Posted on Leave a comment

Lyk goed Voel beter

Hierdie is my eerste inskrywing in ‘n baie lang tyd. Op die plek waarin ek myself in my lewe bevind, is dit nogal moeilik om geinspireerd te word om te skryf. Maar Vrydag 14Junie 2024, het die Here iets in my gees kom roer om weer te begin skryf oor ‘n ervaring, ‘n geleentheid wat ek bygewoon het.

Ek is tans besig met bestraling by Pinehaven hospitaal in Krugersdorp. 32 sessies was voorgeskryf deur die Onkoloog. Vir 32 besigheidsdae, wat uitwerk op ses en ‘n half weke, moet ons van ons huis in Skeerpoort af in ry Krugersdorp toe. Soos te verwagte was, het ek begin opsien na die heen en weer ryery. Ek besef opnuut ek is nie gebou vir heen en weer reis elke dag nie. Natuurlik sou ek so voel, ek werk dan al vir 20 jaar vir myself by die huis, so ek is onfiks wat ryery aanbetref, as ek dit so kan stel.

Woensdag 12 Junie 2024, noem een van die terapeute wat my posisioneer met die behandeling, dat daar ‘n geleentheid aangebied word deur ‘n nie-winsgewende organisasie op Vrydag 14 Junie 2024. Dis vir 2 ure, van 9 tot 11. Ek lei af uit die gesprek uit, dat dit gaan oor iets soos grimering en ondersteuning bied vir pasiënte wat deur ‘n kanker diagnose gaan. Ek verstaan steeds nie lekker waaroor dit gaan nie, maar besluit toe om dit tog by te woon.

Vir ‘n vlietende oomblik wonder ek of ek sonder grimering moet opdaag, want ek het afgelei dit gaan iets oor grimering, maar ek besluit daarteen. Want liewe genade, as ek sonder grimering gesien moet word, sal dit lyk of daar regtig iets fout is met my (tong in die kies gesê)…so doen ek my 30ste bestraling sessie (ja kan jy glo dis al by nommer 30? Teen die tyd dat dit nommer 3 was het ek nie gedink nommer 30 sou ooit opdaag nie, maar toemaar). Voor die sessie neem ek die gebruiklike foto’s saam met die terapeute (dankbaar dat ek wel grimering aan het anders het almal hulleself boeglam geskrik).

Vir een of ander rede het die bestraling lys laat geloop, en ek was toe laat om aan te sluit by hierdie sessie. Daar aangekom, merk ek dat dit ‘n klein en intieme groepie van 4 dames is, myself ingesluit. Christie, van Look Good Feel Better, gaan voort met die sessie en sy begin deur ‘n storie te vertel van ‘n pasiënt by ‘n Onkoloog wat net nie beter wou word nie. Die dokter, het naderhand, uit desperaatheid vir die pasiënt se welstand, sy ontvangsdame gaan vra vir ‘n lipstiffie. Die pasiënt het die lipstiffie aangesit en toe sy haarself in die spieël sien, het sy vir die eerste keer geglimlag.

Dit het my diep getref, want ek besef wat dit vir ‘n mens se gemoed doen om beter te lyk. Want wragties dan voel mens ook beter. Soos wat Christie praat, dwaal my gedagtes bietjie, en besef ek, DIS hoekom ek grimering gedra het sedert my hele reis begin het (nie dat dit die eerste keer was wat ek grimering gedra het nie, ek het nog altyd grimering gedra, ek het net ‘n punt daarvan gemaak om nog meer te fokus op my voorkoms tydens chemo). DIS hoekom ek gevoel het dat as ek beter lyk, ek dalk geestelik en verstandelik beter sal voel, ten spyte van dit wat besig was om aan te gaan in my liggaam op daardie stadium.

My gedagtes word stop gesit weer deur die aanbieding wat plaasvind, hier vlak voor my. Ek besef ek moet op dit fokus, dis hoekom ek hier is. Toe Christie sê sy gaan ons nou wys hoe om onsself te grimeer, was my instinkte om te sê, Nee dankie! Ek het reeds grimering aan, ek weet ek kan myself beter grimeer as wat ek vandag gegrimeer was (ek was net nie weer lus om al die borseltjies uit te ruk en myself so te grimeer nie en het na die basiese ligte grimering, oogpotlood en maskara gegaan). Maar ek besluit toe tog teen dit. Ek sal nou nie ‘n spoil sport wees nie.

Sonder water, met ‘n cleanser en ‘n wipe haal ek toe maar my grimering af. Ek waarsku almal dat ek heelwaarskynlik soos die hoof sanger van een of ander heavey metal groep sal lyk met my maskara wat onder my oë gaan lê, maar genadiglik kon ek alles afkry om met ‘n skoon gesig oor te begin grimeer. Die sessie gaan voort, ons word beduie hoe om te grimeer. Christie raak op ‘n kol gefrustreerd met die grimering sponsie wat ons moet gebruik, en ruk toe sommer haar kwassies uit en gaan voort om almal klaar te grimeer. Ek het haar pyn gevoel want ek kon nog nooit met daardie sponsies iets doen op my gesig nie!

Grappies word gemaak, daar word gelag en gespot met sommige vrouens dat hulle sommer nou fêncy lyk en dalk nog ‘n ryk man gaan los slaan. Vir ‘n oomblik vergeet mens waardeur jy gegaan het en steeds gaan. Ons verneem van Christie dat die nie-winsgewende organisasie voor 2020 baie meer borge gehad het, wat baie produkte geborg het, blykbaar meer as wat ons ontvang het (en mag ek sê dat dit wat ons ontvang het is nie min nie hoor!). Maar soos ons almal weet, het die pandemie sy tol hier ook geëis. Hulle kry steeds borge, maar nie soos voorheen nie. Hul organisasie is totaal en al afhanklik van borgskappe, in enige vorm. Om te kon verseker dat die organisasie voortbestaan, het Christie as direkteur bedank en ‘n voltydse werk elders gaan soek.

‘n Ander dame Yvette (wie ek nog moet ontmoet), het oorgeneem as direkteur en so het hulle verseker dat hul oorhoofse kostes verminder, sodat die organisasie steeds kan voortbestaan. Soos ek dit verstaan, is hulle ook afhanklik van vrywilligers om te help met sekere take. Christie klink vir my is een van hulle, sy akkumuleer etenstye wat sy in werk by haar voltydse pos, wat sy dan verruil om dae soos die aan te bied.

Dit het my diep getref, dat mense steeds, ten spyte van hul eie uitdagings, tyd en planne maak om ander wat deur iets soos kanker gaan, te help. Christie is self ‘n borskanker survivor (by gebrek aan ‘n beter Afrikaanse woord), ek is nie seker van die res van die mense in die instansie nie, maar ek glo daar is een of ander konneksie met kanker wat hulle aangeraak het en veroorsaak het dat hulle hierby betrokke raak.

Van my kant af, wil ek vir die mense by Look Good Feel Better dankie sê vir die goeie werk wat julle doen. Dankie dat julle bevestig het dat ek nie mal was om myself te grimeer terwyl ek chemoterapie ontvang het nie. Dankie dat julle bevestig het, dit wat die Here reeds op my hart gelê het in terme van grimering, dat as ek beter lyk, dan voel ek beter. Dankie dat julle bevestig het dat ons nie soos die dood hoef te lyk wanneer jy deur iets soos die gaan nie, en dat dit wat ek gedoen het vir myself nie uit vanity was nie, maar eerder self-behoud (ja, die ou duiwel het my probeer wysmaak dat ek vain is om myself te grimeer en goed te probeer lyk sonder hare).

Ek wil elkeen wat hierdie stuk lees, uitdaag om ‘n bydrae te maak op welke manier ookal. Of jy tyd het om te help, ‘n finansiële donasie kan maak of produkte kan skenk, doen dit. Moet nie twyfel oor dit nie. Dit dra by tot ‘n groter en beter doel en maak so ‘n inspraak op mense se lewens. Soos die Engelse sê – a little bit goes a long way. Natuurlik het ek Christie uit haar gemaksone laat uitklim deur selfies saam met haar te neem, en selfs ‘n lawwe een waar ons ‘n snaakse gesig trek. Christie, Yvette – hou aan met die goeie werk wat julle doen. Daar is soveel vroue daar buite wat nodig het om te hoor wat julle sê in terme van voorkoms. Terwyl jy as vrou, vasgevang is in hierdie diagnose, behandeling en wie weet wat nog alles, is ‘n oggend soos die, ‘n ligstraal, ‘n stukkie hoop en ietsie om na uit te sien en altyd in jou hart te bêre, ‘n goeie memory wat gemaak is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.