Posted on Leave a comment

Vertrou

Die heeltyd terwyl ek werk, dink ek na oor die maand se skrifvers. ‘n Taai een dink ek om eintlik behoorlik te verstaan sonder om offence te vat van wat die Here hier vir ons probeer sê. Maar in dieselfde asem, wil ek eintlik sê is dit heel eenvoudig.

Nou ja, Februarie is ons besigste maand, wat noodwendig beteken dat ek langer ure as normaal werk net om alles wat vereis word gedoen te kry. Dis niks nuuts vir my nie. Ek kry net my kinders jammer, want tyd saam met hulle is maar min so aan die begin van die jaar. Tyd vir skryf, voel vir my, is ook nog minder. Ek het eintlik, nie-amptelik, die ander dag besluit dat die eerste kwartaal van ‘n nuwe jaar besig is, en NIKS wat ek omtrent dit eers probeer doen gaan daardie feit verander nie.

Tensy ek my beroep verander natuurlik, maar, wie wil nou op amper 42 iets heeltemal nuuts aanpak en van voor af begin? Ok, ek erken, ek HET iets nuuts begin met Beroepsvrou, maar nie om my day job te vervang nie. Goed, terug by realiteite van BESIG wees met werk. Nou dit is vir ons so verskriklik besig, want dis finansiële jaareinde vir meerderheid van ons kliënte. Dus is daar belangrike berekeninge wat gedoen moet word en ingedien moet word voor 28 (of 29) Februarie. Natuurlik help die ekstra dag in skrikkeljaar – slegs as dit op ‘n werksdag val. Maar nie te min, dis 3 uit 4 jare net 28 dae wat ons het om hierdie te kan doen.

Die skrifvers laat my dink aan wat ons elke dag van ons lewe doen, wat ons al teë gekom het in ons lewens. Mense wat nie altyd eerlik is nie, nie alles verklaar nie. Potensiële nuwe kliënte met belaglike vereistes, wat ons sommer in die eerste vergadering in die kiem smoor en dan hoor ons net nooit weer van hulle nie. Ons staan vir reg en geregtigheid. Belasting moet betaal word, of jy nou daarvan hou of nie. Ek weet ek dwaal af, maar, ek probeer net alles in perspektief plaas van hoe dit gaan in my lewe, waarmee ek werk, wat daar verwag word en wat die wetlike aspek van alles is.

Maar terug by die vers. Dit kan ook terug getrek word na die kleinste dingetjie waarin jy oneerlik kan wees en oorkom. Ek het destyds by ‘n firma gewerk, waar die een senior personneellid eenkeer vir my verduidelik het oor hoe ‘n tydstaat werk. Sy woorde, in Engels, was iets in die lyn van die volgende: When you work at Pick n Pay, and you steal sugar, you are stealing. When you work here, and you steal time, doing private things when you should be working, you are also stealing. Ek sal dit in my lewe NOOIT vergeet nie. So ‘n goeie vergelyking van waarmee ‘n werknemer en werkgewer wat tyd verkoop, vertrou word. Diefstal is nie beperk tot fisiese items nie, maar tyd ook – tyd wat geboek word, fakture wat uitgereik word. Die lys voel, soos altyd, eindeloos.

Nou ek kan vir dae hier sit en redeneer oor alles wat groot en klein is, waaroor mens oneerlik kan wees. Die lang en die kort is, as jy 15 minute iets privaat doen, en eintlik maar net jou werkgewer of kliënt se tyd waarvoor jy vergoed word, steel; of jy steel een teelepel se suiker by die kantien, bly dit steel. En ek reken DIS waaroor hierdie versie gaan. Noudat ons so vasgevang is in finansiële jaareinde, kom die ook by my op – wat word werklik verklaar op opgawes? Is mense werklik getrou en eerlik oor ALLES in hul lewens?

As jy oor ietsie kleins oneerlik is, dan kan jy maklik oor baie goed oneerlik wees. Dis die vermaning van God af. Dan, is die spreekwoordelike klop op die skouer, die eerste deel van die vers – as jy oor ietsie kleins eerlik is en mee vertrou kan word, dan kan jy oor baie goed eerlik wees en mee vertrou word. Watter beeld straal jy uit vir die wêreld? Mens se reputasie loop hulle gewoonlik vooruit. Wat is jou reputasie? Eerlik of oneerlik?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.