Posted on Leave a comment

Die Pot Goud

Ek het groot geword in ‘n wêreld waar daar soveel mites, fabels en ook leuens is. Veral in kinderstories en verhale. Baie mense sal vir jou sê “Dis net ‘n storie” en dit as niks afmaak. Maar, al hierdie stories en dinge wat ons so inneem, is maar die vyand se manier om ons gewoond te maak aan goed wat eintlik glad nie van God af is nie. Soveel so, dat ons naderhand nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie. Ons kan nie onderskei tussen dit wat van God af is en dit wat van die wêreld af is nie.

Een fabel waaraan ek dink is een van ‘n leprechaun (die klein kort mannetjie, met die hoed met ‘n klawer met vier blare op, wat altyd almal probeer indoen en om die bos lei) met sy pot goud aan die einde van die reënboog. In die stories is almal op soek na die pot goud en in sommige gevalle, dink ek sien die mense dit, maar dit bly buite hul bereik.

Nou die rede hoekom ek hiervan praat is, die wêreld het ‘n storie opgemaak om mense te laat glo dat daar ‘n iets waardevol te vind is op ‘n plek wat onmoontlik is om te kry. Natuurlik weet ons nou dat daar nie regtig ‘n pot goud te vinde is aan die punt van ‘n reënboog nie. Maar tot jy nie die waarheid van iets hoor by iemand nie, sal jy die leuens glo, want jy weet nie van beter nie.

Hierdie spreekwoordelike pot goud, waarna gesoek word, kan toegepas word in eintlik maar in enige situasie in ons lewens. Ons glo die leuens, jaag goed na en dink dat ons wel gaan vind waarna ons soek, terwyl dit waarna ons soek eintlik nie regtig bestaan nie en ons dit nooit sal vind nie. Die mens bly soekend na IETS. Het ‘n gaatjie wat hulle probeer vul.

Nou voel dit of ek deurmekaar begin dink oor goed en dit deurgee, maar ek glo julle sal volg wat ek hier probeer sê. Die reënboog is God se teken van Sy verbond met die mense, wat Hy met Noag gesluit het. Sien jy hoe die wêreld die mooi van ‘n reënboog verdraai? Sodat dit allerhande goed verteenwoordig, alles behalwe dit waarvoor dit regtig staan en beteken? In hierdie fabel waarna ek verwys, verteenwoordig dit iets kosbaar en waardevol wat nie bestaan nie, aan die punt van die reënboog wat nie gevind kan word nie.

Dit bring my na die maand se bybelvers toe. Die Here bevestig iets en gee vir ons ‘n belofte. Die vers bevestig dat ons as mense soekend is na iets. Daardie iets waarna ons soek, is God. Net Hy kan ons gaatjie vul. As ons Hom soek met ons hele hart, SAL ons Hom vind. Hoe wonderlik is dit nie net nie? Die reënboog, wat God se verbond en belofte verteenwoordig, lei na iets baie meer waardevol as ‘n pot goud. Dit lei na die Here toe. Sy verbond en belofte met ons as mense. As ons hard genoeg dit doen, met alles in ons, SAL ONS HOM VIND!

Wow! Ek is so dankbaar vir die openbaring wat die Here vir my gegee het oor die vers. Ek bid van harte dat elkeen wat dit lees, hul soektog sal voortsit na God en nie na allerhande dinge en leë beloftes, mites, fabels en leuens van die wêreld nie. Dit wat vir ons wag aan die punt van die reënboog van God se beloftes en verbond, is soveel beter as dit wat die wêreld het om te bied. Waarna soek jy vandag? Volg jy God se reënboog of die een wat die wêreld bied met ‘n pot goud wat nie bestaan nie?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.