Posted on 1 Comment

Die “Joy”

Die skerp reuk van Creosote (ek moes dit gaan google – die spelling en dit word uitgespreek as Kreesout – dis hoe ek al die jare die woord in my kop gesien het) vat my altyd terug na my kinderjare. Hoekom? Vra jy dalk. Ek het groot geword met ‘n Wendy huis in die agtertuin, wat omskep was in ‘n Kuns Kamer, die hout van die Wendy huis was met Creosote behandel. Ek was blootgestel aan kuns en crafting op ‘n jong ouderdom. Ek sal altyd hierdie reuk assosieër met kuns en crafting.

Ek het groot geword met ‘n ma wat altyd iets kreatiefs gedoen het, iemand wat haar drie dogters geleer het om so bietjie die realiteite van die wêreld te ontsnap deur kuns en crafting te doen. Ek raai maar of dit is hoekom sy kuns en crafting gedoen het, want dis hoekom ek dit doen. Met crafting is daar vir my geen reëls nie. Ok dit het reëls, maar, dis nie soos my day job nie jy weet? As jy ‘n fout maak, verf jy oor dit of jy begin van voor af, of jy wing dit net en sien hoe die projek gaan en hoe dit gaan opeindig om te lyk.

Met my day job is dit nie so eenvoudig nie, en ek voel verplig om dinge perfek te doen en reg te doen die eerste keer. Op hierdie tydstip terwyl ek die artikel skryf, reken ek dis tyd om die ketel aan te sit en vir jou ‘n lekker koppie koffie of tee te maak voor jy verder lees.

Jy sien, ek kan nie die artikel opbreek in kleiner hoofstukke nie, anders verloor ek die kruks van die saak wat op my hart geplaas was om te sê. Februarie is ‘n besige maand. Seker my minder gunsteling maand van die jaar, as mens nou toegelaat is om ‘n swart skaap maand te hê.

Vir soveel redes is ek nie ‘n Feb aanhanger nie. Een van die grootste redes is, die feit dat ek altyd uitgeput voel teen die tyd dat dit my dogter se verjaarsdag is op die 7de van die maand. Ja, ek weet, dis net aan die begin van die maand, maar ek weet wat voor lê, ek weet die ure wat ek vereis word om te werk, ek weet net wat lê vir my voor werksgewys. My klein EMP201 (vir die wat nie weet nie – dis een van die vele belastingopgawes wat op die 7de van elke maand ingedien moet word) is so entoesiasties wanneer dit kom by haar verjaarsdag.

Ek voel skuldig omdat ek nie haar opgewondenheid altyd met haar kan deel nie. En ek voel nog meer so, omdat ek ongeveer net tot die 14de Februarie 2014 gehad het, die jaar wat sy gebore was, om onverdeelde aandag aan haar te gee, voordat ek weer terug gekeer het na my skootrekenaar (hoe is dit vir ‘n mooi Afrikaanse woord?), om berekeninge te doen en opgawes in te dien. Dit was amper borsvoeding terwyl ek getik het op die rekenaar en opgawes ingedien het. Dit is asof ek net nooit genoeg tyd beskikbaar het om die oomblik en die voorbereiding vir haar verjaarsdag te geniet nie. Maak dit sin? Of is ek so vasgevang in my klein werk wêreld, dat ek vergeet om te stop en bietjie die rose se geur te geniet? (Die klink net beter in Engels – to stop and smell the roses).

Die ander rede vir die gebrek aan liefde vir die Maand van Liefde, is, daar is net NIKS TYD vir enige iets anders nie. Die kinders word groter, hul skedules begin voller raak, iets wat ek voel of ek nooit reg kry om voor te begroot tydsgewys nie. Ek meen, ek het nie eens tyd om inkopies te gaan doen nie (dit is ‘n frustrasie want vars slaai op ‘n weeklikse basis is ‘n MOET vir ons en om by Woollies uit te kom is ‘n uitdaging), nie eens te praat van om die kinders betyds by hul ander dinge te kry soos ekstra Wiskunde klasse, kos te neem voor kuns klasse en oefening nie.

Ek weier om oefening te mis. Dis die een ding wat maak dat ek nie dit verloor nie. Ek kan nie al die funky bewegings van Cross Fit altyd reg kry en uitvoer nie, maar, ek daag twee maal per week op en ek probeer hulle doen – ek kan sien hoeveel sterker ek geword het en is verbaas oor wat ek nou al kan doen teenoor wat ek kon doen toe ek net begin het. Dan woon ek nog ‘n dag van oefening by en daar doen ek spinning, iets wat my seun mal oor is, so dis ons tyd saam. Die buitemuurse aktiwiteite van die kinders is ook ‘n no-go zone as dit kom by besluit om dit te doen of nie. Ons moet dit net laat gebeur en dit maak werk, en beplan maar alles rondom dit.

Jy sien, in 2020, voor die grendeltyd en voor die Pandemie, het ek ‘n doelbewuste besluit geneem om op te hou om werk voor alles te plaas in my lewe. Ek het uitgemis op die lewe, want, ons het ‘n slagspreuk geleef van Kom ons kom net deur hierdie maand. En dit is hoe ons geleef het vir baie jare. Ek het selfs op ‘n kol gevoel of tyd gesteel was by my, weens hierdie slagspreuk waarby ons gehou het. 12 maande van die jaar, jaar in en jaar uit. Eintlik was dit dalk al in 2019 wat ek daardie besluit geneem het. Elkgeval. Middel Februarie 2020, in die besigste tyd ooit, het ek begin om te Cross Fit (na ek vir jare gebid het vir die Here om my lief te maak vir oefening, het ek uiteindelik die ding gekry waarvan ek hou en om my lyf weer in shape te kry).

Ja jy kan maar lag. Ek het nou net gekla oor hoe besig Februarie is en dan vat ek iets soos dit aan. Is daar ooit ‘n goeie tyd? Nee daar is nie. Nou jy kan dalk nou wonder hoe ek die kolle gaan verbind met die inskrywing. Ek begin met crafts, sing dan my klaagliedere oor werk en die Maand van Liefde, waarvoor ek nie so lief is nie en nou praat ek van oefening. Maar wag, jy sal sien…. alles is in een geweef in my lewe.

Terug by die crafts. Vir maande het ek gedroom van ‘n Cricut masjien. Ek was geskeur tussen die Joy en die Maker. My finale besluit was toe die Joy – weens die grootte en die prys. In Februarie (sien jy die trend hier…?) besluit ek toe om die aankoop te maak.

Ek het geweet dit was die verkeerde maand om so iets aan te koop, want ek weet ook dat ek eerder met die nuwe speelding gaan wil eksperimenteer as om te werk in die besige maand. Ek het toe verder besluit om dit by Kelirosh Studio aan te koop. Haar pryse was die beste (ek het die Takealot winskopies gemis en kon nie by Makro uitkom nie). Ek het ook net goeie goed gehoor van hierdie aanlyn winkel en dit was genoeg om my te oortuig om die aankoop daar te maak.

Die skuldgevoel wat ek ervaar het na ek die aankoop gedoen het was belaglik. Maar, toe die boks arriveer, was dit asof die Here vir my gewys het dat dit ok is. Dit is ok om ook ‘n lewe te wil hê, om te wil dinge doen en nie net te werk nie. Op die boks sien ek toe twee Flaminke. Nou die hele ding waaroor my bediening en blog gaan is Flaminke. Dit was net mind blowing en amper belaglik, met respek gesê – die Flaminke op die boks.

Selfs die postuur van die Flaminke op die boks was soortgelyk aan twee wat ek in my ontwerpe gebruik. Onmiddellik voel ek asof die Here met my hier praat. Bevestig dat dit ok is om hierdie aankoop te maak in die maand wat ek sien as die minder lekker maand vir my persoonlik.

Ek besef ook, dat ons ‘n nuwe generasie crafters hier groot maak. Ek het groot geword met goed soos om kerse te maak, kaartjies met stempeltjies en embossing poeier, klein draad boompies met mooi klippies op geplak, om maar net ‘n paar te noem. Die volgende generasie van crafters betrek tegnologie soos hierdie klein Joy masjientjie. Soos jy kan aflei, het beide my kinders besluit om die masjien te hi-jack, hulle baklei oor wie dit volgende gaan gebruik. Dit maak die druk so bietjie ligter vir my om die masjien te gebruik sodat ek nou op werk kan fokus – maar wanneer hierdie besige tyd verby is, gaan ek vir seker inspring en goed doen met hom.

‘n Week of so na die aankoop van die Joy, ontvang ek ‘n oproep van ‘n Mev. SA semi-finalis, Nicky Kruger. Sy vra my of ek dit sal oorweeg om ‘n borg te wees vir hierdie kompetisie (ek is nou nie seker of ek reg hierna verwys nie?). Nou dit is ‘n langerige storie van hoe ons mekaar “ken”, maar die lang en die kort is, sy is ‘n juffrou by ‘n skool waar ek laas jaar gaan bedien het en voorskote uitgedeel het aan studente.

Ek was stom geslaan, oorweldig en opgewonde, alles op dieselfde tyd. My aanvanklike reaksie was dat dit MAL besig is by die werk en ek sal eers haar middel Maart kan beantwoord, wanneer ek al my sperdatums gehaal het. Natuurlik het nuuskierigheid die oorhand gekry, ek het gelees deur die inligting wat sy my gestuur het en ek het my besluit geneem. Dit is so ‘n wonderlike geleentheid, ek kan nie dit van die hand wys nie.

Sien jy nou weer – dis alweer Februarie. Weer lyk dit of daar so min tyd is om dinge deur te dink en goed te doen. Ek begin te wonder of die Here my nie in ‘n rigting druk en toelaat dat al hierdie dinge gebeur, in die Maand van Liefde, net sodat ek weer lief kan word vir Februarie nie?

Wie weet, maar, dit lyk of groot dinge in Februarie gebeur. Die geboorte van ‘n kind, die behoefte om te oefen en crafting te doen en nou hierdie borgskap van ‘n GROOT ding soos Mev. SA. Ek dink God is besig om my Joy vir my terug te gee in die maand wat ek dit die minste ervaar.

Ek moet bieg – ek is lief vir die puns van God af. Die Joy wat verteenwoordig word deur ‘n fisiese, tasbare klein masjientjie, wat letterlik Joy bring vir díe wat dit gebruik. Want, is dit nie hoe ons as mense is nie? Ons wil SIEN en HOOR dis daar – en moet my nie verkeerd verstaan nie – ek plaas nie my Joy in die Joy nie, dis net God se manier om met my te praat, om vir my ‘n tasbare herinnering te gee aan dinge waaraan ek herinner moet word.

1 thought on “Die “Joy”

  1. So heerlik gelees pragtig geskryf. Dankie het baie vir my persoonlik ook beteken.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.