Posted on Leave a comment

Die vreugde en vrede

Ek is laat met Oktober 2023 se inskrywing, en met goeie rede. Laat ek net so bietjie terug gaan en verduidelik, vir die wat dalk nie weet nie. Op 16 Oktober 2023 het ek my eerste Chemoterapie behandeling ontvang. Ek moet vir myself lag oor hoe onvoorbereid ek was vir daardie geleentheid. Die inligtingsbrosjures wat hulle vir jou gee vooraf, sê vir jou om goed te bring om jou besig te hou, goed soos skootrekenaars, tablette, boeke om te lees. So wat doen ek? Ek pak ‘n hele sak vol goed om te doen, want 4 ure is lank en ek weet nie wat dit is wat ek gaan wil doen nie. Dis net so tipies van hoe ek is. Oorkompenseer en gebruik nooit als wat ek pak nie.

So daar sit ek, drip in my linkerhand, skootrekenaar opgestel, ingeteken op my webblad. Ek het regtig gedink dat ek sou kon sit en skryf terwyl die Chemo deur my are loop. Wel, dink weer! Die medisyne wat hulle voor die Chemo gee om jou maag te beskerm en wat ookal anders beskerming nodig het, is heavy, dit maak jou moeg en slaperig. Ek het begin huil toe die drips aangesit was, want dit het in my weefsel gelek eerder as om deur my are te vloei. Toe het ek almal se aandag in die vertrek. Nie doelbewus nie, maar ek het dit gehad.

Toe pak ek maar die skootrekenaar weg. Ek voel vaak, sit praise & worship musiek op my oorfone en verval toe in ‘n ligte slaap. Tussen ‘n wakker en aan die slaap gevoel, hoor ek ander pasiënte gesels met mekaar. Ek bewonder hulle dat hulle dit kan doen. Gesels. Ek was so vaak, ek kon nie reguit dink nie. Die enigste verduideliking wat ek vir dit het is dat hulle Chemo anders is as myne, hul medisyne wat vooraf toegedien word is anders as wat ek kry. Wat ek eintlik wou sê met die inleidende paragrawe was dit – ek was nie in staat om behoorlik te kon skryf en webjoernaal inskrywings te maak vir ‘n geruime tyd nie, weens alles wat aan die gebeur is in my lewe.

Die skrif van Oktober is van Psalms. Nou toe ek die skrifvers op die Afrikaanse tafel kalender (desk pad) nagaan, sien ek dat ek dieselfde vers nommer op die Engelse weergawe het, maar die twee verse is anders. Dit is omdat die Afrikaanse weergawe sommige van die titels en beskrywings van die Psalms as verse vertoon en die Amplified weergawe nie dit so doen nie. Elkgeval, dis nie regtig eintlik waaroor hierdie inskrywing gaan nie. Hierdie inskrywing vir Oktober 2023 sal dan oor beide verse gekombineerd wees. Die een van die Engelse tafel kalender en die een van die Afrikaanse tafel kalender.

Eers was ek so bietjie vies vir myself omdat ek dit gemis het, maar, op die ou einde van die dag, weet ek God het ‘n plan met dit. Die Afrikaanse weergawe praat van meer vreugde as wanneer die skure oorloop en die Engelse weergawe praat van om te rus en aan die slaap te raak omdat Dawid veilig voel by God. Wow. Hoe akkuraat is hierdie verse nie net van my huidige omstandighede nie?

Die vreugde wat ons ervaar het, was toe ons die Professor een en ‘n halwe weke later gesien het, na ek my eerste behandeling ontvang het. Ons het besef dat daar ‘n verandering in die knop is en dat dit besig is om te verander en hoe gering ookal, is die knop besig om kleiner te word. Die vreugde wat daar in ons harte was, kan nie vergelyk word met enige fisiese voorsiening nie. Die ander vers is ook waar in my omstandighede. Met alles wat gebeur, kan ek nie anders as om oral onveilig te voel nie. Onseker en onveilig. Vandat ek kan onthou sukkel ek met slaap. Soms om aan die slaap te raak, ander kere om aan die slaap te bly.

Gedurende die week van Chemo, het ek ‘n ander sy van slaap ervaar, soortvan. Ek het vinnig aan die slaap geraak, sommige nagte vir langer geslaap (nie al die nagte nie). Toe ek op my swakste was fisies, het ek uitgeroep na Jesus. Ek het ‘n liedjie gespeel, oor en oor, van Jeremy Riddle genaamd His Name is Jesus. Die vrede wat gekom het deur dit te doen, kan nie verduidelik word nie. Die slaap was soos niks wat ek tevore gehad het nie.

Ek kan nie help om te glimlag wanneer ek na die verse kyk nie. Ek besef toe ek in Mei 2022 die ontwerpe gedoen het, was God reeds in Oktober 2023. Hoe wonderlik is dit nie net nie? Die vreugde en vrede wat mens kan ervaar, ten spyte van jou omstandighede waarin jy jouself bevind. Eers as jy daar is, kan jy jouself vereenselwig met dit en verstaan. Woorde kan dit nie beskryf wat gevoel word in sulke omstandighede nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.