Posted on Leave a comment

Voetspore

Die hele maand al, voel ek amper of ek writer’s block het as dit kom by die maand se skrifvers. Ek sukkel om te vereenselwig en identifiseer met die bybelversie. Ek skryf vele stukke, net om dit weer uit te wis, want ek voel nie of dit reg is nie. Dit voel nie of dit wat ek probeer sê reg oorgedra word nie. Ek praat heeltyd met myself en met God, vra wat dit is wat ek moet skryf.

Ek dink ook heeltyd dat die jaar vir my al hoe minder soos ‘n Jubel jaar begin voel. Iets wat ek in 2022 verklaar het met die nuwe jaar se dagboeke, voel nou vir my soos iets uit die verre verlede en amper soos ‘n leuen. Nou ek sal jou nie verveel met alles wat ek voel nie by ‘n Jubel jaar hoort nie, veral nie alles wat in my lewe gebeur het nie. Ek dink die kersie op die koek was maar seker die ou baba hondjie wat doodgery was nou in Junie. Maar die lang en die kort is – die jaar voel tough vir my!

Terug by die skrifvers – ek lees dit oor en oor en oor. Maar ek voel en hoor niks. Tot laas naweek. Terwyl ek skottelgoed was, dink ek aan die baie bekende stuk wat iemand geskryf het genaamd Voetspore. Jy weet, die een van die twee rye spore? En toe die persoon vir Jesus vra waar was Hy toe dit moeilik gegaan het in die persoon se lewe, en daar net een ry voetspore te siene is. Met Jesus wat die persoon antwoord – Dit was toe Ek jou gedra het.

Skielik gaan daar ‘n paar ligte vir my aan. Jy sien, ek soek heeltyd die iets om mee te identifiseer, om te kan getuig van hoe die Here my gedra het deur een spesifieke situasie. Maar ek besef ek het dit gemis. Heeltemal. Dis glad nie waaroor die vers gaan nie. Soos wat ek my gedagtes laat gaan oor die vers, dink ek terug aan my lewe.

Hoe so baie goed op soveel verskillende tye gebeur het en God my gered en gedra het, gedurig deur. Vandat ek jonk was en nog voor ek Hom behoorlik aanvaar het as my Verlosser. Tot nou toe, hier waar ek ouer, maar steeds eintlik nog redelik jonk is, dra Hy my. Beskerm Hy my. Ek kan eintlik elke dag getuig van Sy goedheid in my lewe. Al kan ek nie altyd een spesifieke oomblik uitsonder nie.

Dan begin ek te dink – dis so eenvoudig soos dit. Niks gekompliseerd en uitgebrei oor wat in die vers aan die gang is nie. Nee, net die feit dat die Here ons elke dag beskerm en bewaar, is genoeg om te kan identifiseer met hierdie skrifvers. Natuurlik wanneer mens terug kyk, sal jy verskeie tye een ry voetspore sien, en ander tye twee rye. Daar waar die een ry spore is, is die dra tye waarvan gepraat word in hierdie vers.

My gedagtes kan nie help om weer terug te dwaal na die beroemde stuk van die Voetspore nie. En Jesus se antwoord op die vraag van die een ry spore. Dit was toe Ek jou gedra het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.