Posted on Leave a comment

Vrede wat alle verstand te bowe gaan

Elke keer as ek dink aan vrede, dan dink ek aan die fliek Miss Congeniality waar sy die vraag wat sy moes beantwoord, afsluit met “And World Peace.” En wanneer ek dit so tik dan kan ek nie help om te dink of ek al oor so iets geskryf het nie? Ek kan wragties nie onthou nie, want ek skryf so baie as wat ek praat en praat so baie as wat ek skryf. Nie te min, die maand se skrifvers gaan oor God se bonatuurlike vrede. Die heel maand wag ek in opwinding om dit te ervaar (want ek het dit al beleef) maar dis asof dit my bly ontwyk.

Dan besef ek dat die maand se omstandighede van so ‘n aard is, dat ek in ‘n mate die vrede soos die wêreld dit gee beleef. Soortvan. Ek het gaan Google wat die behoorlike definisie van vrede is, soos die woordeboek dit omskryf. So volgens Wikipedia (ek gebruik nou maar dit want ek is nie naby ‘n woordeboek nie en gaan ook nie tyd hê om een na te slaan nie) is dit ‘n toestand van stilte of harmonie. Of ‘n toestand sonder gevegte en oorloë.

Nou ja, toe ek dit lees, toe tref dit my. Op die oog af is dit ‘n toestand van stilte of harmonie, geen gevegte of oorloë wat woed nie. Maar, ek het by myself oorlog verklaar teen ‘n webblad van ‘n instansie wat net nie wil werk soos dit moet nie. Niemand het teen my oorlog verklaar nie, so teoreties is dit ‘n toestand sonder gevegte en oorloë. Ek sal maar nie die instansie se naam noem nie, want ek is nie hier om mense op te sweep nie. Maar stilweg het ek hierdie oorlog teen die webblad, ek het ‘n uitkyk van ek gaan die webblad wen om alles betyds ingedien te kry voor 31 Mei, die sperdatum, en nie dit nie betyds indien nie.

So as ek dan hierdie stille oorlog verklaar het teen die webblad, dan het ek mos nie God se vrede nie het ek? In wêreldse terme het ek vrede, al werk die webblad nie, gaan dit eintlik nie woes sleg met my nie. Ek meen niemand voer fisiese oorlog teen my nie en hierdie is maar net nog ‘n uitdaging wat ek moet trotseer en oorkom en oorwin en kan amper gesien word as deel van die werk. Jy weet, die gesegde, elke sport het sy beserings? Die is nou een van my alledaagse beserings van die “sport” wat ek daagliks beoefen.

Heeltyd terwyl ek hieraan werk en sit en sukkel, raak ek opgewerk. So ek het vir seker nie God se vrede nie. En dan in die opwerk proses, raak ek gefrustreerd, slaan soms my hande uit ongeloof teen mekaar en op die tafel uit frustrasie, dat my man wat saam met my sit en werk, hop soos hy skrik. Natuurlik wil-wil ‘n paar frustrasie woorde saam uitkom en moet ek regtig baie hard fokus dat dit nie gebeur nie en moet ek bieg, ek kry dit nie altyd reg nie. So jy sien, ek voel ek het nie God se vrede soos wat hier in hierdie vers na verwys word nie.

Want dis vrede wat alle verstand te bowe gaan, vrede wat die wêreld nie vir ons kan bied nie. En vrede wat ons sinne (dit wat in ons gedagtes omgaan volgens ander vertalings – en wat dan maar word wat ons spreek) bewaar. Nou ek het al God se vrede ervaar en ek moet sê dis ‘n lekker plek om te wees. Al is dit chaoties rondom my, kan ek nie help as om Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, te ervaar nie. Dis iets waarna ek smag om elke liewe dag van my lewe te hê. Ten spyte van my stille oorlog, voel ek tog rustig in my binneste.

Ek kan amper voel hoe die Heilige Gees vrede kom blaas in my gees in. Ten spyte van my self-verklaarde webblad oorlog. Hier sit ek nou, die stryd halfpad gewonne, besig om ‘n ander plan te bedink om die res ingedien te kry en my kant en deel te doen, sonder dat iemand omdraai en sê Sorry nê, your submission was not on time and therefore we are levying a penalty. Al was dit nie my skuld dat ek dit nie kon indien nie en die sisteem se skuld, is die uitkyk maar dat daar boetes gehef word as dit nie betyds ingedien word nie.

Soos wat ek hierdie stuk afsluit, verstaan ek beter wat bedoel word met die wêreldse vrede. Jy sien, ons almal, ek in kluis, kan onsself so opwerk as goed nie reg verloop nie. Dis nie die einde van die wêreld nie, en alles tuimel nie in mekaar nie, maar dinge werk net nie soos wat ons verwag dit moet nie jy weet? Dis in daardie oomblikke van frustrasie en opgewerktheid, wat ons God se vrede mis en net die wêreld se “vrede” ervaar. Maak dit sin wat ek probeer sê?

Die lang en die kort is, ons moet wragties nie hook, line and sinker val vir die duiwel se leuens nie. Ons hoef nie onsself op te werk en God se vrede te mis in die proses nie. Ons hoef nie tevrede te wees met net wêreldse vrede nie. As ons God se vrede mis, dan mis ons die leiding wat Hy ons gee in ons lewens….al ooit so daaraan gedink? Wat kies jy vandag? Kies jy om maar weer opgewerk te raak en gefrustreerd en moedeloos met dit wat nie werk nie? Gee jy plek vir goed en dinge, anders as dit wat van God af is, om jou gedagtes te kom lei? Ek weet ek wil vir seker God se vrede EN Sy leiding altyd hê in my lewe, ongeag die omstandighede.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.