Posted on Leave a comment

Daad en waarheid

Ek kan nie help om te wonder wat besig is om te gebeur met tyd nie. Ek kry nie tyd vir skryf soos altyd in die verlede nie. Eintlik kry ek tyd vir niks voel dit vir my! Vir seker het daar goed in my lewe verander, omstandighede, maar kan dit werklik so ‘n groot invloed hê? Nie te min, op die laaste dag van April kom ek uiteindelik by die maand se skrifvers uit. Nou ek dink aan hom al vir ‘n rukkie, en herkou oor wat ek wil sê. Miskien is dit nie regtig die besig wees wat my hinder om te skryf nie, maar dalk eerder dit wat ek voel ek wil sê oor die skrifvers, wat die opondhoud is? Ek wil nie net skryf omdat skryf, skryf is nie jy weet?

Nou die maand se versie is weereens vir my interessant, veral hoe die Here besig is om dit vir my oop te breek en vanuit ‘n ander oogpunt dit te kan verstaan. Wanneer jy lief is vir iemand, dan sê jy dit tog, nie waar nie? Maar saam met dit kom ander goed ook. Jy hanteer die persoon mooi en doen goed vir die persoon, omdat jy lief is vir die persoon, wat jy nie noodwendig sou doen vir ‘n vreemdeling op straat, wat jy van geen kant af ken nie.

Die deel van die vers wat vir my die meeste uitstaan is in die laaste deel. Die woord – waarheid. Jy sien, wanneer jy werklik lief is vir iemand, sal jy ook vir hulle die waarheid vertel. Jy sal nie storietjies hê en dingetjies doen wat kontrasterend is van liefde nie. Nou hier kom die ander diep deel, as ek dit so kan stel van hierdie vers. Wie moet ons lief hê? ‘n Vraag wat Jesus die Skrifgeleerdes geantwoord het. Ons moet ons naaste liefhê soos onsself.

Wow! So met ander woorde, hierdie vers is van toepassing op alle mense, nie net op jou naaste mense met wie jy ‘n diepe verhouding het nie. Ek dink nou nie ons hoef ander mense wat jy van geen kant af ken, te vertel dat jy lief is vir hulle nie, want die woord lief is eintlik maar baie diep! Maar jy moet respek toon vir die mense, al ken jy hulle nie. Naaste liefde betoon op ‘n manier sodat hulle Jesus kan sien in jou. Dieselfde met ons dade – ons hoef nou nie iets te doen wat eintlik in iemand se persoonlike spasie in beweeg nie. Maar, as mens dalk in die verkeer staan, kan jy vir die ou langs jou plek gee om in te beweeg en op so ‘n manier ‘n daad doen wat liefde bewys, al ken jy nie die persoon nie. Maak dit sin?

Die woord waarheen ek heeltyd terug kom is, waarheid. Wat is jy besig om te doen? Verkondig jy die waarheid op alle vlakke vir almal? Vertel jy mense van Jesus? Hy is die waarheid, is Hy nie? Praat jy die waarheid wanneer jy met mense te doen kry en besigheidstransaksies doen? Hou jy by jou woord? Is jy werklik besig om liefde te betoon deur jou tong te dwing om die waarheid te praat, ongeag die omstandighede?

Ek dink ook nie mens hoef nou reguit vir iemand te sê jy hou nie van die hemp wat hulle aan het nie, want dit is mos maar elke ou se smaak is dit nie? En as jy nou goed op die manier vir mense sê, val jy eintlik maar hul karakter aan, doen jy nie? Maak dit sin wat ek probeer deurgee hier? Die vers laat my dink aan die Engelse gesegde Actions speak louder than words. Hoe waar is dit nie net nie? Jy het dalk hierdie mense, of dit nou vriende of familie is, in jou lewe, hulle vertel vir jou alles dat jy dink julle is regtig in ‘n goeie verhouding, maar hul dade bewys die teenoorgestelde. Daar is dalk ‘n gebrek aan waarheid in dit wat werklik besig is om te gebeur. Of wedersydse respek ontbreek – want alles gaan altyd oor hulle eerder as ander rondom hulle.

Mag ons konstant herinner word om nie net met die tong nie, maar in daad en waarheid liefde te bewys. Dit geld nie net vir mede-mense hier op aarde nie. Nee, ons verhouding met die Here moet ook so wees! Moet nie net sê jy is lief vir die Here as jou optrede en dade anders spreek nie. Waar staan jy vandag? Hoe is jou verhouding met God? Is jy werklik besig om vir Hom te wys jy is lief vir Hom? Of haak jy so bietjie vas by ‘n oppervlakkige Sondag verhouding met God? So bietjie iets om oor na te dink sou ek sê….

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.