Posted on Leave a comment

Die Wees Gees

Saterdag, 2 September 2023. My wekker gaan 4h30 in die oggend af. Ja, jy lees reg, 4h30 in die oggend. Ek draai na my bedkassie om die wekker af te sit, ek besluit om hom te snooze vir nog 5 minute. So asof daardie 5 minute wat ek lê ‘n verskil gaan maak aan hoe wakker ek is die dag. Elkgeval, ek staan toe 4h35 op, gaan staan in die stort en wag vir wakkerheid om nader te kom, want wragties, ek kry dit nie en voel dit nie. Nie te min, ek gaan voort, stort, was hare, trek aan, blaas hare (ek het ‘n redelike krul en frizz wat ek onder beheer wou kry en die dat ek so vroeg op is). Terwyl ek regmaak, hoor ek ‘n voëltjie fluit buite in die tuin. Elke oggend, so van 4 uur se kant af hoor ek die betrokke voëltjie tot omtrent dat die son op is, en dan is hy stil.

Ek wonder al vir jare watter voëltjie dit kan wees, maar nou is nie die tyd om dit te probeer uitwerk nie. Ek moet ry. Ek wou al 6 uur die oggend gery het, maar al my draaitjies en admin in die huis wat eers afgehandel moet word, veroorsaak dat ek eers 6h30 ry uit Skeerpoort uit. Die kar se neus word gedraai in die rigting van Pretoria. Ek maak eers ‘n pit stop in Pretoria Noord om my skoonsus op te tel, waarna ons ry na die Ooste van Pretoria toe. Na Moreletta Gemeente toe. Na die Worthy Woman Konferensie, aangebied deur Gretha Wiid.

Hier wil ek sommer nou al sê – kook die ketel, maak jou koffie en sit rustig en lees. Die dag kan mens nie in ‘n 5 minute read vasvang nie! Hierdie jaar sal die derde keer wees wat ek die WWC bywoon. Ek het die heel eerste een in 2009 bygewoon, toe weer in 2013 en nou die jaar in 2023. Om hierdie jaar by te woon was nie in my beplanning nie. Jy sien, ek het nie oorspronklik ‘n kaartjie gekoop nie. Ek het iemand anders se plek oorgeneem wat nie kon gaan nie. Toe glimlag ek by myself en weet sommer die Here het ‘n ander plan vir my ingedagte. Geklee met my swart hemp met pienk flaminke op geborduur, met die woorde Pienk Vere® vir die Here agterop, woon ek die dag by.

Al die mans van die bybel was piesangs!

Gretha Wiid

Ek probeer onthou hoe die dag normaalweg verloop, maar kan nie regtig presies die verrigtinge onthou nie. Ek weet net ek skater altyd soos ek lag vir Gretha, veral as sy met haar verskillende stemme praat en goed beduie. Natuurlik het die vyand probeer om dinge ongemaklik te maak op die dag. Net na ons gaan sit het en die verrigtinge begin het, ongeveer 9 uur die oggend, kondig hulle af dat die munisipaliteit pas laat weet het dat die water toevoer toegemaak gaan word. Dus is ons almal op ‘n emmer sisteem. Wanneer jy gaan pieps, vat jy ‘n emmer water saam om die toilet af te spoel.

‘n Blonde vrou kom op die verhoog, sy lyk soos Gretha, net so ‘n bietjie jonger weergawe van haar. Ek en my skoonsussie en haar vriendin bespiegel of dit Gretha se sussie dalk is? Want vet weet, sy lyk baie ampertjies soos Gretha. Dan wonder ons weer of dit nie dalk Gretha is nie, en by myself wonder ek nou of ek vergeet het hoe lyk Gretha? Nie te min, die vrou trek daar los en begin sing, en in my kop besluit ek, dis nie Gretha nie. Net iemand wat amper soos sy lyk. Toevallig jy weet? Na die ongelooflike praise & worship kom Gretha op die verhoog en dit bevestig wel toe dat dit nie Gretha was wat gesing het nie. Ek los die gedagte daar oor wie Gretha se look-alike is wat gesing het en fokus op Gretha.

Die tema vir die jaar se konferensie is Orphan Spirit. Nou dink ek by myself, hoe vang ek een hele dag vas in een inskrywing? Dis moeilik, want daar gebeur so baie, baie word gesê, die Here werk met elke vrou daar. Maar hier gaan ek. Gretha begin deur te praat oor hoe ons land en suidelike Afrika, die Afrikaner nasie afgode aanbid. Sy sluit egter alle mense en rasse in – nie net die wat Afrika beeldjies en ander vreemde goed aanbid nie. Kerk aanbidding het ook ‘n afgod geword. Dan praat sy in haar Gretha stem en sê soveel snaakse goed, wat ek nie alles kan onthou nie, maar wat waar is – goed wat tipies iemand beskryf wat kerk toe gaan om byvoorbeeld, net nagmaal te gaan gebruik omdat hulle lank laas in die kerk was of omdat hulle skuldig voel omdat hulle nie kerk toe gaan nie.

Ek wil maar eerder nie iets probeer kwoteer nie, want ek is seker ek gaan dit verkeerd kry. Sy gaan voort om te praat van wat mans aan vrouens in die Ou Testament gedoen het en hoe dit nie God se hart was nie. Sy (Gretha nou as jy nou dalk wonder) sê sy was kwaad vir God omdat Hy toeglaat het dat mans so optree teen vrouens. Sy het wel haar ding wat sy gevoel het oor dit, met die Here uitgeklaar, so sy is nie steeds kwaad vir God nie, net om duidelikheid hier deur te gee dat niemand iets misverstaan nie. Sy het ook na die mans in die bybel verwys as Piesangs, want, sy het gesê sy moet regtig probeer om die woord P*ep*l minder te gebruik.

Gretha met haar Shakespear English het my laat skater!

Elsie Potgieter

Die storie wat vertel word, is van Sarah, wat vir haar man Abraham een van hul slavinne gegee het, omdat sy nie kinders kon kry nie. Net sodat hy ‘n nageslag kon hê. Dan draai dit by Dawid en hoe hy vir Batseba geneem het, terwyl hy eintlik moes veg. Weer het sy haar beroemde Gretha-stem gebruik en gesê “Maar Gretha, Betseba het eintlik vir Dawid verlei” of iets in daardie lyn, wanneer dit eintlik glad nie die geval was nie. Dawid was nie in die oorlog nie en Batseba was besig met haar reinigingsbad, want, in daardie tyd, as ‘n vrou gemenstrueer het, moes hulle iewers op ‘n klip sit, soos Gretha dit genoem het, omdat hulle onrein was en moes bad om hulself te reinig wanneer dit verby is, en DIS waarmee Batseba besig was.

Ek dink by myself, dit was eintlik verskriklik om in daardie tyd te moes lewe. Ek meen, elke 28 dae word jy uitgegooi soos ‘n vrot stuk iets en eers later kan jy weer aangaan soos altyd. So almal het altyd geweet wanneer wie menstrueer. So bietjie over share maar nou ja, dit was die gebruike en tradisies van daardie tyd. Gretha gaan voort en verduidelik ‘n klomp goed, ek kan nie alles onthou nie, maar ek volg wat sy probeer deurgee. Tussen deur is daar weer grappies, wat sy vertel van hoe vrouens onderdruk word en wanneer daar vir ‘n Afrikaanse vrou gevra word, “Waar bly jy?” dan is die antwoord “Jy BLY STIL!”

Sy praat verder van Saul wat nie die stamme uitgewis het wat uitgewis moes word, toe die Here vir hom die opdrag gegee het nie, want dit het vir Saul net oor Saul gegaan. En omdat Saul nie sy plig en opdrag nagekom het nie, het die Here vir Esther en Mordegai gebruik 500 jaar later om te doen wat Saul moes doen. Die punt wat sy gemaak het was, as ons nie nou goed stop en keer nie, moet ons kinders se kinders se kinders met goed deal wat ons kon uitsorteer sodat ons nageslag vry kan wees en leef.

Dit gaan oor die gees wat heers. Maak ‘n lyn in die Gees en sê “No More”!

Gretha Wiid

Nou hier is waar ek myself in my nota’s verloor! Ek het soveel snaakse goed neergeskryf wat sy gesê het, maar o weë ek kan nie alles onthou wat sy voor en na dit gesê het nie. As ek dit nou probeer deurgee gaan dit GLAD NIE sin maak nie, so ek gaan nie eens probeer nie. Maar nie te min, ek voel dat ek tog nog ‘n paar goed wat gesê was gaan uitlig. Bear with me here – dit gaan dalk deurmekaar lyk en klink maar ek glo die Here sal dit alles bymekaar bring sodat dit wel sin kan maak.

Gretha het verder klem gelê oor hoe ons praat. Ons kan nie sê almal is God se kinders nie. Die Here het wel alle mense geskape, maar, as jy as mens nie Jesus kies nie, kan jy nie God se kind genoem word nie. Daar is soveel leuens wat saam met Religiousness saam gaan. Een van hulle is dat mens dinge op ‘n ander manier sê sonder om ander te offend. Die stilblyer is so goed soos die ongeredde (sy het dit afgelei uit die gesegde die deler is so goed as die steler). As jy nie opstaan vir dit wat reg is nie, en nie jou mond oopmaak om dit te erken nie, dan wat maak dit jou anders as die ou wat nie glo nie?

Die Woollies saga het opgekom. Gretha het vir ons verduidelik dat sy Woollies LOVE (ja net soos ek hulle ook LOVE want hul goed is net op ‘n ander vlak in vergelyking met ander winkels). Sy het een oggend baie vroeg wakker geword met die skrif van Paulus en Silas wat vra vir die mense om te bid sodat hulle nie bang sal wees om te praat nie. Sy spot so ewe en sê vir die Here die skrif kan nie vir haar wees nie, want Hy moet pasop watter skrif Hy vir haar gee, sy is nie bang om haar sê te sê nie. Net daardie selfde oggend stap sy by Woollies in en toe slaan die LGBTQ+ haar soos ‘n vuishou in die gesig.

Ek moet elke keer gaan kyk watter alfabet letters word hier gebruik, en ek verwys altyd na die LG-alfabet-letters ding toe. Maar nie te min. Dis toe net daar wat sy verstaan hoekom die Here die skrif vir haar gegee het. En hoekom sy Woollies in die Pride maand geboycot het. Mense het haar uitgehaal, ander het privaat boodskappe gestuur, te bang om iets in die publiek te wys van hul ondersteuning. Ander het gevra maar hoekom koop sy dan steeds by Woollies? Toe sê sy weer soos wat net Gretha kan “Want dis die DOEL van ‘n boycot!” Die geld van die Here sal nie na daardie winkel toe gaan, terwyl die winkel iets wat nie van die Here af is nie, ondersteun en terwyl dit Pride maand is nie. En alles kom weer terug na die Gees wat heers.

God was nie “confused” toe jy gemaak was nie. Die duiwel kom nie met ‘n punt stert, horings en ‘n vurk nie. Hy kom “pretty pink”. Baäl is terug in die kerke! Ons moet wakker wees in die Gees!

Gretha wiid

Ons moet ‘n lyn in die gees trek en sê NO MORE!! Daar is soveel significance in die oorloë wat die Here die Israeliete laat veg het. As die voorouers ongehoorsaam is, moet die nageslag deal met iets wat die voorouers veronderstel was om te doen. Ons leef in 2023 – hier is nou ‘n gees van afvalligheid, religion, rasisme en wie weet wat nog alles wat heers. God was nie confused toe Hy jou en my geskape het nie. Ons was geskape vir ‘n tyd soos nou. Die duiwel kom nie met ‘n punt stert, horings en ‘n vurk nie. Glad nie. Hy kom Pretty Pink. Toe Gretha dit sê, toe tref dit my hoekom die Here Pienk Vere ® vir die Here gekies het vir Beroepsvrou.

Hoekom ek ‘n handelsmerk laat registreer het en hoekom ek op daardie dag my flamink hemp moes aantrek….niks is toevallig nie. Gretha het verder uitgebrei oor die Barbie movie, iets wat ek nie ‘n behoefte het om te kyk nie. Daar is ‘n vergelyking van die fliek wat in die 60’s uitgekom het Space Odyssy – iets wat ek nog nooit gekyk het of weet waaroor dit gaan nie. Maar, toe sy die begin van beide beskryf, klink dit vir my dieselfde. Die afgod Baäl is terug in die kerk en in ons hedendaagse lewe. Ons moet wakker wees in die Gees.

Ons moet goed stop wanneer dit by ons kom. Sy het gesê ons moet sê “Hierdie het in my familie gehardloop tot hy in my vasgehardloop het.” Ons moet game changers wees. Be an Esther. Ons leef in die eindtye. Ons elkeen moet hoor by die Here waaroor ons moet repent, goed wat ons net verdra het. Goed wat ons in ons ouerhuise geleer het wat ‘n wanpersepsie van God en Godsdiens geword het. So baie van die goed wat ons leer is shame. Wat gaan die mense sê? Dit beinvloed jou verhouding met God. Jy kan nie ‘n testimony hê nie, want jy kan nie met mense deel wat met jou gebeur het nie, omdat jy skaam is oor wat met jou gebeur het…

Ons moet passop vir oorkritiseer en oordissiplineer in ons huise met ons kinders. Dit veroorsaak dat die kinders voel hulle is nie goed genoeg nie. Ons moet deal met ‘n klomp goed sodat ons kinders ‘n erfenis van vry wees kan kry, eerder as die van ‘n orphanage. Ons moet vry kom. Die koninkryk van God moet vry kom. Gretha het pertinent gewys dat sy nou nie mense wat in kinderhuise groot geword het, uitsonder nie, en ook nie hulle in ‘n slegte lig stel nie. Want dank die Here vir die dak oor die kinders se koppe, kos om te eet en klere om aan te trek, ten spyte van die omstandighede.

Hierdie het in my familie gehardloop tot hy in my vasgehardloop het. Be a game changer. Be an Esther.

gretha wiid

As jy nie deal met die gebrokenheid van jou ouers nie, erf jy dit. You either become it or you marry it. ‘n Vergelyking was getref van iets soos ‘n verslawing aan alkoholisme. Of jy word self ‘n alkoholis, of iemand wat woes erg drank misbruik, of jy trou met ‘n man (of vrou as jy nou ‘n man is wat die lees) wat alkohol misbruik of ‘n alkoholis is. Dit is so waar en kan met enige situasie vergelyk word, nie net iets soos alkoholisme nie. Dit laat my dink aan my eie situasie en hoe ek ervaar het dat goed wat van my ouers af oorgedra het na my toe, my probeer besoek het. Hoe ek teen dit gebid het en gestoei het, want ek wou nie dit vir myself of my kinders hê nie.

Hoe wonderlik is die Here nie net nie? Hier het ek bevestiging gekry van iets wat ek al jare tevore ervaar het, en steeds aan en af mee moet deal en hanteer. ‘n Orphan spirit affekteer jou verhouding met die Here en trek dit skeef. Jy leef altyd in vrees van voorsiening, verwerping en so ‘n gees wat heers in jou lewe raak needy. Gretha het verder ook gesê As long as you keep cursing where you come from, God cannot free you from where you came from. Mense wat daardie gees toelaat om in hul lewens te heers, loop altyd met ‘n victim mentality.

Maar, as gevolg van ons ouers en dit wat met hulle gebeur het, het die Here ONS toegerus. Die orphan spirit is ALTYD insecure. Maar die Gees van God, gee ons confidence. Wanneer jy nie toelaat dat God se gees in jou lewe heers nie en die weesgees intree, dan kom immense jealousy na vore. At the core of comparison lies jealousy. Hoe waar is dit nie net nie? Ek het nog nooit so daaraan gedink nie! En waar daar jaloesie is, is daar allerhande soorte evil. Selfversekerdheid en ons identiteit in Christus, maak dat ons genoeg het.

Die orphan spirit het krukke nodig, iets wat iemand nie sonder kan klaar kom, om te oorleef nie. Iets spesifieks, word jou fix in jou lewe en verslawing is die middelpunt van dit alles. Watter ding het ek en jy nodig om te funksioneer? Het ons iets wat krukke in ons lewe is? Die orphan spirit is geestelik afhanklik van ander, kan nie self bid nie, kan nie self van die Here af hoor nie en tree nie op met outoriteit nie. Daar heers ‘n vrees vir die dood en as jy nie met jou orphan spirit deal nie, erf jou kinders dit! You are either transformed or it is transferred.

Hier wil ek nou myself onderbreek, want, iewers in al hierdie wat ek geskryf het, was dit toe bevestig dat dit wel Gretha se suster was wat gesing het, en die dat ons bespiegelinge van die oggend toe nou eintlik in die kol was! Hoe dit uitgekom het was net na middagete. Gretha het gesê voor sy aangaan, voel sy net dat sy iets moet doen. Sy moet haar sussie en die sussie se kinders salf, want hulle trek Nieu-Seeland toe een van die dae. Net daar en dan moet ek sluk aan heelwat trane wat net wil loop.

Jy sien, vir die wat nie weet nie, my sussie het ook geimmigreer in 2021 na Nieu-Seeland toe (ag ek weet nie of ek dit reg spel nie, het maar gou gaan google om seker te maak dis reg). Ek kon een honderd persent vereenselwig met Gretha se trane en hartseer en emosie wat deurgekom het. Ek voel haar hartseer en pyn maar tog weet ons net dat dit nodig is, dat die Here ‘n plan het dat mense so na aan jou so ver moet trek. Redes wat ons nie dadelik verstaan nie, maar absoluut die Here vertrou in hierdie emosies wat ons ervaar.

You either become it, or you marry it. As long as you keep cursing where you come from, God cannot free you where you came from.

Gretha wiid

Terug by die dag. God se stem word gefilter deur die orphan spirit en hou jou weg van jou doel waarvoor jy geskape is. Gretha het toe ‘n klomp goed genoem, en gesê as enige van die volgende op jou van toepassing is, moet jy opstaan. Moet nie fokus op die om jou nie, want hierdie is jou tyd met die Here. Die goed wat genoem was, is tipies waarmee mense en vroue sukkel. Goed soos – swak selfbeeld, onsekerheid, jaloesie, vergelyking, kompeterend, victim mentality, blame shifting, vrees vir die dood, afhanklikheid van ander (krukke), over thinking oor wat mense van jou dink, om ‘n masker te dra maar agter die masker is daar soveel shame, fear & guilt, trots, harde dissiplinering, so gaan die lysie aan. Ek dink nie ek het alles geskryf wat sy gesê het nie.

Naderhand staan amper die hele ouditorium, na sy soveel goed gesê het. Daar was nog vrouens wat gesit het. Sy het spottender-wys in haar Shakespear English gesê Belessed are those who are seated, we are’t jealousth of you-th. Maar die punt wat sy probeer maak het, is, ons almal het nog goedjies wat pla. As sy nog aangehou het, sou almal wel gestaan het, die lys is eindeloos… Sommige wat bygewoon het, was dalk te bang om dit te erken, veral by so ‘n konferensie. Toe draai die gesprek na Josef en sy verhaal toe en hoe Josef sy broers vergewe het.

You cannot control what happens outside of you, but you can control what happens inside of you. Ons kan KIES om te vergewe! Kies vergifnis sodat jy kan lewe. Ons nalatenskap wat ons vir ons kinders moet los is een van vryheid. En al hoe ons dit kan kry is wanneer ons deal met goed en vergifnis toepas. Wetenskap het bewys dat onvergewingsgesindheid jou terminaal siek kan maak. Nie kerkmense nie, maar wetenskaplikes het dit bewys! Oral waar ons gaan, plant ons saadjies, en sommige saadjies het grudges. In die gees is daar nie iets soos kinder en klein saad en volwasse groot saad nie. Saad is saad. As jy nog nie deur iets gewerk het wat met jou gebeur het wat ‘n maat op skool aan jou gedoen het nie, of gesê het nie, is ‘n saad geplant in jou lewe, ongeag of die persoon 10 jaar oud is of ‘n volwasse is.

Dis nogals waar en ek het ook nog nooit so daaraan gedink nie! Wanneer jy iets teen iemand hou en onvergewensgesindheid het, hou dit jou vas in jou lewe en steel dit jou vreugde. Josef was bevorder omdat hy in ‘n tronk gesit het sonder ‘n grudge. Jy moet jou gees voer om sterk te word. Die ding met religion is, daar word heeltyd reëls gekoppel aan alles, ‘n tyd word gekoppel aan kerk dienste en tyd saam met die Here. Ons moet eintlik onbeperkte tyd hê met Jesus en die Heilige Gees en dan gemeenskap (community) hê by die kerk met ander gelowiges. Die kerk moet jou nie voed nie, jy moet jouself voed by die huis.

You are either transformed or it is transferred.

Gretha wiid

‘n Mens se vlees wil hê, dat, ons mense wat ons nie wil vergewe nie, soos ‘n Disprin oplos in water en dan by die drein afgooi. Die natuurlike wette sê wanneer jy ‘n mielie plant, kom ‘n mielie op. Die vergelyking was toe gemaak met wanneer iemand jou vra om hulle te vergewe en jy vergewe hulle, volg jy die natuurlike wet. Maar, daar is ook iets soos supernatural law – om mense te vergewe wat nie vir dit vra nie. Saam met supernatural law kom supernatural blessings.

Wanneer iemand iets aan ons gedoen het, gee die Here vir ons ‘n grace periode. God verstaan dat jy kwaad is. Maar dan moet jy na die Here toe gaan en vergifnis gee vir die wat goed teen jou gedoen het. Net God kan jou vrymaak! Maar jy moet dit kies! Vergifnis is nie geheueverlies nie. As iemand jou nooit betaal het vir geld wat jy geleen het nie, vergewe hulle, maar moet nie weer vir hulle geld leen nie! Vergifnis beteken jy moet altyd grace hê. Vergifnis is ‘n proses en ons moet bid vir mense wat ons tenagekom het. Ek besef dat die Here al ‘n geruime tyd met my praat oor vergifnis. Van die Graad 2 juffrou se aanmerking in 1988 tot nou in 2023 toe, alles wat gebeur het, wat ek moet deur werk, sodat ek kan vrykom. En dis op hierdie punt dat ek nog meer bevestiging gekry het, dat die Here wel ‘n afspraak met my gehad het die dag. Soos ek vermoed het.

Ek gaan nou bietjie van die spoor af gaan hier, maar, ek het genoem dat dit nie in my beplanning was om te gaan na die WWC in 2023 toe nie. Dit was wel in die Here se beplanning. Hy het my gewys dat dit waarvoor ek gesmeek het in 2009, na ek die eerste een bygewoon het, het gebeur. Ek het tot die Here gebid en gesê ek wil ELKE DAG my vlam so warm laat brand vir die Here en ek wil elke dag voel soos ek gevoel het daardie dag in 2009. Natuurlik het dit tyd geneem en in 2013 toe ek gegaan het, was ek nog nie regtig daar nie. Ek was al beter, maar het nog baie werk gehad.

In 2021 het my draai punt gekom, op daardie kamp toe die res van Beroepsvrou gebore was. Toe die Here vir my ‘n kaart gegee het, uit 42 vroue uit, wat elkeen ‘n bladsy van ‘n Atlas ontvang het daardie dag, was ek die enigste een wat Nieu-Seeland ontvang het. So asof die Here vir my kom antwoord het dat my sussie en haar gesin moes verhuis. Toe ek gehuil het soos ek nog nooit tevore gehuil het nie. Hoe die Here my kom genees het van so baie dinge. Toe Gretha die goed opnoem waarvoor ons moes staan, was ek so dankbaar dat die Here vir my gewys het dat Hy reeds so baie op die lys afgemerk het as afgehandel. Ek het steeds goedjies waaraan ek moet werk, maar, is op so ‘n beter plek as wat ek was in 2009 toe ek die heel eerste WWC bygewoon het. Daarvoor sal ek altyd die Here dankbaar wees.

Terug by die dag – Gretha sê dat ons elkeen ‘n Sederhout sleutel het, wat gemaak is van die kruis waaraan Jesus gehang het. Die sleutel is gewas met Jesus se bloed. Dit is ‘n loper en kan enige deur oopsluit. Ons moet kies! Ons moet verfgifnis kies. Ons moet kies om ‘n game changer te wees. Ons moet kies om ‘n nalatenskap van vryheid te los vir ons kinders.

Gees van vrees kom uit! Die antwoord kom terug in ‘n klein stemmetjie – ek kan nie, ek is bang!

Grappie vertel deur die musiek groep se leier (wie se naam ek nie gekry het nie)

Dit is eintlik so maklik soos dit. Ek WEET dat ek WEET wat ek WEET, en dat die Here nou, op hierdie oomblik in 2023 besig is om met my te werk oor vergifnis. Hy wil my vry hê sodat ek my roeping kan uitleef. Net soos Hy met elkeen van ons werk aan ‘n ander ding en aspek wat in hierdie dag bespreek is. Sy plan vir ons is altyd om vry te wees. Hoe wonderlik is dit nie net nie? Gretha, ek weet nie of jy die onder oë gaan kry nie, maar dankie vir jou gehoorsaamheid. Die saad wat jy in my lewe geplant het in 2009 en elke keer daarna wat ek na jou geluister het, nie net by WWC nie, het begin opkom. Die Here is besig om te werk in my lewe en ek LOVE DIT om uiteindelik my roeping te kan uitleef.

Om uiteindelik my doel op aarde te vind. Te weet hoekom ek geskape is. Natuurlik ook om nie skaam te wees oor my verlede nie. Om trots te kan staan en te sê, Hallo, My naam is Elsie Potgieter. Vir baie jare het ek geleef met verwerping. Ek is dankbaar om te rapporteer dat die Here my sedert 2021 heeltemal VRY GEMAAK het van dit. Ek is nog nie perfek nie en sal nooit perfek wees nie (want dan het ek nie Jesus in my lewe nodig nie), maar ek sal altyd alles in my vermoë doen om die Here vir mense te wys. Om ‘n ligdraer te wees. Om op die high te wees wat net die Heilige Gees kan gee en vir mense te wys dat Jesus leef en in my lewe ‘n groot verandering gemaak het! Ek is reg om te getuig oor die verwerping, hoe dit my lewe geaffekteer het en sal dit vir seker deel op die platform wat die Here aan my toevertrou het deur Beroepsvrou.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.