Posted on 6 Comments

‘n Storie…

Een oggend na kerk, nie te lank gelede nie, word ek deur ‘n vriendin Tanja Smith voorgekeer. Sy beduie na Karien Bosman en sê sy moet my vra. Verdwaas weet ek glad nie wat ek gevra moet word nie, maar staan toe nader soos ‘n gehoorsame vriendin maar doen, jy weet? Die gesprek lei toe na ‘n tafel se kaartjies verkoop, by ‘n Cherish vroue oggend by ons kerk, Doxa Deo Xanadu. Ek moet as gasvrou optree op die oggend.

Nou ja, nog nooit in my lewe was ek ‘n “gasvrou” by ‘n damesoggend nie (ek was maar altyd sku vir die goed want ek het nooit geweet wat dit behels nie en was te bang iemand vra my om iets te doen wat buite my gemaksone is). Wel, nie te min, hier is ek nou, gasvrou. Ek moet 9 ander kaartjies verkoop en dan sorg dat die potte vol water en koffie bly. Maklik genoeg reken ek. Ek stem in en daar begin ek kaartjies smous aan ander vriendinne en kennisse.

Ek gaan doen een Saterdag my naels, gesels met Irene wat my naels doen en sy vra uit oor die oggend en wat dit behels. Ek trek my skouers op en sê ek weet nie veel nie. Net dat dit eetgoed insluit. Sy begin lag, want dis nou glad nie wat sy gevra het nie. Sy wou by my weet wie is die gasspreker, waaroor praat sy. Weer kon ek haar nie regtig antwoord nie, en ons laat dit daar. Sy bespreek ‘n kaartjie aan my tafel en so begin ek een na die ander vriendinne en kennisse inryg om by my tafel te sit.

Die dag voor die geleentheid moet ons almal aanmeld om die saal reg te kry. Elkeen dek hul eie tafel, met alles wat die kerk voorsien. Klink nie te moeilik nie en daar gaan ek van die een kant van Hartbeespoortdam na die ander kant van die dam, om hierdie taak te verrig. Deel van die goedjies wat ons op die tafels moet sit is Khayelitsha Cookies. Nou kan ek net gou vir julle vertel – ek het ‘n foto van die koekies geneem en ek moes wragties die spelling van Khayelitsha van die foto af kry, want mense ons, ek sou dit uit my eie uit nie reg kon spel nie.

Nie te min, ek doen net wat vir my gesê word en wonder glad nie te veel van wat gaan gebeur nie. Ek probeer nie uitwerk wie Adri Williams is nie, dink niks van die koekies nie. Ek hoor net op ‘n kol Karien sê wanneer Adri opvlieg vanaand gaan sy dit, dat en die volgende saam bring. Nou begin my kop somme maak oor waar Adri vandaan kom. Khayelitsha (liewe aarde ek moet die heeltyd die spelling van hierdie woord nagaan!!) is mos in die Kaap. So ek reken sy kom van die Kaap af.

Op die dag van die geleentheid, noem iemand vir my dat Adri Khayelitsha Cookies vir iets soos R1 in 2013 gekoop het, ek dink, en die besigheid omgeswaai het. Weer maak my kop somme en reken ek sy gaan haar getuienis gee van hoe die Here ‘n besigheid geswaai het in een groot winsgewende organisasie. So begin die oggend, koffie, tee en kookwater word aangedra, ek oortuig myself dat ek my steps gaan inkry op my oefen horlosie, want my tafel is heel aan die ander kant waar die kookwater en filter koffie is. Toe is dit Adri se beurt om te praat.

Ek probeer al die feite onthou, maar jong, sy praat so baie en noem so baie goed dat ek nie alles KAN onthou nie. Ek het ook nie gesit en nota’s maak nie, so ja, hier gaan ek nou uit die heupe uit skiet met dit wat ek onthou. Ek reken ook dat haar storie nie in ‘n blog of webjoernaal inskrywing gaan inpas nie, so ek gaan maar die verkorte weergawe gee. Haar storie is waardig vir ‘n boek, ek dink nie eens ‘n oggend soos vanoggend, kan al God se wonderwerke in detail deurgee nie. Want dis mos waaroor dit gaan, nie waar nie?

Jy sien – ek is ‘n detail mens. Ek hou daarvan om te hoor HOE God mense se paaie laat kruis, hoe iemand hier bid, en iemand daar, 700 km ver iets hoor, ervaar en hoe God almal net bymekaar bring op Sy Goddellike manier. Iets wat mense nie kan fabriseer nie. Die lang en die kort was – Adri het ‘n lekker cosy korporatiewe pos gehad. Company kar, marble toonbanke in haar kombuis en die werke. Fêncy verby. Toe op ‘n stadium, bedank sy haar werk en sluit aan by Khayelitsha Cookies (ai alweer ek en die spelling). In watter rol kon ek nie optel uit die gesprek uit nie, die jaar kan ek nie onthou nie – was dit 2003 of 2007?

Adri noem dat haar familie gedink het sy is mal om so iets te doen, maar nou bankvas agter haar staan en haar ondersteun. Iewers in haar getuienis was sy betrokke by ‘n kinderhuis (ek dink saam met haar kerk…?) en elke tweede Saterdag sou hulle gaan uitreik na die kinders. Sy het haarself altyd by die kleuters gehou eerder as die babas (soos ek verstaan het, was sy bang sy breek die baba’s as sy hulle vashou, so sy het hulle eerder vermy). Nou ja, die betrokke Saterdag, word ‘n baba in haar arms gedruk en gevra sy moet help om 15ml melk vir die baba te laat drink voor sy huis toe gaan, anders sou die baba doodgaan.

Sy noem ‘n skokkende feit dat 1 uit 5 kinders voor die ouderdom van 1, jaarliks sterf weens wanvoeding. Nou dis hier iewers waar die Koekie plek in gekom het (ek vermy nou maar die spelling van Khayelitsha want dit frustreer my net te veel om kort- kort te gaan kyk hoe word dit gespel). Sy deel met ons hoe sy ‘n mede aandeelhouer geword het, na die vorige eienaars die maatskappy wou toemaak omdat hulle verliesse ly en net nie meer alles kon bybring nie. Die maatskappy ontvang nie staatsondersteuning nie van wat ek verstaan het, en hulle bak ook koekies teen ‘n klein winsmarge van iets soos 1% (ek mag dalk hier die % verkeerd hê maar dis nie baie hoog nie). Sy vertel ons waar sy begin het met drie klein huis oondjies (ek weet presies waarna sy verwys hier – vir baie jare het ons so een in ons huis gehad voor ons opgegradeer het na ‘n groter een). Sy wys ons fotos van waar hulle nou is met ‘n wonderlike spasie met groot oonde, iets wat lyk soos die visie wat die Here haar gegee het toe sy net by die Koekie plek aangesluit het.

En dis op hierdie punt wat haar getuienis draai. Sy vertel hoe sy die Here se stem hoorbaar gehoor het een Kersdag, terwyl sy en haar familie Kersete geniet het, oor voer wat sy vir ‘n boer moet vat. Hoe sy vertel hoe die Here net alles in plek laat val soos wat net Hy kan. Hoe selfoon oproepe deurgaan na plekke waar daar nie opvangs is nie. Hoe die boer die einste Kersdag gebid het tot God vir hulp en die Here haar, 700 km ver, hoorbaar gesê het wat sy moet doen. Dit is net AMAZING en te veel detail om hier te deel (ek gaan tien teen een helfde van dit verkeerd kry in elkgeval, ek sal met haar moet sit en nota’s maak, want ek wil die detail reg kry).

Die storie vorder verder, hoe sy ‘n vloot trokke begin reel om voer af te laai, navorsing wat gedoen word oor watter voer watter diere eet (want ja, daar is humor in die storie – die heel eerste voer trok wat sy gereël het, was toe voer wat skape nie eet nie, en dit klink vir my was vir ‘n skaap boer geneem). Sy moes verder ondersoek instel oor die boere waar voer afgelewer word, want dis ander mense se geld, skenkings en donasies en sy kan nie bekostig dat iets iewers verkeerd loop nie. Sy ry saam met elke trok waar daar voer afgelewer word, reël diesel, drywers, trokke, voer. Jy noem dit, sy moes dit reël. Hoe die Here geharde boere se harte aanraak, gemeenskappe terugdraai na Hom toe. Hoe daar gebid word vir boere se vrouens, bedien word soos net God kan.

Toe kom die ongeluk. ‘n Gru-ongeluk waar hulle gedink het sy nie sou oorleef nie. Sy vertel verder hoe die kar 6 en ‘n half keer gerol het na ‘n band gebars het. Hoe haar regter arm ek dink twee maal gedraai het in die pootjie en heeltemal uit plek uit was. En eintlik maar vergruis was in mediese terme. Sy vertel hoe die Here iemand stuur, om vir die vrou in die kar te bid. ‘n Oom wat soos haar pa gelyk het en haar Juffrou genoem het, iets wat net haar pa haar genoem het. Na 3 en ‘n half ure het hulle haar uit die wrak gesny, met wie weet watse toerusting (ek kan nie alles onthou nie). Hoe die Here boere stuur om te bid vir haar beterskap omdat dit regtig nie gelyk het of sy gaan oorleef nie.

‘n ICU ambulans was gestuur van die Kaap af om haar te neem vir mediese hulp. Sy vertel spottender wys vir ons hoe die kleurling paramedikus met haar raas en baklei om te bly lewe tot hulle haar kan help in die hospitaal. Dis net trauma op trauma op trauma in haar getuienis en al die pad kan mens nie help as om die Here se hand in alles te sien nie (en Sy humor want drie jaar later, na die ongeluk, het sy uitgevind dat die plaaslike dokter nie beskikbaar was nie en dat die instaan dokter wat haar behandel het, ook die plaaslikse veearts was). Om die Here se hand in net alles te kan opmerk, te hoor hoe Hy in die detail is met elke liewe ding wat met haar gebeur. Sy vertel hoe sy geflatline het toe sy haar familie by die hospitaal sien, hoe hulle haar bygebring het. Hoe sy allerhande gedagtes gehad het terwyl sy in die wrak gelê het, terwyl sy in en uit bewusteloosheid sluimer. Hoe sy gewonder het of sy regtig ‘n goeie ma vir haar kinders is en of sy regtig alles reg en genoeg gedoen het?

Die kern van haar boodskap was dit – ons is genoeg, maar soms is ons ook ons eie grootste vyand. Elke mens het ‘n storie. Ons moet getuig van God se goedheid, hoe Hy voorsien. Hoe Hy ons help wanneer mense nie kan nie. Sy vertel verder hoe die dokters nie hoop gehad het nie, sy vir die soveelste operasie moet ingaan op haar arms, vorms moet teken vir toestemming vir amputasie as die dokters dink hulle kan die arms nie red nie. Hoe haar man R777 gepledge het by die plaaslike radio stasie in die Kaap, hoe hy bid vir sy vrou se arms en herstel ten volle. By hierdie einste byeenkoms by die Radiostasie, was Gary Kieswetter.

Gary ervaar toe dat die Here sê dat haar arms God se trofeë is. Sy vertel verder hoe Gary haar bel, vir haar vertel wat hy ervaar die Here vir hom gesê het. Na al die operasies, na al die dood wat medici gespreek het, het sy haar arms behou. God het dit ten volle herstel en sy het volle gebruik van beide haar arms. Net ‘n lewende God kan dit doen! Die grootste wonderwerk van alles? Beide snye aan haar arms is 27 cm lank – dit verteenwoordig die hoeveelheid trokke wat die Here haar laat reël het. Die gaatjies oral op haar lyf as gevolg van steke se totaal is 161. Dit verteenwoordig die hoeveelheid boere wat die Here gehelp het deur die voer trokke wat gereël was. Ek kan nie anders help nie, as om iemand te sien wat in oorwinning staan, arms geflex na bo.

Werklike trofeë met graverings van God se goedheid en guns. Net soos Gary Kieswetter ervaar het en met haar gedeel het. Selfs na al hierdie openbaringe, was daar nog operasies, en die ander wonderwerk van hierdie operasies? Geen addisionele snymerke of steke gaatjies was gemaak op haar vel nie. As daar steke was, was dit inwendig geplaas. Hoe wonderlik is God nie net nie? Wow. Ek het GLAD NIE verwag om hierdie getuienis te hoor nie. Ek het amper skaam gekry vir hoe boring my lewe is en hoe ek voel ek nie genoeg vir die Here doen nie. Hoe ek ampertjies begin luister het vir die vyand se leuen van net ‘n blog skryf. Ek meen, wat help dit vir droogte en vee wat doodgaan a.g.v. geen weiding wat beskikbaar is nie? Maar ‘n baie belangrike ding wat sy genoem het is – ons moet nie ons stories met ander sinne vergelyk nie. Elkeen het hul eie storie, uniek en deur God geskryf.

Natuurlik het ek my antwoord gekry oor ‘n vraag wat ek die Here gevra het oor Beroepsvrou. Ek worstel al vir ‘n geruime tyd oor Beroepsvrou se doel en of ek nie maar die Pienk Vere ® reeks van Beroepsvrou moet laat uittree nie. Net fokus op skryf en my day job en die lewe wat gebeur, kindertjies groot kry en net my deel doen in daardie opsig… Maar God se antwoord vanoggend was duidelik, hoorbaar deur woorde wat Adri gespreek het. Moet nie ophou nie, hou aan en doen iets vir die Here. Ek hoef nie ‘n lewe daaruit te maak nie. Maar hou aan. Ek kan nie haar presiese woorde onthou nie, maar dis wat ek uit dit gekry het. Getuig, want alles kom weer terug na ons Skepper toe. Hoe groot Hy werklik is. Hoe Hy in elke liewe detail is.

Adri, ek bid God se goedheid en guns oor jou (hier gaan ek alweer met die spelling) en Khayelitsha Cookies en alles wat die Here op jou hart lê om te doen. Jou gehoorsaamheid en getuienis is so inspirerend. Dis wonderlik om te weet daar is nog ander crazy mense daar buite, wat goed doen wat nie sin maak nie, maar tog net gehoorsaam is in dit wat die Here op hul harte lê om te doen. Daar is nie verniet ‘n liedjie van Casting Crowns genaamd Crazy People nie. Een van my gunsteling liedjies. Gaan getuig en hou aan om God se naam te verheerlik en vergroot, want Hy het Sy asem in ons longe gesit en ons kan nie minder as dit doen nie – om Sy Naam te loof en prys en groot te maak!

6 thoughts on “‘n Storie…

  1. Baie baie dankie vir die ongelooflike blog. Jy het so ‘n game met woorde!!! En ek love casting crowns en wraggies nog nooit die liedjie crazy gehoor nie, so raai wat ek nou gaan opsoek….

    1. Ek is so dankbaar om as instrument gebruik te kan word met my woorde! Jou getuienis is AWESOME! Hou aan getuig en vertel! En as jy “jive” en dans op Crazy People, dink aan my want ek dans en “jive” lekker elke keer wat ek dit hoor!

  2. Baie dankie vir die opsomming van Adrian se die getuienis. Dit laat n mens se pogings gering voel, maar laat ons dit doen wat God op ons hart sit om te doen, hoe klein dit ook al lyk. Dit kan dalk vir die persoon wat ons help n groot verskil maak. Hulle kan voel dat God hulle gebed verhoor.

    1. Dis vir seker so! Ons moet doen wat God op ons harte lê om te doen! Al klink dit gering en onbenullig!

  3. Ek is genoeg en God wil my gebruik om Sy liefde uit te dra.
    Kom ons word stil en luister na Sy stem deur die Heilige Gees in ons.
    Ons Dien n groot God.
    Amen

    1. Amen!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.