Posted on Leave a comment

Genesing

Toe ek groot geword het, het ek nie eintlik oor genesing gedink nie. Nie een van ons in ons huis was sieklik nie. Daar was af en toe ‘n verkoue of ‘n ding maar nooit iets ernstig nie. As dit so bietjie groter as ‘n verkoue was, sou ons dokter toe gaan om die probleem uit te sorteer.

Ek het nooit besef dat ons genesing van God af kom nie. Of omdat dit is dat Jesus aan die kruis vir ons gesterf het nie. Ja ek weet, dit klink stupid om dit so te sê, maar dis hoe dit vir my was. Seker maar ook die exposure aan godsdiens wat gemaak het dat dit is hoe ek dit ervaar het. Dis bloot ook seker maar net omdat ek nooit die bybel op daardie manier gelees het nie, as dit nou sin maak. Ek het altyd gedink Jesus het net doodgegaan sodat ons hemel toe kan gaan.

Maar, daar is meer aan Sy kruisdood as net hemel toe gaan. Ek sê nou nie dit so dat dit klink of hemel toe gaan nie eerste prys is nie! Natuurlik is dit eerste prys, maar daar is soveel meer vir ons ingesluit in die kruisdood van Jesus. Weereens toe ek die verse vir 2023 gekies het, het ek nie in my wildste drome gedink hoe relevant November 2023 se vers sou wees op my lewe nie.

Ek weet, ek klink nou al soos ‘n vasgehaakte plaat as ek dit sê. Ook as ek verduidelik hoekom November se skrifvers inskrywing laat is. So ek sal maar nie weer uitbrei nie. Ten minste skryf ek dit, al is dit meer as twee maande laat…Terug by die Bybel vers. Die Engels sê dit vir my so mooi. For by His stripes we are healed. Wow. Elke liewe sweep slag op Jesus se lyf, elke hou wat Hy gevat het, was vir ons. Vir elke liewe mens op aarde. Nie net vir my nie. En ook nie net vir ‘n uitgesoekte handjie vol mense nie.

Ek kan nie help om te wonder, en dit klink nou vreemd as ek dit so sê, maar ek gaan dit sê dan kyk ons hoe werk dit uit. Ek wonder, toe Jesus op die kruis was, en as ‘n hou uitgedeel was, of Hy in Sy gedagtes met my gepraat het en gesê het Elsie, hierdie een is vir jou. Vir die diagnose van September 2023. Vir alles wat jy moet deurgaan in die hele proses. Sou Hy met ‘n volgende hou en ‘n volgende hou, elke keer aan my gedink het met alles wat ek al deur is in my lewe? Hierdie een is vir jou nierpyp ontsteking toe jy 5 jaar oud was, mangels, miskraam, buisswangerskap, gekraakte werwels van die kar ongeluk, verslaapte nek, arm, hand…..so kan ek aangaan met my lysie.

As Hy dit van my gesê het meer as 2,000 jaar terug, het Hy dit van elke liewe mens op aarde gesê. Sjoe, dis groot. Hy het oor al die eeue heen elke liewe persoon se siekte wat daar al ooit was, op Hom geneem met elke sweep slag. Dis groot. Het jy al ooit so daaraan gedink? Net die ander dag, ry ons vir die soveelste keer Milpark hospitaal toe. Ons roete neem ons verby ‘n begraafplaas. My man Heinrich lewer kommentaar dat hy nie kan glo dat daar nog plek is vir mense om begrawe te word nie. Ons sien wat lyk soos nuwe grafte. Ek antwoord hom met ‘n vraag en sê, ek wonder hoeveel mense was al ooit op hierdie aarde. Van die begin van tyd af tot nou toe.

Ek los toe maar daardie vraag net daar, want ek dink nie iemand weet nie, en as daar ‘n syfer is, sal ek dit nie kan uitspreek nie want daar gaan soveel duisende, honderde, miljoene, biljoene wees. Ek gaan wragties nie weet waar om te begin nie. As ek so daarna kyk dan kan my brein nie om God se grootheid kom nie. Dit kan nie begryp oor hoe baie Jesus vir ons gedoen het nie.

Vir ‘n paar jaar nou al, wanneer ek bid, beveel ek siekte in die Naam van Jesus om weg te gaan. For by His stripes, we are healed. Jesus het dit klaar kom doen. Die siekte kan nie anders as om weg te gaan nie. Wanneer ek kyk na die uitslae van die sonar wat in November gedoen is, en dat die gewas met 6 mm reeds kleiner is, dan word ek net weer herinner dat God het hierdie. Al is die ander sonar mates weer anders na dit – wat ek aanvaar normaal is omdat die ding besig is om dood te gaan en van vorm te verander. Die genesing is nie in die medisyne of die dokters nie. Dit is die instrumente wat daar vir ons gestel is om genesing te ontvang. Vir seker kan die Here hierdie ding wat in my liggaam geidentifiseer is, oombliklik genees. Ek weet diep binne in my, dat daar ‘n groter doel met alles is. Wat dit is, kan ek nie vir jou sê nie.

Net tyd sal leer. Ek weet wanneer ek gaan terug kyk na hierdie tyd, wanneer alles verby is, gaan ek in verbasing staan oor God se hand in alles. Ek weet ek is genees. Die Here het dit reeds kom doen. Ek gaan nou deur die proses, want dis waar God my wil gebruik. Ek vertrou dat ek doen wat die Here wil hê ek moet in die proses. Vir seker huil ek steeds baie. Ek is net ‘n mens. Met emosies en na die Beeld van God geskape. Ons lag ook baie. Probeer so normaal as moontlik funksioneer. Maar meeste van alles is die gebed. Ek bid baie, bestraf kort-kort die gewas en die geswelde limf kliere. Beveel die ding om in die Naam van Jesus nou weg te gaan. For by His stripes, we are healed...

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.