Posted on Leave a comment

Huildag

Amper elke dag van die week wat ek Chemoterapie ontvang, voel soos huildag. Ek sukkel om te onderskei tussen die dae van die week, want elke dag wil ek net huil. Die Maandag is gewoonlik die ergste. Die drips maak seer en dit wil voorkom of ek die uitskieter geval is waar die drip in my weefsel in lek. Want dis, volgens die inligtingsbrosjure, nie iets wat “sommer” gebeur nie.

Die Dinsdag is gewoonlik so bietjie beter, maar dis alles voor die inspuiting wat witbloedselle produseer in my liggaam. Jy sien, dis nie die Chemo wat die gewas dood maak nie. Dis die witbloedselle – die chemo maak die gewas swak en dan kom my lyf se weermag en val aan met mening. Hierdie was nou maar rondte twee. Nog vier om te gaan. Woorde wat goedkoop en maklik geuiter word. Woorde wat niemand besef moeilik is vir my om self te sê nie.

Ek sê dit, maar ek krimp ineen soos ek dit sê want ek weet wat elke nommer van 1 tot 6 beteken vir my. Vir hoe my lyf voel. Vir die eerste keer in my lewe kan ek die verskil voel in my liggaam wanneer ek eet. Veral in behandelingsweek kan ek voel ek kort kos en die oomblik wat ek eet voel ek beter. Maar wanneer ek so bietjie te lank neem om iets te ete te kry, o genade ons, dan moan en protesteer my liggaam omtrent!

Ek het so baie dinge as vanselfsprekend gevat. Goed soos om broodjies vir die kinders te pak, die huishonde kos te gee, bad, aantrek en grimering aansit. Alles kom so maklik wanneer jou liggaam nie swak is nie. Almal lewer kommentaar oor hoe braaf ek is en hoe goed ek die ding hanteer. Dan hoor ek die duiwel in my gedagtes krap en sê dis fake. Jy is fake. Jy post net die mooi foto’s van jou met grimering op sosiale media.

Eers het ek ou knopkop geglo. Jy sien, my hele lewe is onder my voete uitgeruk. Hierdie is wragties ‘n seisoen in my lewe waar ek gestroop is van alles. Van my hare, naels (ja ek moet die akriel laat uitgroei), tot my oefening, selfs my werk (al was dit propvol spanning het dit my tog gehelp om te ontwikkel tot wie ek vandag is). My werk is iets wat ek geweet het hoe om dit te doen. Ek dink as jy my 3 uur die oggend sou wakker maak met een of ander belasting vraag, sal ek jou tien teen een kan antwoord of in die regte rigting stuur.

Ek weet nie hoe om te wees soos ek nou is nie. Om normaal te kan funksioneer bestaan net nie. Niks gebeur soos dit altyd gebeur het nie. Tydens Behandelingsweek, het ek nie energie om regop te sit om vinnig ‘n bybelvers te skryf, my video te maak en my oordenking te gee van dit nie. Ek voel of ek besig is om my pienk vere® te verloor. Ek kry nie myself gevoed met God se woord nie. Die beste wat ek kan doen is om praise & worship musiek op te sit. Dis al wat ek nou kan doen.

Om in die badkamer te huil het aan die orde van die dag geword. Daar kan nie onderskei word tussen badwater of stortwater (die dae wat ek stort) en trane nie. Die huis is gewoonlik leeg, my man vat die kinders skool toe en dan kan ek ruk soos ek huil en oor en oor uitroep na God toe om net hierdie proses te stop. Kan dit nie net ophou nie Here? Hoor ek myself oor en oor vra. Die dag voor behandeling het ek myself die eerste keer hoor vra Hoekom Here? Hoekom die? Hoekom ek? Hoekom? Net na ek die vrae vir die Here gevra het, word ek een oggend wakker tydens die eerste behandeling siklus. Ek slaap met praise & worship musiek ook….daardie oggend toe ek wakker word, was ek helder wakker. Die woorde wat op die luidspreker speel is van Mercy Me se Dear Younger Me. Die woorde wat ek gehoor het was Dear Younger Me, It’s not your fault. You were never meant to carry this beyond the cross… Die was die eerste keer wat ek die Here hoorbaar op so ‘n manier gehoor het.

Soveel mense loer in via Whatsapp, stuur bybelverse, bid vir my. Ek bid net dat dit gouer verby sal wees en dat ek sal ophou dink aan die behandelingsdag met die wrang smaak van medikasie in my mond. Ek bid dat my liggaam sal aanhou reageer op die behandeling. Dat die ding nou oor en verby kan kom. Elke keer wat ek dink aan behandelingsdag, dan voel ek naar. Dis asof ek dit probeer uit my sisteem uit kry. Ek dink vir die eerste keer in my lewe verstaan ek die bybelvers in Filippense 3:13-14 beter: Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Ek probeer om nie te dink aan hoe dit gevoel het nie. Probeer die smaak in my mond ignoreer. Probeer so normaal as moontlik voortgaan. Dis moeilik, maar ek probeer. Ja ek was nog altyd iemand wat net mooi fotos op sosiale media geplaas het, wie wil dan sonder grimering (en in my geval sonder hare ook) hulself op sosiale media plaas? Ek besef net al hoe meer dat daar soveel bybelverse is wat meer sin maak vir my. Eers wanneer mens deur iets soos dit gaan, iets waar jy gestroop is van alles, en letterlik met niks, voor God kniel in aanbidding en smeking om hierdie beker te laat verby gaan, begin mens die waarde van die lewe besef.

Die belangrikste van alles is, is om God in elke oomblik van hierdie proses te sien en te erken. Al is dit nie lekker nie. Om daardie rede deel ek hierdie met die wêreld, sodat mense kan sien wat God vir my doen, ongeag my omstandighede. Ek dink dis normaal om hartseer te wees, te huil en smeek dat dit net verby gaan. Maar God bly in die middel van dit alles. Hy het my tot hierdie ding gebring en Hy sal my deur dra. Dis nie maklik nie en glad nie iets wat ek alleen en uit eie mag kan doen nie.

Die glimlagte van my en Heinrich op die fotos is genadiglik nie fake nie. Want een ding het ons geleer – jy kan of in ‘n hopie sit en wieg en huil en tyd mors terwyl jy ‘n blikkie wurms eet, of jy kan maar lê en movie marathons hou en beter word. En die oomblik wat jy beter voel en beter word, dan kan jy opstaan en die stof wat probeer lê van siek en sleg voel afskud en aangaan. ‘n Goeie sin vir humor help natuurlik. Gewoonlik voor elke foto, trek Heinrich sy gesig snaaks vir my of doen iets laf, sodat ek nie anders kan as om te lag vir hom nie.

My sin vir humor is baie belangrik en dra my deur dit alles. Ek was ongelooflik hartseer oor my hare, maar, nou moet ek net die beste van dit maak. Poena Potgieter hoor ek myself sê vir my man. Hy lag en dis asof alles weer normaal word vir ons in hierdie omstandighede. My stompies van hare frustreer my, dit voel soos girts band of eerder velcro (ek weet nou wragties nie wat dit in Afrikaans is nie). Dit klou aan my kussing vas as ek beweeg wanneer ek slaap.

Die half uitgegroeide akriel naels is nog meer van ‘n irritasie. Klein goedjies wat ek gereeld moet sien en mee moet deal om te onthou wat die einddoel van alles is. Om gesond te wees. Om te doen wat die Here wil hê ek moet doen. Om te wees waar God my nodig het. Binne in die vuuroond. Dis warm daar binne en mens sweet. Ek sê altyd sweet soos ‘n vark, maar ek weet nie of varke sweet nie. Die storie van Sadrag, Mesag en Abednego vertel ons dat hulle uit die vuuroond gestap het sonder dat hul klere gebrand het, hare geskroei het of dat hulle na rook geruik het.

Die Bybel praat niks van hul emosies nie. Ook nie of hulle gesweet het nie. Maar die Bybel leer ons wel dat hulle ongeskonde uit die vuuroond gestap het. Dit is waarvoor ek die Here vertrou. Om ongeskonde aan die ander kant uit te stap. Ja, ek gaan dalk bietjie stink na sweet, maar, ek gaan nie verbrand wees nie. Ek gaan nie eens soos rook ruik nie. Soos wat ek hierdie tik, voel ek die Heilige Gees in my binneste praat, om my te herinner aan die skrif uit Filippense uit. Hou op dink aan die Maandag wat jy behandeling ontvang het…hoor ek die fluistering in my binneste. Strek jou uit na wat voor jou is.

Ek kan nie anders as om te weet dat alles goed gaan verloop nie. Ten spyte van alles wat gebeur, hoe aaklig en emosioneel ek voel tydens behandelingsweek, gaan ek ok wees. Meer as ok. In die tussen tyd moet ek net doen wat ek kan om God se woord te versprei oral waar ek gaan. Of dit nou by die Onkoloog is en of dit by ander dokters is, God se woord sal versprei word! Met ‘n dankbare hart, dankbaar dat ek die Here ken en in my lewe het, sluit ek af. Ek het al oor en oor geuiter dat ek wragties nie weet hoe mense dit doen sonder Hom nie. Hoe kom hulle deur so iets sonder Hom? Dan hoor ek weer Mercy Me se woorde eggo Dear Younger Me, It’s not your fault…..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.