Posted on Leave a comment

Koebaai

Laat ek nou vir jou vertel. Om vir iemand, wat jy al amper jou hele lewe lank ken, koebaai te sê suck as ek dit nou pleinweg kommen kan sê. Die afgelope week het ek weer een van daardie koebaai dae beleef. Die eerste keer dat ek besef het hoe baie dit suck om koebaai te sê was in 2017, toe my ma haar resies op aarde voltooi het. Toe eers het ek besef wat die dood regtig beteken, en is.

Die ander keer was in 2021. Toe ek my sussie Erika, haar man Jaco en twee kinders, 580 keer (nie regtig so baie nie, maar dit was meer as normaal), gaan groet het in Pretoria, voor hul immigrasie na Nieu-Seeland (is dit reg gespel?) toe. Na ek die Afrikaanse weergawe van Nieu-Seeland getik het, besluit ek om tog maar dit te google net om seker te maak dis reg gespel, wat dit toe was en ek weereens nie weet hoekom ek nou daaraan sou twyfel nie! Terug by die groetery en my eintlike storie – dit het gevoel of ek hulle nooit, ooit weer in my lewe, in lewende lywe sou sien nie. Want ek weet mos hoe duur dit is om heen en weer te vlieg. Vir hulle en vir ons.

Nou ja, Dinsdag 25 April 2023 merk weer so ‘n koebaaidag. Toe ek weer dieselfde einste swaer wat in 2021 gevlieg het,moes groet na ‘n kortstondige kuier in Suid-Afrika. Hy het 6 April 2023, vir een nag by ons oorgeslaap. My instruksie aan Dora was om die huis spick and span te kry. Als op hul plekke te bêre. Netjies te maak. Vloere gewas en alles wat geskrop kon word, was geskrop. Die huis honde se komberse moet gewas word. Linne spuitgoed oral en seker maar te gereeld gespuit sodat die huis vars en lekker ruik.

Ek het selfs nuwe bedlampies vir ons kamer gekoop, want dis waar Jaco geslaap het daardie aand. Ek kon nie dat hy met lampies wat se koppe geknak het daar slaap nie. Die goed het met tyd geval en gebreek. Ek het dit nooit vervang nie, want ek kon nog nooit iets kry wat mooi lyk nie. Ek was ook nie oortuig dat dit wat ek wel in die winkels gesien het, van beter gehalte was as die voriges wat stukkend was nie, en ook nie noodwendig langer sou hou nie. Nie te min, sy kuier was ‘n goeie verskoning om nuwes aan te skaf, en nuwe lampies en al het hy in ons kamer geslaap vir een aand.

Een aand, wat soos maande gelede voel maar wat in werklikheid net 2 en half weke vantevore was op daardie laaste keer dat ons hom gesien het, die Dinsdag. Toe ek die vorige sin weer lees, maak dit nie sin nie. Wat ek bedoel en probeer sê is – die Dinsdag wat ons hom laaste gesien het, was maar twee en half weke na hy die aand oorgeslaap het. Ek wou hom daardie eerste keer nie laat gaan na sy sussie in Brits toe nie. Ek het soveel en solank ek kon die kuier uitgerek. Dinsdag was dit weer dieselfde. Ons drie (ek, Jaco en my man Heinrich) het ‘n heerlike Impala koffie gedrink terwyl ons weer dik stukke gekuier het. So tussen deur het ons al drie om die beurt na ons horlosies geloer (en gehoop die ander kom nie agter nie). Geweet die koebaai tyd kruip nader. Ons het selfs deur Impala geloop net om nog nie koebaai te sê nie. Maar toe gebeur die onvermydelike. Ons almal moet in ons rigtings spat – Jaco terug na Pretoria en ons na ons daaglikse roetine van werk en kinders optel na skool.

Ek vra maar tog weer vir ‘n laaste lewende lywe foto saam met Jaco, sommer so in die parkeer area. Heinrich rol sy oë vir my en vra hoeveel fotos wil ek dan nou hê, en of ek die foto neem omdat ek so bietjie meer opgetof as normaal is? Hy neem toe tog maar my foon om die foto te neem. Na die foto moet ons vir ‘n laaste keer groet. Trane kan nie anders as om in ons oë op te dam nie. Ons druk mekaar meer as een keer, net om seker te maak ons onthou die fleshy hugs tot ons mekaar weer te siene kry. Daar stap ‘n man wat pas parkeer het verby, seker om sy inkopies by Impala te doen en hy kyk ons so bietjie vreemd aan, veral na ek vir Jaco gegroet het, met trane in my oë, gesig weg gedraai, want ek weet sommer as ek en Jaco vir mekaar kyk, gaan ons nog meer huil.

Ek besef net al hoe meer dat die Here my en my sussies provinsies en kontinente uit mekaar moes sit, sodat ons meer gereeld met mekaar kon kommunikeer. My ander sussie het Centurion vir Riversdal verruil terwyl die oudste sussie en haar man Jaco, Suid-Afrika vir Nieu-Seeland verruil het. Hoe ironies is die lewe nie? Mens waardeer eers iemand as hulle nie meer bereikbaar is nie. Pretoria is nie so ver van Skeerpoort af gewees nie, tog het ons nie so gereeld bymekaar gekuier toe hulle almal nog in Pretoria gebly het nie. Ons het wel voor ons kinders gehad het, gereeld gekuier, maar soos wat die tyd aangestap het, kindertjies bygekom het en die lewe gebeur het, het dit al hoe minder begin gebeur….

Nie te min, ek was dankbaar vir elke sekond wat ek saam met Jaco gehad het. Al was dit nie so baie soos wat ek gehoop het nie, was dit tog iets wat ek vir altyd sal koester in my binneste. Erika en Jaco – ek mis julle stukkend. Soos alles in my lewe wat nie lekker is nie, probeer ek nie om heeltyd aan die verlange te dink nie, want, ek sal dan net een misrabele hopie huil wees die heeltyd! Want hoe kan mens nie anders, as om hartseer te wees van verlange, vir mense wat jy al jou lewe lank ken nie?

Tot ons mekaar weer sien. Hopelik gou. Ek bid dat ons skip sal inkom en dat ons nie by die lughawe wag en hom mis nie! Ek ken my swaer al vir 28 jaar. Ou mense ken mekaar al vir 28 jaar en nie ek of hy voel oud nie, so ek skrap maar daardie gesegde van ou mense wat mekaar lank ken. Dit was ‘n eer en voorreg om jou vir ‘n aand te huisves en weer te kon sien voor jy terug zirts oor die water. Veilig reis, ek koester die in persoon gesprekke en fleshy hugs tot ons dit weer kan doen. Teen die tyd dat die inskrywing gepubliseer is, het jy alweer veilig geland in Nieu-Seeland….dis net hoe vinnig die tyd vlieg en hoe maklik dit eintlik is om so ver te reis! Love you to the moon and back. Mis julle stukkend!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.