Posted on Leave a comment

Geloof en die werke wat saam met dit gaan

Die klok in ons sitkamer lui sy deuntjie net voor hy op die uur slaan. Dis 1 uur die oggend. Die hele huis slaap. Met die uitsondering van my en die hamsters. Ek sit en luister hoe die hond se asemhaling heerlik diep ingetrek word soos wat sy seker maar skoenlappers in haar drome jaag. Of miskien dalk eerder ‘n Hadeda, die worshonde en Hadida’s het hoeka ‘n stille oorlog verklaar tussen mekaar op ons werf.

Die gepiep van die babahamsters is meer hoorbaar noudat die huis tjoepstil is (die hamster wat my seun gewen het by die kerk se basaar begin Augustus het kleintjies gekry sonder dat ons besef het sy is dragtig – is dit nou die regte woord om hier te gebruik?). Dan sit en dink ek aan al die werk wat gedoen moet word. Die ekstra werkslading wat onbeplan op ons gegooi is deur verandering in wetgewing. Net so, boom, is ons deel van die FICA trein. Een wat ek nie eintlik op wou klim nie. Maar hier is ek nou. Oppad FICA land toe, met al sy akronieme en goed wat steeds my kop laat draai.

Ek kry nie my lê nie en ook nie my sit nie. Ek probeer regop sit en slaap maar dit voel ook onmoontlik. Een of ander infeksie in my lyf hou my uit die slaap. So asof ek dít ook nog nodig het, bo op alles. Geswelde limfkliere is toe nou nie vir sissies nie. En ek voel soos ‘n sissie. Ek moet keer of ek wil kort kort huil van die ongemak wat ek ervaar. Die frustrasie om nie 100% gesond te wees nie.

Ek probeer sin maak van waar dit vandaan kom, maar besef die tekens van die infeksie was lankal daar, ek was net nie wakker genoeg om dit te kon identifiseer nie, en het hoe ek gevoel het, afgeskryf as spanning, uitputting en min tot geen slaap. En ouderdom, ek het regtig in my kop begin dink, dis seker maar hoe mens begin voel as jy ouer word? Veral toe ek by die weeklikse Cross Fit sessies al hoe stadiger begin beweeg, minder rondtes begin doen as normaal. Ek het gedink dis hoe dit is! Jou kragte word minder, ten spyte van gesonder leefstyle, oefening en wie weet wat nog alles. Ampertjies het ek dit net aanvaar as die norm, wanneer dit eintlik glad nie die geval is nie!!

My kop draai na die maand se skrifvers toe op die desk pad. Dan wonder ek hoekom ek die jaar, elke keer eers die laaste naweek van die maand by dit uitkom? Hoekom begin ek nie al vroeër in die maand hieraan werk nie? Ek wonder oor my ontwerpe vir 2024. Of ek moet voortgaan met ontwerpe van desk pads en tent kalenders na 2024? Of ek ‘n arend tent kalender ook moet doen vir mans? En ‘n desk pad? Ag ek weet nie! Als voel oorweldigend.

Te moeg om eintlik verder te kyk op my foon se skerm, besluit ek om eerder met ‘n uitgeslaapte brein en oë, die ding aan te pak en te skryf oor die maand se skrif vers. Dis nou as ek kan geslaap kry, bygesê. Na wat voel soos die langste nag in die geskiedenis van mense, met slaap wat my seker die meeste ontwyk, is dit Saterdag. Hier sit ek nou, agter my rekenaar. Ek moet werk. Ek wil eintlik craft en skryf. Die naweke voel te kort vir als wat ek wil doen wat my tenkie vol maak vir die week wat voorlê.

Ek besluit om maar eerder my verpligting na te kom en te werk eerder as skryf. Hier is ek nou, nog ‘n paar dae later op die voorlaaste dag van Augustus, besig om hierdie inskrywing klaar te probeer maak. Net vir dit om op die heel laaste dag gepubliseer te word, want dis nou hoe alles uitgewerk het. Ek lees weer die vers en die verse voor die maand se skrifvers. Dit gaan oor Abraham wat vir Isak moes offer.

Ek probeer sin maak oor hoe om die vers te interpreteer, dink weer na oor die storie van Abraham en hoe hy in totale geloof na die plek wat die Here vir hom gesê het om te gaan om sy seun te offer. Die spesifikasies van die plek ontgaan my ook nou. Ek wonder soms wat hy gedink het. Ons almal lees dit as ‘n storie maar dink nie altyd aan die gevoelens en emosies van die mense van wie ons lees nie.

Ek onthou ook hy het iets in die sin van “Die Here sal voorsien” geantwoord toe Isak hom vra waar die dier is wat hulle moes offer. En ek dink dis waaroor dit hier gaan. Ons moet geloof hê met werke. Ons moet daadwerlik iets doen wat nie sin maak nie, om ons geloof te kan bevestig. Maak dit sin? Want geloof is tog om te glo in dit wat ons nog nie gesien of ervaar het nie, is dit nie?

Kom ek gee ‘n voorbeeld uit my eie lewe uit. Nog voor ek met my dogtertjie swanger was, het ek eendag ervaar die Here sê ek moet ‘n tuisswangerskap toetsie (of twee) gaan koop. Op daardie tydstip was swanger raak toe nie so maklik soos met my seun nie. Dankbaar dat ons nie gesukkel het nie, maar dit het nie spontaan gebeur nie.

Nou ja, ek het profetiese woord gekry oor ‘n dogtertjie maande voor ek swanger was en hierdie daad van my, om iets te kry wat nie op daardie oomblik sin gemaak het nie, is waar my geloof ingekom het. Jy sien, ek kon gekies het om dit wat ek gevoel het die Here op my hart druk te ignoreer. Maar ek het gekies om te glo dat ek die toetsies gaan gebruik en dat hulle positief sal wees, ten spyte van waar ek in my lewe was.

En ek dink dis aksies soos die, waaroor die skrifvers gaan. Geloof sonder werke is niks….maak dit sin wat ek hier sê? Ek hoop so, want dis hoe ek dit interpreteer en ek is seker as ek ‘n paar jaar van nou af die versie gaan lees gaan die Here dalk iets anders openbaar wat ek nie nou sien nie…..dis hoekom Sy woord lewend is!

Mag ons aanhou om te kies om te glo, goed te doen wat die Here op ons harte lê om te doen, sodat ons geloof deur ons werke volkome sal word. Sterker sal word. Soos wat ek hier afsluit, herinner die Here my aan Beroepsvrou en die geloof wat met dit saam gekom het. Hoe ek begin skryf het sonder dat ek verstaan hoekom. En hoe ek die voorskote laat maak het sonder ‘n plan van myself af. Die Here is wonderlik, is Hy nie? Wat doen Hy vir jou en jy vir Hom? Om jou geloof volkome te maak….?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.