Posted on Leave a comment

‘n Laaste eerbetoning

Taalpuris. Tennis fanatikus. Entrepreneur. Vriendelik. Hierdie is alles eienskappe van Eugene Smith. Vandag was die laaste geleentheid om eer te betoon aan ‘n groot legende wat huis toe gegaan het na ons Hemelse Vader toe. ‘n Mooier dag kon dit nie wees nie. Helder sonskyn, blou lug. Die voëltjies wat sing en alles wat hier op aarde aangaan soos normaal, dit alles terwyl hy nie meer hier is nie.

Oom Eugene het ek leer ken deur sy dogter Nadine. Hy was een van my kliënte. Ek het hom nie maandeliks gesien nie, maar ons het gereeld oor die foon gesels en ek het ten minste een maal per jaar vir hom en tannie Ria gesien om besigheid te praat, state en notules af te teken en so meer.

Hy was altyd gretig om ‘n staaltjie uit sy jong dae te vertel. In die fynste detail te beskryf hoe hy die afmetings doen vir naamborde van sy besighede (ek moes signage gaan Google vir die Afrikaanse weergawe – want ek voel hierdie inskrywing moet so na as moontlik wees aan hoe oom Eugene gepraat het). So baie keer het hy vir my gesê dat ek dit moet geniet om 40 te wees. Die tyd gaan so vinnig en 40 is eintlik ‘n lekker tyd in ‘n mens se lewe. Hy het altyd gesê In die Haak as ons oor iets gesels het en iets moes besluit om te finaliseer. Hy het altyd geglimlag en ek is seker as hy ‘n tema lied vir sy lewe gehad het sou dit iets in die lyn van Ek is lief vir die wêreld gesing deur Groep Twee (‘n baaaaaie ou liedjie ek weet) gewees het.

Die familie se versoek, vir diegene wat die roudiens bywoon, was om wit of vrolike, helder kleure aan te trek. Nie swart nie. Ek en my man gesels toe ek die versoek sien op Facebook. Ons verstaan dat dit eintlik van pas is, want ‘n viering van sy lewe hier op aarde gaan gebeur. Dit is vir seker swaar vir die wat agterbly, maar eintlik moet ons saam bly wees dat hy nou by Jesus is, op ‘n baie beter plek! Die diens word gelei deur tannie Ria se oudste broer. My eie gedagtes dwaal terug na my ma se roudiens.

Ek fokus nie die heeltyd op wat gesê word nie want ek dink terug aan hoe dit gevoel het op daardie dag vir my. Toe ék heel voor in die kerk gesit het, langs my sussies en my pa. Dit voel soos ‘n blur, ek kan nie lekker onthou nie. Dit voel ook soos 100 jaar gelede, al was dit net 6 jaar terug. My gedagtes keer terug na die hier en nou. Ons luister na huldeblyke wat oorgedra word. Die kern van almal se boodskap was hoe hy hul lewens aangeraak het en karakter eienskappe wat ooreenstem, kom deur. Watter groot persoonlikheid hy gehad het, ten spyte van chroniese pyn wat hy nooit gewys het nie. Hoe hy al sy uitdagings in die lewe oorkom en oorbrug het. Met ‘n lied in sy hart en ‘n glimlag op sy gesig.

Ek onthou hoe tannie Ria eenkeer vir my genoem het dat oom Eugene erg is oor suiwer Afrikaans. Dit het my amper meer bewus begin maak van hoe ek praat. Hy het altyd die telefoniese gesprekke afgelei met Totsiens terwyl ek ‘n Bye sê aan my kant. Ek kan nie help om te dink dat my Engels wat deurkom maar eintlik gekoppel is aan my werk nie (ek werk elke dag heeldag in Engels, al is die kliënte Afrikaans, word opgawes en berekeninge in Engels gedoen). Natuurlik was my ma ook Engels gewees, so ek dink dit dra ook by oor hoekom ek Bye sê aan die einde van ‘n gesprek eerder as Totsiens. Om by oom Eugene se sin vir humor aan te sluit, laai ek ‘n woord se betekenis op in die gallery van die inskrywing, ek is seker hy sou dit geniet het!

Terug by die dag, luister ek aandagtig na wat almal gesê het. Hoe hy ‘n groot impak by PNA gemaak het, met planne en drome vir die groep. Hoe sy dogter uitbrei oor hoe hy saam met haar gehardloop het om 21 km in minder as 2 ure te hardloop. Haar ondersteun het, motiveer het. Hoe hy vir tannie Ria die Comrades laat hardloop het, na sy spottenderwys gesê het dat dit iets is wat sy graag wou doen. So gaan die herinneringe aan en aan. In die proses, leer ek nog meer van oom Eugene, al is hy nie meer hier op aarde nie.

Na die tyd gaan gesels ek met Nadine. Ons albei raak tranerig. Ek soek verward vir ‘n snesie in my handsak. Nadine stop my, maak die ritssluiter van haar handsakkie wat sy skuins oor haar skouer dra oop en sê ek moet een neem. Ek kyk af en kon nie help om uit te bars van die lag nie. Dit is propvol tissues gepak. Nie ‘n beursie of selfoon in sig nie. Haar seuntjie het gevra of sy snesies pak vir almal wat die diens gaan bywoon, net vir haar om te antwoord dat dit eintlik net vir haar is. Ek dink oom Eugene sou so lekker gelag het vir hierdie handsak vol snesies!

Tannie Ria, Nadine, Justin en familie – my hart is saam met julle stukkend oor sy afsterwe, iemand wat so ‘n vol lewe gelei het, so ‘n inspirasie was vir so baie mense. Ek sal sy laggie altyd onthou, ons kon lekker lag en grappies deel. Hy los ‘n leemte in baie mense se lewens. Julle is bevoorreg om hom man, pa en oupa te kon noem! Mag sy legende voortleef deur die wat agterbly. Hy laat ‘n groot nalatenskap na, iets waarna ons kan opkyk, onthou en uit leer. Noudat ek daaraan dink, het hy eintlik PNA se slagspreuk en leuse uitgeleef. Colour your world. Dis wat hy gedoen het met elke persoon wie se lewe hy aangeraak het – hy het dit kom inkleur en verryk. Oom Eugene, oom word gemis deur baie mense op aarde, maar ons weet dat oom nou op ‘n baie beter plek is. Rus in Vrede.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.