Posted on Leave a comment

Genesing

Toe ek groot geword het, het ek nie eintlik oor genesing gedink nie. Nie een van ons in ons huis was sieklik nie. Daar was af en toe ‘n verkoue of ‘n ding maar nooit iets ernstig nie. As dit so bietjie groter as ‘n verkoue was, sou ons dokter toe gaan om die probleem uit te sorteer.

Ek het nooit besef dat ons genesing van God af kom nie. Of omdat dit is dat Jesus aan die kruis vir ons gesterf het nie. Ja ek weet, dit klink stupid om dit so te sê, maar dis hoe dit vir my was. Seker maar ook die exposure aan godsdiens wat gemaak het dat dit is hoe ek dit ervaar het. Dis bloot ook seker maar net omdat ek nooit die bybel op daardie manier gelees het nie, as dit nou sin maak. Ek het altyd gedink Jesus het net doodgegaan sodat ons hemel toe kan gaan.

Maar, daar is meer aan Sy kruisdood as net hemel toe gaan. Ek sê nou nie dit so dat dit klink of hemel toe gaan nie eerste prys is nie! Natuurlik is dit eerste prys, maar daar is soveel meer vir ons ingesluit in die kruisdood van Jesus. Weereens toe ek die verse vir 2023 gekies het, het ek nie in my wildste drome gedink hoe relevant November 2023 se vers sou wees op my lewe nie.

Ek weet, ek klink nou al soos ‘n vasgehaakte plaat as ek dit sê. Ook as ek verduidelik hoekom November se skrifvers inskrywing laat is. So ek sal maar nie weer uitbrei nie. Ten minste skryf ek dit, al is dit meer as twee maande laat…Terug by die Bybel vers. Die Engels sê dit vir my so mooi. For by His stripes we are healed. Wow. Elke liewe sweep slag op Jesus se lyf, elke hou wat Hy gevat het, was vir ons. Vir elke liewe mens op aarde. Nie net vir my nie. En ook nie net vir ‘n uitgesoekte handjie vol mense nie.

Ek kan nie help om te wonder, en dit klink nou vreemd as ek dit so sê, maar ek gaan dit sê dan kyk ons hoe werk dit uit. Ek wonder, toe Jesus op die kruis was, en as ‘n hou uitgedeel was, of Hy in Sy gedagtes met my gepraat het en gesê het Elsie, hierdie een is vir jou. Vir die diagnose van September 2023. Vir alles wat jy moet deurgaan in die hele proses. Sou Hy met ‘n volgende hou en ‘n volgende hou, elke keer aan my gedink het met alles wat ek al deur is in my lewe? Hierdie een is vir jou nierpyp ontsteking toe jy 5 jaar oud was, mangels, miskraam, buisswangerskap, gekraakte werwels van die kar ongeluk, verslaapte nek, arm, hand…..so kan ek aangaan met my lysie.

As Hy dit van my gesê het meer as 2,000 jaar terug, het Hy dit van elke liewe mens op aarde gesê. Sjoe, dis groot. Hy het oor al die eeue heen elke liewe persoon se siekte wat daar al ooit was, op Hom geneem met elke sweep slag. Dis groot. Het jy al ooit so daaraan gedink? Net die ander dag, ry ons vir die soveelste keer Milpark hospitaal toe. Ons roete neem ons verby ‘n begraafplaas. My man Heinrich lewer kommentaar dat hy nie kan glo dat daar nog plek is vir mense om begrawe te word nie. Ons sien wat lyk soos nuwe grafte. Ek antwoord hom met ‘n vraag en sê, ek wonder hoeveel mense was al ooit op hierdie aarde. Van die begin van tyd af tot nou toe.

Ek los toe maar daardie vraag net daar, want ek dink nie iemand weet nie, en as daar ‘n syfer is, sal ek dit nie kan uitspreek nie want daar gaan soveel duisende, honderde, miljoene, biljoene wees. Ek gaan wragties nie weet waar om te begin nie. As ek so daarna kyk dan kan my brein nie om God se grootheid kom nie. Dit kan nie begryp oor hoe baie Jesus vir ons gedoen het nie.

Vir ‘n paar jaar nou al, wanneer ek bid, beveel ek siekte in die Naam van Jesus om weg te gaan. For by His stripes, we are healed. Jesus het dit klaar kom doen. Die siekte kan nie anders as om weg te gaan nie. Wanneer ek kyk na die uitslae van die sonar wat in November gedoen is, en dat die gewas met 6 mm reeds kleiner is, dan word ek net weer herinner dat God het hierdie. Al is die ander sonar mates weer anders na dit – wat ek aanvaar normaal is omdat die ding besig is om dood te gaan en van vorm te verander. Die genesing is nie in die medisyne of die dokters nie. Dit is die instrumente wat daar vir ons gestel is om genesing te ontvang. Vir seker kan die Here hierdie ding wat in my liggaam geidentifiseer is, oombliklik genees. Ek weet diep binne in my, dat daar ‘n groter doel met alles is. Wat dit is, kan ek nie vir jou sê nie.

Net tyd sal leer. Ek weet wanneer ek gaan terug kyk na hierdie tyd, wanneer alles verby is, gaan ek in verbasing staan oor God se hand in alles. Ek weet ek is genees. Die Here het dit reeds kom doen. Ek gaan nou deur die proses, want dis waar God my wil gebruik. Ek vertrou dat ek doen wat die Here wil hê ek moet in die proses. Vir seker huil ek steeds baie. Ek is net ‘n mens. Met emosies en na die Beeld van God geskape. Ons lag ook baie. Probeer so normaal as moontlik funksioneer. Maar meeste van alles is die gebed. Ek bid baie, bestraf kort-kort die gewas en die geswelde limf kliere. Beveel die ding om in die Naam van Jesus nou weg te gaan. For by His stripes, we are healed...

Posted on 2 Comments

God se perfekte tyd

Toe ek in Mei 2022 die skrifverse gekies het vir die 2023 jaar se reeks tafel kalenders van Beroepsvrou, dink ek, het ek gevoel dat die skrifvers van toepassing is op September maand. Bloot omdat die seisoen begin draai en bome nuwe blare uitstoot, blommetjies opkom en alles lewe kry na die winter. Wel, wat ek gedink het van toepassing is, is toe nou glad nie so nie. As jy dieper gaan lees in hierdie skrifvers in, veral in die Amplified weergawe, sal jy beter verstaan.

Die Here breek die maand se skrif vir my so mooi oop, en nou is ek dankbaar dat ek nie vroeër in die maand hieroor geskryf het nie. Want ek sou dit gemis het. Met alles wat gebeur in ons lewe, en hoe vinnig alles verander het, sonder dat ons dit beplan het, iets wat voel soos maande, maar in werklikheid net 3 weke is, is waar die eintlike betekenis van die skrifvers vir my inkom. Kom ek verduidelik.

Die Amplified weergawe, praat van He has also planted eternity [a sense of divine purpose] in the human heart in hierdie vers. Nou dit voel vir my tref kolskoot vir wat ek hier binne my voel. Jy sien, sedert September 2021, het ek hierdie ding wat druk op my hart. Daardie ding het gemanifesteer en Beroepsvrou se Pienk Vere ® reeks is gebore. Iets wat ek nie kon verduidelik nie, maar tog voort gedruk het mee. Iets wat ek nie eintlik tyd voor het, in ‘n baie besige, oorvol skedule nie. Tog druk ek voort met dit.

My man het nie lekker verstaan aan die begin nie en ek het nie geweet hoe om dit vir hom te verduidelik nie. Ek het voortgegaan met dit, sonder dat hy wel verstaan het wat aangaan en hoekom ek voel wat ek voel. Nou, twee jaar later, verstaan ek hoekom ek gevoel het wat ek voel. Dis nie ek wat my eie hartsbegeertes nagejaag het nie, dis die Here wat my doel in my hart geplant het. Die Divine Purpose soos die Amplified dit noem.

Die volgende ding wat vir my uitstaan, ook uit die Amplified uit, is die woorde in hakkies – a mysterious longing which nothing under the sun can satisfy except God. Jy sien, niks wat ek gedoen het, het vir my meer reg gevoel nie. Ek het nie geweet hoe om dit in woorde oor te dra vir my man nie. Maar tog het ek voort gegaan met dit. Ek het hierdie hunkering gehad na iets wat net deur die Here vervul kan word. Daarom ook dat ek die skryf ding doen en tyd MAAK vir dit. Want deur dit voel ek of ek my doel waarvoor ek geskape is begin uitleef.

Tussen alles deur, bly die Here dit druk op my hart. Ten spyte van woes besige tye in my werk, met sperdatum op sperdatum. Nog admin wat op my gelaai word a.g.v. verandering in wetgewing. Dit voel soos chaos in my day job (a.g.v. die vinnige veranderinge in wetgewing en ek wat nie kan byhou met alles nie), maar wanneer ek sit en skryf en iets vir Beroepsvrou doen, voel ek hoe die chaos verdwyn. Dis net vir my bevestiging dat ek is waar ek moet wees.

Die laaste ding in die vers wat ek wil uitwys – ook in die Amplified weergawe – yet man cannot find out (comprehend, grasp) what God has done (His overall plan) from the beginning to the end. En dis waar ek nou is. My brein voel te klein om enige iets te probeer uitredeneer oor wat die Here se plan is met alles. Met my, die diagnose, Beroepsvrou, alles. Ek raak kinderlik opgewonde oor wat voorlê maar tog terselfde tyd verskriklik nervous want dis GROOT. Die grootheid van alles is wat benoude oomblikke veroorsaak, maar ek weet, dat ek weet, wat ek weet, dat die Here dit ook onder beheer het. Soos alles in my lewe.

Ek kan nie help om te wonder of ander ook voel soos ek voel nie? Of hulle ook voel of hulle geroep is vir iets groters as dit wat hulle elke dag doen? Ek kan nie help om te dink dat die Here elke jaar in September groot goed in my lewe laat gebeur nie. September is ons huweliksherdenking maand. September 2021 word my lewe onherroeplik verander op ‘n Bible Journaling kamp, waar die Here vir my op so ‘n unieke manier bevestig het dat my sussie en haar man Nieu-Seeland toe MOET trek (dis wat Hy wil hê) en waar ek my huile gehuil het en werklik verander was van wie ek was voor die kamp.

September 2022 word ek genooi vir ‘n radio onderhoud op Radio Kansel. Die hoogte punt van my lewe tot dusver, naas ons troudag, kinders se geboortes en ander groot life events. En nou in September 2023, waar ek deur die vuur gaan, met God aan my sy, besig om nog ‘n transformasie te ondergaan. Dis hier waar iets groters besig is om te ontvou, iets wat my brein nie kan begryp nie. Ek kan nie help om te dink aan die begin van Prediker 3:11 nie – Alles het Hy mooi gemaak op Sy tyd.

Posted on Leave a comment

Geloof en die werke wat saam met dit gaan

Die klok in ons sitkamer lui sy deuntjie net voor hy op die uur slaan. Dis 1 uur die oggend. Die hele huis slaap. Met die uitsondering van my en die hamsters. Ek sit en luister hoe die hond se asemhaling heerlik diep ingetrek word soos wat sy seker maar skoenlappers in haar drome jaag. Of miskien dalk eerder ‘n Hadeda, die worshonde en Hadida’s het hoeka ‘n stille oorlog verklaar tussen mekaar op ons werf.

Die gepiep van die babahamsters is meer hoorbaar noudat die huis tjoepstil is (die hamster wat my seun gewen het by die kerk se basaar begin Augustus het kleintjies gekry sonder dat ons besef het sy is dragtig – is dit nou die regte woord om hier te gebruik?). Dan sit en dink ek aan al die werk wat gedoen moet word. Die ekstra werkslading wat onbeplan op ons gegooi is deur verandering in wetgewing. Net so, boom, is ons deel van die FICA trein. Een wat ek nie eintlik op wou klim nie. Maar hier is ek nou. Oppad FICA land toe, met al sy akronieme en goed wat steeds my kop laat draai.

Ek kry nie my lê nie en ook nie my sit nie. Ek probeer regop sit en slaap maar dit voel ook onmoontlik. Een of ander infeksie in my lyf hou my uit die slaap. So asof ek dít ook nog nodig het, bo op alles. Geswelde limfkliere is toe nou nie vir sissies nie. En ek voel soos ‘n sissie. Ek moet keer of ek wil kort kort huil van die ongemak wat ek ervaar. Die frustrasie om nie 100% gesond te wees nie.

Ek probeer sin maak van waar dit vandaan kom, maar besef die tekens van die infeksie was lankal daar, ek was net nie wakker genoeg om dit te kon identifiseer nie, en het hoe ek gevoel het, afgeskryf as spanning, uitputting en min tot geen slaap. En ouderdom, ek het regtig in my kop begin dink, dis seker maar hoe mens begin voel as jy ouer word? Veral toe ek by die weeklikse Cross Fit sessies al hoe stadiger begin beweeg, minder rondtes begin doen as normaal. Ek het gedink dis hoe dit is! Jou kragte word minder, ten spyte van gesonder leefstyle, oefening en wie weet wat nog alles. Ampertjies het ek dit net aanvaar as die norm, wanneer dit eintlik glad nie die geval is nie!!

My kop draai na die maand se skrifvers toe op die desk pad. Dan wonder ek hoekom ek die jaar, elke keer eers die laaste naweek van die maand by dit uitkom? Hoekom begin ek nie al vroeër in die maand hieraan werk nie? Ek wonder oor my ontwerpe vir 2024. Of ek moet voortgaan met ontwerpe van desk pads en tent kalenders na 2024? Of ek ‘n arend tent kalender ook moet doen vir mans? En ‘n desk pad? Ag ek weet nie! Als voel oorweldigend.

Te moeg om eintlik verder te kyk op my foon se skerm, besluit ek om eerder met ‘n uitgeslaapte brein en oë, die ding aan te pak en te skryf oor die maand se skrif vers. Dis nou as ek kan geslaap kry, bygesê. Na wat voel soos die langste nag in die geskiedenis van mense, met slaap wat my seker die meeste ontwyk, is dit Saterdag. Hier sit ek nou, agter my rekenaar. Ek moet werk. Ek wil eintlik craft en skryf. Die naweke voel te kort vir als wat ek wil doen wat my tenkie vol maak vir die week wat voorlê.

Ek besluit om maar eerder my verpligting na te kom en te werk eerder as skryf. Hier is ek nou, nog ‘n paar dae later op die voorlaaste dag van Augustus, besig om hierdie inskrywing klaar te probeer maak. Net vir dit om op die heel laaste dag gepubliseer te word, want dis nou hoe alles uitgewerk het. Ek lees weer die vers en die verse voor die maand se skrifvers. Dit gaan oor Abraham wat vir Isak moes offer.

Ek probeer sin maak oor hoe om die vers te interpreteer, dink weer na oor die storie van Abraham en hoe hy in totale geloof na die plek wat die Here vir hom gesê het om te gaan om sy seun te offer. Die spesifikasies van die plek ontgaan my ook nou. Ek wonder soms wat hy gedink het. Ons almal lees dit as ‘n storie maar dink nie altyd aan die gevoelens en emosies van die mense van wie ons lees nie.

Ek onthou ook hy het iets in die sin van “Die Here sal voorsien” geantwoord toe Isak hom vra waar die dier is wat hulle moes offer. En ek dink dis waaroor dit hier gaan. Ons moet geloof hê met werke. Ons moet daadwerlik iets doen wat nie sin maak nie, om ons geloof te kan bevestig. Maak dit sin? Want geloof is tog om te glo in dit wat ons nog nie gesien of ervaar het nie, is dit nie?

Kom ek gee ‘n voorbeeld uit my eie lewe uit. Nog voor ek met my dogtertjie swanger was, het ek eendag ervaar die Here sê ek moet ‘n tuisswangerskap toetsie (of twee) gaan koop. Op daardie tydstip was swanger raak toe nie so maklik soos met my seun nie. Dankbaar dat ons nie gesukkel het nie, maar dit het nie spontaan gebeur nie.

Nou ja, ek het profetiese woord gekry oor ‘n dogtertjie maande voor ek swanger was en hierdie daad van my, om iets te kry wat nie op daardie oomblik sin gemaak het nie, is waar my geloof ingekom het. Jy sien, ek kon gekies het om dit wat ek gevoel het die Here op my hart druk te ignoreer. Maar ek het gekies om te glo dat ek die toetsies gaan gebruik en dat hulle positief sal wees, ten spyte van waar ek in my lewe was.

En ek dink dis aksies soos die, waaroor die skrifvers gaan. Geloof sonder werke is niks….maak dit sin wat ek hier sê? Ek hoop so, want dis hoe ek dit interpreteer en ek is seker as ek ‘n paar jaar van nou af die versie gaan lees gaan die Here dalk iets anders openbaar wat ek nie nou sien nie…..dis hoekom Sy woord lewend is!

Mag ons aanhou om te kies om te glo, goed te doen wat die Here op ons harte lê om te doen, sodat ons geloof deur ons werke volkome sal word. Sterker sal word. Soos wat ek hier afsluit, herinner die Here my aan Beroepsvrou en die geloof wat met dit saam gekom het. Hoe ek begin skryf het sonder dat ek verstaan hoekom. En hoe ek die voorskote laat maak het sonder ‘n plan van myself af. Die Here is wonderlik, is Hy nie? Wat doen Hy vir jou en jy vir Hom? Om jou geloof volkome te maak….?

Posted on Leave a comment

Die Pot Goud

Ek het groot geword in ‘n wêreld waar daar soveel mites, fabels en ook leuens is. Veral in kinderstories en verhale. Baie mense sal vir jou sê “Dis net ‘n storie” en dit as niks afmaak. Maar, al hierdie stories en dinge wat ons so inneem, is maar die vyand se manier om ons gewoond te maak aan goed wat eintlik glad nie van God af is nie. Soveel so, dat ons naderhand nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie. Ons kan nie onderskei tussen dit wat van God af is en dit wat van die wêreld af is nie.

Een fabel waaraan ek dink is een van ‘n leprechaun (die klein kort mannetjie, met die hoed met ‘n klawer met vier blare op, wat altyd almal probeer indoen en om die bos lei) met sy pot goud aan die einde van die reënboog. In die stories is almal op soek na die pot goud en in sommige gevalle, dink ek sien die mense dit, maar dit bly buite hul bereik.

Nou die rede hoekom ek hiervan praat is, die wêreld het ‘n storie opgemaak om mense te laat glo dat daar ‘n iets waardevol te vind is op ‘n plek wat onmoontlik is om te kry. Natuurlik weet ons nou dat daar nie regtig ‘n pot goud te vinde is aan die punt van ‘n reënboog nie. Maar tot jy nie die waarheid van iets hoor by iemand nie, sal jy die leuens glo, want jy weet nie van beter nie.

Hierdie spreekwoordelike pot goud, waarna gesoek word, kan toegepas word in eintlik maar in enige situasie in ons lewens. Ons glo die leuens, jaag goed na en dink dat ons wel gaan vind waarna ons soek, terwyl dit waarna ons soek eintlik nie regtig bestaan nie en ons dit nooit sal vind nie. Die mens bly soekend na IETS. Het ‘n gaatjie wat hulle probeer vul.

Nou voel dit of ek deurmekaar begin dink oor goed en dit deurgee, maar ek glo julle sal volg wat ek hier probeer sê. Die reënboog is God se teken van Sy verbond met die mense, wat Hy met Noag gesluit het. Sien jy hoe die wêreld die mooi van ‘n reënboog verdraai? Sodat dit allerhande goed verteenwoordig, alles behalwe dit waarvoor dit regtig staan en beteken? In hierdie fabel waarna ek verwys, verteenwoordig dit iets kosbaar en waardevol wat nie bestaan nie, aan die punt van die reënboog wat nie gevind kan word nie.

Dit bring my na die maand se bybelvers toe. Die Here bevestig iets en gee vir ons ‘n belofte. Die vers bevestig dat ons as mense soekend is na iets. Daardie iets waarna ons soek, is God. Net Hy kan ons gaatjie vul. As ons Hom soek met ons hele hart, SAL ons Hom vind. Hoe wonderlik is dit nie net nie? Die reënboog, wat God se verbond en belofte verteenwoordig, lei na iets baie meer waardevol as ‘n pot goud. Dit lei na die Here toe. Sy verbond en belofte met ons as mense. As ons hard genoeg dit doen, met alles in ons, SAL ONS HOM VIND!

Wow! Ek is so dankbaar vir die openbaring wat die Here vir my gegee het oor die vers. Ek bid van harte dat elkeen wat dit lees, hul soektog sal voortsit na God en nie na allerhande dinge en leë beloftes, mites, fabels en leuens van die wêreld nie. Dit wat vir ons wag aan die punt van die reënboog van God se beloftes en verbond, is soveel beter as dit wat die wêreld het om te bied. Waarna soek jy vandag? Volg jy God se reënboog of die een wat die wêreld bied met ‘n pot goud wat nie bestaan nie?

Posted on Leave a comment

Voetspore

Die hele maand al, voel ek amper of ek writer’s block het as dit kom by die maand se skrifvers. Ek sukkel om te vereenselwig en identifiseer met die bybelversie. Ek skryf vele stukke, net om dit weer uit te wis, want ek voel nie of dit reg is nie. Dit voel nie of dit wat ek probeer sê reg oorgedra word nie. Ek praat heeltyd met myself en met God, vra wat dit is wat ek moet skryf.

Ek dink ook heeltyd dat die jaar vir my al hoe minder soos ‘n Jubel jaar begin voel. Iets wat ek in 2022 verklaar het met die nuwe jaar se dagboeke, voel nou vir my soos iets uit die verre verlede en amper soos ‘n leuen. Nou ek sal jou nie verveel met alles wat ek voel nie by ‘n Jubel jaar hoort nie, veral nie alles wat in my lewe gebeur het nie. Ek dink die kersie op die koek was maar seker die ou baba hondjie wat doodgery was nou in Junie. Maar die lang en die kort is – die jaar voel tough vir my!

Terug by die skrifvers – ek lees dit oor en oor en oor. Maar ek voel en hoor niks. Tot laas naweek. Terwyl ek skottelgoed was, dink ek aan die baie bekende stuk wat iemand geskryf het genaamd Voetspore. Jy weet, die een van die twee rye spore? En toe die persoon vir Jesus vra waar was Hy toe dit moeilik gegaan het in die persoon se lewe, en daar net een ry voetspore te siene is. Met Jesus wat die persoon antwoord – Dit was toe Ek jou gedra het.

Skielik gaan daar ‘n paar ligte vir my aan. Jy sien, ek soek heeltyd die iets om mee te identifiseer, om te kan getuig van hoe die Here my gedra het deur een spesifieke situasie. Maar ek besef ek het dit gemis. Heeltemal. Dis glad nie waaroor die vers gaan nie. Soos wat ek my gedagtes laat gaan oor die vers, dink ek terug aan my lewe.

Hoe so baie goed op soveel verskillende tye gebeur het en God my gered en gedra het, gedurig deur. Vandat ek jonk was en nog voor ek Hom behoorlik aanvaar het as my Verlosser. Tot nou toe, hier waar ek ouer, maar steeds eintlik nog redelik jonk is, dra Hy my. Beskerm Hy my. Ek kan eintlik elke dag getuig van Sy goedheid in my lewe. Al kan ek nie altyd een spesifieke oomblik uitsonder nie.

Dan begin ek te dink – dis so eenvoudig soos dit. Niks gekompliseerd en uitgebrei oor wat in die vers aan die gang is nie. Nee, net die feit dat die Here ons elke dag beskerm en bewaar, is genoeg om te kan identifiseer met hierdie skrifvers. Natuurlik wanneer mens terug kyk, sal jy verskeie tye een ry voetspore sien, en ander tye twee rye. Daar waar die een ry spore is, is die dra tye waarvan gepraat word in hierdie vers.

My gedagtes kan nie help om weer terug te dwaal na die beroemde stuk van die Voetspore nie. En Jesus se antwoord op die vraag van die een ry spore. Dit was toe Ek jou gedra het.

Posted on Leave a comment

Vrede wat alle verstand te bowe gaan

Elke keer as ek dink aan vrede, dan dink ek aan die fliek Miss Congeniality waar sy die vraag wat sy moes beantwoord, afsluit met “And World Peace.” En wanneer ek dit so tik dan kan ek nie help om te dink of ek al oor so iets geskryf het nie? Ek kan wragties nie onthou nie, want ek skryf so baie as wat ek praat en praat so baie as wat ek skryf. Nie te min, die maand se skrifvers gaan oor God se bonatuurlike vrede. Die heel maand wag ek in opwinding om dit te ervaar (want ek het dit al beleef) maar dis asof dit my bly ontwyk.

Dan besef ek dat die maand se omstandighede van so ‘n aard is, dat ek in ‘n mate die vrede soos die wêreld dit gee beleef. Soortvan. Ek het gaan Google wat die behoorlike definisie van vrede is, soos die woordeboek dit omskryf. So volgens Wikipedia (ek gebruik nou maar dit want ek is nie naby ‘n woordeboek nie en gaan ook nie tyd hê om een na te slaan nie) is dit ‘n toestand van stilte of harmonie. Of ‘n toestand sonder gevegte en oorloë.

Nou ja, toe ek dit lees, toe tref dit my. Op die oog af is dit ‘n toestand van stilte of harmonie, geen gevegte of oorloë wat woed nie. Maar, ek het by myself oorlog verklaar teen ‘n webblad van ‘n instansie wat net nie wil werk soos dit moet nie. Niemand het teen my oorlog verklaar nie, so teoreties is dit ‘n toestand sonder gevegte en oorloë. Ek sal maar nie die instansie se naam noem nie, want ek is nie hier om mense op te sweep nie. Maar stilweg het ek hierdie oorlog teen die webblad, ek het ‘n uitkyk van ek gaan die webblad wen om alles betyds ingedien te kry voor 31 Mei, die sperdatum, en nie dit nie betyds indien nie.

So as ek dan hierdie stille oorlog verklaar het teen die webblad, dan het ek mos nie God se vrede nie het ek? In wêreldse terme het ek vrede, al werk die webblad nie, gaan dit eintlik nie woes sleg met my nie. Ek meen niemand voer fisiese oorlog teen my nie en hierdie is maar net nog ‘n uitdaging wat ek moet trotseer en oorkom en oorwin en kan amper gesien word as deel van die werk. Jy weet, die gesegde, elke sport het sy beserings? Die is nou een van my alledaagse beserings van die “sport” wat ek daagliks beoefen.

Heeltyd terwyl ek hieraan werk en sit en sukkel, raak ek opgewerk. So ek het vir seker nie God se vrede nie. En dan in die opwerk proses, raak ek gefrustreerd, slaan soms my hande uit ongeloof teen mekaar en op die tafel uit frustrasie, dat my man wat saam met my sit en werk, hop soos hy skrik. Natuurlik wil-wil ‘n paar frustrasie woorde saam uitkom en moet ek regtig baie hard fokus dat dit nie gebeur nie en moet ek bieg, ek kry dit nie altyd reg nie. So jy sien, ek voel ek het nie God se vrede soos wat hier in hierdie vers na verwys word nie.

Want dis vrede wat alle verstand te bowe gaan, vrede wat die wêreld nie vir ons kan bied nie. En vrede wat ons sinne (dit wat in ons gedagtes omgaan volgens ander vertalings – en wat dan maar word wat ons spreek) bewaar. Nou ek het al God se vrede ervaar en ek moet sê dis ‘n lekker plek om te wees. Al is dit chaoties rondom my, kan ek nie help as om Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, te ervaar nie. Dis iets waarna ek smag om elke liewe dag van my lewe te hê. Ten spyte van my stille oorlog, voel ek tog rustig in my binneste.

Ek kan amper voel hoe die Heilige Gees vrede kom blaas in my gees in. Ten spyte van my self-verklaarde webblad oorlog. Hier sit ek nou, die stryd halfpad gewonne, besig om ‘n ander plan te bedink om die res ingedien te kry en my kant en deel te doen, sonder dat iemand omdraai en sê Sorry nê, your submission was not on time and therefore we are levying a penalty. Al was dit nie my skuld dat ek dit nie kon indien nie en die sisteem se skuld, is die uitkyk maar dat daar boetes gehef word as dit nie betyds ingedien word nie.

Soos wat ek hierdie stuk afsluit, verstaan ek beter wat bedoel word met die wêreldse vrede. Jy sien, ons almal, ek in kluis, kan onsself so opwerk as goed nie reg verloop nie. Dis nie die einde van die wêreld nie, en alles tuimel nie in mekaar nie, maar dinge werk net nie soos wat ons verwag dit moet nie jy weet? Dis in daardie oomblikke van frustrasie en opgewerktheid, wat ons God se vrede mis en net die wêreld se “vrede” ervaar. Maak dit sin wat ek probeer sê?

Die lang en die kort is, ons moet wragties nie hook, line and sinker val vir die duiwel se leuens nie. Ons hoef nie onsself op te werk en God se vrede te mis in die proses nie. Ons hoef nie tevrede te wees met net wêreldse vrede nie. As ons God se vrede mis, dan mis ons die leiding wat Hy ons gee in ons lewens….al ooit so daaraan gedink? Wat kies jy vandag? Kies jy om maar weer opgewerk te raak en gefrustreerd en moedeloos met dit wat nie werk nie? Gee jy plek vir goed en dinge, anders as dit wat van God af is, om jou gedagtes te kom lei? Ek weet ek wil vir seker God se vrede EN Sy leiding altyd hê in my lewe, ongeag die omstandighede.

Posted on Leave a comment

Daad en waarheid

Ek kan nie help om te wonder wat besig is om te gebeur met tyd nie. Ek kry nie tyd vir skryf soos altyd in die verlede nie. Eintlik kry ek tyd vir niks voel dit vir my! Vir seker het daar goed in my lewe verander, omstandighede, maar kan dit werklik so ‘n groot invloed hê? Nie te min, op die laaste dag van April kom ek uiteindelik by die maand se skrifvers uit. Nou ek dink aan hom al vir ‘n rukkie, en herkou oor wat ek wil sê. Miskien is dit nie regtig die besig wees wat my hinder om te skryf nie, maar dalk eerder dit wat ek voel ek wil sê oor die skrifvers, wat die opondhoud is? Ek wil nie net skryf omdat skryf, skryf is nie jy weet?

Nou die maand se versie is weereens vir my interessant, veral hoe die Here besig is om dit vir my oop te breek en vanuit ‘n ander oogpunt dit te kan verstaan. Wanneer jy lief is vir iemand, dan sê jy dit tog, nie waar nie? Maar saam met dit kom ander goed ook. Jy hanteer die persoon mooi en doen goed vir die persoon, omdat jy lief is vir die persoon, wat jy nie noodwendig sou doen vir ‘n vreemdeling op straat, wat jy van geen kant af ken nie.

Die deel van die vers wat vir my die meeste uitstaan is in die laaste deel. Die woord – waarheid. Jy sien, wanneer jy werklik lief is vir iemand, sal jy ook vir hulle die waarheid vertel. Jy sal nie storietjies hê en dingetjies doen wat kontrasterend is van liefde nie. Nou hier kom die ander diep deel, as ek dit so kan stel van hierdie vers. Wie moet ons lief hê? ‘n Vraag wat Jesus die Skrifgeleerdes geantwoord het. Ons moet ons naaste liefhê soos onsself.

Wow! So met ander woorde, hierdie vers is van toepassing op alle mense, nie net op jou naaste mense met wie jy ‘n diepe verhouding het nie. Ek dink nou nie ons hoef ander mense wat jy van geen kant af ken, te vertel dat jy lief is vir hulle nie, want die woord lief is eintlik maar baie diep! Maar jy moet respek toon vir die mense, al ken jy hulle nie. Naaste liefde betoon op ‘n manier sodat hulle Jesus kan sien in jou. Dieselfde met ons dade – ons hoef nou nie iets te doen wat eintlik in iemand se persoonlike spasie in beweeg nie. Maar, as mens dalk in die verkeer staan, kan jy vir die ou langs jou plek gee om in te beweeg en op so ‘n manier ‘n daad doen wat liefde bewys, al ken jy nie die persoon nie. Maak dit sin?

Die woord waarheen ek heeltyd terug kom is, waarheid. Wat is jy besig om te doen? Verkondig jy die waarheid op alle vlakke vir almal? Vertel jy mense van Jesus? Hy is die waarheid, is Hy nie? Praat jy die waarheid wanneer jy met mense te doen kry en besigheidstransaksies doen? Hou jy by jou woord? Is jy werklik besig om liefde te betoon deur jou tong te dwing om die waarheid te praat, ongeag die omstandighede?

Ek dink ook nie mens hoef nou reguit vir iemand te sê jy hou nie van die hemp wat hulle aan het nie, want dit is mos maar elke ou se smaak is dit nie? En as jy nou goed op die manier vir mense sê, val jy eintlik maar hul karakter aan, doen jy nie? Maak dit sin wat ek probeer deurgee hier? Die vers laat my dink aan die Engelse gesegde Actions speak louder than words. Hoe waar is dit nie net nie? Jy het dalk hierdie mense, of dit nou vriende of familie is, in jou lewe, hulle vertel vir jou alles dat jy dink julle is regtig in ‘n goeie verhouding, maar hul dade bewys die teenoorgestelde. Daar is dalk ‘n gebrek aan waarheid in dit wat werklik besig is om te gebeur. Of wedersydse respek ontbreek – want alles gaan altyd oor hulle eerder as ander rondom hulle.

Mag ons konstant herinner word om nie net met die tong nie, maar in daad en waarheid liefde te bewys. Dit geld nie net vir mede-mense hier op aarde nie. Nee, ons verhouding met die Here moet ook so wees! Moet nie net sê jy is lief vir die Here as jou optrede en dade anders spreek nie. Waar staan jy vandag? Hoe is jou verhouding met God? Is jy werklik besig om vir Hom te wys jy is lief vir Hom? Of haak jy so bietjie vas by ‘n oppervlakkige Sondag verhouding met God? So bietjie iets om oor na te dink sou ek sê….

Posted on Leave a comment

Die jaagtog

Soos elke maand vantevore, sedert ek begin skryf het oor die Bybelverse op die Desk pads, kan ek nie help om by myself te glimlag nie. Want God WEET. Hy is buite tyd, en Hy WEET dat ek elke maand sal kan identifiseer op een of ander manier met die skrifvers.

Hierdie maand se skrif gaan oor geregtigheid en weldadigheid. Nou ek het die betekenis van weldadigheid gaan opsoek, want dis nou nie ‘n woord wat ek eintlik gebruik nie. My resultaat van my soektog, was verwysings na Engelse woorde, waarvan een Benevolent is. Ek het nie te lank gelede nie, geskryf oor Benevolence (sien inskrywing – Die Woord gepubliseer in November 2022). Benevolence beteken om ‘n kwaliteit uit te oefen van goeie bedoelens, om gaaf te wees (ek het nou hier direk vertaal van die Engelse betekenis af so nie noodwendig taalkundig korrek nie).

Ek interpreteer dus hierdie vers dat mens geregtigheid EN goedgesindheid moet najaag en nastreef. My perspektief en ervaring is dat almal nie dit najaag nie. Dit maak nie vir my sin hoekom nie, want dis tog voor-die-hand-liggend vir my. Iets wat ek deel van my lewe maak. Logies jy weet? Dit kom nie altyd voor of mense so leef nie. Iemand het eenkeer vir my gesê Not everyone eats from the Logic tree. So iets wat vir my logies en voor-die-hand-liggend is, is glad nie so vir die volgende persoon nie.

Oral word ek gekonfronteer met geregtigheid en goedgesindheid. Situasies kom oor my pad wat ek moet hanteer en mee gekonfronteer word en dis nie altyd noodwendig iets werksgewys nie. Dis wanneer die lewe gebeur en besluite geneem moet word oor goed. Aksies van ander wat my dwars in die krop steek. Dan kan ek nie help om te dink HOE kan sulke goed gebeur nie? Watter gees heers daar regtig in mense se lewens? Geregtigheid of ongeregtigheid? Is hulle jou werklik goedgesind of is daar eintlik maar net by-motiewe en amper ‘n leuse van elke ou vir homself?

Nou ek kan vir ure uitbrei oor slegte ervarings wat ek gehad het in my lewe al, van toentertyd tot nou, maar ek sal nie. Want dis nie die doel van die blog nie. Die doel is nie om almal negatief op te sweep nie. Die doel is om tot stigting te lei, mense op te bou. Die positiewe te soek in situasies, al kom dit hoe negatief oor. Te kan identifiseer met Bybelverse, vas te klou aan God se beloftes, eerder as om ‘n pity party te hê EN ‘n blikkie wurms oop te maak saam met dit. Want liewe genade tog, WIE wil nou wurms eet EN kla op dieselfde tyd?

Dit bring my terug na die Bybelvers vir die maand toe. Weet mense nie wat is die belofte vir díe wat geregtigheid en weldadigheid najaag nie? Dit staan swart op wit in die Bybel. As jy geregtigheid najaag, sal jy die lewe, geregtigheid EN eer vind. Wow. Dis groot. Ek sal maar liewers nie ingaan op die teenoorgestelde betekenis nie…..maar los die leser om te gaan dink daaroor… My vraag is, wat jaag jy na? Weet jy wat die resultaat is van wat jy najaag? Wat kies jy vandag? Van watter boom eet jy vandag? Is jy saam by die Logic tree? Is dit voor-die-hand-liggend vir jou? Om geregtigheid en weldadigheid na te jaag?

Posted on Leave a comment

Vertrou

Die heeltyd terwyl ek werk, dink ek na oor die maand se skrifvers. ‘n Taai een dink ek om eintlik behoorlik te verstaan sonder om offence te vat van wat die Here hier vir ons probeer sê. Maar in dieselfde asem, wil ek eintlik sê is dit heel eenvoudig.

Nou ja, Februarie is ons besigste maand, wat noodwendig beteken dat ek langer ure as normaal werk net om alles wat vereis word gedoen te kry. Dis niks nuuts vir my nie. Ek kry net my kinders jammer, want tyd saam met hulle is maar min so aan die begin van die jaar. Tyd vir skryf, voel vir my, is ook nog minder. Ek het eintlik, nie-amptelik, die ander dag besluit dat die eerste kwartaal van ‘n nuwe jaar besig is, en NIKS wat ek omtrent dit eers probeer doen gaan daardie feit verander nie.

Tensy ek my beroep verander natuurlik, maar, wie wil nou op amper 42 iets heeltemal nuuts aanpak en van voor af begin? Ok, ek erken, ek HET iets nuuts begin met Beroepsvrou, maar nie om my day job te vervang nie. Goed, terug by realiteite van BESIG wees met werk. Nou dit is vir ons so verskriklik besig, want dis finansiële jaareinde vir meerderheid van ons kliënte. Dus is daar belangrike berekeninge wat gedoen moet word en ingedien moet word voor 28 (of 29) Februarie. Natuurlik help die ekstra dag in skrikkeljaar – slegs as dit op ‘n werksdag val. Maar nie te min, dis 3 uit 4 jare net 28 dae wat ons het om hierdie te kan doen.

Die skrifvers laat my dink aan wat ons elke dag van ons lewe doen, wat ons al teë gekom het in ons lewens. Mense wat nie altyd eerlik is nie, nie alles verklaar nie. Potensiële nuwe kliënte met belaglike vereistes, wat ons sommer in die eerste vergadering in die kiem smoor en dan hoor ons net nooit weer van hulle nie. Ons staan vir reg en geregtigheid. Belasting moet betaal word, of jy nou daarvan hou of nie. Ek weet ek dwaal af, maar, ek probeer net alles in perspektief plaas van hoe dit gaan in my lewe, waarmee ek werk, wat daar verwag word en wat die wetlike aspek van alles is.

Maar terug by die vers. Dit kan ook terug getrek word na die kleinste dingetjie waarin jy oneerlik kan wees en oorkom. Ek het destyds by ‘n firma gewerk, waar die een senior personneellid eenkeer vir my verduidelik het oor hoe ‘n tydstaat werk. Sy woorde, in Engels, was iets in die lyn van die volgende: When you work at Pick n Pay, and you steal sugar, you are stealing. When you work here, and you steal time, doing private things when you should be working, you are also stealing. Ek sal dit in my lewe NOOIT vergeet nie. So ‘n goeie vergelyking van waarmee ‘n werknemer en werkgewer wat tyd verkoop, vertrou word. Diefstal is nie beperk tot fisiese items nie, maar tyd ook – tyd wat geboek word, fakture wat uitgereik word. Die lys voel, soos altyd, eindeloos.

Nou ek kan vir dae hier sit en redeneer oor alles wat groot en klein is, waaroor mens oneerlik kan wees. Die lang en die kort is, as jy 15 minute iets privaat doen, en eintlik maar net jou werkgewer of kliënt se tyd waarvoor jy vergoed word, steel; of jy steel een teelepel se suiker by die kantien, bly dit steel. En ek reken DIS waaroor hierdie versie gaan. Noudat ons so vasgevang is in finansiële jaareinde, kom die ook by my op – wat word werklik verklaar op opgawes? Is mense werklik getrou en eerlik oor ALLES in hul lewens?

As jy oor ietsie kleins oneerlik is, dan kan jy maklik oor baie goed oneerlik wees. Dis die vermaning van God af. Dan, is die spreekwoordelike klop op die skouer, die eerste deel van die vers – as jy oor ietsie kleins eerlik is en mee vertrou kan word, dan kan jy oor baie goed eerlik wees en mee vertrou word. Watter beeld straal jy uit vir die wêreld? Mens se reputasie loop hulle gewoonlik vooruit. Wat is jou reputasie? Eerlik of oneerlik?

Posted on 1 Comment

Die “Joy”

Die skerp reuk van Creosote (ek moes dit gaan google – die spelling en dit word uitgespreek as Kreesout – dis hoe ek al die jare die woord in my kop gesien het) vat my altyd terug na my kinderjare. Hoekom? Vra jy dalk. Ek het groot geword met ‘n Wendy huis in die agtertuin, wat omskep was in ‘n Kuns Kamer, die hout van die Wendy huis was met Creosote behandel. Ek was blootgestel aan kuns en crafting op ‘n jong ouderdom. Ek sal altyd hierdie reuk assosieër met kuns en crafting.

Ek het groot geword met ‘n ma wat altyd iets kreatiefs gedoen het, iemand wat haar drie dogters geleer het om so bietjie die realiteite van die wêreld te ontsnap deur kuns en crafting te doen. Ek raai maar of dit is hoekom sy kuns en crafting gedoen het, want dis hoekom ek dit doen. Met crafting is daar vir my geen reëls nie. Ok dit het reëls, maar, dis nie soos my day job nie jy weet? As jy ‘n fout maak, verf jy oor dit of jy begin van voor af, of jy wing dit net en sien hoe die projek gaan en hoe dit gaan opeindig om te lyk.

Met my day job is dit nie so eenvoudig nie, en ek voel verplig om dinge perfek te doen en reg te doen die eerste keer. Op hierdie tydstip terwyl ek die artikel skryf, reken ek dis tyd om die ketel aan te sit en vir jou ‘n lekker koppie koffie of tee te maak voor jy verder lees.

Jy sien, ek kan nie die artikel opbreek in kleiner hoofstukke nie, anders verloor ek die kruks van die saak wat op my hart geplaas was om te sê. Februarie is ‘n besige maand. Seker my minder gunsteling maand van die jaar, as mens nou toegelaat is om ‘n swart skaap maand te hê.

Vir soveel redes is ek nie ‘n Feb aanhanger nie. Een van die grootste redes is, die feit dat ek altyd uitgeput voel teen die tyd dat dit my dogter se verjaarsdag is op die 7de van die maand. Ja, ek weet, dis net aan die begin van die maand, maar ek weet wat voor lê, ek weet die ure wat ek vereis word om te werk, ek weet net wat lê vir my voor werksgewys. My klein EMP201 (vir die wat nie weet nie – dis een van die vele belastingopgawes wat op die 7de van elke maand ingedien moet word) is so entoesiasties wanneer dit kom by haar verjaarsdag.

Ek voel skuldig omdat ek nie haar opgewondenheid altyd met haar kan deel nie. En ek voel nog meer so, omdat ek ongeveer net tot die 14de Februarie 2014 gehad het, die jaar wat sy gebore was, om onverdeelde aandag aan haar te gee, voordat ek weer terug gekeer het na my skootrekenaar (hoe is dit vir ‘n mooi Afrikaanse woord?), om berekeninge te doen en opgawes in te dien. Dit was amper borsvoeding terwyl ek getik het op die rekenaar en opgawes ingedien het. Dit is asof ek net nooit genoeg tyd beskikbaar het om die oomblik en die voorbereiding vir haar verjaarsdag te geniet nie. Maak dit sin? Of is ek so vasgevang in my klein werk wêreld, dat ek vergeet om te stop en bietjie die rose se geur te geniet? (Die klink net beter in Engels – to stop and smell the roses).

Die ander rede vir die gebrek aan liefde vir die Maand van Liefde, is, daar is net NIKS TYD vir enige iets anders nie. Die kinders word groter, hul skedules begin voller raak, iets wat ek voel of ek nooit reg kry om voor te begroot tydsgewys nie. Ek meen, ek het nie eens tyd om inkopies te gaan doen nie (dit is ‘n frustrasie want vars slaai op ‘n weeklikse basis is ‘n MOET vir ons en om by Woollies uit te kom is ‘n uitdaging), nie eens te praat van om die kinders betyds by hul ander dinge te kry soos ekstra Wiskunde klasse, kos te neem voor kuns klasse en oefening nie.

Ek weier om oefening te mis. Dis die een ding wat maak dat ek nie dit verloor nie. Ek kan nie al die funky bewegings van Cross Fit altyd reg kry en uitvoer nie, maar, ek daag twee maal per week op en ek probeer hulle doen – ek kan sien hoeveel sterker ek geword het en is verbaas oor wat ek nou al kan doen teenoor wat ek kon doen toe ek net begin het. Dan woon ek nog ‘n dag van oefening by en daar doen ek spinning, iets wat my seun mal oor is, so dis ons tyd saam. Die buitemuurse aktiwiteite van die kinders is ook ‘n no-go zone as dit kom by besluit om dit te doen of nie. Ons moet dit net laat gebeur en dit maak werk, en beplan maar alles rondom dit.

Jy sien, in 2020, voor die grendeltyd en voor die Pandemie, het ek ‘n doelbewuste besluit geneem om op te hou om werk voor alles te plaas in my lewe. Ek het uitgemis op die lewe, want, ons het ‘n slagspreuk geleef van Kom ons kom net deur hierdie maand. En dit is hoe ons geleef het vir baie jare. Ek het selfs op ‘n kol gevoel of tyd gesteel was by my, weens hierdie slagspreuk waarby ons gehou het. 12 maande van die jaar, jaar in en jaar uit. Eintlik was dit dalk al in 2019 wat ek daardie besluit geneem het. Elkgeval. Middel Februarie 2020, in die besigste tyd ooit, het ek begin om te Cross Fit (na ek vir jare gebid het vir die Here om my lief te maak vir oefening, het ek uiteindelik die ding gekry waarvan ek hou en om my lyf weer in shape te kry).

Ja jy kan maar lag. Ek het nou net gekla oor hoe besig Februarie is en dan vat ek iets soos dit aan. Is daar ooit ‘n goeie tyd? Nee daar is nie. Nou jy kan dalk nou wonder hoe ek die kolle gaan verbind met die inskrywing. Ek begin met crafts, sing dan my klaagliedere oor werk en die Maand van Liefde, waarvoor ek nie so lief is nie en nou praat ek van oefening. Maar wag, jy sal sien…. alles is in een geweef in my lewe.

Terug by die crafts. Vir maande het ek gedroom van ‘n Cricut masjien. Ek was geskeur tussen die Joy en die Maker. My finale besluit was toe die Joy – weens die grootte en die prys. In Februarie (sien jy die trend hier…?) besluit ek toe om die aankoop te maak.

Ek het geweet dit was die verkeerde maand om so iets aan te koop, want ek weet ook dat ek eerder met die nuwe speelding gaan wil eksperimenteer as om te werk in die besige maand. Ek het toe verder besluit om dit by Kelirosh Studio aan te koop. Haar pryse was die beste (ek het die Takealot winskopies gemis en kon nie by Makro uitkom nie). Ek het ook net goeie goed gehoor van hierdie aanlyn winkel en dit was genoeg om my te oortuig om die aankoop daar te maak.

Die skuldgevoel wat ek ervaar het na ek die aankoop gedoen het was belaglik. Maar, toe die boks arriveer, was dit asof die Here vir my gewys het dat dit ok is. Dit is ok om ook ‘n lewe te wil hê, om te wil dinge doen en nie net te werk nie. Op die boks sien ek toe twee Flaminke. Nou die hele ding waaroor my bediening en blog gaan is Flaminke. Dit was net mind blowing en amper belaglik, met respek gesê – die Flaminke op die boks.

Selfs die postuur van die Flaminke op die boks was soortgelyk aan twee wat ek in my ontwerpe gebruik. Onmiddellik voel ek asof die Here met my hier praat. Bevestig dat dit ok is om hierdie aankoop te maak in die maand wat ek sien as die minder lekker maand vir my persoonlik.

Ek besef ook, dat ons ‘n nuwe generasie crafters hier groot maak. Ek het groot geword met goed soos om kerse te maak, kaartjies met stempeltjies en embossing poeier, klein draad boompies met mooi klippies op geplak, om maar net ‘n paar te noem. Die volgende generasie van crafters betrek tegnologie soos hierdie klein Joy masjientjie. Soos jy kan aflei, het beide my kinders besluit om die masjien te hi-jack, hulle baklei oor wie dit volgende gaan gebruik. Dit maak die druk so bietjie ligter vir my om die masjien te gebruik sodat ek nou op werk kan fokus – maar wanneer hierdie besige tyd verby is, gaan ek vir seker inspring en goed doen met hom.

‘n Week of so na die aankoop van die Joy, ontvang ek ‘n oproep van ‘n Mev. SA semi-finalis, Nicky Kruger. Sy vra my of ek dit sal oorweeg om ‘n borg te wees vir hierdie kompetisie (ek is nou nie seker of ek reg hierna verwys nie?). Nou dit is ‘n langerige storie van hoe ons mekaar “ken”, maar die lang en die kort is, sy is ‘n juffrou by ‘n skool waar ek laas jaar gaan bedien het en voorskote uitgedeel het aan studente.

Ek was stom geslaan, oorweldig en opgewonde, alles op dieselfde tyd. My aanvanklike reaksie was dat dit MAL besig is by die werk en ek sal eers haar middel Maart kan beantwoord, wanneer ek al my sperdatums gehaal het. Natuurlik het nuuskierigheid die oorhand gekry, ek het gelees deur die inligting wat sy my gestuur het en ek het my besluit geneem. Dit is so ‘n wonderlike geleentheid, ek kan nie dit van die hand wys nie.

Sien jy nou weer – dis alweer Februarie. Weer lyk dit of daar so min tyd is om dinge deur te dink en goed te doen. Ek begin te wonder of die Here my nie in ‘n rigting druk en toelaat dat al hierdie dinge gebeur, in die Maand van Liefde, net sodat ek weer lief kan word vir Februarie nie?

Wie weet, maar, dit lyk of groot dinge in Februarie gebeur. Die geboorte van ‘n kind, die behoefte om te oefen en crafting te doen en nou hierdie borgskap van ‘n GROOT ding soos Mev. SA. Ek dink God is besig om my Joy vir my terug te gee in die maand wat ek dit die minste ervaar.

Ek moet bieg – ek is lief vir die puns van God af. Die Joy wat verteenwoordig word deur ‘n fisiese, tasbare klein masjientjie, wat letterlik Joy bring vir díe wat dit gebruik. Want, is dit nie hoe ons as mense is nie? Ons wil SIEN en HOOR dis daar – en moet my nie verkeerd verstaan nie – ek plaas nie my Joy in die Joy nie, dis net God se manier om met my te praat, om vir my ‘n tasbare herinnering te gee aan dinge waaraan ek herinner moet word.

Posted on Leave a comment

Die vrugte

Toe ek die Here se mal plan (met respek gesê natuurlik – want in my kop het dit glad nie sin gemaak nie) vir Beroepsvrou begin deurvoer van desk pads, kalenders en ander gedateerde items, notaboeke en muismatte, het ek dit net gedoen. Ek het nie gedink nie en nie regtig beplan nie. Ek besef net al hoe meer HOE God se Upside-Down Kingdom werk – Sy somme is nie ons somme nie, Sy planne is nie ons planne nie, Sy tyd is nie ons tyd nie.

Om net goed te doen sonder om te dink, is iets wat so ietwat buite my comfort zone is. Want vir my day job is dit AL wat ek moet doen. Beplan en dink – goed moet sin maak jy weet? Vir Beroepsvrou het ek deur gedruk (nog nooit so iets in my lewe beleef wat die Here so hard op my hart gedruk het om te doen nie) en die leuse, as ek dit nou so kan stel, waarmee Beroepsvrou identifiseer en waaroor dit alles gaan, is Pienk Vere™ vir die Here. Wanneer ek van Pienk Vere™ praat, verwys ek natuurlik na die Flaminke en dit wat die Here vir my openbaar het oor hierdie voëlspesie. As jy nou nog nie weet waaroor dit gaan nie – gaan lees die stukke onder die kategorie Pienk Vere™ – begin by die oudste artikels en werk jou pad deur na die nuutste artikels toe.

Dit was dan ook die eerste jaar se tema vir alles van die Pienk Vere™ reeks, nie net die gedateerde items nie, maar ook notaboeke en muis matte. Ek het egter gou besef dat Flaminke nie in almal se smaak val nie, en, mens raak maar moeg om vir 12 maande vir dieselfde prentjie te kyk op jou desk pad of dagboek. Januarie 2022 (een jaar gelede) slaan ek ‘n panic so te sê oor wat 2023 se tema gaan wees en hoe dit gaan werk in die toekoms. Ja, ek weet, dis ‘n hele jaar voor die tyd, maar daar IS die deel van my persoonlikheid wat van beplanning hou (alhoewel ek eintlik glad nie van dit hou nie maar toemaar – maak dit sin om so te voel? Amper ‘n love-hate verhouding met beplanning…).

Nou dit voel of ek met ‘n Kaapse draai by my punt uitkom. Maar die punt wat ek wil maak is, die Here het kort daarna, sommer vroeg in Februarie 2022, vir my bevestiging gegee van die tema vir 2023 waaroor ek gewonder het. Op so ‘n wonderlike manier, soos wat net die Here kan. Dis weer een van daai fist pump oomblikke met God. My rooikop vriendin (almal het so een nodig in my opinie – ‘n regte egte Ginger) kom kuier een Saterdag by my. Ons het gesukkel om ‘n datum te kry wat beide van ons pas en ons kuiertjie was so bietjie overdue. Heel beskeie en verleë oorhandig sy vir my ‘n persentjie saam met die woorde “Abba Vader het gesê jy het vrae hieroor en dat ek dit vir jou moet gee” iets in daardie lyn.

Ek kyk af in my hande na wat sy vir my gegee het – ‘n stelletjie klei oorbelle, bloedrooi granate. Ek bars amper oombliklik in trane uit, want dit was een van my vrae aan God (niemand het dit geweet nie). Kan ek ‘n tema doen, wat moet dit wees en is granate ok? Saam met dit het ek natuurlik honderde ander vrae gehad, en soos wat die tyd aanbeweeg is dit besig om beantwoord te word.

Daar het ek sommer gou my antwoord gekry en besef ek net weer dat Beroepsvrou se beplanning ietwat anders gaan wees as my day job se beplanning. Daar is beplanning, maar op God se manier, nie soos die wêreld dit bepaal nie. Nou dit bring my by die heel eerste skrifvers vir 2023 se desk pad, so hier op die einde van Januarie. Hierdie was ‘n BESIGE maand, erger as wat ek al voorheen beleef het en daarom dat ek nou eers hierby uitkom. Niks het drasties verander nie en ek kan wragties nie my vinger lê op dit en hoekom dit so voel nie – die gejaag wat net erger word. Dit is net wat dit is. Seker maar sperdatums wat verkort word wat bydra tot dit wat soos chaos voel om my.

Ek het gevoel díe Bybelvers is van pas by die tema vir 2023, en alhoewel die vrug waarna verwys word nie benoem is in die Bybel nie, (dit verwys wel na lote en wynstokke en dus neem mens maar aan dat dit na druiwe verwys), reken ek Granate kan ook werk vir die doel. Dit kan eintlik maar enige vrugte wees reken ek – druiwe, appels of lemoene. Maar die Here het Granate op my hart gelê. Ons kan slegs vrug dra wanneer ons IN HOM is. En dit sluit weer aan by die Pienk Vere™ – want waarmee vul jy jouself? Wys jou vrugte wat jy dra dat jy Pienk Vere™ vir die Here het? Watter vrugte dra jou Pienk Vere™? Sê jy vir mense jy is ‘n Granaat boom maar dan dra jy piesangs en is so ver verwyderd van dit wat jy proklameer en dit wat jy uitleef?

Sonder Jesus kan ons niks doen nie, soos die skrifvers ons leer. Wanneer ons IN Hom woon en onsself opvul met Hom, dan dra ons baie vrugte. Woon jy in Hom? En Hy in jou? Dra jy vrugte? Watter vrugte dra jy? Does your walk and talk agree? So aan die begin van die nuwe jaar, (die Jubel Jaar), wanneer alles net vinniger uit die blokke wegspring as wat ons kan hanteer, is dit soms moeilik om hierdie by te hou en deur te voer. Dis juis dan, in hierdie woeste tye, dat ons moet onthou en herinner word aan hierdie skrif. Dit uitleef en vir mense WYS dat God in ons is en ons in Hom is. Dat ons vrugte ooreenstem met ons dade en woorde. Watter vrugte dra jou Pienk Vere™?

Posted on Leave a comment

Moeitevolle Arbeid en die gawe

Soos wat die jaar einde se kant toe staan, en almal moeg geploeg is (werksgewys), kan ons nie anders as om soms te voel ons wil onsself bederf met ietsie nie. Jy verdien dit mos? Jy het hard gewerk. Dan kom die duiwel en saai twyfel in jou hart oor dit wat jy dink jy vir jouself wil koop. Hy kom saai selfs twyfel as jy iets gedoen het soos om lekker kos te eet. Jy weet? Wanneer jy geld op iets spandeer het, eerder as om iets meer verantwoordelik met die geld te doen.

Liewe aarde, dan voel mens sommer net nie lekker na jy so iets gedoen het nie. Al was daar niks verkeerd met dit wat jy gedoen het nie. Guilt and shame oorweldig jou. Net daar en dan. Jy probeer teen dit redeneer dat jy wel hard werk en jy dit mag doen en verdien, maar daar is geen genade nie. Op die ou einde van die dag voel jy net nie of jy die vrymoedigheid het om iets te doen vir jouself nie en dan eindig jy gewoonlik op om dit nie te doen nie. Bo op dit, voel jy skuldig omdat jy daaraan gedink het (en nie eens noodwendig deurgevoer het nie).

So het ek gevoel vir baie jare oor baie goed. Gevoel ek mag nie nuwe klere koop nie, gaan uiteet nie, selfs in die huis bly waarin ons bly het my skuldig laat voel (en dis nie ‘n tydskrif huis nie, maar, bied skuiling vir ons en slaap plek vir elke gesinslid – genoeg vir almal om hul eie spasie te geniet). Die lysie voel eindeloos. Maar toe kom ek op die skrif gedeelte af. Uit Prediker uit. En ook — dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ‘n gawe van God. Prediker 3:13 (Afrikaans 53 vertaling). WOW. Wat ‘n awesome stukkie skrif!

Die ietsie wat jy voel jy wil doen EN geniet MAG jy doen, want dit is ‘n gawe van God af! Die lang en die kort wat dit vir my sê is, as jy moeitevolle arbeid toegepas het, en die goeie geniet wat saam met dit gaan, ontvang jy ‘n gawe van God af. Dis vir my so profound en ek sê nou nie gaan spandeer al jou geld op jouself en kom nie jou verpligtinge na nie! Nee, glad nie!

Ek wil elkeen wat die lees los met dit – dis nou Desember. Sommige mense kry bonusse en ander dalk nie. Sommige kry ‘n dertiende tjek (ja ek weet, tjeks bestaan nie meer nie, maar ons almal praat maar nog so), ander kry net ‘n kleiner bonus, ‘n ietsie ekstra. Of jy nou ‘n bonus kry of nie, moet nie skuldig voel oor die bonus of salaris wat jy gekry het nie. As jy hard gewerk het, regtig HARD gewerk het deur die jaar, dan is daar nie fout daarmee om dit te kan geniet nie.

Al gebruik jy dit om skuld te betaal, of vir jouself ‘n ietsie te koop wat jy altyd wou gehad het met dit. Of jy drink dalk net ‘n melkskommel. Dit maak nie saak nie, gebruik die gawe wat die Here vir jou gee deur jou moeitevolle arbeid! Dit was ‘n lang jaar vir almal gewees, almal is moeg geploeg… Hierdie is amptelik die laaste inskrywing wat te doen het met die heel eerste desk pad wat ek ontwerp het en verkoop het deur Beroepsvrou. Wat ‘n belewenis was dit nie net gewees nie! Daar gaan nog stukke wees in 2023 – nuwe jaar en nuwe bybelverse! Hou die spasie dop! Ek bid vir jou en jou gesin ‘n Geseënde Kerstyd toe en dat julle die gawes van God sal geniet. Wees veilig, rus goed sodat die nuwe jaar met nuwe moed en energie aangepak kan word. 2023 is the year of Jubilee.

Hard labour and the gift
Posted on Leave a comment

Die kop vs. die stert

Soos wat ek die ander dag deur die plaaslike inkopiesentrum stap, voel ek net die einde van die jaar in die lug. Jy weet, net so ‘n vibe wat nie op ‘n ander tyd as November en Desember in die lug is nie. Dit voel of die lewe net gebeur en die tyd net aanstap en as jy een oggend wakker word, is dit verby middel November.

Nog ‘n jaar is amper verby. Nog ‘n jaar om oor te reflekteer. Wat het gebeur? Hoogte punte en laagte punte. Die nostalgiese tyd van die jaar. Iets waarvan ek nie baie hou nie, want dit impliseer dat ek nog ‘n jaar ouer is. In my kop is ek nog al die pad 28 jaar oud. Ek weet nou nie of ek nog soos ‘n 28 jarige, of selfs ‘n thirty-something-year-old lyk nie….maar ek voel nog jonk….vir wat dit wêrd is.

Die maand se skrif op die desk pad is uit Deuteronómium (as jy nou nog nie weet waaroor dit gaan nie – besoek maar gerus my winkel, bestel vir jou een, dan het jy ook ietsie mooi vir jou werkstafel en dan gaan jy verstaan hoekom ek oor random verse skryf). Noodwendig moet ek maar daardie sin daar eindig, omdat ek nou so ‘n lang verduideliking in hakkies gesit het. Moving on!

Nou ja, die boek wat seker die moeilikste is om uit te spreek in die Bybel, is waaruit die maand se skrif kom. Díe skrifvers is vir my so ‘n groot en profound een, (by gebrek aan ‘n beter Afrikaanse woord), een met soveel beloftes in. En die Here sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die Here jou God wat ek jou vandag beveel het om te hou en te doen. Deut 28:13 (Afrikaans 53 vertaling).

Wow. Waar begin mens met die ontleding en dit wat die Here op my hart lê van die skrifvers? Kom ons begin by die gebooie onderhou. Nou ek weet ons is lankal nie meer onder die wet van die Ou Testament nie. Jesus het ons kom vrymaak van dit. MAAR, in die Nuwe Testament verwys Jesus na die grootste gebod. Jy moet die Here jou God lief hê met jou hele hart, en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Matt 22: 37- 39 (Afr 53).

Wat dit vir my sê is, as jy God lief het, en jou naaste, sal jy outomaties die tien gebooie onderhou, want as jy iemand lief het, steel jy nie by hulle nie, of vertel jy nie leuens nie, en so gaan die lysie aan. So ek reken ek kan sê check ek dink ek verstaan die deel in die skrif wat verwys na gebooie.

So terug na die eerste deel – die belofte van God self af. Dit kom nie via iemand anders nie. Dis God self wat hier praat en BELOWE. Dis ook nie ‘n halwe belofte nie, en nie ‘n miskien, maybe baby tipe ding nie. Hy belowe dat Hy MY (en jou wat dit lees) die kop sal maak, ek SAL boontoe gaan, en nie ondertoe nie. Maar daar is ‘n voorwaarde daaraan gekoppel – jy moet die gebooie van God onderhou.

Slegs as jy jou deel doen, sal die Here Sy deel doen. Hoeveel keer doen ons nie iets wat ons eintlik afgelê het toe ons bekeer het nie? Of veronderstel was om af te lê met die sondige mens toe ons bekeer het nie…? Het jy nie dalk weer vir iemand ‘n halwe waarheid, wat eintlik maar ‘n leuen is, vertel nie? Iets belowe en dit nie gedoen nie? Iemand dalk ingedoen, op watter wyse ookal? Seergemaak, geskinder, o die lys voel eindeloos.

Jy sien en dis hier waar dit vir my voel die geveg tussen die kop en die stert inkom. Ons gees is gewillig maar ons vlees bly swak. En dis hoekom ons Jesus nodig het! Alleen kan ons dit nie doen nie. Die duiwel sal jou oor en oor kom condemn, oordeel, sleg laat voel. Laer as ‘n luis, want jy het nou al weer hierdie en daardie nie gedoen nie. Jou probeer aftrek ondertoe.

Maar, wanneer jy werklik bekeer het van jou ou sondige natuur en wel alles in jou vermoë doen om die Here lief te hê EN sy gebooie van liefde onderhou, kan dit mos nie anders as om die kop te wees en op te styg na bo nie? God se genade is groot, Hy vergewe ons as ons iets verkeerd gedoen het en ons omvergifnis vra. Ek kies om God se belofte aan te kleef, alles binne my vermoë doen om naaste liefde (en self liefde) te betoon, asook my liefde vir God.

Ja, ek faal nog soms (ek moes gaan google met ‘n v of f, net so tussen ons, sodat dit ek die regte betekenis oordra). En dis seker maar ook hoe mens leer en groei is dit nie? Niemand is perfek nie, maar ons kan streef na heiligmaking, onderhoud van gebooie. Wees ‘n Jesus-Freak, probeer heeltyd self liefde en naaste liefde betoon en wys, draai weg van ou, slegte gewoontes. Dan gaan jy sien wat gaan God vir jou doen!

Wie wen in jou lewe? Die Kop of die Stert? Wat is die uitkoms van die bannier wat groot gespan is, wat die geveg aankondig – Kop vs. Stert? Ek hoop seer sekerlik dat my uitslag Kop 1 – Stert 0 sal wees, en so sal aanhou!

Head vs. Tail
Posted on Leave a comment

Die foto studio

Toe ek in Oktober 2021 ervaar het dat die Pienk Vere reeks ontwerp moet word, het ek nie die vaagste benul gehad waarvoor ek myself, op alle vlakke, in laat nie. Ook maar goed so, want ek dink nie ek sou dit gedoen het nie!

Waarvan praat ek nou? Die hele proses om ‘n aanlyn winkel te hê, te bestuur, voorraad en voorbeelde te laat maak, geld om alles te betaal, maar die grootste van alles – die fotos vir die webblad. Ek het nie ‘n clue gehad nie. Nie daaroor gedink nie, want ek was so gefokus op die ontwerpe en fisiese produk.

Maar nie te min. Ek het toe fotos geneem op my manier en soos ek goed gedink het. As ek nou terug kyk was dit AAKLIG en die feit dat enige iemand by my iets gekoop het met daardie fotos is eintlik ‘n wonderwerk!!

So groei ek toe nou in die proses, besluit om die agtergrond te verander, neem weer fotos, gaan weer deur die proses om dit op my webblad te laai. Dit neem lank, net so tussen ons, want jy is afhanklik van jou internet se spoed. Dan lewer iemand kommentaar op die fotos en sê dit moet ‘n skoon en wit agtergrond wees, neem bietjie van ‘n ander hoek af, maak so en doen dat.

Oor Paasnaweek besluit ek om WEER al my fotos oor te neem. Al wit ding wat ek in die huis het is ‘n laken. Die vou lyne frustreer my, die weerkaatsing van die lig (ek neem dit in die aand op die eetkamer tafel terwyl die res van my gesin ‘n fliek kyk) irriteer my nog meer. Ek kry nie die foon (ja ek neem met my foon want die Canon kamera is ook ‘n frustrasie vir my) se posisie presies dieselfde vas gehou wanneer ek neem nie.

Die ring lig staander ding wat ek gebruik werk eintlik glad nie en dis eintlik net een vet groot gemors voel dit vir my. Maar nou moet ek deur druk, want ek het nou mos klaar die proses begin, ek kan nie nou moed op gee nie. So karring ek aan, baie gefrustreerd soos jy seker kan aflei, maar ek werk met wat ek het en probeer om nie onnodige geld op fieterjasies te spandeer nie.

Heelwat later (‘n paar maande), gesels ek eendag op Whatsapp met Anri Erasmus van Painted Lemons. Kan ek net vir jou vertel hoe die girl my gehelp het sedert ek die plan van die Here af gekry het? Sy was die een wat ek gekontak het om te sê ek wil ‘n desk pad ontwerp. Sy was die een wat my geleer het van Canva, Creative Market en nog vele ander goed.

Sy was die een wat my in verbinding gesit het met die drukkers wat ek gebruik, die tannie wat die voorskote maak. Sy was die een wat my net aanhou ondersteun en lei het deur die hele proses. Nou ja, ek kan nie onthou hoe ons begin praat het oor fotos nie, maar ek sê toe vir haar dat ek nie MAL is ook my huidige fotos nie.

Dis toe dat sy vir my antwoord (in haar woorde nou) Nee tjommie, jy kry vir jou drie borde met mooi textures. Ek dink by my self WAT? Wat moet ek nou kry? Waar kry mens die borde waarvan sy praat? Nie lank na dit nie, kom die skakel deur vir die borde van Flatlay Studio af. Net daarna nog ‘n boodskap van ‘n app wat ek moet aflaai om soos ‘n pro (en hier glo ek dit staan vir professional en nie probeerder nie) fotos te kan neem en edit.

Wow. Watter wonderlike kennis! Ek haal toe maar geld uit en skaf die nodige aan vir my. Na die goed afgelaai word by my (wat soos ‘n ewigheid voel maar eintlik net ‘n paar dae is), kan ek natuurlik nie WAG om foto’s te neem nie. Ek maak die een oop en dink UUUHHMMM ek dink ek het ‘n verkeerde ding gekoop, ek kan nie sien hoe mooi fotos van dit af gaan kom nie. Wel, ek was verkeerd!

Impromto besluit ek een Saterdag, toe ek by die Spar was, om vars blomme te koop vir die foto’s. Daar begin ek toe om fotos te neem, maar sukkel steeds met die hoek en hoogte waarteen dit geneem word, want ek het nie ‘n staander wat werk nie. Ek begin neem en neem en neem. Ek neem in die huis die aand fotos (want dis al tyd wat ek het). Dit lyk vir my stunning, maar ek voel steeds iets kort.

In die tussentyd, Whatsapp ek ALWEER vir Anri en deel die foto’s wat ek geneem het met haar, asook my frustrasies. Sjoe ek kom nou net agter dat die hele foto-nemery vir my ‘n frustrasie was! Seker maar omdat ek eintlik glad nie geweet het wat ek probeer doen nie.

Sy sê toe ek moet ‘n staander koop en stuur ‘n skakel op Takealot van een wat sy gebruik. Sy kyk na my fotos – gee raad en advies en beveel aan om in natuurlike lig te neem eerder as in die huis met ligte aan geskakel. Die volgende dag begin ek WEER van voor af. Hoekom, weet ek nie, want ek het nog nie ‘n staander nie. Ek begin fotos in die middag te neem, daglig raak min en ek kon nie klaar kry nie. Ek neem in die huis verder in die aand en toe begin ek die verskil sien tussen natuurlike lig en onnatuurlike lig.

My moed sak in my skoene, want nou is my goed nie klaar geneem nie, die blomme gaan afgaan en ons gaan met verlof. Ek het nie ‘n staander nie. Ek het nie tyd in die week om dit te doen nie, ek moet werk. Die day job se werk hou nie op nie. Ek bêre die blomme in die yskas (dis Proteas so hulle sal lank hou het ek geredeneer) en laat maar die ander blare uit droog en bêre dit in ‘n houer om te bewaar teen stof.

Terwyl ons met verlof was, arriveer die staander. Die dag na ons terug gekom het van verlof af, besluit ek om WEER alles oor af te neem, die keer met die staander saam, stickers geplak om die verskillende ontwerpe op min of meer dieselfde plek te laat lê (ek sê mos ek raak nou ‘n pro), in daglig op die stoep. Die blomme lyk nog goed genoeg vir fotos so ek hoef nie WEER Spar toe te ry en te koop nie.

Kyk, halfpad deur hierdie proses, toe my rug voel of hy wil afbreek van die vreemde prosisie wat ek in gestaan en buk het om af te neem, dink ek weer by myself WAT HET MY BESIEL? HOEKOM DOEN EK HIERDIE? Maar, ek kan nie nou stop nie. Ek is nou so ver, ek moet maar deur druk…..

Kan ek net een ding sê? Ek het nuwe respek vir webblad fotos. Veral van skryfbehoeftes. Want hoe op dees aarde neem jy dit af dat dit mooi en aanloklik lyk vir mense om te WIL koop? Nie te min. Die fotos is klaar geneem, geedit en opgelaai op my webblad. As ek terug kyk na waar ek begin het, minder as 1 jaar gelede en waar ek nou is, kan ek net die Here se hand in alles sien.

Hoe Hy mense gestuur het (ok een mens met connections) om my net te help en te lei deur die hele proses. Anri Erasmus, uit die diepte van my hart bedank ek jou dat jy hierdie crazy vrou op Facebook se messenger boodskap in 2020 beantwoord het. Dat jy my na jou huis genooi het om al my vrae te vra oor die Bybel wat ek wou koop, die verf, en net al die ander vrae te antwoord en geduldig, alles wat so natuurlik en maklik vir jou kom, te verduidelik.

En hoe jy my net aan en af lei deur die proses. As ek met my hande in my hare sit, en 500 boodskappe begin stuur as ek onseker is (net mense wat al op Whatsapp met my gesels het sal die een lekker verstaan), kom jy, en hou my net rustig en kalm, en verduidelik net alles stap-vir-stap wat ek nodig het op te weet op daardie tydstip. DANKIE vir dit!!!

Bo dit alles, dankie Here vir die insig, kennis en wysheid wat U my gegee het, met wat ek noem Die Here se mal plan (met respek gesê natuurlik) en vir die groei wat ek kan sien in my as mens op alle vlakke. Emosioneel, geestelik en fisies. Ek deel so paar fotos op die inskrywing van waar ek was en hoe dit getransformeer het na die fotos wat nou met trots op my webblad pronk.

Hierdie is nou wragties ‘n getuienis van Met God is alles moontlik se skrif vers. Ek hoor in my gedagtes hoe die kinders saam in ‘n koor sing A-N-Y-T-H-I-N-G IS POSSIBLE WITH GOD. A-L-L-E-S IS MOONTLIK MET GOD. Iets wat hulle by Eden Leersentrum geleer het. En dit is wragties so. Alles is moontlik met God se hulp. As ‘n Chartered Accountant sulke fotos kan neem en so kreatief kan wees, dan kan enige iemand enige iets doen!

The photo studio
Posted on Leave a comment

Die onbekende…

So staan ons alweer op middel Oktober en ek kan nie help om te wonder waarheen die tyd aanstap nie. Ek weet ek het dit in amper elke inskrywing gesê, (of so voel dit vir my), maar regtig, die tyd vlieg so vinnig! Ek kyk na my desk pad en die maand se skrif.

Ek gaan vergelyk dit met ander weergawes op my elektroniese Bybel (is tegnologie nie wonderlik nie?) net om seker te maak ek het die korrekte interpretasie hier beet. En ek dink ek het hom!

So Paulus (was mos hy wat Korinthiërs geskryf het?) skryf hier dat niks wat ons al gesien, gehoor het of in ons harte opgekom het, kan beskryf dit wat God vir ons berei het nie. Wow, ek dink so oomblik na hieroor en besef net hoe gróót dit is. Vir seker dink ek dit verwys na die ewige lewe maar ook ons tyd hier op aarde.

God beplan mos dinge van voorspoed vir ons, nie teëspoed nie, nie waar nie? So hoekom kan dit nie van toepassing wees vir ons tyd hier op aarde nie? Nou prakties kan ek getuig van hierdie skrif en dit wat in my lewe gebeur het. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die moeilike en harde tye is vir seker ook nodig, want dis wanneer ons gevorm word en karakter gebou word. Maar die goeie tye is net so nodig vir ons tyd hier op aarde.

Jy sien, as ek nou moet dink aan al my aardse begeertes wat ek het, wat ek nou dink awesome sal wees vir my, is dit sekerlik dat al my werk op datum sal wees en so sal bly. Dat ek nie werksdruk het nie en dat alles net die heeltyd vlot sal verloop wat dit aan betref. Natuurlik het ek seker nog ‘n miljoen of drie ander begeertes (ons almal droom mos maar van ietsie jy weet?), maar díe een staan vir my die meeste uit.

So het ek gedink dat dit my grootste begeerte was. Wel, ek was verkeerd!! Jy sien, gedurende September 2022, het die Here vir my ‘n begeerte vervul wat ek nog nooit aan gedink het nie, nie gesien of gehoor het nie. Ja jy het reg geraai – die radio onderhoud! Wat ‘n belewenis was dit nie net nie, jy sien, ek het nie gedink dat dit is iets wat ek graag sal wil doen nie. En nou, tong-in-die-kies gesê, voel dit vir my is dit ál wat ek wil doen! Die dream job, die een waarvan mens net droom en nooit kry nie.

Die Here het my wildste, grootste begeertes met daardie onderhoud oortref. So ‘n dag of wat na die onderhoud, blaai ek deur my deskpad se skrif verse en toe tref dit my – DIS wat die Here bedoel met die vers. Nou kan jy jouself indink, as iets soos ‘n radio onderhoud vir my gróót voel, hoe GRÓÓT is die planne wat die Here vir ons het nie net nie?

Dis GRÓÓT, baie GRÓÓT, ons breine kan dit nie indink nie, al probeer ons hoe hard en lank! En eintlik is dit ook goed so, want nou het ons ietsie om na uit te sien! Sien jy uit na wat Hy vir jou beplan? Ek sien uit na dit wat die Here nog vir my, Beroepsvrou, en die day job in gedagte het…

The unknown…
Posted on 2 Comments

Hande in die hare

Dis Donderdagoggend. Ek word wakker met seer op plekke wat ek nie geweet het spiere het nie. Die rede? Death by Cross Fit die dag voor dit. Liewe aarde, ek het nie geweet my arms en als kan so styf wees van ‘n WOD (Work out of the Day) nie. Ek sit spreekwoordelik met my hande in my hare (en dan soms met hare in my hande ook nog).

Nou die hele week, eintlik hele maand al, loop ek met die skrif op die desk pad en is ek nie seker wat ek daaroor wil skryf nie. Maar soos wat die tyd aanstap en dit middel September se kant toe staan, begin ek meer vereenselwig met die teks.

Dit voel of ek kort-kort met ‘n beklemming om my hart sit. Dis 15 September en ek probeer nogsteeds van Augustus se administratiewe take en my eie maandeinde finaliseer en afsluit. Hoekom vat dit so lank die maand? Ek kan net nie my vinger op dit plaas oor hoekom dit net voel of ek vasgehou word en nie vorentoe kan beweeg met my werk nie!

Om alles te kroon, is my aanlyn winkel van Beroepsvrou foutief. Skielik oornag, is die WooCommerce plug in (laat ek nou maar klink soos hierdie ongelooflike slim IT boffin terwyl ek besig is) net weg en nie geinstalleer nie. HOE dit gebeur het weet Vet alleen. Want ek weet nie.

Ek het so ‘n oomblik van paniek, die trane wil-wil my kom verswelg, my opgewondenheid van die afgelope paar dae kom steel en weg vat. Dis amper asof dit vir my wil kom sê dat ek gejok het oor my radio onderhoud. Dis onmoontlik vir iemand om die positiewe altyd in alles te soek.

En regtig, die trials and tribulations waarvan ek gepraat het, hoe hanteer ek dit nou? Loop ek nogsteeds met ‘n lied in my hart? Hoekom is my werk nou nog verder agter as wat dit laas week die tyd was? Net 5 werksdae het verloop sedertdien, ek sit tog elke dag en werk, tog voel dit of ek soos ‘n mal vark rond hardloop en eintlik niks uitgerig kry nie. HOEKOM????

Dan besluit ek om maar net weer die skrif te lees. Filippense 4:6-7 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Wees oor niks besorg nie. Kom ons begin daar. Natuurlik is ek besorg oor die tyd wat aanstap teen die spoed van witlig en ek wat werk teen ‘n slakke pas (nie die slak Turbo se spoed nie – ‘n regte egte staaaaaadige slak se pas voel dit). Dan bo op dit, is ek besorg oor my aanlyn winkel. HOEKOM??? Wat nou???? Moet ek alles oordoen??? Terug by my day job – hoe gaan ek die sper datum van 24 Oktober 2022 haal met belastingopgawes wat ingedien moet word?

Daar is so baie om te doen? Ek MOET oefen, dit gaan ek vir seker nie opgee nie. Want ek weet as ek nie gaan oefen nie, gaan ek net soos ‘n vrot vel op die bank lê en niks doen vir daardie uur nie, so ek kan net so wel maar gaan oefen en iets produktiefs doen. Ok Here, dink ek by myself. Ek gaan nou regtig BAIE HARD probeer om NIE BESORG te wees oor alles wat my pla nie. Done. Afgemerk.

Maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. Goed, so die vertel vir my dat ek met die Here moet praat, gebed, wat ek doen, so ek dink ek kan hom afmerk van my lysie af. Smeking die doen ek gereeld, veral met my krisis van die aanlyn winkel. Het jy enige idee hoe lank dit gevat het om die winkel op te stel???????

So ek reken ek kan dit ook van my lysie af merk, want in my gees sit en huil ek. Ek kan nie nou sit en fisies huil nie, in die eerste plek gaan ek moontlik soos ek weet nie wat lyk, met grimering wat op al die verkeerde plekke gaan wees…

In die tweede plek gaan ek net tyd mors in my opinie. Om te huil. Ek het goed wat moet klaar, ek kan nie nog tyd mors om te huil nie. En derdens, ag ek weet eintlik nie eens hoekom ek nie moet huil nie, ek weet net ek moet nie. Dit los my met die laaste gedeelte van die vers – danksegging.

Ek wonder wat het Paulus (dit is mos Paulus wat die brief aan Filippense geskryf het?) met dit bedoel. Ek dink ek moet die Here dank dat Hy my webblad se winkel gaan herstel, dat Hy die tyd gaan laat stil staan en sodat ek net bietjie voor kan kom met my werk en nie soos ‘n mislukking voel nie. So, DANKIE HERE vir dit wat U gaan herstel, reeds herstel het en besig is om te herstel soos wat ek hierdie tik.

En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. Na ek die bostaande paragrawe getik het, voel dit of ek rustiger begin raak. Die bonatuurlike vrede ken ek, ek het dit al BAIE in my lewe ervaar. Veral wanneer ek net ophou om iets self te probeer doen en dit los vir die Here en in Sy bekwame hande. Because let us face it – Hy is ons Skepper en Sy hande staan vir niks verkeerd nie. He is more than capable al probeer ons Hom onbevoeg verklaar deur alles op onsself te neem.

So my hart voel rustiger en my sinne, nou hier neem ek aan dit wat ek praat, want ek verstaan nie andersins wat dit sou wees nie, maar my sinne moet ook vrede kry. Ek moet nou begin praat asof alles reeds herstel is. Goed, ek dink ek het dit. Dankie Here vir die herstel op alle vlakke van goed wat my pla, dat dit sommer in ‘n japtrap uitgesorteer gaan word (Here U ken my druk en sperdatums en ek weet sommer U gaan dit vinnig uitklaar). Ek bid dit in die Naam van Jesus! Amen en Amen!

Ek besluit om maar my fokus te verskuif na wat EK nou moet doen. Ek het iemand wat my kan help met die webblad, hopelik ‘n back up of iets met die winkel herstel. Maar my EDP werk (die belasting besigheid), daar moet ek my boude beweeg en vinniger begin werk. Daar gaan die voëltjies en engele NIE my werk vir my doen NIE. Ek moet daar nogsteeds my kant bring en my deel doen!!

Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan….eggo die gedeelte van die skrif vers in my gedagtes. Ek begin rustiger voel, ten spyte van al my seer spiere en beklemmings wat ek net nou gevoel het. Ek weet sommer dat alles vinnig uitgesorteer gaan word! God is goed altyd!!

Na ek die inskrywing getik het en weer begin werk het, laat weet die persoon wat my help met die webblad, dat die aanlyn winkel reg is. Al die data is daar. Dis onverklaarbaar oor HOEKOM dit gebeur, maar is blykbaar iets wat gebeur. Ek laat dit daar en dank die Here vir Sy goedheid en guns wat my volg in al my dae!

Hands in the hair
Posted on Leave a comment

Die Lewensredder

Soos wat ek hier sit en hierdie inskrywing tik, voel ek deurmekaar gewaai en dit voel amper of die Augustus winde van ‘n dag of wat gelede bygedra het tot die gevoel. Vir die wat nie weet nie – Augustus is ook een van ons besige tye. Minder besig as Februarie, maar ook ‘n kritiese tyd van tonne goed wat moet klaar met beperkte ure in die dag. Speed dating wat belasting aanbetref.

My deskpad se bladsye raak nou min. Daar is net 4 oor en as ek weer sien gaan ek Augustus se bladsy ook afskeur en dan is daar net 3 maande van die jaar oor. WAAR HET DIE TYD HEEN GEGAAN??? Waar het 2022 heen verdwyn? In my kop is ek nog vasgevang in Maart iewers.

Nie te min, die bladsy vir Augustus is vol geskribbel met ekstra Wiskunde klasse en tye, oefen tye vir my, oefeninge vir die kinders by die skool en dan hope nota’s aan die kant van die bladsy wat kompeteer met die prag van die flaminke in die agtergrond.

Weereens verbaas dit my nie dat die maand se skrif so van toepassing is nie. Jy sien, toe ek die skrif laas jaar gekies het, het ek letterlik 12 verse wat vir my uitgestaan het geneem en in orde soos wat ek dit ontvang het gaan allokeer teenoor ‘n maand. Daar is mos nie ‘n MANIER dat ek nou kon weet dat die maand se skrif vir my so pertinent sal uitstaan nie.

Sjoe – dis ‘n GROOT WOORD! Pertinent. Goed, daar raak ek alweer side tracked. Iets wat vir my voel gereeld gebeur. Amper soos Dory in Finding Nemo. Ek is besig om te werk aan iets, gaan soek iets op die netwerk, dan onthou ek van ‘n e-pos wat ek moes stuur vir ‘n kliënt, dan stuur ek die e-pos en dan het ek heeltemal vergeet waarmee ek besig was!

Toe ek vanoggend dink aan die skrif en wat ek wil skryf kom Life Guard by my op. Ek moes mooi gaan dink wat die Afrikaans is vir Life Guard. Dis vir my bitter interessant hoe die Here soms net in Engels goed vir my openbaar en ander kere net in Afrikaans. Terug by die skrif.

Ek onthou die eerste keer toe ek die skrif gelees het. Iemand het nog vir my ‘n prentjie gestuur. Dit was ‘n dogtertjie wat baie tevrede met haarself gelyk het met arms vol blomme (‘n cartoon prentjie) en dit het iets in die sin van Die Here sal jou help en red gelees. Iets soos dit.

Toe ek dit in die Bybel gaan lees, besef ek hoe powerful die skrif is en hoe die prentjie dit net amper te veel vereenvoudig het, as ek dit nou so kon stel. Jy sien, op daardie stadium in my lewe, moes ek vir ‘n maatskappy hul Finansiële State gaan voorlê en bespreek. ‘n Maatskappy met meer as 1 BILJOEN RAND se omset. Ek moes gaan google hoeveel nulle is ‘n Biljoen (dis 9 net so tussen ons), want ek het voor dit nog nooit met sulke groot syfers gewerk in ons besigheid nie, en ook nie iets so groot soos dit alleen moes voorlê nie.

Ek het selfs ‘n rok of twee gaan koop, want ek het gevoel my klere steek af teen die omset (verkope as jy wonder wat omset is). I had to look and dress the part jy weet. Ek kan nou nie daar gaan opdaag in my denim en tekkies soos wat ek meeste van die kere maar in sit en werk by die huis nie. Nie te min, die skrif staan vir my uit. Veral die deel wat lees kyk nie angstig rond nie. Dit laat my dink aan Petrus wat nie op Jesus gefokus het nie en toegelaat het dat die golwe om hom, hom laat sink het.

En natuurlik met die golwe saam, dink ek weer aan wat ek geskryf het in Junie 2021 (of was dit Mei?). Oor hoe ek gevoel het of die golwe van angs my probeer verswelg. Dit voel steeds by tye so met ‘n nuwe roetine met die kinders, saam met werksveranderinge, ander omstandighede in my lewe en dit alles saam is vir seker gelyk aan ‘n angstige oomblik of drie elke 2 minute en dan hou dit aan die hele dag lank voel dit vir my.

Ek het so maand of twee gelede ‘n nuwe liedjie gehoor op Spofity. Things that I’m afraid of deur Ross King en Josh Wilson. Ek weet nie wie het eerste die liedjie gesing nie (dis nou amper soos wat was eerste – die hoender of die eier?), en albei se weergawes is vir my mooi. In die liedjie sing hy dat die dinge waarvoor hy bang is, ook bang is vir die Here.

Dit het my laat dink. Want ek het NOOIT so daaraan gedink nie. Ons sit soms met soveel vrees in ons opgekrop, maar ons vergeet waar kom vrees vandaan (dis nie van God af nie) en dit wat ons vrees, vrees die Naam van Jesus nog meer.

Soos wat ek golwe om my sien en ervaar in alledaagse dinge, probeer ek gefokus bly op Jesus. Dis moeilik soms. Soms laat ek myself in die steek deur moedeloos te raak oor so baie goed. Negatief te praat en nie altyd ‘n wag voor my mond te plaas nie. Kwaad te word vir omstandighede buite my beheer. Gefrustreerd met ander goed in my lewe, meeste van die kere nie eens eintlik werk nie, wat ook buite my beheer is.

En dan soos wat ek voel ek begin sink, kom die Lewensredder se reddende regterhand en tel my op uit die chaos uit. Dit wat ek vrees, het ‘n groter vrees vir die Lewensredder. DIT moet ek altyd onthou. The things that I’m afraid of are afraid of you….hoor ek weer die liedjie deur my gedagtes dwaal….

The Life Guard
Posted on Leave a comment

Jy is… deel 4

Navy hofskoene, silver grey sykouse. As jy my moet vra wat onthou ek van my skooldrag dan is dit seker maar dit. Ek stap deur die ontvangs, seker maar die eerste keer in 24 jaar weer in daglig, op ‘n weeksdag by die skool waar ek gematrikuleer het in. Hoërskool Goudrif. Ek merk die skoolwapen met die leuse Roepingsbewus op teen die muur en wonder of hy altyd daar was, en reken maar dat ek net te min op skool dáár waar die wapen hang, gekom het om te onthou.

Elsabé Lartz ontmoet my net soos ek uit die kleedkamer uitkom – die personneel badkamer wat verbode grond vir kinders is en nou deel van my grondgebied is waar ek mag beweeg. Dis vreemd, ek was oortuig die kleedkamer was groter as wat hy nou voorkom. Ons stap saam na my kar toe om die goedjies uit te haal wat ek saam gebring het. Sy vra uit na my, watter jaar ek gematrikuleer het, wat my nooiensvan was, het ek kinders. Juffrou Lartz is hierdie jaar 20 jaar by díe skool, ons het mekaar spreekwoordelik met 4 jaar gemis in die gange.

Sy sê vir my dat ek seker nog onthou waar die saal is en laat my voor stap. Die oomblik toe ek by die saal instap, is dit asof 24 jaar verdwyn. Die skaam, onseker matrikulant, is vir ‘n oomblik terug. Ek herroep die aand toe ons in Graad 11 as Prefekte aangewys was, hoe ons geoefen het vir ure en ure vir Revue in die einste saal.

Die verhoog pronk breëbors met die trappe en loopvlakke, reg vir Revue om op hom uit te speel. Die saal ruik nog dieselfde. Is dit nie amazing hoe reuke jou terug kan vat in tyd nie? In my geestesoog sien ek hoe ons nog parallel met die verhoog by ons enkel tafeltjies gesit en Rekord eksamen en later ook eindeksamen geskryf het. Eintlik seker maar al die eksamens in ons matriek jaar? Ek kan wragties nie onthou nie.

Sy vra my hoe dit voel om terug te wees by die skool. My antwoord was een woord Weird. Vreemd. Ek staan en soek die hoofdogters se naambord. Neem ‘n foto vir my sussie wat in 1994 hoofdogter was. ‘n Rukkie later kom die klankspan om ‘n mikrofoon vir my op te stel (wat ek toe later besluit om nie te gebruik nie). Een van die seuns vra of ek musiek het wat ek wou speel. Ek kyk verdwaas na hulle – dis wragties NIE iets waaraan ek gedink het NIE. Musiek en ‘n slideshow. “Miskien volgende keer.” Antwoord ek hulle.

Die klok lui vir pouse, die kinders stap die saal binne. Meer as wat ek verwag, Juffrou Lartz het gesê sy het vir haar graad 12’s gesê om ander maats ook te bring al is hulle nie Verbruikerstudie leerders nie.

Die keer knaag die senuwees so bietjie meer as normaal. Dit voel of ek geoordeel gaan word deur jong hoopvolle kinders oor waar hul nou is en waar hul eendag gaan wees, gemeet aan wat ek vir hulle sê en hoe ek voorkom. Ek weet dis nie waar nie en druk deur die geknaag en gaan voort met my boodskap.

Ek sing selfs vir hulle die liedjie wat ek in die kinderkerk onthou. “Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel? Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde” handgebare en al. ‘n Paar kyk my aan asof ek nou van die lootjie getik is, ander giggel lekker want hulle weet presies waarvan ek praat.

By verre was hulle my mees interaktiefste gehoor ooit (nie dat ek die al 100 keer gedoen het nie – hierdie is die vierde skool wat ek besoek). Toe ek die Vraag vra – “Wie van julle het geweet Flaminke word nie pienk gebore nie?” vlieg daar heelwat hande op en in die lug.

Saad was gesaai, dit weet ek. Een meisie het selfs, wat vir my gelyk het of sy in trane was, my kom bedank vir die mooi boodskap. Absoluut ‘n Heilige Gees geinspireerde oomblik en alle eer aan God, nie aan my nie. ‘n Ander een se gees was net so oop en ontvanklik, ek het haar ‘n myl ver gesien en dit vir haar gesê ook.

Die wat gekies het om saam met my in die Facebook en Instagram foto te wees het meer as in hul noppies gelyk met hul voorskote. As ek kyk na die foto kan ek die opgewondenheid, gelag en giggel SIEN! Ek kan amper tasbaar die energie van die kinders voel. Ek kan nog onthou hoe dit was om 17 of 18 jaar oud te wees. In ‘n mate mis ek dit, maar aan die ander kant is ek dankbaar dat ek is waar ek is in my lewe.

The more things change the more they stay the same. Dit het ek daardie dag weer gesien. Ek wonder hoeveel asems is al deur daardie skoolgange en klasse? Hoeveel het al daar gematrikuleer? Dit voel vir my ontelbaar baie en ‘n moeilike som om te maak. 24 jaar vlieg verby in ‘n oogwink.

Ek besef net weer dat Onderwysers seker een van díe moeilikste werke onder die son moet hê. Om kinders uit verskillende huislike omstandighede, agtergronde, kulture, gewoontes en wie weet wat nog alles te moet leer sodat hulle VERSTÁÁN en kan eksamen skryf en slaag, is nie almal se cup of tea nie. Nie almal is gemaak vir dit nie, ek is vir seker een van hulle!

My gebed is dat elke leerder, nie net Verbruikers leerders nie, die dag ‘n stukkie saam met hulle kon vat. Dat die Here dit gaan natlei op die regte tyd, sodat die bome sal opkom wat Sy vrugte dra en Pienk Vere vir die Here reflekteer.

Ek dink weer aan die skool se leuse. Roepingsbewus. Ek herkou so bietjie aan dit. Wat beteken dit regtig? Ek reken, direk uit dit uit, om BEWUS te wees van jou ROEPING en waarvoor God jou geroep het.

Hoe interessant is dit nie net nie? Die leuse en die boodskap wat oorgedra is, kom op dieselfde neer. Sit in wat nodig is sodat jy jou werk waarvoor God jou geskape het, kan doen – wees bewus van jou roeping. Die Here is voorwaar AMAZING!!! Mag elkeen wat deur hierdie skool se gange stap, die leuse uitleef in hierdie wêreld waarin ons onsself bevind – nie net in hul beroepe nie maar ook dit waarvoor die Here hulle geskape het en op aarde voor gesit het.

In my gedagtes neurie ek die deuntjie van die skoollied soos ek hom ken en onthou. Die woorde is seker verkeerd wat ek in my kop sing, maar ek sing hom vir myself en weet Roepingsbewus sal ek bly. Sonder dat ek dit besef het, het ek doelbewus my roeping, dit waarvoor God my geroep het, uitgeleef in my lewe na skool, voel dit vir my…

You are… part 4
Posted on Leave a comment

Jy is… deel 3

Die Jirre lief jou!! Finish & klaar! Lees ek die boodskappie op die bottel volgeprop met bran muffins (kolwyntjies voel soos die verkeerde woord om te gebruik want daar is nie versiersuiker op nie)… ek verkyk my aan die rosies (my gunsteling blom net so tussen ons) wat uit papier gemaak is. Die een uit ‘n ou storieboek se bladsy, wat dit net so ‘n vintage anderste look gee.

Ek probeer ‘n muffin uithaal sonder dat hy heeltemal disintegreer tussen my vingers, dis so vars, dit val omtrent uitmekaar uit! Muffins spesiaal vir my gebak deur ‘n groepie baie spesiale studente. Kinders met ander behoeftes as waaraan ons (of dalk eerder ek) gewoond is. Kinders wat ook hul plekkie onder die son wil claim.

Kinders van ouers wie bekommerd is of hulle dit eendag gaan maak wanneer hulle nie meer hier op aarde is nie. Kinders van ouers wat wonder of hulle ‘n inkomste sal kan genereer wanneer die broodwinner/s nie meer oor die vermoë beskik om te kan sorg vir hulle nie. Ek stap saam met my naamgenoot, Elsie van Staden (saam verwys ek na ons as Elsie tot die mag 2 soos in Wiskundige taal gepraat) deur die gange van Oom Paul Skool in Rustenburg.

Ons stap verby twee kinders, ek hoor die een vra vir die ander een “Is that a new teacher?” en ek neem aan hulle verwys na my. Ek grinnik stilletjies by myself en dink, “Neeeeeee outjie, jy verstaan nie, die tannie na wie jy kyk is nie uitgeknip om ‘n juffrou se werk te doen nie.” Dit vat SUPER spesiale mense om onderwysers te wees in my opinie. En ek voel daagliks of ek my eie kinders faal wanneer ongeduld na vore kom na ‘n lang dag se werk en gesukkel op stadige aanlyn sisteme.

Terug by die skoolgange. Vir die wat dalk nie weet nie, Oom Paul Skool is ‘n Vaardigheidskool vir leerlinge wat vanaf hoofstroom skole verwys word na hulle toe. Goudvissies wat nie kan boomklim soos die kurrikulum verwag van hulle om te doen nie. Dan word hulle in die spreekwoordelike goudvis dammetjie by Oom Paul Skool gesit, gekoester, geleer en opgevoed op hul vlak. Die stroom in die hoofstroom is net TE sterk vir hulle en daar raak hulle verlore in die sisteem.

Maar Oom Paul Skool is verder nóg effens anders, want hulle bied Haarkappery EN Voedselproduksie aan, saam met ander vakke soos ons almal dit ken – NW, SW, tale, daardie tipe vakke. Leerlinge wat in Hoofstroomskole teleurstelling op teleurstelling beleef, word hier met ope arms ontvang. Hulle word skills geleer. Hoe om PRAKTIES met jou hande te werk. Iets wat ek voel deesdae ontbreek. Om in die Ambag opgelei te word.

Almal sit mos deesdae agter ‘n laptop op hul boudjies vir meer as 8 ure per dag (ek in kluis), besig om hul werk te doen en dit terwyl die Ambagte nie noodwendig nog mense oplewer nie (hierdie is nou net my persepsie en ek mag verkeerd wees – ek het glad nie statistieke gaan trek hieroor nie). Mense kan nie meer prakties en fisies die werk doen wat ons wêreld maar eintlik steeds nodig het nie, ten spyte van waar ons is wat tegnologie aanbetref. Ek weet, for the life of me kan ek NIE NAALDWERK doen NIE en nog minder iets fêncy in die kombuis maak.

Maar nie te min. Dinsdag 26 Julie 2022, het die Here vir my die geleentheid gegun om ‘n klein groepie Verbruikerstudie studente te gaan bedien met Sy woord en kennis wat Hy stelselmatig vir my gee en openbaar oor Flaminke. Die hele ding waaroor die Blog en Beroepsvrou draai. Pienk Vere vir die Here.

Ek besef eers later toe ek sit om die inskrywing te maak dat die nerwe wat my gewoonlik so pla voor so ‘n dag (soos ‘n muis wat aan ‘n kabel knaag) glad nie naby was nie. Ek het nie vir een oomblik gewonder en twyfel het oor enige iets nie! Soos wat ek die kinders toespreek en later ook die personneel, haal ek stukke uit die Bybel aan. Nie presiese verse nie, maar skrif wat ek voel die Here vir my koppel aan flaminke, geinterpreteer en in my eie woorde om dit eenvoudig te probeer hou en nie soos ‘n kerkdiens te laat voel nie.

Ek besef toe wel dat ek die heeltyd na Dawid en Psalms verwys as ek praat van die stuk oor bewaar jou hart terwyl dit eintlik Salomo en Spreuke moes wees. An honest mistake en ek glo die Here verstaan en almal het gehoor wat hulle moes hoor.

Net so ietsie ekstra om aan te sluit by die voorskote, en ek het seker al dit voorheen genoem, maar, wanneer die kinders dit aantrek, beoefen hulle ook ‘n geestelike profetiese aksie om hulself te bedek met die borsharnas van geregtigheid. Dit beskerm hul harte soos Salomo gesê het. Moet my ook nie verkeerd verstaan nie – daar is GEEN krag in die voorskote nie. Dis simboliek en hoe die Here vir my gewys het wat die voorskoot eintlik beteken.

Dit neem Flaminke ongeveer 2 jaar om pienk te word en hul bly slegs pienk as hul die regte voedingstowwe inneem….dis dieselfde met ons as Christene. Jy moet konstant die regte goed inneem sodat jy Pienk Vere vir die Here kan hê.

Ek is ook seker dat die skrif uit 1 Thessalonicense 5:21 waar Paulus skryf en sê Beproef alle dinge, behou die goeie – is soos die flaminke wat hul kos filter (omdat hul filtervoerders is) – hulle skei uit dit wat sleg is en neem slegs dit wat goed en reg is in.

Oom Paul Skool is uniek en enig in sy soort. Van Potchefstroom tot Wolmaransstad, tussen Klerksdorp en Brits is daar net een visdam beskikbaar vir al die goudvissies wat net nie kán boom klim nie, en dis Oom Paul Skool. Daar is nog ‘n soortgelyke skool in Krugersdorp en twee in Pretoria. Dis dit sover ek weet en vertel was.

Enig en uniek in hul soort. Lankmoedig en geduldig is hoe ek die Onderwysers by Oom Paul Skool sal beskryf. Dit vat ‘n besonderse mens om ‘n Onderwyser te wees en ‘n Engel om kinders vaardighede te leer soos hier by hierdie plek.

Dit wil tog vir my voorkom of daar wel ‘n stukkie hemel op aarde is, ‘n plekkie waar kinders geplant kan word om te groei om ook hul potensiaal te bereik, om hul plekkie onder die son op te eis. Vir ouers gemoedsrus gee dat hul kindertjies wel ietsie sal kan leer en weet, sodat hulle kan oorleef eendag wanneer ouersorg nie meer moontlik is nie. Daardie plekkie is Oom Paul Skool.

You are… part 3
Posted on Leave a comment

Die stoomtrein

Soos wat ek hier agter my rekenaar inskuif, met die laat middag son wat deur die venster oor my sleutelbord (hoe is dit nou vir ‘n mooi Afrikaanse woord eerder as keyboard soos ons maar geneig is om die Engels in te gooi tussen die Afrikaans wanneer ons praat?) kom daar ‘n gedagte by my op.

Ek sien ‘n treintjie wat teen ‘n bult uit ry, hy stoom hard en aanhoudend en ek hoor die geluid wat hy maak Ek-weet-ek-kan-ek-kan-dit-doen-ek-weet-ek-kan-ek-kan-dit-doen eerder as die tjoekoe-tjoekoe-tjoekoe geluid wat ‘n stoomtrein gewoonlik maak. Ek weet nou nie of dit dalk per ongeluk ‘n prentjie uit my kinderdae is wat ek dalk iewers gelees het of ‘n storie gekyk het nie maar ek weet wel dat die Here dit vir my gewys het vir ‘n doel.

Nie te min, die sonnetjie is HEERLIK hier en ek besef net weer HOE bevoorreeg ek is om nou op hierdie oomblik hier te wees. Die maand se skrif is weer een van my gunstelinge uit Filippense uit. Ek is tot ALLES in staat deur Christus wat my krag gee.

Jy sien, soos die treintjie, voel dit soms vir my, en ek is seker vir ander ook, of ek hierdie moewiese bult van die lewe moet uitklim om bo uit te kom. Langs die pad is daar uitdagings, nêrens in die Bybel word ons gevrywaar van ‘n lewe sonder uitdagings nie. Maar, ons word wel gewaarborg dat God aan ons sy is, en ons goed kan doen met Hom wat ons krag gee.

Ons moet kies hoe ons die uitdagings sien. Die spoorlose pad wat ons soms voel ons moet volg, onseker oor waarheen ons moet gaan en of ons wel op die regte pad is. Of die slaggate wat maak dat ons net so effe stadiger moet ry en nie vinnig genoeg na ons sin aan die bo kant van die bult uit kom nie.

Weereens is hierdie skrif vir my op hierdie tydstip net so akkuraat, ek kan nie anders as om die Here ‘n fist pump te wil gee vir die een nie. Jy sien, soos my vorige inskrywing gelui het, weet julle seker nou dat die dinamika in die firma verander het en goed weer terug land op my tafel. Soms wonder ek of ek dit regtig alles sal kan behartig en ander kere dan weet ek net dat ons sal ok wees.

Die Here is besig om vir ons die pad te wys en die steenkool in ons enjins te sit en aan die brand te steek, sodat ons die bult wel kan uitklim en bo uit kom. Wanneer ek mismoedig raak oor alles en nog wat, wat ek moet doen en hanteer, veranderinge van owerhede, sisteme wat sommer net nie lekker is nie, in my opinie (as ek nou my opinie kan en mag gee), dan kyk ek na die skrif vers en sien ek die trein.

God se trein. Ek is Sy trein wat, soos wat ek die bult uitbeweeg, rook by my enjin laat uitkom wat ‘n teken is dat ek Syne is en dat Sy vuur in my brand (nou nie lugbesoedeling tipe rook nie – ek is seker julle verstaan wat ek bedoel). Rook wolke wat ‘n sein vir ander treintjies stuur om hul steenkool gelaai te kry, opgevul met God se woord en aan die brand te kry, deur die Heilige Gees, sodat hulle ook hulle bulte kan uitklim.

Waar staan jou treintjie? Voel jy of jy nie meer kan nie? Het jy genoeg steenkool om te brand? Miskien moet ons daar begin! Jy kan nie op fumes hardloop en die bult uitkom nie. Jy moet sorg dat jou enjin met God se woord opgevul is, sodat die Heilige Gees die vuurhoutjie kan brand wat die steenkool laat verander in energie. Dis slegs dan wat Filippense 4:13 geaktiveer kan word in jou lewe en jy in staat is om alles te doen deur Christus wat jou krag gee.

Ek-weet-ek-kan-ek-kan-dit-doen-ek-weet-ek-kan-ek-kan-dit-doen hoor ek my enjin kreun teen die stywe bult wat ek voel voor my lê. Miskien is hy nie so styf en styl nie? Miskien is ek net nog nie naby genoeg om te weet dat dit eintlik net ‘n klein hoogtetjie is nie. Maar tot dan gaan ek die skrif vers herhaal. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

The steam train