewe.

Dit voel of ek in digte wolke vlieg, onseker waarheen ek oppad is met Beroepsvrou. Ek weet wel dat ek na my instinkte moet luister want my instinkte kom van die Here af. Hy is besig om my te lei. Toe ek twee dae later die skrif vir Junie lees op my desk pad, staan ek net in verwondering. Oor God en hoe groot Hy is. Hoe sou ek enigsins laas jaar geweet het, toe ek die desk pad se skrif verse randomly toegeken het aan elke maand, dat die een vir Junie perfek sou wees vir wat in my lewe gebeur?

Sommige dae voel die wolke digter as ander. Ek weet net ek moet na my Beheertoring se stem luister. Hy kan alles sien. Ek kan skaars drie treë voor my sien. Al maak dit wat ek moet doen nie noodwendig sin op daardie oomblik nie, weet ek net dat as ek dit nie doen nie, ek in ‘n berg sal vas vlieg.

Ek kan nie die Persoon in die beheertoring sien nie. Maar ek kan na Sy stem luister, Sy instruksies volg, ongeag wat besig is om te gebeur om my. Ongeag of dit voel of daar nog meer digte wolke besig is om in te beweeg. Dit sluit vir my so mooi aan by die maand se skrif. En laat my net weereens besef HOE GROOT God is!

Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word. Vertrou Hom. Luister na Hom. Al maak goed nie sin nie. Al gooi die lewe curve balls na jou toe wat jy nie verwag nie. Die Here is reeds in môre en volgende week en volgende jaar. Hy weet wat gaan gebeur. Soms laat Hy goedjies in plek val sonder dat jy besef wat besig is om te gebeur.

Tot my grootste frustrasies by tye gebeur dinge wat ek nie altyd verstaan nie. Maar dis in hierdie situasies wat ek die Here moet vertrou en na Sy stem moet luister, Sy instruksies volg, hoe vreemd dit ook al mag klink en lyk vir my en die om my. Soos wat die wolke in rol, klink dit of my frekwensie by tye krapperig raak en ek nie die Beheertoring lekker duidelik kan hoor nie.

Ek verstel dit deur die Bybel te lees en God se hand in goedjies en daaglikse bybel verse te soek. God is in the detail. Ek gaan sit en blog want dan is dit asof my frekwensie weer reg gestel word en ek beter kan hoor. Soos wat ek afsluit, weet ek net binne in my gees, dat die besluit wat ek tog wel geneem het na die video wat ek ontvang het, die regte een was.

Die wolke kom steeds in en die duiwel probeer die Stem stil maak met distractions maar ek weet wat ek moet doen. Dit is wat dit is, dis my bestemming, my bestuuring. Die plek waarheen my (en ons as gesin) se lewens oppad is. Ek bid maar net vir min turbulensie en dat ons nie naar sal raak soos wat ons deur alles gaan nie en dat ons wel sterker aan die ander kant sal uitkom (soos wat ons maar altyd doen wanneer ons deur dingetjies gaan in ons lewens). Ek maak seker dat my radio se frekwensie reg is, voordat ek die volgende deel van die vlug, in wat soos digte wolke voel, aanpak.

Working in the Clouds…
Posted on Leave a comment

Want Ek weet…

Met ‘n ongelooflike dankbare hart, skeur ek Arpil (jip jy lees reg met ‘n spelfout) se bladsy af en gooi die GROOTSTE FOUT in die asblik. Waarvan praat ek? My desk pad kalender, deel van die Pienk Vere reeks wat ek ontwerp en verkoop het.

April se bladsy het woes gelyk. Omgekrul aan die een kant en vuil gesmeer soos dit maar aan die einde van elke maand lyk by my. My nota’s blok was die maand vol geskribbel.

Interessant hoe ek vir jare sonder een gewerk het en nou amper nie sonder dit kan funksioneer nie. Elkgeval. Terug by Mei maand se skrif en inskrywing.

Dit is seker een van my gunsteling verse. Die een vir Mei. Waar die Here sommer so direk met elke mens praat. Nie net sekere mense nie. Almal. Sy volk. Hy weet watter planne Hy vir ons koester.

Dit maak my kinderlik opgewonde, al voel ek soms gefrustreerd met goed en hoe die lewe werk. Ek weet wel dat die Here se planne vir my VOORSPOED is en nie teëspoed nie. Al voel dit soms meer soos teëspoed as voorspoed.

Ek wonder baie oor die bybelvers en wat die Here eintlik met dit bedoel. Voorspoed op aarde of voorspoed vir die res van ons lewens, na die dood ingesluit?

Ek dink dis van beide. Terwyl ons ‘n oogwink op aarde is en dan ook die oneindige ewigheid na ons tyd op aarde. Jy sien, ons dink dalk dat ons nou suffer omdat ons nie alles het wat ons wil hê nie en omdat dinge gebeur soos dit doen.

Maar ek besef opnuut, dat ons eintlik moet uitsien om te sterf ook. Die tyd ná ons tyd op aarde kan nie anders as om voorspoedig te wees nie. Ons gaan dan Hemel toe. Na Hom toe. Ek sê nou nie almal moet soos Depressie Hessie rondloop en mor en mompel oor alles hier en eintlik maar net wag om dood te gaan nie (soos my ouma-grootjie my altyd geantwoord het as ek haar gegroet het nie – dis ‘n storie vir ‘n ander dag).

Nee! Leef voluit! Spreek aan dit wat aangespreek moet word in die Gees en eis dit wat geëis moet word. In die proses moet jy vir mense wys wat dit is om ‘n ware Christen te wees. Hulle help om uit te sien na die voorspoedige planne van God af. Soms is ons as Christene so dik-bek (by gebrek aan ‘n mooier meer ordentlike woord) dat mense wat nie Christene is nie, net een kyk vir ons gee en dan by hulself besluit “Nee dankie! As dit is hoe ‘n Christen lyk wil EK nie een wees nie!”

Ek het eers iets anders hier getik, heeltemal van die onderwerp af en besluit toe om dit uit te wis (hoe is dit vir pragtige Afrikaans?) en eintlik net meer te fokus op dit wat die Here in my hart vir my sit oor die vers. Interessant hoe maklik en vinnig mens eintlik distracted kan raak met dit wat die Here vir jou wys en dan begin jy die leuen glo…

Die Here WEET ALTYD BETER. Lees dit weer. Al voel dit hoe en wat en waar in jou lewe, glad nie soos JY beplan het dit moet wees nie. Wees gerus. Die Here weet beter. Ons as mense is ALTYD net daar waar ons moet wees. Die Heilige Gees het ook gefluister vir my, soos wat ek loop en dink oor die inskrywing, dat ons as mense, ons hoop, geluk en toekomsplanne eerder op mense plaas as Hom.

Ons geluk, tevredenheid met die lewe, en soveel ander dinge, word bepaal deur mense – so dink ons en gaan ons deur die lewe. Die mense is soms onsself en soms ander mense. Maar eintlik is dit so ‘n wan-persepsie – dat ons eers gelukkig sal wees as dit en dat en die volgende gebeur….

Soms vertoef ons langer in situasies, want ons slaag nie die toets nie. Ons val hook, line and sinker weer vir wat ookal ons uitdagings is. Ons moet leer om te luister, Hom te vertrou en dat Hy vir ons sal gee dit wat ons nodig het en wanneer ons dit nodig het.

Ons verstaan nie altyd hoekom goed nie uitwerk soos dit moet nie. Maar as ek terug kyk, kies ek om God se hand te sien in alles. Dankbaar te wees vir my eie persoonlike groei in die proses. En dan aan te hou vorentoe kyk en te wag vir Sy perfekte tydsberekening. God is always terribly on time.

Die fluistering in my gees hou aan… Ek weet…. (klem op die Ek in die sin – dis nou die Here wat hier praat as jy dalk nie volg nie) nie Sannie weet of enige ander naam wat jy aan kan dink nie. Nee, die Here spreek hier, in die eerste persoon is dit? Want dis HY wat weet. Soos met April se skrif vers dink ek nie hier gaan hoofstukke en hoofstukke wees oor die skrif nie.

Nee, dis so eenvoudig soos dit. Vertrou Hom want Hy weet watter planne Hy vir my en jou koester. Planne van voorspoed en nie van teëspoed nie. Planne om my en jou ‘n hoopvolle toekoms te gee. Hoopvol. Hou aan met glo, droom en hoop hoor ek die Heilige Gees se fluistering in my binneste…

For I know…
Posted on Leave a comment

Die spelfout

Vir 11 dae van April kyk ek na my tafelkalender (of desk pad soos ons almal dit maar eintlik noem) en ek mis net heeltemal die spelfout. Ek gebruik hom, maak nota’s, trek dae dood soos wat die tyd aanbeweeg en die lewe is ‘n spreekwoordelike lied.

Ek dink die Here het my oë toegehou vir die fout, net sodat ek ‘n lekker verjaarsdag kon hê. Want, die 12de April (die dag na ek verjaar het) vang my oog die spelfout. Dit lees Arpil 2022 en nie April 2022 soos dit veronderstel is om te wees nie. Die wêreld begin om my draai, ek voel hoe ek bleek raak, my mond word selfs droog.

Ek sit met my hande in my hare en dink by myself HOE HET EK DIT GEMIS? Weet jy hoeveel keer het ek dit nagesien? Selfs nog 2 pare oë gekry om te help proeflees. En ons almal het dit gemis!

Die volgende oomblik is dit asof Kritiek my om elke hoek en draai probeer voorkeer soos ‘n shady genadelose joernalis wat ‘n skandaal oopvlek. Die vrae is eindeloos. Hoe kon jy so ‘n groot fout gemis het? Is jy seker jy het dit nagegaan? Wat van die mense wat jou BETAAL het vir die desk pad? Wat gaan jy vir almal sê? Is daar nie dalk nog foute later die jaar nie? Wat van die wat jy mense mee geseën het? Wat gaan HULLE van dit dink?

Ek probeer die vrae wat op my gevuur word soos skote wat in ‘n ernstige oorlog geskiet word, antwoord. Ek koes sodat ek nie in die proses stukkend geskiet word nie. Ek is na aan trane, dit voel of alles wat ek voel uit God se hand na my toe kom, opgaan in vlamme.

Natuurlik kom die duiwel en probeer nog ‘n paar leuens vir my vertel. Soos dat ek eintlik verkeerd gehoor het by die Here oor die hele Pienk Vere reeks. Saam met dit word ek vertel dat ek eintlik maar simpel is om ‘n blog te hê. Wie stel nou eintlik belang in jou lewe en jou ervarings? Hoor ek die vyand se snedige kommentaar.

So draai die leuens in my kop al in die rondte. Ek bly eers stil en sê vir niemand iets nie. Bid stilweg dat NIEMAND anders die fout ontdek nie. Toe kon ek nie meer nie, ek moes net met IEMAND deel en toevallig bel ‘n vriendin (wat ook ‘n kliënt is) my. Ons gesels oor die werk en daar laat val ek die hele sak patats net so. Off topic en uit die bloute uit (soos wat ek maar maak).

Sy lag en bemoedig my, op die manier wat net hierdie rooikop kan doen. ‘n Paar dae later skraap ek moed bymekaar en wys vir nog iemand, vra my bediende om te kyk of sy dit kan sien, wys ‘n niggie aan my man se kant, en so gaan dit aan. Dis vrek snaaks om almal se reaksies dop te hou, want hulle vat dit ernstig.

Hulle oë gaan sommer op skrefies soos wat hulle die fynskrif deursoek en fynkam. Eers kyk hulle en sê hulle sien dit nie. Dan por ek hulle aan, kyk MOOI. Dis nie in die fyn skrif nie. Dan sien hulle dit. Sommige se oë rek groot, ander lag, ander slaan hul hande oor hul monde in verbasing.

Maar almal het dieselfde reaksie – ARPIL! Iewers na ek die fout gesien het, besluit ek om maar die moed bymekaar te skraap en my man te wys. Hy sien dit ook nie dadelik nie. Toe hy dit sien, grinnik hy net en skud sy kop in ongeloof.

Ek was natuurlik nog al die pad op self-punishment se roete, probeer die shady joernalis ontduik. Wat gaan die mense van my dink? Hulle gaan vir almal vertel hoe swak die produkte is en dan gaan ek met kratte vol voorraad sit en niks mee kan doen nie. Dis die gedagtes wat toe nou weer probeer tent opslaan by my. Iewers, na ek die fout met my man gedeel het, kom daar ‘n gedagte by my op.

Ek sê vir my man (of het hy dit vir my gesê? Ek weet nie aldag nie want ons gedagtes en woorde is so ineen verstrengel soms en ons dink so dieselfde), miskien moet ek ‘n kompetisie van dit maak? ‘n Notaboek as prys gee. So in die verbygaan praat ons met mekaar en ek hoor hom sê Dis nie ‘n slegte idee nie. Nou ja, toe laat ek nie gras onder my voete groei nie. Ek spring weg en ontwerp ‘n ding op Canva en besluit om twee kategorieë te skep vir wenners – siende dat ek die spelfout uit die mou gelaat het vir sommige mense en dus hulle nie kon insluit in die kompetisie nie.

Nou ja, die res is geskiedenis, mense het my post geshare en gelike op Facebook en Instagram. ‘n Paar mense het ander getag en so het die proses sy gang gegaan. Ek het doelbewus van sosiale media af gebly, want die eerste dag na ek die kompetisie begin het, het ek myself gekry dat ek elke paar minute gaan kyk het wat aangaan.

Dan raak ek frustreerd as mense nie vinnig genoeg reageer nie en as ek sien my post het nie ‘n reach van genoeg mense soos ek nou dink dit moet wees nie. Ek voel hoe die Heilige Gees sagkuns binne my werk en fluister. Hou op om heeltyd op sosiale media te gaan. Dit steel jou tyd. Fokus jy op jou werk. Ek sal sorg vir die res.

Liewe land, na ek die besluit geneem het, was dit nogals moeilik om nie terug te gaan soos ek ouder gewoonte elke oggend gedoen het nie. Ek het net opgegaan om nog advertensies te post en dan weer afgegaan, glad nie gekyk na die reaksies en kommentaar nie.

Dit was so bevrydend om van sosiale media af te wees, ek kan dit nie beskryf nie. Ek was nie, in my opinie, so aktief op Sosiale Media nie. So het ek gedink… Ek het mos nie elke dag iets gepost nie, net my blog se bladsy het so bietjie meer aandag geniet, want dis maar my metode om te adverteer en God se woord te versprei.

Toe ek begin om na my foon se statistieke te kyk van die tyd wat op watter toepassings (hoe is dit nou vir ‘n ordentlike Afrikaanse woord?) spandeer was, toe skrik ek. WANT….wat ek gedink het was net 5 of 10 minute was toe nou eintlik langer…ek reken ook hierdie is ‘n bespreking vir ‘n ander dag…

Terug by die spelfout…die Here het my genadiglik van ‘n ander blaps gered. Toe ek vroeër die jaar die nuwe notaboeke ontwerp het, het ek ‘n groot OEPS gemaak op die een Engelse een. Dit het voorop gelees Noteboek en nie Notebook nie. Ek het die Vrydag die bestelling by die drukkers geplaas om te begin druk.

Die Saterdagoggend word ek met ‘n beklemming op my hart wakker. Daar is ‘n spelfout op een van die notaboeke! Ek vlieg regop, dit was nog vroeg, half ses die oggend. Ek gryp my foon en kyk na die ontwerpe (wat ek elektronies hier ook tot toegang het). Wragties, die fout is op die een engelse een. Dit was net AMAZING vir my dat die Here my presies gewys het waar die fout was, dit het my nie lang geneem om dit te kry nie.

Nie te min, die Here het my van ‘n baie groter blaps en oeps gered daardie dag, want die buitekant van die notaboek is nou nie iets wat jy net vir ‘n maand gebruik en dan afskeur en weggooi soos die desk pad se bladsye nie.

Met ‘n dankbare hart sluit ek af. Niemand van ons is perfek nie, ons almal maak foute, selfs foute waarvoor ons geld betaal. En dis ok. Die Here het weereens iets slegs gevat en dit omskep in iets goed en mooi! Baie geluk aan die wenners van die notaboeke! Mag die Here elke ding wat daarin neergepen word seën soos wat net Hy kan!

The spelling mistake
Posted on Leave a comment

Practice makes Perfect…soos hulle in Engels sê…

In Engels is daar ‘n gesegde – Practice makes perfect. Eerstens wil ek weet – wie is hierdie “hulle” waarna altyd verwys word? Jy weet, wanneer jy met iemand praat en die persoon sê “Hulle sê…” gevolg deur een of ander uitlating wat nie altyd sin maak nie. Sulke slim mense wat klaarblyklik nie op aarde woon nie, voel dit vir my!

So ek wil hierdie spreekwoord of standpunt (nie seker hoe om daarna te verwys nie?) teenstaan. Ons is almal mense en NIKS wat ons ooit doen SAL perfek wees nie. So jok ons nie vir onsself as ons sê practice makes perfect nie?

Ek sê, oefening kweek en skep deursettingsvermoë, excellence (by gebrek aan ‘n beter Afrikaanse woord) en verbetering. Die rede hoekom ek dit sê, is, wanneer ek terugkyk na waar Beroepsvrou was een jaar gelede (23 Maart 2022 merk die eerste bestaansjaar van die webjoernaal), staan ek net in absolute verwondering oor wat God vir my gedoen het, hoe ek as ‘n individu gegroei het (en alles wat met dit saam gaan) en hoe die hele ding verander het, skielik en oor so ‘n kort tydjie.

Ja, jy kan gerus my heel eerste inskrywing lees…net om seker te maak waaroor ek nou hier aangaan. Wanneer ek terug kyk na hoe dit gelyk het, besef ek dat ek vir seker nou meer weet as wat ek toe geweet het. My oë is beter geoefen om die uitleg beter te laat lyk, en so meer. Dit het ook eers direk op Facebook begin en nie op hierdie platform nie.

Wow, wow en weer wow. Al wat ek kan sê is dankie Here dat Hy my gelei het deur die proses en dat ek myself oopgestel het vir verbetering. Wanneer ek terug kyk na die eerste paar inskrywings, wat eers op Facebook was, kan ek net glimlag en die Here dank vir die elektroniese spoor wat vir my gelos was om op te reflekteer.

Jy sien, soms moet jy net IEWERS begin. Moet nie wag tot jy alles beplan en uitgewerk het nie. Niks gaan ooit eksie perfeksie wees nie. Go with the flow, ry die spreekwoordelike golf. Dis wat ek gedoen het met Beroepsvrou. Ek het dat God my lei al die pad.

Ek het geluister vir my instinkte, impulsief gereageer op my idees (soms met spyt na ek besef het WAARVOOR ek myself ingelaat het) en dan sit ek amper agteroor (nie heeltemal nie want dit was nie so eenvoudig nie, maar jy verstaan wat ek probeer sê) en laat die Here my vorm en maak….om goed aan te pak wat onmoontlik voorgekom het, maar wat meer as moontlik uitgedraai het, met Sy hulp natuurlik.

Die doel van die storie? Hou aan om aan te hou. In Engels klink dit beter. Just keep on keeping on. As dit is wat die Here wil hê jy moet doen sal Hy ‘n pad maak. Hy sal vir jou veg. En dan kan jy sing soos Dory van Finding Dory (ja ek het dit saam met my kinders gekyk) Just keep swimming. Just keep swimming, swimming, swimming……

Dit is ook hoekom ek die skrif vers gekies het wat op die notaboeke verskyn. Die Here is besig om iets nuuts te doen. ‘n Pad in ‘n ongangbare ekonomiese woestyn te maak. Riviere te laat uitspruit wanneer dit voel of die Pandemie-son besighede laat opdroog en leeg suig soos plante wat nie bestand is teen die woestyn hitte nie.

Just keep swimming…..swimming, swimming….swem die woorde deur my gedagtes soos wat Dory deur die see geswem het op soek na haar ouers….

Practice makes Perfect…
Posted on Leave a comment

Die vreugde…

The joy always comes in the morning. Woorde wat ek gereeld vir myself sê en ek dink bloot dis omdat iemand anders dit vir my gesê het toe ek jonger was. Dalk my ma? Ek het tot ‘n hele paar jaar gelede nie besef dis skriftuurlik nie.

Hierdie maand se skrif is Psalms 30:6 en handel juis oor die vreugde. Jy sien, sedert 2020 is dit asof my vreugde al hoe meer gesteel was deur die vyand. Voor dit ook, maar dit voel regtig vir my, sedert 2020, is dit amper amplified as ek nou daardie woord kan gebruik. Meer intens.

Ek weet ek het op ‘n kol in 2020 gevoel EK WIL NET HUIS TOE GAAN!! en dit alles terwyl ek heeltyd by die huis was. Het enige iemand anders ook so gevoel? Ek het gevoel of ek in ‘n tronk of iets van ‘n aard was. Die swaard van onsekerheid wat oor mens se kop die heeltyd hang. Watter kant toe gaan die Pandemie gaan. Gaan ons siek word? Gaan my mense in my huis siek word? Gaan ek nog kan inkomste genereer ten spyte van die Pandemie?

Hoe gaan die ekonomie lyk? Die vorige Pandemie was gevolg deur die Groot Depressie. Gaan ons ook so iets ervaar en beleef in ons tyd? Hoe hanteer mens dit? So het die vrae om en om gehardloop in my gedagtes, spore van verdriet en vernietiging gelos in die proses. Amper soos ‘n uitgetrapte voetpad waar die gras nie meer wil groei nie.

Ek het baie oggende gesukkel om my joy te kry in 2020 en selfs in 2021. Alles het net een te veel gevoel by tye. Dis asof die lack of joy net daar was dag in en dag uit. Het ander ook so gevoel? Of is ek die enigste een? Ek is deur moeilike tye, soos elke ander mens gedurende die Pandemie. Ek weet vir seker ek is nie die engiste een gewees wat gesukkel het nie.

Wat vir my altyd die lekkerste is, is wanneer ek op my laagste laag is, voel ek die naaste aan die Here. Dis asof ek Sy stem net duideliker hoor. Ek onthou nog een dag het ek weereens in trane gesit voor my rekenaar, vir my man probeer vertel hoe ek voel. Ek het gesukkel om woorde te kry om vir hom te verduidelik.

Die volgende oomblik hoor ons ‘n liedjie speel oor Spotify. Dis asof die Here net die woorde daar kom sit het sodat my man dit kan hoor. Natuurlik was die trane nog meer toe ek na die woorde luister, want dit het gevoel asof die Here direk met my praat, in verbale, hoorbare vorm.

Ek kan nie verduidelik hoe, wat of waar nie. Maar, na daardie liedjie, het my joy gekom. Dis asof my geesmens rustig geraak het want sy weet die Here sien en hoor ALLES. Hy ken my hart, Hy weet wat maak my gelukkig en wat maak my ongelukkig.

Ek geniet dit nie nou so baie om na die liedjie te luister nie. Seker omdat ek nie meer op DAARDIE lae plek is nie. Maar, wanneer ek sukkel, moeg, afgemat en uitgemergel voel, is dit die liedjie wat ek speel en oor en oor luister.

Die Here is so wonderlik en goed vir ons as mense. Mag ons altyd onthou, wanneer ons op ons laagste laag is, is God daar. Dis waar wat Dawid geskryf het – al gaan ek deur die vallei van die dood, daar is God. Ek weet ek kwoteer nie die presiese woorde nie, maar ek is seker jy verstaan wat ek hier bedoel.

Ek voel ook in my gees dat April se skrif net een inskrywing gaan hê. Bloot omdat dit so eenvoudig is. Hou net aan God soek in alles, al is jy op jou laagste. Gaan SOEK Hom. Hy is oral en as jy eers begin soek sal jy Hom vind. Dít is ook skriftuurlik en kan ek ook van getuig. Ek kies om die Here se stem te hoor en te gaan uitsoek.

I see the tears sitting on your cheeks. I know you’re tired, fall now to sleep. Stop fighting so hard, it’s time to surrender. Raise your white flag, and always remember. Your heart will feel lighter, everything will be brighter, find peace in knowing that all will be well in the morning….hoor ek die liedjie se woorde speel en dink by myself, dis waar. Alles sal beter wees in die oggend!

The joy…
Posted on Leave a comment

Die motiverings-toespraak

God does not call the equipped, He equips the called. Woorde wat ek vandag geuiter het by my HEEL EERSTE (ja jy lees reg) geleentheid om as motiveringspreker te praat by ‘n plaaslike skool – Hoërskool Bekker. Ek weet nie wie daardie wyse woorde gesê het nie, maar twee mense het dit al vir my gesê en ek kan getuig – DIS SO WAAR!!!

Net voordat ek by die huis ry vanmiddag, voel ek of daar so hol kol op my maag begin kom. Twyfel probeer sy ding met my, maar ek het hom al ‘n myl ver sien aankom en skop hom sommer eenkant toe, gee hom nie kans om naby genoeg te kom om leuens en goed in my kop te prop nie.

Ek voel binne in my, ek is nie ‘n Public Speaker nie. Toe ek dit vir iemand sê, toe lag die persoon en sê Moses het ook gedink hy was nie een nie. Ek dink toe nogal daaraan en knik my kop omdat ek saam stem met dit. Moses het allerhande verskonings gehad oor hoekom hy nie met die Farao (jitte die lyk verkeerd gespel, maar kom ons beweeg aan) kon praat nie.

Terug by vandag. So die hol kol was daar, maar ek het net gebid en gevra dat die Here die regte woorde in my mond sal plaas, dit wat Hy wou deurgee aan die mense wat na my geluister het. Nie een keer het ek gevoel my tong plak vas aan my verhemelte nie (dit gebeur gewoonlik). Ek het nie vergeet wat ek wou sê nie, al het ek nie formeel voorberei met ‘n toespraak nie.

EN ek het nie gebewe soos ‘n riet soos ek altyd doen nie. God equips the called. Dis al wat Hy wou gehad het. Hy wou gehad het dat ek in my kar klim, ry soontoe, gaan praat en dan sal Hy die res doen. Ek bid regtig dat dit so was, want, ek kan nie alles onthou wat ek gesê het nie.

Gewoonlik as dit gebeur (waar ek nie alles kan onthou nie), weet ek dis die Here wat oorneem en praat. Die lang en die kort van my toespraak? Is dieselfde wat ek oor en oor vir mense die naweek ook gesê het, en waaroor die hele Beroepsvrou blog gaan….Hoe pienk is JOU vere vir die Here?

Wat sit jy in jouself in, sodat jy pienk projekteer vir Hom en ‘n ligdraer is in hierdie wêreld? Filter jy dit wat die wêreld na jou toe gooi en werp die slegte uit? Soos wat flaminke hul kos filter, so moet ons alles wat om ons gebeur filter.

Ek bid regtig dat God se boodskap deurgekom het, dat almal geluister het en gehoor het, en dat die Heilige Gees sal kom natmaak sodat die saad wat gesaai is sal opkom. Saad wat Hom sal verheerlik.

Mnr. Rademan – baie dankie vir die geleentheid om jou personeel te kon toespreek vandag. Ek bid regtig dat ek so ietsie gelos het by hulle om hul te motiveer, sodat hulle Pienk Vere vir die Here sal hê. Want as hulle Pienk Vere vir die Here gaan hê, gaan die kinders dit begin sien en so gaan hul vere ook pienk begin verkleur. So gaan die Here almal aanraak om Pienk Vere vir Hom te hê en nie skaam wees om hulle Sy kinders te noem nie.

Laastens wil ek net my lof besing vir God en vir Hom AL DIE EER gee. He equipped me today. I am called and I am His. He will show me the way. Hy sal ‘n pad in die woestyn maak, ‘n rivier in die wildernis soos die skrifvers lees wat ek ontvang het en op my notaboeke ingesit het. Die Here het WEER aan die begin van 2022 vir my dit bevestig – hoeveel meer tekens wil ek dan nou hê? Hoeveel velletjies gaan ek NOG moet uitgooi soos Gideon of wonders sien gebeur soos Moses?

Onthou altyd, God is met jou en as jy sukkel en jy bid en vra vir hulp, SAL die Here deurkom vir jou. Hy sal jou lei en Hy sal jou die pad wys wat jy moet stap. He’s got your back – dis hoekom jy net ‘n borsharnas wat voor bedek aantrek – jy moet jou hart beskerm (en die res van die wapenrusting natuurlik aantrek). God sal jou van agter beskerm – altyd. Hy het my nog nooit teleurgestel nie en sal ook nooit nie.

Hy is dieselfde – gister, vandag en môre. Ek weet ek is UITVERKOOP aan Jesus!! Is jy? Hoe pienk is jou vere vir die Here?

The motivational speech
Posted on Leave a comment

Die Mark

Gedurende Februarie (my besigste tyd ooit) sien ek ‘n advertensie op Facebook vir ‘n Paasmark wat plaaslik (en letterlik om die draai van ons huis) aangebied word. Ek voel hoe die Here in my gees werk en my aansê om dit aan te pak.

Ek het nog nooit in my lewe ‘n mark self gedoen nie. Ek onthou wel as kind het my ma gereeld by vlooimarkte gaan sit en haar handgemaakte draadboompies met klippies opgeplak (dit was hoogmode kan ek net vir julle vertel) gaan verkoop. My sussie het later klei goedjies begin maak en ook verkoop.

Ek wonder oor twee goed na ek die vorige paragraaf geskryf het – hoekom noem hulle dit ‘n vlooimark en hoekom het my ma (en sussie) hul handgemaakte goed gaan verkoop by vlooimarkte? Ek onthou ek was altyd eager beaver (amper soos wat my dogtertjie nou is met die Paasmark) en gretig om te help.

Nou ja, terug by MY eerste mark wat ek voel die Here instruksie gegee het om aan te pak. Liewe aarde, was dit nou vir jou ‘n storie. In my besigste tyd ooit, gaan sit ek toe natuurlik een Sondagmiddag en ontwerp nog muismatte (ek like nogals die Afrikaanse woord – ek voel gesofistikeerd as ek hom gebruik) en notaboeke. Mense het opsies en keuses nodig.

Dagboeke, tentkalenders en deskpads staan vir eers opsy, want, teen die tyd dat dit die mark is, sal ons al in April wees en ek gaan nie nou vir 2022 enige iets nuuts in daardie opsig ontwerp nie. Plus, as jy nou uitgemis het op 2022 se produkte, moet jy maar die spasie dop hou vir 2023 se produkte en vinnig wees om dit op te raap voor dit uitverkoop is….

Ai, daar raak ek ALWEER distracted. Nie te min, nuwe ontwerpe word gedoen, ek skryf myself in vir die mark en vat weereens een MOEWIESE geloofstap. Want wat anders noem mens dit wat besig is om te gebeur? Dit het begin met 10 voorskote wat ek laat maak het en nie geweet het WAT ek met dit gaan doen nie. En hier is ek nou, by my eerste mark.

Die mense wat by my tafel verby loop dink seker by hulself, die vrou is mal. Want my eerste woorde aan hulle is “Ek skryf, jy kan gaan lees as jy wil.” en dan prop ek ‘n besigheidskaartjie in hul hand, of hul nou een wil hê of nie. Dan begin ek gesels en vertel hulle van die flaminke en wat die Here reeds aan my openbaar het oor dit.

Sommige mense koop iets, ander knik net ordentlik en sê dis reg, hul sal gaan lees. Nêrens in die gesprekke wat ek gehad het, het ek myself voorgestel nie. Een vrou het my gevra wat is my naam en gretig gelyk om te gaan lees. Die gratis geskenkie (van Sculpted Clay Designs – spesiaal ontwerp vir my in die vorm van die hartjie wat in my logo se blaartjie is) is ‘n wenner, en dit lyk amper of dit die oortuiging is vir sommige mense om iets te koop.

Om by die mark te sit en met mense te praat is die maklikste deel seker ooit van die hele proses. Die voorbereiding, aan die ander kant, was nogals ‘n interessante een gewees. Ek het hierdie idee in my kop gehad van wat ek wou doen op die tafel. Ek is oortuig dit kom ook direk uit die Hemel uit, want vir die eerste keer kon ek dit wat in my kop was uitvoer en deurvoer en dit mooi noem.

Ek moes houtboksies afskuur met paint stripper bloot omdat ek nie NOG geld wou uitlê vir bemarking en props en wie weet wat alles nie. Ek het ‘n tafeldoek geleen. Ander goed uit my huis uit geneem. (Haai dit rym maar ek is nie besig met ‘n gedig nie). Nog goed gaan koop, en ‘n laaste ietsie weer gaan leen by iemand. Om te moes besluit HOEVEEL voorraad om te koop was nog ‘n taai toffie en tameletjie om deur te werk….

Ek het gedink, om die voorraad na te gaan, na ek dit gaan afhaal het, en te merk gaan vinnig gaan. Think again!! Dit het ure geneem en in die proses het ek BAIE geleer. Soos dat ek geld wil spaar vir ‘n klein barcode drukkertjie van ‘n aard. En maar tog my eie tafeldoeke wil laat maak, en ‘n pop waarop die voorskoot hang gaan koop. Om net ‘n paar te noem.

Ek het my day job, jy weet, die een wat die kos op die tafel sit, gedoen tussen alles deur en Donderdag voor die mark begin het, het ek 11 ure ingesit (in een dag ja) om daardie werk afgehandel te kry, voor ek myself die tyd gegun het om my website foto’s te neem van die nuwe voorraad en klaar voor te berei vir die Mark. Wat ‘n interessante aand was dit nie gewees nie. Min slaap, fliek kyk tussen merk en skryf deur, maar tog het ek dit, met die genade van God, gedoen en klaar gemaak.

Terwyl ek so by die mark sit en na al die mense kyk wat inkom, vang my oog die plakkaat wat ek gemaak het. Ek lees in Engels Flamingo’s are filter feeders…. ek gaan stop ‘n oomblik om te dink. Filtervoerders. Mmmm….dis interessant. Toe val dit in my gees soos wanneer jy ‘n muntstuk in ‘n spaarbussie gooi.

Die wêreld en alles om jou is vol GOED. Stuff, dinge. Sommige is goed vir jou en sommige is sleg vir jou. Die goed wat die lekkerste is, is nie noodwendig die beste vir jou nie. Maar ons moet mos soos flaminke wees. Ons moet FILTER wat ons inneem, sodat ons kan seker wees ons vere pienk word en so bly vir die Here. Ek gaan lees weer in die H.A.T. op – die betekenis van filter. Dit lui as volg: Toestel wat deur deursyging suiwer; suiweringstoestel, filtreerder. Wow. Dis vir ons om dit wat ons inneem, te suiwer. Die slegte uit te werp soos wat ‘n filter doen.

Wow. Die is vir my so ‘n interessante journey wat ek op is. Die Here openbaar alles stelselmatig vir my soos wat ek aangaan en die volgende tree blindelings gee om Hom te volg. Onvoorwaardelik. Met geloof soos ‘n kind. ‘n Mosterdsaadjie se geloof. Hoop op die onsienlike. Geanker in Hom sodat die winde van ongeloof my nie sal laat ronddobber soos golwe nie. Alles skriftuurlik.

I’m sold out….nananana Jesus….I’m SOLD OUT TO YOU!!! Dans die woorde weer in my kop. Die liedjie wat die Here vir my gegee het as die temalied vir alles – die hele Beroepsvrou ding. Ek luister hom gereeld maar tog onthou ek nie die woorde as ek nie die liedjie self hoor nie. Lang en kort is – ek is UITVERKOOP aan Jesus. Ek is soos die liedjie sê – ANDERS as ander mense. Geskape vir HIERDIE doel.

I ain’t like no one you’ve met before. I’m running for the front when they’re all running for the door. And I won’t sit down, won’t back out, you can never shut me up, ’cause I’m on a mission and I won’t quit now. In a world full of followers, I’ll be a leader, in a world full of doubters, I’ll be a believer. I’m stepping out without a hesitation. Because the battle’s already been won. I’m sold out, I’m no longer living just for myself. Running after Jesus with my whole heart. And now I’m ready to show I am sold out, I’m sold out!!!

Ek moet omtrent myself keer om nie die hele liedjie hier te tik nie. Maar ek is seker jy verstaan wat ek probeer sê. Die liedjie PRAAT net met my gees. Ek kan nie anders as om Pienk Vere vir die Here te hê nie en vir mense te vertel van dit nie. Ek bid dat al die saad wat gesaai is deur gesprekke, water sal kry van die Heilige Gees af en sal groei en versprei wanneer die tyd reg is vir daardie mense. Dankie Here dat U MY gekies het vir die doel en mag ek ALTYD die Here se naam GROOT maak.

The Market
Posted on Leave a comment

Die lied… slot

Ek het dit goed gedink om maar die slot hoofstuk te skryf. Die dae snel verby en die weke nog vinniger en ek wil nie dat die tyd my vang en dan het ek nie geleentheid gehad om die slot hoofstuk te skryf voor einde Maart nie.

Toe ek die stuk begin skryf het was daar nog twee weke van Maart oor. Nou is dit basies een week (ok minder as ‘n week). Ek wonder elke dag steeds hoekom die tyd so vinnig vlieg en of die Here ons tyd verkort hier omdat ons in die Verdrukkingstyd is?

Terug by die lied. Die ou duiwel probeer steeds my lied steel, en hy dink hy gaan reg kom. Maar, dis eintlik vir my skreeu snaaks as dinge so deurmekaar is soos wat dit soms is by ons, want dan WEET ek net dat ek op die regte pad is en dat díe is wat die Here wil hê ek moet doen.

My hart sing steeds verskeie liedere vir die Here, alles wat ander kunstenaars geskryf en getoonset het (is dit ooit ‘n woord wonder ek?) en dis asof ek nie genoeg Sy lof kan besing nie. Hy het, after all, die asem in my liggaam geblaas, so ek kan nie iets minder doen as om Hom te besing nie kan ek?

Dit voel hier en daar of my hart en gees ‘n eie lied vir die Here wil sing. Ek hoop maar Sy ore is nie toonhoogte sensitief nie, want my fisiese mens kan nou nie mooi sing in my opinie nie (al was ek in die skoolkoor en revue’s EN in ‘n studio om liedjies op te neem – wonder ek maar steeds of die juffrou my net gelike het en of het sy regtig potensiaal gesien in my sang vermoë?).

Elkgeval, ek giggel maar as ek dink aan hoe ek vir myself klink as ek sing; en hoe dit in God se ore moet klink; en of Hy daarvan hou; en of alles mooi op die regte toonhoogte moet wees of nie, vir Hom, voor Hy daarvan sal hou nie? Ek dink darem nie ek hoef perfek te sing vir Hom om dit te waardeer nie?

Ons is dan almal mense wat nie perfek is nie. As dit die geval was (perfekte sang) dan moet alles in ons lewens seker perfek wees voor Hy ons sal aanvaar, en dis vir seker ‘n leuen!! Die Here vat ons soos ons is, stukkend en propvol foute. Solank ons HOM aanvaar en Sy seun as Verlosser verklaar het oor ons lewens, is ons op die regte pad. En natuurlik moet ons dit uitleef elke dag ook en streef na heiligmaking (en minder dieselfde sondes doen oor en oor).

My lied sal altyd God se lof besing. Veral nou in Maart (‘n baie besige Maart vir my) as ek terugkyk na wat die afgelope jaar gebeur het i.t.v. my blog. Hoe ek gegroei het, hoe die Here net bygevoeg het en steeds byvoeg. Ek is so bitter dankbaar dat ek die eerste verjaarsdag kon vier op 23 Maart 2022. Dankbaar vir al die kennis wat die Here in my ingesit het en steeds doen.

Die wysheid wat Hy my gee en die mense wat Hy oor my pad stuur, net om alles nóg beter te maak vir Sy doel waarvoor Hy dit geskep het. Wat is jou lied? Het jy ‘n lied? Dit maak nie saak of jy kan sing of nie en of jy kan skryf of nie. Jy moet steeds SING vir die Here! Probeer die duiwel jou lied steel? As dit die geval is moet jy op en af spring van opgewondenheid, want dit beteken jy is op die regte pad!

Ek wil afsluit met ‘n paar liedjies wat op my hart is, wat ek oor en oor vir die Here sing. Liedjies wat ek kort-kort gaan soek en speel op Spotify, so terwyl ek my day job doen EN voorberei vir die Paasmark wat voorlê…vir die wat naby genoeg is, kom kuier by my stalletjie 1 tot 4 April 2022 by Gerber Plaaskombuis op Skeerpoort. Die eerste 7 aankopers elke dag sal ‘n gratis geskenkie ontvang…

En net so laaste dingetjie om heeltemal mee af te sluit – ek sluit my eerste twee blog inskrywings ook in as kort-pad skakels op die inskrywing. Net sodat ons almal kan sien waar ek was en waar die blog nou is – alle eer aan God!

Welkom by my blad
Die Naam….
The song… finalé
Posted on Leave a comment

Jy is… deel 2

Maandag 14 Maart 2022 merk die tweede dag wat ek die voorreg gehad het om voorskote uit te deel en studente meer te vertel van die Pienk Vere en wat dit simboliseer. Daardie oggend was ek al 3 uur wakker. Dit was seker opgewondenheid of senuwees (of beide) vir dit wat voorgelê het vir die dag.

Ek het ‘n afspraak by ‘n plaaslike skool, Hoërskool Bekker, gehad om ‘n 15 minute gesprek te hê met die Huishoudkunde (ek weet nou dit word deesdae Verbruikerstudies genoem) studente, almal in graad 12. Ek het elke klas individueel gesien, wat my seker gehelp het om gewoond te raak aan public speaking want ek het dit lank laas gedoen.

Ek dink die laaste keer wat ek moes praat voor mense was by ons troue en voor dit toe ek in Graad 12 was. Ek tel nou glad nie die afspraak wat ek in Januarie, by ‘n ander plaaslike skool, HaMaKom Privaatskool gehad het nie. Ek was so op my senuwees daar, ek kon glad nie onthou WAT ek gesê het daardie dag nie, maar ek het min of meer dieselfde storie vertel wat ek by Bekker vertel het.

Elkgeval, terug by my oorspronklike storie. Die eerste toespraak het goed gegaan. Dit het gelyk of ek almal se aandag gehad het en alles onthou het wat die Here op my hart gelê het. Soos wat die dag aangegaan het, het die volgorde van die toespraak effe verander, maar die kern van die boodskap het dieselfde gebly.

Die Verbruikerstudie juffrou, Marié Booyse, het bygevoeg tot dit wat ek gesê het, deur te sê dat die voorskote vir jou ook beskerming gee. Nie net fisiese (kos en olie kolle op jou klere) beskerming nie, maar ook geestelike beskerming. Dit was so waar en nog ‘n openbaring oor die betekenis van die voorskoot.

Soos wat die week aangegaan het, het ek aanhou dink oor wat Maandag gesê was. Dit is asof die Here dit in my gees laat val het dat die beskerming soortgelyk is aan die Borsharnas van Geregtigheid waaroor Paulus skryf in Efesiërs 6.

Dit was baie treffend vir my, want dit is waarvoor ek staan. Om te probeer regverdig (hier klink righteous net beter maar toemaar) en eties te wees, altyd, selfs wanneer niemand kyk nie. Ek het verder ook ‘n gesprek met my sister from another mister Dora (my huishulp as jy gewonder het). Sy het die goedjies gesien wat ek besig is om voor te berei vir die Paasmark wat ek gaan bywoon as ‘n Verkoper (begin April), waar ek my items gaan verkoop en myself beskikbaar gaan stel om te gesels en met mense te praat oor dit wat die Here op my hart lê om te sê.

Ok, so terug na die gesprek met Dora. Op die drukstukke wat ten toon gestel gaan word op my tafel by die mark, het ek ‘n paar vinnige feite van my seun se feiteboek oorgetik vir hierdie doel. Een van hulle was (en dis die vraag wat ek die studente gevra het Maandag) Het jy geweet dat Flaminke pienk is as gevolg van dit wat hulle eet?

Sy het my vertel dat dit haar nog meer laat dink het oor die hele Pienk Vere reeks en dat die Heilige Gees met haar werk die heeltyd oor dit. Gedagtes wat ek by die studente gelos het Maandag was – wat doen ons om onsself pienk te laat vertoon vir die wêreld? Ek en Dora het toe verder ‘n gesprek gehad oor waarmee ons onsself opvul deur te kyk, lees, luister en eet (ook iets wat ek die studente vertel het Maandag).

Die gesprek het toe gedraai na wat ek van hou om te verwys as, leë kalorieë (liewe aarde – ek ken nie my spelreëls so goed om te weet of hierdie woord een of twee e‘s in het nie…so verskoon maar die wat taalkundig is en weet…). In my gesprekke by Bekker, het ek verwys na wanneer mens te veel suiker eet en dan die heeltyd crash (die woord verduidelik net die impak van suiker vir my beter). Al my vriendinne weet ek hou daarvan om na skyfies, koekies en sjokolades te verwys as leë kalorieë. Goed wat propvol kalorieë is (wat ons vet maak net so tussen ons) maar wat voedingswaarde ontbreek om ons liggame te voed en op te bou na wat dit moet wees, soos God dit bestem het.

Weer was hierdie ‘n openbaring dat ons moet seker maak dat ons ons gees en gedagtes vul met goed wat nie leë kalorieë is nie. Waarna kyk, lees en luister jy? As jy binge (wat sou die Afrikaanse woord vir dit wees?) kyk, lees en luister na iets wat leeg is, gaan jy leeg bly en sal jy nie Pienk Vere kan produseer om die wêreld te wys dat jy ‘n kind van God is nie. Dieselfde is waar vir eet net so tussen ons, maar dit weet ons almal….

Na my gesprekke en oorhandigings aan die studente, was dit tyd vir foto’s. Die kinders het baie in hul noppies voorgekom oor hul geskenke en ek vertrou regtig dat, elke keer wanneer hulle die voorskote dra, nie net in graad 12 nie, maar ook wanneer hul klaar is met skool, dat hulle sal onthou waarvoor dit staan en simboliseer.

Al die eer aan God altyd!! Hy het die inspirasie gegee vir die voorskote, die visie aan my toevertrou asook die mense om die elektroniese logo te kan produseer en die voorskote. Sonder Hom sou niks van hierdie moontlik gewees het nie. Ek weet net diep binne in my hart, dat daar soveel meer aan die voorskote is as net ‘n voorskoot….soos ons reeds ontdek het en steeds gaan ontdek.

Net soos wat ek die inskrywing afsluit, besluit ek om die skrifvers wat deel vorm van my logo weer te gaan lees. Spreuke 10:21 Die lippe van die regverdige help baie mense reg; maar die dwase sterf deur gebrek aan verstand. Die engels stel dit so mooi en ek sit dit ook in, want toe ek die inskrywing begin het, het ek díe keer eerste in Engels getik en nie Afrikaans soos ek normaal weg doen nie. Dit was in Engels wat ek die openbaring gekry het. The lips of the righteous feed many: But fools die for want of wisdom. (KJV). Wow is al wat ek kan sê….hierdie sluit so aan by die nuutste openbaring oor die voorskote, wat jy jou liggaam, siel en gees voed en waarvoor Beroepsvrou staan. Al die eer aan God altyd!

You are… part 2
Posted on Leave a comment

Die lied… Hoofstuk 2

Ek wonder soms oor Maria. Hoe het sy gevoel nadat sy uitgevind het sy verwag die Messias? Jy sien, die Bybel vertel ons nie van haar emosies nie. Nie alles nie. Ons weet sy het ‘n lied gesing en was opgewonde oor dit waarvoor die Here haar gekies het.

Maar…was sy geskok voor die lied? Het sy verwerp gevoel deur die mense? Wat het hulle van haar gesê en gedink? Het hulle haar bespreek soos ons mense alte graag doen? Het sy ook wakker gelê in die nag? Geslaap vir net 3 ure en dan is sy wakker vir die res van die tyd terwyl almal om haar heerlik lê en snork?

Ek dink nie dit was maklik vir haar nie. Soortgelyk aan situasies waarin ons, onsself soms bevind. Jy sien, jy het dalk hierdie lied in jou hart oor dit wat die Here vir jou beplan en oor jou lewe gespreek het. Maar in ander opsigte en aspekte van jou lewe is daar nie noodwendig ‘n lied nie.

Ek dink soms wil die Here hê ons moet impulsief vir Hom wees. Goed doen net sonder om dit te overthink soos wat ek alte graag doen. Hom net vertrou. Al druk die lewe op alle ander vlakke dat ek voel ek kry nie asem nie en kan nie slaap snags nie. Al probeer die duiwel gereeld my lied steel…ek moet impulsief bly vir Hom.

Die lied wat die Here weer vir ‘n ruk al in my hart gesit het is Rooftops deur Kim Walker-Smith. Ek voel ek wil op die dakke staan en Sy naam uitroep, proklameer oor my lewe. Ongeag die werksvereistes en werksdruk. Ongeag die feit dat die duiwel die lied probeer smoor met alledaagse dinge in die lewe.

I shout out Your Name, from the rooftops I proclaim, I am Yours! Eggo die woorde deur my gedagtes. Ek sing dit sommer harder om die leuens wat die duiwel vir my in my kop vertel te probeer uitdoof. Ek het nou nie my eie persoonlike lied geskryf soos Maria nie, maar die een is vir my nagenoeg aan iets vir MY. Wat is JOU lied wat die Here in jou hart gesit het? Sing jy hom of laat jy toe dat die lewe se moeilik (kom ons wees eerlik, niks is meer maklik deesdae nie) jou liedjie onderdruk en versmoor?

Wat kies jy vandag? Ek kies om steeds te sing en te glo dat die Here Beroepsvrou en alles wat met dit saam gaan aan my toevertrou het. Dis wat HY vir my lewe beplan het. Hy het nie beplan vir my om nagte om wakker te lê en te bekommer hoe ek alles werksgewys gaan doen nie. Of dat ek lê en bekommer oor ons uitstaande debiteure en ons uitstaande skuld nie.

Daar gaan altyd seker maar iemand wees wat jou geld skuld en jy gaan seker altyd iemand anders geld skuld. Jy gaan seker nooit genoeg geld hê vir alles nie. Of genoeg tyd vir als nie. Die werk in ons bedryf gaan seker nooit makliker word nie en die deadlines gaan vir seker (nie net seker nie) daar bly. Gaan mens ooit genoeg geduld hê met jou kinders? Gaan jy ooit nie dae hê wat jy moedeloos voel as jy nie weet HOE jy jou kind gaan help deur Graad 7 nie?

Op die ou einde van die dag IS en BLY God in BEHEER van ALLES. Ons het nie beheer oor enige iets behalwe ons eie optrede en uitkyk oor die lewe nie. Hoekom dan nou nie dit maar met ‘n lied in die hart doen nie? From the rooftops I proclaim, I am YOURS!!!!! Sing ek sommer amplified en op sy hardste in my gedagtes, net om seker te maak die duiwel HOOR my.

The song… Chapter 2
Posted on Leave a comment

Die lied… Hoofstuk 1

So het Februarie 2022 gekom en gegaan. Nog ‘n sperdatum was oorleef. By tye het dit regtig gevoel of die ball & chain wat ek by die Accountant’s Inn gedra het swaarder was as wat hy veronderstel was om te wees. Sommige dae was moeiliker as ander. Ek het myself teen ‘n, wat vir my soos ‘n slakke pas voel, laat werk in Februarie, net om deur als te kom. Nie lang ure op een dag noodwendig nie, maar eerder meer dae in die week.

Skielik op 28 Februarie 2022,was dit asof ek kon voel hoe die sleutel in die slot gedraai word en hy vroeër as beplan losgemaak gaan word. Teen 12 uur die middag click ek submit op my laaste IRP 6 opgawe. Ek sit terug en dink by myself – HOE HET DIT GEBEUR? Dit het NOG NOOIT gebeur nie? Elke ander jaar tevore sit en werk ons dat die spoeg spat en tik dat dit al klank is wat jy in jou ore hoor eggo, saam met die muis se click geluide (ek wonder hoeveel keer click ‘n mens se muis daagliks?), soos wat ons spartel om alles betyds in te dien.

Ander jare dien ek gewoonlik hier teen 9 of 10 uur die aand die laaste opgawes in, soms nog later en net voor middernag. Ek onthou nog hoe my dogtertjie (nou 8) haar kussing en kombers gebring het en op die vloer by my geslaap het terwyl ek sit en werk. Maar skielik is daardie las net ligter. Ons almal kom teen ‘n redelike tyd in die bed.

Dit voel amper verkeerd, so asof ons iets of iemand vergeet het. Ons gaan weer deur die lysie – nee, niemand vergeet nie, almal ingedien. Ek besef opnuut dat ons die sperdatum gehaal het omdat ons ‘n stel hande het wat WERK en wat WEET wat sy doen. Iemand wat ons kan vertrou om werk en berekeninge akkuraat te doen. Haar kant te bring ongeag haar omstandighede.

So staan ek 1 Maart 2022 op, ek wil amper sê met ‘n lied in my hart. Die lied is nog nie daar vir my werk nie (alhoewel ek besef dat as ek nie werk nie, hierdie blog nie sal kan bestaan nie en natuurlik weet ek dat my werk in ons behoeftes voorsien), maar die lied is wel daar vir dit wat die Here vir my beplan en wat Hy vir my so stuk-stuk begin wys.

Dit alles terwyl ek Beroepsvrou se platform meer bemark en nuwe ontwerpe doen, en tussen werk deur. Ek sien ‘n kliënt die betrokke dag (1ste Maart) en sit nie eintlik by my tafel om te werk nie, dis maar net wat daardie dag gebeur het. Ek recover so bietjie van die amper 9 dae se werk aaneen (al is dit nie 7 of 10 ure elke dag nie, dis steeds werk elke dag) en vind net my voete in die volgende taak wat vir my lê en loer….en (on)geduldig wag tot ek dit afhandel.

Ek wonder die heeldag WAT die maand se skrif vers is, en kan dit wragties nie onthou nie. Uiteindelik skeur ek Februarie se vuil bladsy af. So asof die bladsy weerspieël HOE hard ek gewerk het deur ekstra vuil te wees. Waterkolle, ink wat smeer, jy noem dit, dit is hoe Februarie se kalender aan my kant gelyk het. So gaan sit ek UITEINDELIK weer en lees die vers, ek dink hoeka dit was eers 2 Maart.

Ek lees en vir ‘n oomblik maak dit nie sin nie. Ek wonder by myself HOEKOM op dees aarde het ek nou DAARDIE skrif gekies? Dit maak nie sin nie, die sin begin so stomp en in die middel van iets. Ek trek dadelik my foon nader en lees op die Bybel toepassing (hoe is daai vir ‘n fêncy Afrikaanse woord vir application?). Ek lees, maar steeds maak dit nie sin nie. Ek besluit om so paar verse vroeër te begin lees.

Uiteindelik het ek dit! Ek snap dit!! Ek kon nie ALLES inpas op die kalender nie, PLUS die skrif vers is op ‘n sleutelhouer wat ek een keer gekoop het. Dit was vir my so mooi hoe dit op die sleutelhouer was en daarom dat ek hom gekies het. As jy dalk wonder hoe ek nou nie die skrif wat EK gekies het kan onthou nie – ek het Oktober / November 2021 laas aan die ontwerpe gewerk.

Ses jaar se tyd, voel dit vir my, het sedertdien in die kort rukkie van ongeveer 6 maande verloop. My brein kan net nie elke liewe detail onthou nie. Goed, so terug by die skrif vers. Ek begin lees van vers 45 af. My oog vang die opskrif net onder vers 45 – Die loflied van Maria. Sjoe, dis nou vir jou interessant. Ek voel of ek ‘n lied in my hart het, en hier is die skrif ook ‘n lied wat deur Jesus se Moeder gesing was. WOW dis nou vir my toevallig, of is dit? Maar ek weet dadelik met God is NIKS ooit toevallig nie.

Lukas 1: 45-49 Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Afrikaans 1983 vertaling.

Hier is soveel meer aan hierdie skrif as wat ek kan dink of besef….ek voel amper ek moet dit versie vir versie opbreek en analiseer. Daar is soveel krag hierin. Soveel beloftes vir my en vir elkeen wat glo en staan op dit wat die Here openbaar aan my en hulle oor dit waarvoor ons geroep is.

Word vervolg…

The song… Chapter 1
Posted on Leave a comment

Die soet woorde…Slot

Alóha hier vanuit die Accountants Inn. Wag, Alóha klink te eksoties, so asof ek vir die see sit en kyk (wit sand en turquoise water se eksoties) terwyl ek werk aan al die berekeninge, die speed dating van belasting soos ek na voorlopigebelasting verwys. Miskien moet ek eerder sê Modimôle, Modimôle soos die Lekkeslaap advertensie? Dit klink amper meer realisties van waar ek myself bevind….en nie dat ek nou dink Modimôle is ‘n tronk of minder eksoties nie….ek is seker julle verstaan wat ek bedoel.

Alle grappies op ‘n stokkie. Hierdie sal my slot hoofstuk wees. Februarie is kort, die druk hoog en die werk astronomies baie en ek gaan heel waarskynlik na die inskrywing nie weer tyd kry om ietsie te publiseer oor die maand se skrif vers nie.

So….ek wil afsluit deur te sê dat ek een ongelooflike interessante maand gehad het as ek terug kyk en aan die skrif vers dink. Jy sien, my soet woorde was self aangeval ook. Nie net dit wat aan my toegesnou was nie, maar dit wat ek geuiter het. Gemoedere loop hoog, spanning is baie, die lewe gaan aan en ek moet net cope met alles.

Dit was vir seker nie maklik nie en ook nie maanskyn en rose heel maand nie. Maar ek het vir seker geleer en gegroei in die proses. Ek weet ek moet dink voor ek praat, veral as ek gefrustreerd is met iets en ‘n gespek oor iets anders met iemand na aan my het. Ek moet nie dat my frustrasies oorspoel in daardie gesprekke toe nie.

Dis vir seker makliker gesê as gedaan en ek weet nie of my woorde aldag seritonien bevat het soos wat heuning bevat nie. Maar die Here het my gewys wat ek verkeerd doen sodat ek kon repent en omvergifnis vra en leer uit my foute uit. Dis mos deel van die heiligmakingsproses is dit nie?

Ek wil afsluit deur te sê dat ons woorde wat ons uiter, ons voor rekenskap gaan moet gee eendag voor die Here. MAAR Hy het BAIE genade vir ons en as ons Hom omvergifnis vra vir dit wat ons verkeerd gedoen het, vergewe Hy ons en is dit asof dit nooit gebeur het nie. Wat ons wel moet onthou, is om op te hou sonde pleeg en werklik ons rug op dit te draai en te bekeer. Ons moet ophou met slegte gewoontes soos slegte woorde.

Dit vat 21 dae om ‘n gewoonte te breek, as ek 1 Februarie begin het met dit, moet ek teoreties teen Maandag 21 Februarie of Dinsdag 22 Februarie dit afgeleer het…maar, ons maak nie aldag sulke doelbewuste besluite in slegte gewoontes nie, want dit is nie iets wat vir my elke 5 minute gebeur of elke uur nie. Nie soos wanneer ek probeer slegte eetgewoontes reg kry nie. Nee, vir my is dit sporadies en op random tye maar kan seker maar gesien word as gewoonte, omdat ek altyd dieselfde optree in dieselfde situasies.

Ek moet nou net leer uit my foute en my toets slaag. Want ek gaan hom vir seker aanhou skryf tot ek hom regkry! Al vat dit meer as 21 dae….ek groet nou tot volgende maand en wanneer ek oor volgende maand se skrif skryf! Alóha hier vanuit Accountants Inn. (Alóha is mos hallo en totsiens in Hawaï is dit nie?)

The Sweet Words….Finalé
Posted on Leave a comment

Die soet woorde… Hoofstuk 2

Soos wat die besige maand vorder dink ek steeds aan die skrif. Dit laat my verder dink aan hoekom Salomo na heuning verwys het en hoekom dit as genesend is in die teksvers.

Natuurlik gaan gryp ek my foon en google die medisinale waarde van heuning. Dis nou nogal interessant hierdie feite wat Mevrou Google toe nou vir my uitspoeg…

Dit bevorder immuniteit. So dit hou jou lyf fisies gesond. Dis interessant. Ek lees verder – dit bevorder serotinien. Nou seritonien is die feel good hormone wat jou gelukkig laat voel (onder andere) en die spesifieke hormoon reguleer ook ‘n hele rits ander goed.

Dit bevat anti-oksidante, verminder stress en angs, is anti-bacterial (by gebrek aan ‘n beter woord in Afrikaans – die Afrikaanse woord klink tog so formeel) en nog ‘n hele rits ander goed soos ek dit nou verstaan.

Dit was vir my interessant om al hierdie feite te lees. Salomo het vir seker nie google gebruik toe hy hierdie skrif geskryf het nie. Nee, hy was die slimste mens ooit op aarde en dit was die Goddelike wysheid waarmee die Here hom geseën het. Wow. Wat ‘n awesome revelation oor hierdie teks en heuning!

Soet woorde is so genesend soos heuning…so dan moet die teenoorgestelde dan waar wees? Afbrekende woorde is soos siekte wat jou verdor en dood maak as jy aanhou luister na afbrekende woorde (en aanhou om dit te uiter). Laat mens dink nê….?

Word vervolg….

The sweet words… Chapter 2
Posted on Leave a comment

Jy is…

“Jy is wat jy eet.” Hoeveel keer het ek nie al daai lyn gehoor nie? Dis amper soos die advertensie van die laat 80’s – Farmer Brown se hoenders. “Hul lyk so goed want hul eet so goed.” Kan ek nou nog die oom se stem hoor. Ek verbeel my dit was so ‘n rasperige stem, maar ek kan verkeerd wees.

Nie te min, rasper stem of de not, daardie lyn het my altyd by gebly. Ek het selfs in latere jare gespot oor my lyf deur te sê “Ek lyk so goed want ek eet so goed!” Want kom ons wees eerlik. Enige iets verfynd en soet en ongesond is mos maar die lekkerste!

Maar so gebeur dit ‘n paar jaar gelede, dat die Here nog iets vir my wys toe ons een aand deur die kanale spring (soos wanneer popcorn wat gemaak word en spring) en vir ‘n vlietende oomblik op een of ander absurde realiteitsprogram afkom. Liewe aarde, ek wil net gou myself onderbreek, maar daardie was ‘n lang sin met min leestekens! Ek is skoon uitasem gelees….

Soos wat ons vir hierdie mense kyk, almal wat soekende is na iets maar nie weet wat nie, laat val die Here in my gees You are because I am. Dit was in Engels. Ek sit so oomblik en dink….dis waar! Die Here verwys mos in Moses se tyd na Ek is wat Moses gestuur het na Farao toe.

Spring vorentoe na 2020 en 2021 toe (ek weet eintlik nie meer wanneer het wat gebeur nie want als is ‘n blur). Iewers daar het ek op my eie Facebook blad iets soortgelyk gesit soos die stuk wat ek nou skryf, en dat ons is omdat God is. Maar later van tyd het die Here dit nog so bietjie uitgebrei vir my.

Jy is wat jy eet, wat jy dink en wat jy praat. En net so val alles in plek in my kop (ek kan ook nie eintlik verduidelik HOE dit gebeur nie, dit doen net). Liggaam, siel en gees. Jy is wat in jou hart omgaan (daar is mos so ‘n skrif iewers in Psalms as ek dit nie mis het nie?). Jy is wat jy in jou gedagtes dink (en dan praat). Jy is wat jy fisies eet.

Die mag van lewe en dood lê in die tong – so sêg die Bybel ook…so ons moet waak teen wat ons spreek, want dit manifesteer gewoonlik in die vlees ook….en eintlik begin dit wat ons praat met dit wat in ons harte omgaan doen dit nie? Maak dit sin wat ek sê?

En ek reken uit hierdie Goddelike gedagtes (nie ek nie maar God vir seker!) is waar Beroepsvrou ontstaan het. Ek het vir JAAAARE gedink EK wat Elsie is, is die enigste een wat nie elke oggend met ‘n lied in my hart en voëltjies wat buite NET vir my fluit wakker word nie. Jy weet soos Sneeuwitjie wat fluit en dan kom die voëltjies en doen wat ookal vir haar. Ek het gedink dis hoe dit moes wees….

Ja ek weet, dis ‘n fairy tale wat propvol leuens is, maar gee my darem krediet. Ek het al voorheen gesê ek voel soos ‘n late bloomer wat sulke goed aanbetref (ek het darem nie nou eers tot hierdie besef gekom nie, seker maar vroeë 30’s as ek nou regtig ‘n tydlyn vir jou moet trek en nee ek het nooit gedink die voëltjies sou my werk vir my doen nie). Nou om terug te kom Beroepsvrou toe….dit wat jy is pas vir my eintlik so mooi in by die hele Beroepsvrou tema, die Pienk Vere Reeks en waarvoor ek staan.

Pienk Vere vir die Here. Jou gees (en seker maar siel) mens word gevoed met dit wat in jou hart en gedagtes omgaan. Vandaar die Pienk Vere vir die Here…maar wat die Here vir my gewys het is dat die voorskoot eintlik die voorloper was vir die hele Pienk Vere reeks.

Wanneer jy ‘n voorskoot aantrek, is jy besig om ander mense te bedien met kos. So dubbele betekenis met die voorskoot. Maar jy is ook besig om iets voor te berei wat jou liggaam moet voed (jy moet jou tempel wat die Here vir jou gegee het mos oppas – DIT staan ook in die Bybel!)

Dit voel vir my of ek deurmekaar praat hier maar ek glo die Here gaan al die toutjies bymekaar trek sodat diegene wat dit lees sal verstaan. Ons moet ook konstant ons gedagtes vernuwe en vul met God se woord sodat ons harte nie swart word nie, ons monde nie vloeke spreek nie en ons gebeentes nie uitdroog van dit wat ons spreek nie.

Van die os op die jas en weer by die voorskote – onlangs het ek die absolute voorreg gehad om ‘n plaaslike skool se Verbruikerstudie kinders te seën met voorskote (absoluut in opdrag van die Here) en ek het verder die absolute voorreg gehad om hulle vir 5 minute (ok dalk 10 minute ek is nie seker nie) te bedien en meer te vertel van Beroepsvrou en die Pienk Vere….

Ek kan nie regtig onthou wat ek gesê het nie en dit het gevoel of ek deurmekaar gepraat het, maar ek glo dat daar saad iewers gesaai was en dat dit sal opkom wanneer die tyd reg is…ek weet ook dat ek besig is om te groei en te leer en dat die Here absoluut die woorde in my mond sal sit wanneer ek die volgende skool gaan bedien en seën met voorskote.

Die gevolgtrekking wat ek wil maak van die stuk is, jy is wat jy eet, jy is wat jy dink en jy is wat jy praat. Dit wat in ons lewens manifesteer is absoluut in ONS hande. Dit is eintlik AL waaroor ons beheer het. Wow, wat ‘n wonderlike revelation (by gebrek aan ‘n beter Afrikaanse woord wat nie so treffend is soos die Engelse woord nie). Ek weet dit al lankal, dat dit is waaroor ons beheer het in hierdie wêreld, maar die Here het alles vir my so mooi bymekaar kom sit en afgerond met die blog en die Pienk Vere reeks…

Alle eer aan God altyd! Mag die blog altyd dit wat die Here in my hart plant deurgee en mag dit NOOIT oor myself gaan nie!! Hy inspireer my, gee my die kennis en wysheid en die talente en visies om te doen wat besig is om te gebeur…

You are…
Posted on Leave a comment

Die soet woorde… Hoofstuk 1

Voor ek begin skryf, wil ek net sê, ek weet die foto aan die begin van die artikel is die Januarie bladsy op die tafel kalender (deskpad). Uiteraard kon ek nou nie elke maand se kalender afneem nie want dit sou beteken dat die voorraad se kwaliteit geaffekteer sou word….en ek kan nie myne afneem nie want hy is al vol geskribbel met nota’s….

En vir iemand (dis nou ek) wat skepties was oor die deskpad en gewonder het of ek hom wel gaan gebruik, word die ding nogals baie gebruik. Nou ja, nou dat ek daardie admin afgehandel het kan ek begin skryf oor die maand se teks.

Spreuke 16:24 – Vriendelike woorde is soos ‘n heuningkoek: soet vir die siel en ‘n genesing vir die gebeente. Toe ek laas jaar die skrifverse gekry het vir elke maand en dit op die kalender geplaas het, sou ek nie kon raai hoe van toepassing dit wel sou wees in elke maand nie.

Jy sien, Februarie is ons besigste maand. Dis finansiële jaareinde. Redelike rowwe tyd as ek nou so daarna kan verwys. Min slaap, lang ure en die gewone lewe tussen als deur (selfs ‘n verjaarsdag op die 7de Februarie – ‘n dag waar daar ‘n sperdatum op is waarvan ons nie kan wegkom nie). Ons kinders weet al maar ek wonder tog of hulle regtig verstaan? En of ons besig is om skade te maak by hulle? Met die dat ons so werk, werk en nogmaals werk.

Goed so jy wonder seker nou hoe die skrif met Februarie gekoppel word? Jy sien, wanneer mens nie onder druk is nie, is dit maklik om die skrif uit te voer en deur te voer. Dis wanneer mens onder druk is dat dit nie altyd maklik is nie. So uiteraard is Februarie ‘n druk maand so die uitdaging met die teks voel vir my of dit groter is nou…

Maar, dis ook nie noodwendig wanneer ONS druk ervaar wat ONS moet versigtig wees met ons woorde nie. Vir my is dit baie keer wanneer ons NIE soet woorde van kliënte af ontvang nie, wat dit seer maak. Jy weet, daai woorde waar elke stukkie iets wat jy altyd met soveel deeglikheid gedoen het, afgebreek word en gekritiseer word.

Wanneer alles wat jy nog ooit vir iemand met integriteit gedoen het afgebreek word na niks. Waar beskuldigings rondgeswaai word (ja jy raai reg, dit het weer die afgelope week gebeur soos soveel keer tevore). Dis dan wanneer ek aan die skrif dink. Want wragties, dan is die woorde nie soet vir die siel nie en ook nie genesend vir die gebeente nie.

Word vervolg….

The sweet words… Chapter 1
Posted on Leave a comment

Die Bybelse Beroepsvrou – Slot

Soos wat ek die inskrywing maak, kyk ek na die datum en ek sien dis einde Januarie 2022! Hoe het dit gebeur? Ons was dan nog gister in Desember, met verlof, besig om voor te berei vir 2022 se skooljaar wat begin en poof net so is dit einde Januarie….

Nou ek kou en oordink die stuk van Debóra al die heel maand lank, eintlik al langer. Maar nie te min. Ek het vrae oor haar (dit voel soos duisende vrae). Antwoorde wat ek nie ooglopend kan sien uit die skrif uit nie. Het mense haar met respek behandel of het hulle met haar gemaak soos hulle met my soms maak? Dis iets wat ek nie weet nie…

Wat ek wel gesien het, is dat sy GEWERK het TERWYL sy profeet was. So met ander woorde – sy het nie VOLTYDS in die bediening gestaan nie. Nee, sy het haar day job ook gehad waaraan sy moes aandag gee.

Nou dit antwoord vir my nogals baie oor die vrae wat ek het en gehad het. Vir so lank het dit vir my verkeerd gevoel om te werk en nie te kan voltyds doen wat ek voel die Here wil hê ek moet doen nie.

Die lang en die kort wat ek nou tussen die lyne lees van hierdie bybel vers is, sy moes tyd gemaak het om met die Here te spandeer om te kan profeet wees. Dis nie iets wat net gebeur nie. Sy as mens moes moeite gedoen het om by die Here te hoor wat Hy wou gehad het sy moes doen. Hierdie is nou my eie afleiding, maar dis logies en maak sin.

Die les wat ek geleer het van Debóra? Dis ok om as vrou te werk en ‘n beroep te beoefen. Dis ok om nie voltyds in die bediening te staan en siele te wen vir die hemel nie. Dis ok om nie in Afrika te moet ingaan en van een blikkie kos per maand te oorleef en te sukkel sonder lopende water as ‘n sendeling nie (dit was nou glad nooit wat ek in my hart gevoel het nie maar jy verstaan wat ek bedoel). Dis nie vir almal beskore om op DAARDIE manier siele vir die hemel te wen nie.

Mens kan dit doen TERWYL jy werk en jou beroep beoefen. Ek vir een, sien mense heeldag en aldag (ok nie so baie nie maar ek het baie kontak met mense en die buite wêreld). Hoekom kan ek nie die posisie wat die Here my in geplaas het gebruik om sy evangelie te verkondig nie? Daar is mos nie iets fout met dit nie?

Dan kom alles weer terug na my werk en my blog toe. Alhoewel dit vir my bitter lekker is om te blog (want hier voel dit vir my of ek ingeprop word met die Here se stem en kan HOOR wat Hy vir my sê), is dit ok om te werk ook. Die geheim is, ek moet TYD maak om met Hom in Sy woord te spandeer. Ek moet TYD maak om te blog want deur dit te doen, HOOR ek Sy stem. Ervaar ek Hom op ‘n manier wat ek nie anders kan nie.

Die blog is vir seker nie ‘n stokperdjie of iets wat ek doen vir die lekker en vir sommer-net se sommer nie. Dis ook nie my uitlaat om my te laat cope met die lewe nie. Nee, dis MY manier om tyd met die Here te spandeer. Hy weet ek kan nie vir ure sit en bybel lees nie, of prentjies teken in my bybel nie, of bybelstudie doen op die maniere wat ander mense dit doen nie.

Nee, hierdie, saam met die Pienk Vere reeks deskpads is MY manier om tyd saam met Hom te spandeer. Baie mense vra my, en lewer kommentaar oor dat hulle nie verstaan en weet HOE ek alles reg kry nie. Die enigste verskil tussen my en hulle is – my manier van tyd met die Here spandeer is op ‘n publieke platform, op ‘n plek waar almal dit kan sien. Hulle sin is privaat waar niemand dit kan sien nie.

En ek sê nou nie dit om iemand te laat sleg voel nie, want mens se tyd met die Here is tussen jou en die Here. Maar vir sommige mense, vir sommige van ons, het Hy geroep om anders te wees. Dinge op ‘n ander manier te doen. Nie soos meerderheid mense dit doen nie. Want hoe gaan ons almal ‘n verskil maak as ons almal dit op dieselfde manier doen?

Vir die eerste keer sedert ek die Pienk Vere reeks begin het (ja, die mal plan soos ek daarna verwys en waaroor ek gistermiddag nog gewonder het hoekom ek dit gedoen het) verstaan ek nou beter hoekom die Here juis dit SO bestem het. Dis nie noodwendig vir enige iemand anders nie. Dis vir myself om tyd saam met Hom te spandeer. En as ek iemand kan help, motiveer, bystaan deur dit, soveel te meer.

Dit staan mos in die woord dat ons moet getuig, want ons getuienis is wat God gebruik om mense red (of iets soos dit – hierdie het ek nou wragties uit die vuis uit onthou wat moontlik verkeerd is – ek sal wel vir myself dit gaan opsoek en seker maak ek kwoteer nie skrif heeltemal verkeerd nie). Belangrik om te onthou is dat die Heilige Gees altyd die oortuiging gaan doen, nie ons as mense nie. Ons getuienis is AL wat ons het om God se woord en wonderdade te verkondig. Kom ons gebruik dit!

Tot volgende maand….

The Career woman from the bible – grand finalé
Posted on Leave a comment

Die Bybelse Beroepsvrou – Hoofstuk 3

Toe ek laas jaar die Pienk Vere reeks ontwerp het en skrif verse gekies het vir elke maand van die deskpad kalender, het ek ervaar die Here sê ek moet blog oor elke maand se skrif wat gekies was.

Ek het dit gedoen sonder om te huiwer en steeds nie lekker geweet HOE ek dit gaan doen nie, hoe gereeld ek dit gaan doen nie of waaroor ek gaan skryf nie. Ek het by myself gedink ek gaan seker net een inskrywing maak oor die skrif.

Maar hier is ek nou, besig met hoofstuk 3. Veral die skrif oor Debóra is vir my interessant gewees, want hoeveel kan mens nou skryf oor die bietjie wat ons kan lees in die Bybel? En dis nou waar die Lewende Woord van God in kom. Jy sien, hoe meer jy dit lees en hoe meer jy daaroor dink (ek doen dit heeldag en aldag terwyl ek werk) hoe meer openbaar die Here vir mens.

Vrydag was ons by ons kinders se interhuis atletiek. Dit was interessant en nuut vir ons, want dis mos ‘n nuwe skool en ons is so bietjie uit dit uit wat sulke aktiwiteite aanbetref. Langs ons onnodige groot geleende gazebo was daar ‘n ouerpaar onder ‘n strand sambreel.

Ons nooi hulle toe om die skaduwee van die groot gazebo saam met ons te deel as die son te veel raak. Aanvanklik het hulle wel in ons gazebo se skaduwee gesit langs aan en soos wat die son oorskuif het hulle toe wel langs ons gesit.

Op ‘n stadium (voor ons almal onder die skaduwee gesit het), sien ek die vrou se laptop is aan en sy sit met oorfone op. Sy het ‘n virtuele vergadering. Sommer so langs die atletiekveld. Ek besef dadelik dat ek nie alleen is om al die balle in die lug te hou nie.

Ek weet dit lankal reeds, maar dis asof die Here dit net weer vir my kom wys. Almal het een of ander uitdaging. Meerderheid vrouens is deesdae Beroepsvrouens. Almal het ‘n rol wat hulle vertolk.

Almal kan identifiseer met Debóra wat ‘n Beroepsvrou was. Almal staan aan die begin van die nuwe werksjaar, skooljaar, wat ookal die nuwe jaar vir jou beteken – almal staan voor hom en moet weer in die ritme van dinge kom. Soms voel mense of hul alleen is en die enigste een is wat voel soos hulle voel.

Daarom dat Debóra se skrif gekies was vir Januarie. Om almal net so bietjie te help en te ondersteun. Om te weet jy is nie alleen nie. Ons almal wat vrouens is wat in beroepe staan het een of ander uitdaging.

We are not alone! Weet dit net, jy is nie alleen nie! Almal voel soos hul voel by tye en dis ook ok. Die belangrikste is om God se soek in alles en in Sy rus in te beweeg. As ons in Sy rus is, val alles in plek. Dit is wel makliker gesê as gedaan, veral as jy soos ek is en als probeer beplan en reg doen sonder foute die eerste keer….

Slot volg…..

The Career woman from the Bible – Chapter 3
Posted on Leave a comment

Die Bybelse Beroepsvrou – hoofstuk 2

Nou soos wat ek self probeer spartel en cope met ons nuwe roetine (die roetine is rof met vroeg op en alles net 1 of 2 ure vroeër probeer doen EN die inskrywing het my ‘n goeie week gevat om klaar te maak tussen als deur), wonder ek by myself oor Debóra. Het sy kinders gehad? Ek kan nie dit sien uit dit tot ons beskikking in die Bybel nie.

Sy het wel ‘n man gehad – dit weet ek. Wat ek ook raak lees is dat sy ‘n leier was. Hoekom sê jy sy was ‘n leier? Vra jy dalk. Wel, sy was ‘n regter en regters vertolk rolle van leierskap.

Maar die grootste van dit alles is dat sy ‘n profeet was. Wow. Dis groot. Profete het hierdie special konneksie met die Here, (my opinie) nie dat ander normale mense dit nie het nie – ek glo jy verstaan wat ek hier probeer sê. Maar in daardie tyd het die Here slegs met die volk gepraat deur profete…

Ek spring weer terug na realiteit toe, na 2022 toe. Ek wat Elsie is, kan NIE myself met Debóra vergelyk NIE. Wat ek wel kan doen is om te probeer leer en verstaan wat sy gedoen het in die Bybel en dalk so ietsie van dit te probeer toepas in my eie lewe.

Ek sal vir seker ‘n interview met Debóra wou gehad het. Ek dink ek sou haar gepeper het met vrae. Hoe voel jy na ‘n lang dag se werk? Word jy moeg? Raak jy ongedullig (die korrekte spelling gee net nie die hoeveelheid ongeduld deur in my opinie nie) met jou man (en kinders)? Raak jy gefrustreerd met jou werk?

So gaan die lysie aan en aan. Ek dink die belangrikste waarmee ek vandag wil afsluit oor Debóra is dat sy ‘n doodgewone mens was (ek lees nêrens dat sy met goue tande en sy-agtige hare gebore was nie). Nee sy was net ‘n mens…wat bereid was om God se instrument te wees.

Debóra was ‘n vrou, ‘n leier, ‘n profeet. Sy was God se instrument wat Hy gebruik het om met die volk mee te praat….net soos wat ek die inskrywing finaliseer en klaar getik het, ry ek een middag agter ‘n kar. Die skrif op die kar? Jer 1v5 – nie Jeremiah in Engels of Jeremia in Afrikaans nie. Nee net so verkort soos hy hier geskryf staan.

Ek gaan lees die skrif vers in die Bybel. Ek dink ek was soos een van daai cartoon karakters wie se kakebeen tot op die grond oopgeval het. Dit lees as volg: Voordat Ek jou in die moerderskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig, Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak. (Afrikaans 1953 vertaling).

Wow dit is net vir my bevestiging en sluit so mooi aan by die skrif vir hierdie maand. Die Here het ons elkeen gekies nog voordat ons gevorm was om te wees waar ons vandag is. Om te doen waarvoor Hy ons geroep het. Dis GROOT. Ons kan nie God in ‘n boksie plaas nie, tog probeer ons soms dit doen….

Word vervolg ….

The Career woman from the Bible – chapter 2
Posted on Leave a comment

Die Bybelse Beroepsvrou – hoofstuk 1

Sedert ek kinders gehad het, het my behoeftes en prioriteite drasties verander. Net ‘n nuwe ma met ‘n voltydse werk en beroep kan weet waarvan ek nou praat (nie dat ek sê dat iemand wat die absolute voorreg het om hul kinders voltyds groot te maak het geen idee nie – maar jy sal beter verstaan soos wat jy lees). Daai moederlike instinkte wat oombliklik inskop wanneer jy die baba die eerste keer hoor huil.

Vir soveel jare het ek hierdie redenasie gehad oor HOEKOM ek ‘n Beroepsvrou is. Geredeneer dat die vrouens van die Bybel nie heavy jobs gehad nie…..of so het ek gedink….tot een aand in 2021 terwyl ons lees uit die Bybel uit vir ons kinders.

So lees ons vir Debóra raak….ek merk toe dadelik op dat sy ‘n groot en verantwoordelike rol vertolk het. Sy was ‘n profeet EN ‘n regter. Sy moes oordeel fel oor die volk. Jitte, dis ‘n GROOT verantwoordelikheid. Selfs in die Bybel se tye was dit heavy in my opinie. Om ‘n profeet te wees is ook ‘n groot verantwoordelikheid! En sy moes beide doen!

Ek kan nou nie bepaal of opmerk uit die res van die Bybel uit of sy moes studeer om die rol te vertolk nie en ons sal seker nie weet nie. Ek weet eintlik glad nie HOE mense navorsing doen oor mense in die Bybel nie. Waar begin mens lees en soek? Hoe weet jy wat is die waarheid?

So ek gaan maar al die tegniese vrae oor hoekom en waarom van Debóra daar laat en maar net kyk na wat die Bybel vir ons vertel en wat ek ervaar en voel die Here vir my vertel hieroor. Die skrifvers wat ek op die Januarie 2022 deskpad kalender gesit het is Rigters 4:4-5 – dis waar ek die eerste keer van Debóra gelees het.

As jy hierdie lees, die flaminke opgemerk het op die deskpad kalender foto by hierdie artikel en STEEDS nie weet HOEKOM flaminke nie, nooi ek jou uit om die Pienk Vere kategorie te gaan lees op my blog. Dit sal vir jou meer sin maak en meer insig gee. Goed, terug by die skrifvers vir die maand van Januarie 2022.

Nou wonder jy seker HOEKOM ek hom gekies het en wat is die tema vir die res van die jaar? Kom ek antwoord die eerste vraag….Debóra het ‘n beroep gehad, ‘n kwalifikasie van ‘n aard. Ek kon met haar vereenselwig en identifiseer in ‘n mate – ek staan in ‘n beroep en het ‘n hele rits kwalifikasies en grade (ja dis verskriklik om dit nou so te noem – maar as jy ‘n CA en RA is, dan gebeur daar eers so twee grade voor dit, saam met ‘n hele rits ander goed, net vir die wat nie weet nie).

Ek weet ander beroepe het ook hul vereistes om vir jare te studeer en praktiese opleiding te doen, en so meer. So ons is nie alleen nie! Elkeen moes hul deel doen om te wees waar hul is vandag en om hul beroep te kan beoefen. Laat ek nou vir jou vertel – dis geen grappies nie en HARDE werk!!! En dis waar die innerlike konflik begin tussen jou beroep en om ‘n ma te wees – ek voel ek moet een kies…..en een op gee. Om op te gee as ‘n ma is heeltemal buite die kwessie….maar wil ek my beroep opgee? Die een wat bloed, sweet en trane gekos het om te bekom?

Dit daar gelaat, die ander vraag tussen die vrae, hoekom juis die skrif vir Januarie? Wel, ons almal is die tyd van Januarie nog so bietjie in ‘n vakansie luim. Sommige van ons berei onsself mentally voor om die 10de Januarie 2022 weer te begin werk. Ander het reeds al die afgelope week begin werk. Maar ons almal staan in ‘n beroep en ons moet onsself weer reg ruk en voorberei om te KAN funksioneer soos voor die vakansie. Erken dit nou maar – om buite roetine te wees is nie lekker nie! Selfs ons huishond Fudge is buite roetine!

So die lang en die kort is, ek het gekies om die jaar af te skop met ‘n Beroeperige iets, net sodat ons almal kan identifiseer met die skrif en maar net weer onsself reg kry vir die jaar wat voorlê. Ek hoop dit maak nou sin wat ek probeer sê hier?

Die tema vir die jaar is Pienk Vere en die is die Pienk Vere reeks wat ek reken deel gaan word van Beroepsvrou se blog en alles wat daarmee saam gaan. Ek het nie Beroepsvrouens gekies as tema nie, maar eerder skrif wat ek dink gekoppel kan word om Pienk Vere vir die Here te wys.

Ons staan in verskeie beroepe, nie net CA’s en RA’s nie. En soms is dit bitter moeilik, veral as vrouens, om aan te hou dat die wêreld kan sien ons is witwarm vir Jesus en dat ons vere wel mooi pienk is vir Hom.

Soos ek vroeër gemeld het, het ek vir lank gedink die vrouens van die Bybel het nie amptelike beroepe gehad nie. Word vervolg…..

The Career woman from the Bible – chapter 1
Posted on Leave a comment

Die Pienk Vere reeks – die aanlyn winkel

Na wat voel soos ‘n ewigheid (wat eintlik net ‘n week was sedert ek my eerste advertensie gedoen het) is die aanlyn winkel REG! Ek het dit met my eie twee hande gedoen en laat ek jou vertel, dis nie noodwendig moeilik nie maar dit vat tyd.

So tussen alles deur die afgelope week, onder andere die belastingopgawe sperdatum wat ek aan moes aandag gee, het ek tyd gemaak en daaraan gewerk en kan ek nou trots sê dat ALLES – digitaal asook fisiese items, is nou beskikbaar op hierdie blad.

Na ek my advertensie vrygestel het laas week Sondag het daar sommer heelwat Whatsapp boodskappe deur gekom van mense wat belangstel en bestellings via Whatsapp wou deurgee. Die positiewe reaksie het my absoluut oorweldig en het my genoodsaak om DADELIK ‘n boodskap met instruksies te stuur in die lyn van dat ek slegs per e-pos bestellings sal neem en dat voorraad slegs op bestelling aangekoop gaan word.

Vinnig is daardie voorneme by die voordeur uitgewaai met die tornado genaamd Realiteit. Jy sien, die Realiteit is, dat ek nog ‘n bestelvorm moet ontwerp en hoe moet dit lyk??? Hoe maak EK seker dat EK nie verkeerde goed bestel nie? Hoe kry ek dit by mense uit? So maal al die vrae deur my kop.

Net toe ek weer op moedverloor se vlakte sit (wat baie was tydens die projek) por die Heilige Gees my aan. Jy kan nie so ver kom en NOU moed op gee nie. Daar is REGTIG mense wat SAL baat hierby. Jy moet deur druk.

Ek deel my mismoedigheid met iemand baie na aan my (sy is meer soos my klein sussie of vriendin as ‘n werknemer), en sy vertel vir my dat sy in die week gelees het dat God does not call the equipped, He equips the called. Ek sit vir ‘n oomblik stil en lees dit. Ek verstaan en hoor, maar tog stuur ek ‘n boodskap terug met emoji gesiggies wat strome trane huil want dis net hoe ek voel.

Ek besluit om voort te beur en net te ophou dink aan HOE ek alles gaan doen en HOE dit gaan werk. Die Here sal wragties nie so iets net uit niks uit laat gebeur as ek dit nie kan hanteer nie. My antwoord aan almal as hulle vra maar hoekom en hoe het die reeks ontstaan, is my antwoord dood eenvoudig – dit het net gebeur. Ek het dit glad nie deurdink nie. Net gedoen. As ek daaroor gedink het, sou ek dit vir seker nie gedoen het nie.

Ek los julle nou op ‘n nat koue Saterdagmiddag vanuit Noord-Wes (dit reën by ons as jy gewonder het). Gaan kies die menu bo, gaan browse deur my winkel en bestel as jy dit op jou hart voel om iets te bestel. As jy in die Harties omgewing is, kies collection opsie met die uitteken proses en ek sal jou kontak en by jou uitkry wanneer ek in die Harties omgewing is. Diegene wat in die Magalies, Hekpoort, Skeerpoort en ander omliggende areas is kan ook die collection opsie kies en dan sal ons ‘n datum afspreek wat dit afgehaal kan word by my.

Ek plaas eerskomende Maandag, 29 November 2021 my eerste bestelling by die drukkers. As alles goed gaan en hulle het nie load shedding nie (iets waaroor ek nou nog bid ook want ek weet net die Here sal my nie teleurstel nie) behoort ek dit binne 5 tot 7 werksdae na dit te ontvang, dus rondom 7 of 8 Desember 2021.

Ek gaan dan die week daarna, 6 Desember 2021 weer ‘n bestelling plaas sodat dit weer teen middel Desember 2021 reg sal wees. Dit sal my laaste bestellings en lewering vir 2021 wees, so moet nie uitmis om jou werkspasie vir 2022 mooi te maak nie, of om die laaste klein ietsie “geskenkerigs” te kry vir Kersfees nie!

Alle eer aan God en die Heilige Gees wat my deurentyd gelei het in die proses. Sonder Hom sou ek NIKS kan doen nie, want ek is vir seker nie so tech-savvy soos mense wat die vir ‘n lewe doen nie. Verskoon asb. die Afrikaans en Engels gemeng op die blad (by die “menu” opsies), ek werk daaraan om al die hoof bladsye nog te vertaal sodat alles in beide Afrikaans en Engels daar is.

The Pink Feathers range – the online shop
Posted on Leave a comment

Die Pienk Vere – die bevestiging

Kan ek vir jou vertel hoe het Mnr. Twyfel probeer om die Pienk Vere te vertrap en te verpletter in my gedagtes sedert ek die voorbeelde gaan afhaal het by die drukkers laas week? Hy kom en saai twyfel tussen dit wat die Here op my hart gelê het, en amper, net so bietjie AMPER het die twyfel onkruid opgekom en die Pienk Vere verdruk.

Vanoggend sit ons in die kerk, by Doxa Deo Hartbeespoort kampus. Kobus Windt marsjeer oudergewoonte op en af op die verhoog (by gebrek aan ‘n beter woord vir daar waar hy nou eintlik op staan – ek sien dit as ‘n verhoog en is nou nie seker of daar een of ander fêncy woord is wat ander mense sou gebruik nie). Hy is passievol en gebruik voorbeelde wat mens mee kan vereenselwig om te VERSTAAN wat die Here vir jou probeer sê.

Hy sê mos altyd – as jy in ‘n garage slaap maak dit jou nie ‘n kar nie, net so is dit van toepassing op ons Christenskap. Jy kan nie NET Sondae kerk toe kom en jouself ‘n Christen noem nie. Jy moet dit UITLEEF. Vandag se boodskap was geen uitsondering nie en het vir seker weer God se boodskap oorgedra.

Die naam van die Reeks wat behandel word is Reageer. Ons moet reageer op God se stem. Soos wat ek sit en luister en nota’s maak in my boekie, hoor ek hoe die Heilige Gees met my praat en die onkruiddoder spuit op die twyfel plante wat probeer opkom. Hy druk op my hart om te sê “Dit is wat Ek wil hê JY moet doen.”

Net vanoggend toe ek regmaak vir kerk, kom twyfel weer en probeer weer net nog ‘n ietsie vir oulaas saai in my gedagtes. Die gedagte? Hoe kan die Here JOU gebruik, regtig? Jy kry dan amper niks in jou lewe reg nie? Jou YouTube video’s wat jy gemaak het, het jy dan self ‘n “epic fail” genoem en daaroor gelag. Wat maak jou so “special” en anders as ander mense? Jy ken dan nie eens die Bybel boeke in volgorde uit jou kop uit nie. Nie eens te praat van die Bybel nie.

So gaan die gedagtes aan en aan. Maar die Here is getrou. In die diens kom bevestig Hy vir my wat dit ís wat ek moet doen. Ek moet díe doen, ek het ‘n demografiese area van mense, Beroepsvrouens, wie die Here wil bereik. As ek dit nie gaan doen nie, wie gaan dit dan doen?

Vir die eerste keer sedert ek die blog begin het, praat die Here met my deur ‘n Afrikaanse liedjie. Terwyl Kobus afsluit, stap die worship (worship klink net so mooi vir my) span op die verhoog. Carindé sing in haar nagtegal stem Stuur My, so passievol, jy kan sommer sien sy loop oor van die Here. Hy nooi ons uit, as jy voel jy wil ‘n impak maak op ‘n sekere demografiese omgewing, staan op terwyl hulle dit sing.

Ek wil amper dadelik opstaan, maar is soos gewoonlik self-bewus. Hoekom weet ek nie, want NIEMAND in die kerk kyk wie staan op en wie sit nie. Ek vra my man of het ek reg gehoor – mag ons opstaan? Hy antwoord my nie dadelik nie, sit met sy oë toe en luister en aanbid die Here. Na ‘n rukkie hoor ek hom sê – jy mag opstaan.

Ek staan op, en die oomblik toe ek dit doen, ervaar ek die Heilige Gees tasbaar in my wese. My oë skiet vol trane. Nie hartseer trane nie, net trane wat ek GEEN beheer oor het nie. Uit ervaring WEET ek net, dis die Heilige Gees. Ek is op die regte pad, ek doen wat die Here van my verwag om te doen.

Met dit gesê, sluit ek af met wat ek dink beter YouTube video’s is. Korter video’s wat elke item individueel verduidelik. Ek is besig om die pryslyste uit te werk en gaan dit net doen. Ek gaan nie tegnies raak en my Rekeningkundige skills probeer toepas en allerhande gekompliseerde formules probeer bereken nie. Ek gaan net die Here vertrou. Hy sal dit laat gebeur soos dit moet. Dit gaan in elkgeval oor Hom en nie oor my nie, so waaroor twyfel ek?

The Pink Feathers- the confirmation
Posted on 1 Comment

Die Pienk Vere Reeks – die YouTube advertensie

Met hoë verwagtinge het ek hierdie perfekte plan in my kop gehad om ‘n YouTube advertensie te maak van die Pienk Vere Reeks wat besig is om te verander in iets wat net ‘n gedagte en droom was na iets tasbaar en werklik.

Kan ek net vir jou vertel? Daai ballon propvol verwagtinge was in ‘n oogwink gebars met die spelt genaamd REALITEIT. Jy sien, ek het ‘n day job ook wat ek moet handhaaf, so ek het nie tyd om te sit en speel op sagteware programme om goed te edit tot dit perfek en reg is volgens dit wat in my kop is nie.

Ek het die Engelse weergawe van die video seker nagenoeg 10 keer (dit voel soos 500 keer en was dalk nie eens so baie as 10 keer nie maar vir seker meer as 3 keer) probeer opneem. Elke keer as ek lekker op spoed is, dan stap iemand in, of iemand skree iets uit ‘n ander kamer uit (ons almal doen dit so geen judgement hier nie), of die foon lui, of die hond blaf te hard of die pappagaai raas te veel of die karre ZOEM net te hard en vinnig verby.

Gister oggend, toe die huis stil was en almal weg was iewers heen, toe besluit ek dis nou SO. Ek probeer sedert verlede Saterdag, na ek die proewe opgetel het, om die video te maak en kry dit net vervlaks nie reg nie. Gister was dit nou die spreekwoordelike D-dag. Ek neem hom op (eers vir die hoeveelste keer in Engels) en Afrikaans slegs een keer en ek het besluit dis dit. Ek doen hom nie weer nie. Hy word so aan die wêreld bekend gestel net soos hy is want dis hoe dit is.

Ek nooi jou uit, as jy op Facebook is (ek sukkel regtig nog met Instagram en julle mag my nie veroordeel vir dit ook nie), om my blad te gaan like en voel vry om die inskrywing te deel met ander of net die YouTube video. Ek is ook besig om die winkel op Facebook op te stel en hoop wragties hulle het dit nou goed gekeur, as dit nie goedgekeur is nie sal ek ‘n ander plan maak om bestellings te neem.

Met dit gesê sluit ek hierdie inskrywing af. Ek hoop nie ek word te veel veroordeel vir my poging tot ‘n YouTube video nie. Dit is my eerste keer en ek is nie een vir die kamera kyk en praat en goed nie, so julle sien nie my gesig nie maar sal darem my stem kan hoor……

The Pink Feathers Range – the YouTube advertisement
Posted on Leave a comment

Die Pienk vere – digitale platform bekendstelling

Hierdie gaan seker die kortste inskrywing nog wees! Na wat vir ewig gevoel het, het ek een van die eerste platforms gekoppel gekry en live gekry om te kan bekendstel….

Die naam van die platform is Buy me a Coffee….op hierdie platform gaan digitale ontwerpe bekend gestel word.

So sonder om nog verder iets te tik – kies die skakel hier onder en gaan besigtig my verwelkomingsblad (dit is daar slegs in Engels gedoen).

Die digitale ontwerpe is in beide Afrikaans en in Engels – so moet nie bekommer nie, die Afrikaans gaan nie verlore nie….dis net makliker om op hierdie platform in Engels te kommunikeer….

Met dit gesê – gaan geniet dit wat beskikbaar gestel is!

https://www.buymeacoffee.com/Beroepsvrou/welcome-page-768866
The Pink Feathers – digital platform launch
Posted on 1 Comment

Die Pienk Vere – Slot hoofstuk

Dis tyd vir die Grand Finalé! Drum roll please…..Die oomblik waarvoor almal stil-stil gewag het en net een persoon, Lynn Grobler, bereid was om uit te vra op Facebook…..The great reveal! Die rede vir die lang wag sal jul wel beter verstaan soos wat julle die inskrywing lees….

Met dit gesê, kan ek maar ophou kripties wees en voel ek dat ek nou kan PRAAT met ALMAL oor dit wat die Here op my hart gelê het! Die Pienk vere was eintlik net ‘n clue van die nuwe seisoen van Beroepsvrou en wat deel gaan word van die logo en net alles wat saam met dit saam gaan.

Laas naweek het Francis Hartzer (Woordkuns) reg geraai waaroor die pienk vere gaan. Maar ek het probeer bluf, ek weet nie of ek dit reg gekry het nie. Dis ‘n Flamink. Jy sien, deesdae is ek net vir een of ander rede versot op Flaminke. Die pienk en die mooi trek net my aandag.

Ek het een van Woordkuns se Bible journaling kits gedoen wat ‘n Flamink in gehad het. Maar dit was voor ek so Flaminke begin opmerk het. Op daardie stadium, toe ek die bladsy gedoen het, het ek hierdie vooropgestelde idee gehad dat ek NIKS in my nuwe Illustrating bybel gaan plak nie. NEE ek gaan net verf en teken.

Ha ha, grootste grap ooit! Want toe woon ek die Adorned kamp by en toe is dit verby. Ek het oor my vooropgestelde idee gekom. Nou Francis se kit het ‘n flamink plakker in gehad wat jy kan plak op die bladsy.

Die skrif van die kit? Jesaja 60:1-2. Hoe meer ek die skrif lees, hoe meer verstaan ek hoekom sy die assosiasie met die Flamink gemaak het en hoekom ek daardie skrif gebruik in hierdie projek en self verder die konnetasie met Flaminke kon maak. Daardie is net een van hierdie GROOT en Powerful teksverse.

Die oorhoofse boodskap in my baie geheimsinnige projek kom uit Kolossense 3:23-24. Doen jou werk ALTYD asof vir die Here en nie vir mense nie. Want, jy dien die Here al rapporteer jy aan ‘n mens. Dis nou my vereenvoudigde vertaling van die skrif en wat EK uit dit neem.

Die blog is tog Beroepsvrou nie waar nie? Ons almal werk vir iemand. Sommige vir onsself maar eintlik vir kliënte, ander vir base, ander is tuisteskeppers. Maar op die ou einde van die dag het ons almal iemand aan wie ons rapporteer op aarde. Maar God is bo alles op aarde, so eintlik rapporteer ons aan Hom.

Die doel van hierdie inskrywing is om die kriptiese boodskappe te ontrafel en bekend te maak. Sooooo…..met dit gesê. Dit wat die Here op my hart gelê het om te doen, is om artikels te druk en te bemark met skrif op – gerig op Beroepsvrouens. Ongeag wat jy doen. Of jy voel jy is net ‘n sekretaresse of jy is net die grootbaas van ‘n organisasie. Net so tussen ons – niemand is net iemand nie. Jy IS iemand.

Elke maand van 2022 gaan ‘n bepaalde teksvers hê en dan het die Here dit op my hart gelê om te blog daaroor. Meer in diepte in te gaan oor dit. Die mense wie die Here wil bereik is ALLE beroepsvrouens, en, selfs al sit jy nie pal agter ‘n rekenaar nie, is daar tog ietsie wat jy sal kan gebruik.

Ek het probeer dink aan ‘n rympie vir 2022, maar kon aan niks in Afrikaans dink nie. Jy sien (en die moet jy nou engels lees anders gaan dit glad nie sin maak nie) – 2020 was the year of plenty – wat opgeëindig het in plenty of washing, plenty of school work, plenty of everything we did not have planned.

2021 was geen uitsondering nie, maar ek het dit proklameer as 2021 the year we get things done. En dit was toe so gewees! Is steeds! Goed wat ons in en om die huis nooit by uitgekom het nie, het gebeur, sommer vroeg in Januarie al. En as ek terug kyk na die jaar wat verby is, en met net so bietjie minder as 2 maande oor om nog doelwitte te bereik, staan ek in verbasing oor alles wat gebeur het.

Wat is my rympie vir 2022? Kyk ek het gedink en gedink. Al wat ek mee kon opkom, was iets wat ek uit ‘n kinderrympie onthou van toe ek groot geword het, wat klaarblyklik niemand anders ken nie (my man het my vreemd aangekyk toe ek dit sê en nog iemand – ek kan nie onthou wie nie).

2022 Buckle my shoe (van die rympie – One two, buckle my shoe, three four, knock on the door….) . Ek sit vir lank en dink daaroor, hoekom buckle my shoe? Toe val dit net so in my gees. Ons moet ons skoene van ons wapenrusting aantrek en vasmaak. Jy moet die Skoene aantrek van bereidheid om die Evangelie van Vrede te verkondig sodat jy kan vas staan teen die aanslae van die vyand. Efés 6:15 as jy gewonder het waar dit in die Bybel staan…

Terug by die items wat gemaak gaan word – die mikpunt is om ‘n A3 tafelkalender (deskpad) te druk (hy is die een wat die skrifverse op gaan hê). Dan sal daar nog ‘n notaboek wees, ‘n mousepad (ek weet nou wragties nie WAT dit in Afrikaans is nie – ‘n muishuis klink nie reg nie), ‘n klein kalender wat soos ‘n tent staan (wat hoeka ‘n tent calendar genoem word) en natuurlik bietjie digitale goedjies ook om jou rekenaar en selfoon te versier. Op die Adorned kamp het die Here dit ook op my hart gelê om voorskote te laat maak en borduur en ek is opgewonde om te sê die eerste (klein) besending het gearriveer!

Ek sal nog ‘n meer in diepte blog doen oor die agtergrond van hoekom ek WAT gekies het, anders is die net te lank om te lees. Maar, hier is ‘n fun fact oor Flaminke. Een wat ek uit my seun se een feite boek uit gekry het (hy was van kleins af versot op feite en is nogsteeds).

Weet jy hoekom Flaminke se vere so pienk is? Daar is Betakaroteen in hul kos. As hulle na ‘n ander plek met ander voeding sou skuif, sal hul vere grys word. Flaminke in dieretuine kry wortelsap om hul vere pienk te hou. Bron: Helen Lewis se Vinnige Feite.

Dit bring my by die volgende ding wat die Here in my gees laat val het – sommer net so sonder dat ek te veel daaroor gedink het. Waarmee vul jy jou gees op? Vertoon jy grys vir die wêreld? Hoe PIENK is jou vere vir die Here? Eet jy baie geestelike kos wat jou vere pienk hou of eet jy min of niks wat dit vaal en grys laat vertoon?

Jy moet nou onthou, jy kan nie elke dan en wan ietsie geesteliks inkry nie. Dis ‘n konstante voeding wat sorg dat die vere pienk bly. Ek vra weer – hoe pienk is jou vere vir die Here? I am SOLD OUT….dans die woorde weer deur my kop. My vere is beslis PIENK vir die Here en ek is UITVERKOOP om Jesus te volg. Altyd. Ongeag die omstandighede.

Ek sal binnekort die platforms bekendstel waar die betrokke items aangeskaf kan word (ek werk nog daaraan en daarom dat die slot hoofstuk so bietjie langer geneem het om te publiseer) en wil nou nie hierdie soos ‘n Verimark advertensie laat klink nie….But wait, there’s MORE! Met dit gesê sluit ek die Grand Finalé af en weet ek sommer net dat almal so opgewonde sal wees oor dit wat pas bekend gemaak is, soos wat ek is!

The Pink Feathers – The Grand Finalé
Posted on Leave a comment

Die Pienk Vere – Voorlaaste hoofstuk

In a world full of followers, I’ll be a leader! In a world full of doubters I’ll be a believer! I am stepping out without a hesitation ’cause my soul is like a stadium! Nananananana na naananana (woorde wat ek nie kan onthou nie en saam sing op die maat van die musiek)…..I’m SOLD OUT!!!

So loop en sing ek die liedjie van Hawk Nelson se Sold Out vir dae, nee wag weke. Elke keer as ek by my rekenaar sit, gaan soek ek die liedjie op Spotify en speel hom. Ek dans lekker saam in my stoel terwyl ek hom luister en my day job doen.

Ek gaan Google die woorde. Lees dit. Jitte maar dit voel vir my of hierdie liedjie geskryf is net vir my, vir hierdie geheimsinnige projek wat ek bietjie vir bietjie met die wêreld deel…Dis net soos in, WOW. Ek kan nie anders as om so te voel nie. Ek is totaal uitverkoop aan Jesus! Was nog altyd maar nou NOG meer as voorheen.

Elke keer as Twyfel in my ore iets probeer fluister, gaan lees ek die skrif wat die Here vir my gegee het vir die projek. Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis. Jes. 43:18‭-‬19 AFR53.

Met so ‘n magtige skrifvers, hoe kan mens enigsins DINK aan Twyfel en luister vir hom? Dan dink ek aan die ander bevestiging wat ek ontvang het. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Jer. 29:11 AFR53.

Wow! Met dit gesê stoom ek voort met die projek. Op ‘n mission soos mens sou sê….I am SOLD OUT…..nannnannanna nana SOLD OUT! Sing ek verder terwyl ek werk aan die projek….Die Here gaan die pad maak in die Wildernis!

Grand finalé volg

The Pink Feathers – Penultimate chapter