Posted on Leave a comment

In siekte en gesondheid

Vandag vier ek en my man ons 17de huweliksherdenking. So baie het in ‘n jaar se tyd verander. Laas jaar die tyd, was ons oppad na ons see vakansie toe. Ons het die hele dag gereis en glad nie ‘n huweliksherdenking gehad soos ons gewoond geraak het om dit te vier nie. Hierdie jaar, het nie een van ons verwag om die diagnose te ontvang twee weke voor ons spesiale dag nie. Die afgelope paar weke voel soos maande. So baie het gebeur in so ‘n kort tydperk.

Wanneer jy voor die kansel staan, maak jy daardie belofte om lief te wees vir mekaar, ongeag wat gebeur. Nie een keer het dit in my 25-jarige brein se gedagtes opgekom die werklike impak van daardie belofte nie. Daar was baie goeie tye maar ook harde tye, wat minder goed was. Vir die eerste keer die jaar, eintlik toe hy sy voet beseer het in ‘n klein DIY projek ongelukkie, hier by die huis in Januarie, was ons gekonfronteer met die siekte deel van die belofte wat ons gemaak het 17 jaar gelede.

Ons wêreld was onderstebo gekeer deur daardie gebeurtenis. Ek het selfs chauffeur gespeel en hom na ‘n kliënt geneem om te werk, omdat hy nie homself kon bestuur nie. Dit was ‘n bietjie van ‘n frustrasie vir my, want ek het ander dinge beplan vir daardie dag. Maar, ek het dit gedoen, want, dis mos wat ons doen nie waar nie? Toe word alles beter, hy kon weer op sy voet trap en dinge het stadig terug na normaal gekeer vir hom. Toe tref Vertigo my soos ‘n goedere trein – onverwags en ongenooid. Die keer was dit sy beurt om my na die dokter te neem toe dit nie beter raak nie.

Aan en af die jaar, het ons oomblikke gehad. Waar ons óf so uitgeput en uitgemergel gevoel het, óf net so bietjie nie lekker gevoel het nie. Iets wat ons nie gewood was om te voel en ervaar nie. Die gebeurtenis in ons huwelik, wat alles geruk en skud het, was die diagnose wat uitgespreek was oor iets in my liggaam. Ons wêreld was verpletter. Dit was nie wat ons beplan het nie. Siekte is nooit in enige iemand se planne nie, wil ek net byvoeg! Maar op daardie tydstip, het ons net weereens besef hoe kort ons tyd op aarde saam is. Hoe vinnig ons lewens kan verander in ‘n oogwink.

Nou, die kort tydperk op aarde waarna ek verwys, is geensins dat ons ‘n doodsvonnis aanvaar het met die diagnose saam nie. Nie een van die Professors wat ons sien, het enige indikasie gegee dat ek slegs 2 ure het om te leef nie, en dat ek nou my sake in orde moet kry en ‘n lekker koelte boom soek en wag vir die einde om te kom nie. Glad nie! Maar, iets soos die, laat ons net weer besef dat ons waarlik lief is vir mekaar. Dat ons werklik die beste vir mekaar wil hê. Dat ons daar is vir mekaar, wat ookal oor ons pad kom.

Dit het ons eintlik nader aan mekaar gebring, soos ons nog nooit tevore was nie. Die skok op ons liggame was aaklig, ons het gesukkel om te slaap, so baie saam gehuil, op vreemde tye wakker geword, wat ons benut het om te gesels oor goed, iets wat ons nooit normaalweg gedoen het nie en ook nie tyd voor gemaak het nie. Dit het ons eintlik net laat besef dat ons elke liewe oomblik wat ons saam het moet waardeer.

Vandag vier ons 17 jaar van dit! 17 jaar, wat bestaan uit, ek weet nie hoeveel sekondes, van alles wat ons gedeel het nie – lag en grappies, trane, meningsverskille en argumente (daar was baie toe ons jonger was – die argumente is nou minder, dankie tog vir groei!), gesondheid, siekte, frustrasies, vakansies, lekker tye en hartseer tye. Jy noem dit en ons het dit tien teen een al saam ervaar. Aan my man Heinrich – dankie vir wie jy is. Dankie vir die persoon wat jy my gehelp het om te word. Dankie vir jou omgee vir my, dat jy lief is vir my, en dat jy is wie God jou geskape het om te wees! Ek het gebid vir jou, ek was nie baie spesifiek in my gebed op daardie tydstip nie, maar, God het die twee vereistes wat ek in daardie gebed gehad het as ‘n jong vrou, vervul.

Ek dank die Here elke dag vir jou. Ja ons het moeilike tye ook, tye waar ons nie altyd saam stem oor alles nie. Maar, in daardie moeilike tye, is wanneer ons gevorm word. God maak nie foute wanneer Hy twee mense bymekaar voeg soos wat Hy met ons gemaak het nie. Hier is op nog 17 x 17 jare van huwelik vir ons! Mag ons altyd op ‘n plek wees waar ons God soek in alles wat ons doen. Mag ons altyd op ‘n plek wees waar ons alles met mekaar kan deel, en nie bang sal wees om te deel oor dit wat ons pla nie, of nie bang sal wees om te wonder oor iets en selfs hoe om op te tree in ‘n sekere situasie wat hanteer moet word nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.