Posted on Leave a comment

Maak of jy dit oorleef dag…

Toe ek hierdie stuk begin skryf het, het ek so bietjie blou gevoel. Aanvanklik het ek gedink ek gaan nie die stuk publiseer nie, maar, so getrou as wat God is, het Hy my die lig gewys en ek het besluit om tog maar voort te gaan om hierdie stuk te publiseer. Die doel van die webjoernaal is tog om mense te wys dat ek ook net ‘n mens is en dat God my optel wanneer ek so bietjie down & out is. Die dae wat gelei het tot Maak-of-jy-dit-oorleef-dag AKA my Verjaarsdag (in April en kort na die Paasnaweek) was redelik interessant gewees. My uitkyk op die lewe en hoe vinnig tyd gaan, voel of dit nogals so vinnig verander soos wat die wind draai en die getye verander. Jy sien, vir ‘n geruime tyd al, nog voordat ek die ouderdom van 40 bereik het, het ek begin besef hoe kort ons tyd op aarde werklik is. Na ek die fliek The Intern met Robert Dinero en Anne Hathaway in die hoofrolle gekyk het, het dit my net nog meer dit laat besef, of eerder recap oor dit.

Die fliek begin met Robert Dinero wat die rol van Ben vertolk, ‘n 70-jarige, afgetrede wewenaar, wat vir ‘n jong, moderne aanlyn besigheid vertel hoekom hulle hom as ‘n senior klerk moet huur soos wat hulle geadverteer het. Hy praat van sy vrou wat oorlede is drie jaar van te vore, hoe moeilik aftrede is, veral as jy niks het om voor op te staan in die oggende nie en hoe hy oorleef het met aftrede en om alleen te wees. Hy het besluit om ‘n uitkyk en houding te hê om iets te soek om voor op te staan en een van sy daaglikse doelwitte was om elke oggend teen ‘n sekere tyd by die plaaslike Star Bucks te wees. Dit het vir hom ‘n doel gegee in die lewe.

Nou terug na my lewe, die storie het my laat dink aan wat ons almal sien as die verre toekoms. Die werklikheid is, dis nader as wat ons ooit kan dink. Net gister was ek 21 jaar oud. In ‘n oogwink is dit 21 jaar later en ek vier my 42ste verjaarsdag. Ek kan steeds nie oor die feit kom dat ek ouer word nie. Ek het regtig die ding in my kop gehad, veral toe ek in my twintigs, en selfs vroeë dertigs was, dat ek nooit DAAR sal kom nie jy weet? Oud word, want dis net so ver in die toekoms, dit voel amper onwerklik dat mens kan verouder. NUUS FLITS vir al die twintig-jariges wat dit lees – die lewe gebeur en tyd stap aan!! Jy gaan verouder en ouer word. Jou kinders gaan die huis verlaat en hul eie families en lewens begin, sonder om afhanklik te wees van jou as hul primêre versorger.

2023 merk die jaar dat ek my man vir helfde van my lewe ken. Sê wat nou? Ja, lees dit weer. Ek ken my man vir HELFDE VAN MY LEWE! Ou mense ken mense vir helfde van hul lewens! Nie ek nie! In my kop is ek nog in my twintigs. In my kop is ek nog 24 met drome van fikser en meer toned (by gebrek aan die Afrikaanse woord) wees, om dinge te doen wat my hart begeer eerder as dit wat die rekeninge betaal. Ek het nogals vasgevang geraak in leef vir eendag. Eendag dit en eendag dat.

Ek het nog al hierdie planne en drome, sommige van hulle lyk en klink amper belaglik op hierdie ouderdom. Die een om fikser en meer toned te wees, is heelwaarskynlik die mees belaglikste een van hulle almal. Tog volg ek getrou my droom en meld aan my die plaaslike gimnasium drie maal per week. Ek het op ‘n punt in my lewe gekom dat ek besef het dat Eendag net dalk nie gaan arriveer nie, veral vir sekere doelwitte wat ek vir myself, onbewustelik gestel het op ‘n jong ouderdom. Na ‘n wilde woeste eerste kwartaal van 2023, waar ek opgeëindig het met Vertigo, wat gekoppel word aan spanning, maak dat ek net nog meer alles in die lewe opweeg, veral die werk-lewe balans wat ek so hard werk om te vermag. Ek dink my grootste wens of doelwit op die stadium van my lewe, is om nie so uitgeput te wees wanneer dit kom by verjaarsdae van my gesin nie, myne ingesluit.

Jy sien, om ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester in besigheid te wees, tap nogals baie uit mens uit met baie druk en spanning wat saam met dit gaan. Die vereistes om al die balle in die lug te hou, word net meer en meer. Soos wat die tye verander, verhoog die werkslading. Sisteme verander en elke liewe “klein” addisionele ding wat ons vir owerhede moet stuur, dra by tot effektief omtrent 15 min tot ‘n halfuur se ekstra werk, in ‘n reeds oorvol werkskedule. Vir jare kon ek nie uitwerk hoekom ons net nie voor kan kom met ons werk nie. Toe tref dit my. Dis al die veranderinge in sisteme, dinge wat die owerhede net verwag om te gebeur, moeiteloos en sonder enige opondhoud van ons kant af.

Nie eens om te noem watter impak beurtkrag het op die bestuur van ‘n besigheid nie. Die ergste is seker die internet sein wat ons soms in die steek laat as gevolg van beurtkrag. Alles is mos aanlyn jy weet? Dan kan jy nie jou werk doen nie. Jy kan nie e-posse stuur nie en kan nie opgawes indien nie. Dit raak ‘n frustrasie. Elkgeval, en is NIE hier om ‘n klaaglied te sing oor die spanning van my werk nie, want, op die ou einde van die dag, het ek my werk gekies en nie andersom nie.

So ek moet vrede maak met dit wat ek gekies het om ‘n lewe en bestaan van te maak vir my en my gesin. Terug na die dag voor my verjaarsdag. Dis Maandagaand, 10 April 2023. Ek is so bietjie emosioneel, want, liewe hemel, om 42 te word het erger gevoel as om 40 te word. My man probeer my bemoedig voordat ons die kinders in die bed sit. Soos wat ek langs my dogtertjie lê, nou 9 jaar oud, het ek stilweg gehuil by myself. Sy draai na my en vra my wat fout is?

Volgende oomblik sien ek sy sit haar bedlampie aan, kyk my in die oë en vra my hoekom ek dink ek so voel? Vir my was dit so ‘n volwasse ding vir ‘n 9 jarige. Ek hou aan om met haar te gesels, te vertel dat ek soos ‘n slegte ma voel. Ek voel of ek nie genoeg koestering en versorging bied nie, nie genoeg simpatie en empatie wanneer hulle siek is of nie lekker voel nie. Ek voel of my ongeduld van my ‘n baie slegte ma maak. Ek het selfs my sin geëindig met ‘n tranerige antwoord dat ek nie soos sy is nie. Liewe aarde, daardie klein mensie is so ‘n versorgertjie. Iets wat nie natuurlik kom vir my nie.

Sy antwoord daardie stelling van my, deur te sê toe haar mangels siek was, het ek haar hospitaal toe gevat om dit uit te haal. So ek is ‘n goeie mamma. Toe ek reageer op dit om te sê dat ek nie genoeg simpatie en empatie met haar gehad het met die pyn na die tyd nie, want ek het kwaad geraak omdat sy hardkoppig was en nie haar medisyne wou drink soos sy moes nie, trek sy haar skouers op en sê “Dis die lewe.” Ons gesprek gaan voort en ek gaan voort om te sê dat ek sleg voel dat ek nie altyd alles vir haar kan gee wat haar hart begeer nie. Sy antwoord my met “Dis die lewe. Ek kan nie elke dag ‘n nuwe gamepie aflaai op die selfoon nie.”

Toe ek hierdie baie volwasse antwoorde van my 9 jarige dogtertjie af hoor, besef ek dat ek iewers iets reg doen. Al die Etiese opleiding en Tall Trees analise van my eie persoonlikheid, EI Activator kursusse en al die ander goed wat ek doen, eerder as om net vervelige opleiding te doen wat direk aan my werk gekoppel is (hierdie ander opleiding tel vir my CPD punte net so tussen ons), het my laat besef dat niks verniet is nie. Ek begin die vrugte pluk. Selfs al het ek nog ‘n BERG van opleiding om te doen en in te haal, is iets iewers besig om te werk. Ek is besig om ‘n bydra te maak tot die volgende generasie. Ek probeer kinders grootmaak wat verantwoordelikheidsin het, wat rentmeesters kan wees van dit wat aan hulle toevertrou word, om empatie, simpatie, en wie weet watter ander goeie morele waardes nog te hê. Ek dink nie ek doen altyd alles reg nie, maar, wanneer ek ‘n dag het soos daardie en dit afgesluit word met ‘n gesprek soos dit met my dogter, dan weet ek dat ek my verjaarsdag nie Maak-of-jy-dit-oorleef-dag noem nie – of in Engels Fake it till you make it day. Want, ek is nie besig om te maak of ek dit reg doen en kry nie. Ek is werklik besig om iets reg te kry en te oorleef.

Al die eer aan God altyd. Vir die instinkte wat Hy binne ons plaas as ouers. Al die leiding wat Hy gee deur Sy woord. Om myself ‘n kind van God te kan noem, om so bevoorreg te kan wees om eerste deur Hom gekies te word en om hierdie bediening te hê waar ek met soveel mammas daarbuite my emosies en uitdagings te kan deel. Ons gaan ok wees. Ons maak foute soos ons aangaan, maar dis die menslike natuur. Met God aan ons sy, kan ons nie anders as om vorentoe te beur nie, en om eerder dit te Maak as om voor te gee dat ons dit wel reg kry. Hier is vir al die mamma’s daarbuite, wat soos mislukkings voel – jy is nie alleen nie! God is altyd met jou en al hierdie ander mamma’s om jou, al lyk sommige van hulle of hulle alles in orde het – hulle is ook besig om hard te baklei om net vorentoe te beur. Jy is nie alleen nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.