Posted on Leave a comment

Die een met Rachel

Sedert ek kon onthou, het ek nog altyd ‘n emosie ervaar wanneer ek ‘n Onkologie pasiënt sien sonder hare. Ek het altyd gewonder hoe hulle dit doen en hoe hulle oorleef sonder hare? Nooit in my lewe, het ek gedink dat ek in ‘n soortgelyke situasie sou wees, jare later nie. Maar, hier is ek, met geen hare op my kop en nou moet ek deur die emosies werk van haar verlies.

‘n Ruk gelede het my man en ‘n kliënt my oortuig om te dink daaraan om ‘n pruik te dra. Dit was nie vir my ‘n opsie nie, want ek het regtig gedink ek sou deur die proses kom sonder om ‘n pruik te dra, want dis mos deel van die proses, nie waar nie? Ek het deur die emosies van haar verlies gewerk, gehuil wanneer ek wou huil en het aanbeweeg. Om groot te gaan met grimering en oorbelle, veral die weke wat ek beter voel tussen behandelings, het aan die orde van die dag geword. Wanneer ek uit die huis gegaan het, het ek ‘n kopdoek oor my kop gesit.

Ek besluit toe om maar die pruik ding ‘n kans te gee, siende dat hulle my oortuig het (ek het nie verskriklike oortuiging nodig gehad nie, moet ek by sê). ‘n Vriendin van my, Lorinda, het aangebied om my te help met die kies van ‘n pruik en om my heen en weer te karwei. Ek maak toe ‘n afspraak vir een Saterdag oggend en daar gaan ons Linden toe, in Johannesburg. Die plek waar ek ‘n afspraak het, word genoem A Few Gray Hairs. ‘n Woordspeling, want haar embleem is ‘n klomp hasies of seker eerder konyne (hairs in Engels). Hier ontmoet ons Delia Dashwood.

Delia begin eers deur ons die Wetenskap agter hare en die haarfollikel (sjoe is hierdie spelling reg?) te verduidelik. Daar is soveel inligting wat deurgegee word, ons het nie die realiteit besef en verstaan van wat gebeur wanneer iemand Chemoterapie ontvang nie. Ek het wel geweet dat hare vinnig groeiende selle is en dit is hoekom die Chemo dit eerste takel (kanker is ook ‘n vinnige groeiende en verdelende sel en daarom dat Chemo toegedien word). Wat ek nie geweet het nie, is weens die behandeling, word die haarskag (daar waar die hare vanuit groei) se vorm verander. Delia het soveel terme genoem, dit voel of ek niks van dit kan onthou nie, so ek gaan nie eens probeer om dit oor te dra nie.

Die Chemo maak nie die hare dood nie, so hulle gaan nie weg gaan en nooit weer groei nie. Hulle word maar net geteiken wanneer behandeling ontvang word en daarom die rede dat dit uitval. Dit word nie toegelaat om te verdeel en groei soos altyd, wanneer die liggaam nie behandeling ontvang nie. Die Chemo veroorsaak inflammasie van een of ander aard rondom die haarfollikel (ai tog ek moet seker maar die spelling gaan navors – dit pla my nou – ek het gou gaan Google dis wragties reg!). Die inflammasie is dan wat die gevolg het dat dit seer is wanneer dit uitval. Sy het verduidelik dat daar ‘n klier op die kopvel is, wat olie produseer en wat ookal die hare nodig het om te groei, die natuurlike sjampoe en conditioner (wat is dit tog in Afrikaans? Google laat my in die steek want ek kry net lugverkoeler en dis nie wat dit is nie, en iets wat ek geweet het van airconditioner…).

Ek het geleer dat ek nie veronderstel was om my hare met ‘n skeermes af te skeer nie. OEPS! Ek het dit twee weke terug gedoen, want die haarverlies met die kort stompies vir hare het net ‘n irritasie geword! Ek het verder ook geleer dat ek nie enige produkte soos rome en olies op my kop moet sit nie. Dit gaan heelwaarskynlik tot die gevolg hê dat die opening by die kopvel, geblok sal word en nog inflammasie veroorsaak. Dit sal weer die risiko vir infeksie tot gevolg hê. Iets wat ek nou moet vermy….

Sy het verder verduidelik dat die verandering aan die haarskag en haarfollikel, sal veroorsaak dat die hare nie sal uitgroei soos vantevore nie. Voorheen sou die skaf en follikel meer reguit wees, maar die Chemo veroorsaak dat dit minder reguit sal wees, amper met ‘n kronkel en kinkel hier en daar. Dit veroorsaak weer dat die hare krullerig uitgroei. Hulle noem dit Chemo krulle of Chemo curl in Engels. Dit neem ongeveer 2 jaar vir die hare om na normaal terug te keer en ek was ook vertel dat dit hoogswaarskynlik is dat dit grys gaan uitgroei….

Sy het verder verduidelik, dat in haar 30 jaar van haarkappery ervaring, dat sy agter gekom het dat kliënte ongeveer 10 minute neem om gewoond te raak aan drastiese veranderinge aan hul hare. Of dit nou ‘n vrywillige of onvrywillige, drastiese haarkleur verandering of haarstyl was. Die reaksies was dieselfde. Sy het toe besluit dat sy haar kliënte self hul hare uitkam net na dit gekleur of gesny was. Sy sou hulle vir ongeveer 10 minute alleen los om net dit self te verwerk. Sy het verduidelik dat dieselfde horme, Kortisol, vrygestel word as wanneer jy in ‘n veg of vlug situasie is. Die dosis is aansienlik minder en ons liggame voel dit nie noodwendig nie, maar die realiteit is, dis daar.

Dit is hoekom ons hierdie emosionele konneksie het met ons hare. Dit is hoekom ek, toe ek deur die proses van hare korter sny gegaan het en deur die haarverlies gewerk het, op sosiale media ‘n inskrywing geplaas het dat dit nie net hare is nie. My eie haarkapper het al in die verlede vir my gevra, wanneer ek my hare wil sny of ‘n drastiese verandering doen, of ek nie deur ‘n emosionele iets gaan nie? Ek het toe besef, dat, wanneer jy niks in jou huidige omstandighede kan verander nie, jy emosioneel begin voeI. Jy val dan terug na die een ding waaroor jy beheer het en wat jy kan verander, en wat jou hopelik beter laat voel na jy dit gedoen het – jou hare verander. Nou maak dinge soveel meer sin vir my.

Ons het toe verder gegaan om die pruike te bespreek en hul materiaal aan die binnekant. Die verskille tussen sintetiese hare en regte mens hare. Sy het die materiaal aan die binnekant met voertuie vergelyk. ‘n Honda Jazz teenoor ‘n BMW. Natuurlik is die BMW baie meer gemaklik, maar dit was die prys wat my laat besluit het om eerder maar die Honda te kies bo die BMW….regte mens hare het ook vir my soos ‘n beter opsie gelyk, omdat dit langer sal hou as sintetiese hare, wat nie van wrywing hou nie. Ons almal weet ook hoe ‘n Barbie pop se hare na ‘n ruk lyk, en ek wil nie soos daai Barbie lyk nie…

Terwyl ek die pruike op my kop gepas het, was ek nogals verbaas oor hoe vreemd dit vir my gevoel het. Ek het so gewoond geraak om geen hare te hê nie, noudat ek weer hare op my kop het en dit uit die hoek van my oog sien, was dit net WEIRD! My hele gesig het weer verander toe ek hare op my kop het. Daar was een pruik, wat Lorinda, agter gekom het, dat my gesigsuitdrukking meer verander het as toe ek ander gepas het. Nie eens ek het dit agter gekom nie! Maar Lorinda het dit agter gekom. Ek het nie besef dat ek eintlik hare wou hê nie. Ek het regtig gedink ek het deur dit gewerk om nie hare te hê nie en dat ek gemaklik was met dit. Want ek was. Maar wow, met hare, dis net op ‘n ander vlak.

Oppad huis toe, het Lorinda, my gevra wat gaan ons die pruik noem? Sy moet ‘n naam hê. Iets elegant en koninklik. Maar ek kon net nie dink aan ‘n naam nie. Kort na ons vertek het by Delia se salon, bel my man my. Natuurlik was hy baie nuuskierig oor die keuse en of ons reg gekom het. Ek het hom toe net geantwoord en gesê hy moet maar wag en sien. Ek vra hom toe vir ‘n naam vir haar, iets wat nie cheesy of af klink nie. Iets mooi. Dit was hy wat toe voorgestel het Rachel (nie die Afrikaanse Ragel nie – die Engelse uitspraak). Sy word benoem na Rachel van die Friends reeks. Sy het mos altyd hierdie perfekte hare gehad.

Ek en Lorinda het sommer dadelik van die voorstel gehou en dis wat ons haar nou noem. Rachel (onthou – nie Ragel nie) is nou deel van my lewe vir hoe lank ookal dit nodig is vir haar om te bly. Sodat ek ‘n mate van normaliteit onder my huidige omstandighede, wat ek myself in bevind, kan hê. My kinders se reaksie was priceless soos hulle in Engels sê. My seun het dadelik opgespring van die stoel waar hy gesit het, reg om my met ‘n breë glimlag te groet en te sê dat hy daarvan hou. My dogter het ook na my gehardloop met ‘n groot glimlag op haar gesig.

My man het net daar gestaan en staar, gesê dis vreemd om my nou weer met hare te sien, maar dit lyk mooi vir hom ook. Hy was verbaas oor hoe natuurlik dit lyk. Ek het regtig gedink dat my kinders so bietjie verboureerd gaan wees deur die hare, maar duidelik het geen hare ‘n groter en erger effek op hulle gehad. Niemand het ooit my ongemaklik laat voel sonder hare nie, hulle het ook niks oor dit gesê nie. Maar diep binne in hulle, het hulle tog emosies weggesteek, om my te sien sonder hare. Hulle het dit diep weg gebêre, sonder dat enige van ons dit besef het.

Ek het so ‘n aangename ervaring gehad by A Few Gray Hairs saam met Delia. Sy het regtig alles verduidelik, sonder om ongeduldig te wees en sonder om net in te spring om pruike te pas, vir sommer net se sommer se pas en om ‘n pruik te smous. Delia doen regtig goeie werk, sy maak ook self pruike van hare wat geskenk word. Sy gaan om by skole en sny ‘n stukkie van meisies se ponies af om te gebruik in pruike. Dis nie opsigtelik nie, so dis nie asof hulle met ‘n hap in hul hare rondloop nie. Die pruik wat ek gekies het is ingevoer van Amerika af, want dit was dadelik beskikbaar om huis toe te neem (wat ek eintlik geheimsinnig by myself gehoop het die geval sou wees, voordat ons soontoe gegaan het). Ek het die keuse om te wag vir een om gemaak te word, maar, het besluit dat die een wat ek gepas het, die regte kleur en lengte was, en ook goed gepas het op my kop. Delia, vanuit die diepte van my hart, bedank ek jou vir wat jy doen. Vir die goeie dade wat jy doen deur pruike te maak om aan almal se behoeftes te voorsien – van gratis pruike wat geskenk word, tot handgemaakte pruike asook ingevoerde pruike. Mag jy in oorvloed geseën word vir jou mooi hart.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.